Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
© 2024 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
1-7 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 57-59
Jehovah laat dié misluk wat sy volk teëstaan
“Tot in die mees afgeleë deel van die aarde”
14 Stefanus het moedig getuig voordat hy deur sy vyande doodgemaak is (Hand. 6:5; 7:54-60). Tydens die “groot vervolging” wat daarna ontstaan het, is al die dissipels behalwe die apostels deur die hele Judea en Samaria verstrooi. Maar dit het die getuieniswerk nie stopgesit nie. Filippus het na Samaria gegaan ‘om oor die Christus te preek’ en het uitstekende resultate gehad (Hand. 8:1-8, 14, 15, 25). Verder word daar vir ons gesê: “Dié wat verstrooi is deur die vervolging wat as gevolg van Stefanus ontstaan het, [het] tot by Fenisië, Siprus en Antiogië gegaan, maar hulle het die woord net aan die Jode verkondig. Party van die mans onder hulle wat van Siprus en Sirene was, het egter na Antiogië gekom en met die Griekssprekendes begin praat en die goeie nuus van die Here Jesus bekend gemaak” (Hand. 11:19, 20). Destyds het vervolging die Koninkryksboodskap laat versprei.
15 In ons tyd het iets soortgelyks in die voormalige Sowjetunie plaasgevind. Veral in die 1950’s is duisende Getuies van Jehovah na Siberië verban. Omdat hulle na verskeie nedersettings gestuur is, het die goeie nuus in daardie uitgestrekte land bly versprei. Dit sou onmoontlik gewees het vir soveel Getuies om genoeg geld te hê om tot 10000 kilometer ver te reis om die goeie nuus te verkondig! Maar die regering self het hulle regoor die land gestuur. “Op die ou end”, het een broer gesê, “was dit juis die owerheid wat duisende opregtes van hart in Siberië in staat gestel het om die waarheid te leer ken.”
Geestelike skatte
“Wees standvastig, onbeweeglik”
16 Ontwikkel ’n standvastige hart. Koning Dawid het gesê dat hy nooit sy liefde vir Jehovah sou verloor nie toe hy gesing het: “My hart is standvastig, o God” (Ps. 57:7). Ons kan ook ’n standvastige hart hê en ten volle op Jehovah vertrou. (Lees Psalm 112:7.) Kyk hoe dit Bob, wat vroeër genoem is, gehelp het. Toe daar vir hom gesê was dat daar bloed beskikbaar sou wees net ingeval dit nodig was, het hy onmiddellik gesê dat hy die hospitaal dadelik sou verlaat as daar enige kans is dat hulle vir hom bloed gaan gee. Later het Bob gesê: “Ek het nooit getwyfel oor wat ek sou doen nie, en ek was nie bekommerd oor wat dalk sou gebeur nie.”
17 Bob was standvastig omdat hy lank voordat hy hospitaal toe gegaan het, besluit het om standvastig te bly. Eerstens, hy wou Jehovah baie graag gelukkig maak. Tweedens, hy het ’n goeie studie gemaak van die Bybel en ons Bybelpublikasies om uit te vind wat dit sê oor die heiligheid van lewe en bloed. Derdens, hy was oortuig dat dit blywende voordele sou bring as hy Jehovah se riglyne volg. Ons kan ook ’n standvastige hart hê, maak nie saak watter probleme ons dalk ondervind nie.
8-14 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 60-62
Jehovah gee ons sekuriteit, beskerming en stabiliteit
it-2-E 1118 ¶7
Toring
Figuurlike gebruik. Dié wat geloof in Jehovah stel en gehoorsaam is aan hom word beskerm, soos Dawid gesing het: “U [Jehovah] is my skuilplek, ’n sterk toring wat my teen die vyand beskerm” (Ps 61:3). Dié wat erken waarvoor sy naam staan, en wat daarin vertrou en daardie naam getrou verteenwoordig, het niks om voor bang te wees nie, want: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.” – Spr 18:10; vergelyk 1Sa 17:45-47.
it-2-E 1084 ¶8
Tent
’n “Tent” word ook in ’n ander figuurlike sin in ’n hele paar gevalle gebruik. ’n Tent was ’n plek van rus en beskerming teen die elemente (Ge 18:1). As gevolg van gebruike oor gasvryheid, het besoekers goeie rede gehad om te glo dat daar na hulle gekyk sou word en hulle gerespekteer sou word wanneer hulle in iemand anders se tent verwelkom is. So, wanneer Openbaring 7:15 oor die groot menigte sê dat God “sy tent oor hulle [sal] uitsprei”, stel dit sy beskermende sorg en sekuriteit voor (Ps 61:3, 4). Jesaja praat van die voorbereiding wat God se vrou, Sion, moet doen vir die seuns wat sy gaan voortbring. Daar word vir haar gesê: “Maak die plek van jou tent groter” (Jes 54:2). Dus maak sy die beskermende plek vir haar kinders groter.
God se wette strek ons tot voordeel
14 God se wet is onveranderlik, wat baie gerusstellend is. In die onstuimige tye waarin ons lewe, is Jehovah ’n onwankelbare rots, wat van ewigheid tot ewigheid bestaan (Psalm 90:2). Hy het van homself gesê: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:6). God se standaarde, soos opgeteken in die Bybel, is volkome betroubaar—nie soos die dryfsand van menslike idees wat voortdurend verander nie (Jakobus 1:17). Sielkundiges het byvoorbeeld jare lank permissiewe metodes van kinderopvoeding aanbeveel, maar party het later van mening verander en erken dat hulle raad verkeerd was. Wêreldse standaarde en riglyne met betrekking tot hierdie kwessie is so veranderlik soos die wind. Maar Jehovah se Woord is bestendig. Die Bybel voorsien al eeue lank raad oor hoe om kinders met liefde groot te maak. Die apostel Paulus het geskryf: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat ons op Jehovah se standaarde kan vertrou; dit sal nie verander nie!
Geestelike skatte
Glanspunte uit die Tweede Boek van Psalms
62:11. God is nie afhanklik van enige eksterne energiebron nie. Hy is die bron van krag. ‘Die sterkte behoort aan hom.’
15-21 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 63-65
“U lojale liefde is beter as die lewe”
Wie sal ons skei van God se liefde?
17 Hoe belangrik is God se liefde vir jou? Voel jy soos Dawid, wat geskryf het: “Omdat u liefderyke goedhartigheid beter is as die lewe, sal my lippe u prys. So sal ek u gedurende my lewe loof; in u naam sal ek my palms ophef”? (Psalm 63:3, 4, NW). Is daar hoegenaamd enigiets wat die lewe in hierdie wêreld ons kan bied wat beter is as om God se liefde en lojale vriendskap te hê? Is dit byvoorbeeld beter om ’n winsgewende sekulêre loopbaan na te jaag as om die gemoedsrus en geluk te geniet wat die gevolg is van ’n hegte verhouding met God? (Lukas 12:15). Party Christene is die keuse gegee om Jehovah te verloën of te sterf. Dit het gedurende die Tweede Wêreldoorlog met baie Getuies van Jehovah in Nazi-konsentrasiekampe gebeur. Met baie min uitsonderings het ons Christenbroers gekies om in God se liefde te bly, en hulle was bereid om te sterf indien nodig. Diegene wat lojaal in sy liefde bly, kan seker wees dat God hulle ’n ewige toekoms sal gee, iets wat die wêreld ons nie kan gee nie (Markus 8:34-36). Maar dit is nie net ewige lewe wat hierby betrokke is nie.
18 Dit is nie moontlik om vir ewig sonder Jehovah te lewe nie, maar probeer jou voorstel hoe ’n baie lang lewe sonder ons Skepper sou wees. Dit sou leeg, sinloos, wees. Jehovah het sy volk bevredigende werk gegee om in hierdie laaste dae te doen. Ons kan dus die vertroue hê dat die lewe vol fassinerende, nuttige dinge sal wees wat ons kan leer en doen wanneer Jehovah, die Groot Voornemer, ewige lewe aan mense gee (Prediker 3:11). Al ontdek ons hoeveel nuwe dinge in die millenniums wat voorlê, ons sal nooit “die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis” volkome kan begryp nie.—Romeine 11:33.
“Toon dat julle dankbaar is”
Jy moet veral dankbaar teenoor God wees. Jy het ongetwyfeld al gedink aan die baie geestelike en fisiese dinge wat hy gegee het en nog steeds gee (Deut. 8:17, 18; Hand. 14:17). Maar in plaas daarvan om net kortliks oor God se goedheid te dink, hoekom neem jy nie die tyd om na te dink oor al die dinge wat God vir jou en jou geliefdes gee nie. As jy nadink oor jou Skepper se vrygewigheid, sal dit jou waardering vir hom vergroot en jou verseker van hoeveel hy jou liefhet en waardeer. – 1 Joh. 4:9.
Hou aan om oor geestelike dinge te peins
7 Dit verg inspanning om te konsentreer op wat ons studeer en om daaroor te peins. Daarom is dit die beste om te peins wanneer jy nie moeg is nie en om op ’n stil plek te peins, waar min dinge jou aandag sal aftrek. Die psalmis Dawid het gepeins wanneer hy saans wakker gelê het (Psalm 63:6). Jesus, wat volmaak was, het stil plekke gekies waar hy kon peins en kon bid.—Lukas 6:12.
Volg Jesus na—Onderrig met liefde
6 Ons geniet dit om te praat oor die dinge waarvoor ons lief is. Wanneer ons praat oor iets wat ons na aan die hart lê, raak ons opgewonde, en ons hele houding spreek van entoesiasme en hartlikheid. Dit is veral waar wanneer ons praat van ’n persoon vir wie ons lief is. Gewoonlik is ons gretig om ander te vertel wat ons omtrent daardie persoon weet. Ons prys, eer en verdedig hom. Ons doen dit omdat ons wil hê dat ander net so aangetrokke tot hom en sy eienskappe moet voel soos ons.
Geestelike skatte
Is jy verkwikkend vir ander?
Dit is baie makliker om ’n gebou af te breek as om ’n nuwe een te bou. Daardie selfde beginsel van afbreek en opbou is van toepassing op ons woorde. As onvolmaakte mense het elkeen van ons foute en tekortkominge. Koning Salomo het gesê: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie” (Prediker 7:20). Dit is maklik om iemand anders se foute raak te sien en hom met snydende aanmerkings af te breek (Psalm 64:2-4). Aan die ander kant verg dit vaardigheid om ons woorde positief te hou.
22-28 JULIE 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 66-68
Jehovah dra elke dag ons vrag
Hoe Jehovah ons gebede beantwoord
15 Ons gebede word nie gewoonlik op indrukwekkende maniere beantwoord nie. Maar die antwoorde wat ons wel kry, is net wat ons nodig het om lojaal aan ons hemelse Vader te bly. So wees op die uitkyk vir hoe Jehovah jou gebede beantwoord. ’n Suster met die naam Yoko het gevoel dat Jehovah nie haar gebede beantwoord nie, maar toe het sy die dinge begin neerskryf wat sy Jehovah gevra het. Ná ’n ruk het sy deur haar notaboek gegaan en besef dat Jehovah die meeste van haar gebede beantwoord het, selfs party waarvan sy vergeet het. Van tyd tot tyd moet ons nadink oor hoe Jehovah besig is om ons gebede te beantwoord. – Ps. 66:19, 20.
Toon besorgdheid teenoor enkelouers
Jehovah het manne geïnspireer om heilige liedere, of psalms, te skryf wat die Israeliete by geleenthede vir aanbidding gesing het. Dink net hoe dit Israelitiese weduwees en vaderlose seuns moes aangemoedig het wanneer hulle die goddelik geïnspireerde woorde gesing het wat hulle daaraan herinner het dat Jehovah vir hulle “’n vader” en “’n regter” is en dat hy vir hulle verligting sal verskaf (Psalm 68:5; 146:9). Ons kan ook aanmoediging gee wat ’n enkelouer dalk jare lank sal onthou. Selfs ná 20 jaar onthou Ruth, ’n enkelouer, nog die keer toe ’n ervare pa vir haar gesê het: “Jy maak jou twee seuns regtig goed groot. Hou so aan.” Ruth vertel: “Sy woorde het ’n groot indruk op my gemaak.” Ja, “vriendelike woorde is goeie medisyne” en kan ’n enkelouer meer aanmoedig as wat ons dalk ooit sal weet (Spreuke 15:4, Contemporary English Version). Kan jy aan spesifieke, opregte woorde van lof dink wat jy vir ’n enkelouer kan sê?
Die Vader van vaderlose seuns
“’N VADER van vaderlose seuns . . . is God in sy heilige woonplek” (Psalm 68:5). Hierdie geïnspireerde woorde dra ’n treffende les omtrent Jehovah God oor—hy is ingestel op die behoeftes van minderbevoorregtes. Sy besorgdheid oor kinders wat ’n ouer aan die dood afgestaan het, kon duidelik gesien word in die Wet wat hy aan Israel gegee het. Kom ons ondersoek die Bybel se eerste verwysing na die “vaderlose seun”, wat in Eksodus 22:22-24 gevind word.
Jehovah help jou om suksesvol te wees
17 Lees Psalm 40:5. ’n Persoon wat ’n berg klim se doelwit is om op die top van die berg te kom. Maar soos hy loop, is daar baie plekke waar hy kan stop en die pragtige omgewing kan geniet. Net so moet jy gereeld tyd maak om te stop en te dink oor hoe Jehovah jou suksesvol maak selfs wanneer jy ’n moeilike tyd deurmaak. Vra jou aan die einde van elke dag af: ‘Hoe het ek gesien dat Jehovah my vandag seën? Hoe help Jehovah my om te volhard selfs al is die probleem nog nie opgelos nie?’ Kyk of jy ten minste een ding kan identifiseer wat Jehovah gedoen het om jou te help.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die Tweede Boek van Psalms
68:18—Wie was die “gawes in die vorm van mense”? Dit was manne onder dié wat gedurende die verowering van die Beloofde Land gevange geneem is. Hierdie manne het later die toewysing gekry om die Leviete met hulle werk te help.—Esra 8:20.
29 JULIE 2012–4 AUGUSTUS 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 69
Hoe gebeure in Jesus se lewe in Psalm 69 voorspel is
Hulle het vir die Messias gewag
17 Die Messias sou sonder oorsaak gehaat word (Ps. 69:4). Die apostel Johannes haal Jesus se woorde aan: “As ek nie die werke onder [die volk] gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle my sowel as my Vader gesien én gehaat. Maar dit is sodat die woord wat in hulle Wet geskrywe staan, vervul kan word: ‘Hulle het my sonder oorsaak gehaat’” (Joh. 15:24, 25). Dikwels beteken die “Wet” die hele Skrif (Joh. 10:34; 12:34). Die Evangelieverslae bewys dat Jesus gehaat is, veral deur die Joodse godsdiensleiers. Daarbenewens het Christus gesê: “Die wêreld het geen rede om julle te haat nie, maar hy haat my, omdat ek aangaande hom getuig dat sy werke goddeloos is.”—Joh. 7:7.
Wees ywerig vir ware aanbidding
7 Een gebeurtenis in Jesus se lewe het kragtige bewys gelewer van sy ywer. Dit het vroeg in sy bediening gebeur, in die Pasgaseisoen van 30 HJ. Jesus en sy dissipels het na Jerusalem gegaan en in die tempel “dié gevind wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldmakelaars in hulle sitplekke”. Hoe het Jesus gereageer, en watter indruk het dit op sy dissipels gemaak?—Lees Johannes 2:13-17.
8 Wat Jesus by daardie geleentheid gedoen en gesê het, het die dissipels tereg laat dink aan die profetiese woorde van een van Dawid se psalms: “Louter ywer vir u huis het my verteer” (Ps. 69:9). Waarom? Want wat Jesus gedoen het, het hom aan groot gevaar blootgestel. Die gesagdraers by die tempel—die priesters, die skrifgeleerdes en ander—was immers in beheer van die skandelike geldmakery wat daar plaasgevind het. Toe Jesus hulle planne blootgelê en ontwrig het, het hy die gevestigde godsdiensstelsel van daardie tyd aangedurf. Die dissipels het die situasie reg opgesom; dit was ’n duidelike bewys van ‘ywer vir God se huis’, of ywer vir ware aanbidding. Maar wat is ywer? Verskil dit van dringendheid?
Kan jy van ’n gebroke hart sterf?
Party mense sê dat ’n gebroke hart ’n faktor by die dood van Jesus Christus was, van wie daar voorspel is: “Die smaad breek my hart, en ek is verswak” (Psalm 69:21). Moet ons hierdie woorde letterlik verstaan? Miskien, want die ure voor Jesus se dood was uiters pynlik—nie net fisies nie, maar ook emosioneel (Matteus 27:46; Lukas 22:44; Hebreërs 5:7). Daarbenewens kan ’n gebroke hart dalk verklaar waarom “bloed en water” uit die spieswond gevloei het wat Jesus net ná sy dood opgedoen het. ’n Breuk in die hart of in ’n groot bloedvat kan bloed tot in die borskas laat vloei of tot in die perikardium—’n membraan wat vloeistof bevat en die hart lossies omhul. ’n Deursteking in enige van hierdie plekke kan ’n uitvloeiing van wat na “bloed en water” lyk tot gevolg hê.—Johannes 19:34.
it-2-E 650
Giftige plant
Daar was voorspel dat die Messias “’n giftige plant” as kos sou kry (Ps 69:21, vtn.). Dit het gebeur toe Jesus Christus, voor hy aan die paal gehang is, wyn gemeng met gal gegee is, maar toe hy dit proe, het hy geweier om hierdie verskriklike drankie te drink, wat heel moontlik gegee is om sy pyn te verlig. Toe die vervulling van die profesie opgeteken is, het Matteus (27:34) die Griekse woord kho·leʹ (gal) gebruik, dieselfde term wat in die Griekse Septuagint in Psalm 69:21 gevind word. Maar Markus se Evangelieverslag sê dat dit mirre was (Mr 15:23). Dit skep die idee dat die “giftige plant” of “gal” in hierdie geval moontlik “mirre” was. Nog ’n moontlikheid is dat die drankie gal en mirre bevat het.
Geestelike skatte
Hef lojale hande op in gebed
11 Baie mense bid slegs om vir dinge te vra, maar ons liefde vir Jehovah God moet ons beweeg om hom in persoonlike sowel as in openbare gebede te dank en te loof. “Moet oor niks besorg wees nie,” het Paulus geskryf, “maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Ja, benewens smekinge en versoeke moet ons ons dankbaarheid teenoor Jehovah vir geestelike en materiële seëninge uitspreek (Spreuke 10:22). Die psalmis het gesing: “Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste” (Psalm 50:14). En in een van Dawid se gesange het hy hierdie roerende woorde ingesluit: “Ek wil die Naam van God prys met ’n lied en Hom groot maak met danksegging” (Psalm 69:31). Moet ons nie dieselfde in openbare en persoonlike gebede doen nie?
5-11 AUGUSTUS 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 70-72
Vertel die volgende geslag van God se krag
Jongmense—Oefen julle waarnemingsvermoëns!
17 Dit sal voortdurende waaksaamheid—en soms groot moed—van jou vereis om Satan se strikke te vermy. Jy sal partykeer dalk vind dat jy nie net met jou portuurs nie, maar met die hele wêreld in botsing kom. Die psalmis Dawid het gebid: “U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af. o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders” (Psalm 71:5, 17). Dawid is bekend vir sy moed. Maar wanneer het hy dit ontwikkel? As ’n jong man! Selfs voor sy welbekende konfrontasie met Goliat het Dawid buitengewone moed aan die dag gelê om sy vader se kudde te beskerm—deur ’n leeu en ’n beer dood te maak (1 Samuel 17:34-37). Maar Dawid het alle eer vir sy dapperheid aan Jehovah gegee en hom “my vertroue van my jeug af” genoem. Dawid se vermoë om op Jehovah te vertrou, het hom opgewasse gemaak teen enige beproewing waarvoor hy te staan gekom het. Jy sal ook vind dat Jehovah jou die moed en krag sal gee om ‘die wêreld te oorwin’ as jy op hom vertrou.—1 Johannes 5:4.
Hoe moet ons bejaardes behandel?
Die psalmis het gebid: “Moet my nie wegwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat juis wanneer my krag ingee nie” (Psalm 71:9). God sal nie sy getroue knegte “wegwerp” nie, selfs wanneer hulle voel dat hulle nie meer ’n bydrae lewer nie. Die psalmis het nie gevoel dat Jehovah hom in die steek gelaat het nie; hy het eerder sy eie behoefte erken om selfs meer op sy Skepper staat te maak namate hy ouer geword het. Jehovah reageer op sulke lojaliteit deur ’n mens lewenslank te ondersteun (Psalm 18:25). Dikwels kom hierdie ondersteuning van mede-Christene.
Dien Jehovah voordat die rampspoedige dae kom
4 As jy dekades se ondervinding as ’n volwassene opgedoen het, moet jy jou ’n belangrike vraag afvra: ‘Wat sal ek nou met my lewe doen terwyl ek nog ’n mate van energie en krag het?’ As ’n ervare Christen het jy geleenthede wat ander nie het nie. Jy kan die dinge wat jy by Jehovah geleer het, aan jonger mense oordra. Jy kan ander opbou deur ondervindinge te vertel wat jy in God se diens gehad het. Koning Dawid het gebid vir geleenthede om dit te doen. Hy het geskryf: “O God, u het my van my jeug af geleer . . . Selfs tot die ouderdom en grysheid toe, o God, moet u my nie verlaat nie, totdat ek vir die geslag van u arm kan vertel, vir almal wat sal kom, van u mag.”—Ps. 71:17, 18.
5 Hoe kan jy die wysheid wat jy oor die jare opgedoen het, aan ander oordra? Kan jy jonger knegte van God na jou huis nooi om opbouende assosiasie te geniet? Kan jy hulle nooi om saam met jou in die Christelike bediening te werk sodat hulle die vreugde kan sien wat jy in Jehovah se diens ondervind? Elihu van die ou tyd het gesê: “Die dae moet praat, en die veelheid van jare moet wysheid bekend maak” (Job 32:7). Die apostel Paulus het ervare Christenvroue aangespoor om ander deur hulle woorde en hulle voorbeeld aan te moedig. Hy het geskryf dat ‘die bejaarde vroue onderrigters moet wees van wat goed is’.—Tit. 2:3.
Geestelike skatte
it-1-E 768
Eufraat
Die grense van die gebied wat Jehovah aan Israel gegee het. God het ’n verbond met Abraham gemaak en vir hom gesê dat Hy vir Abraham se saad die land “van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier” sou gee (Ge 15:18). Hierdie belofte was aan die nasie Israel herhaal (Eks 23:31; De 1:7, 8; 11:24; Jos 1:4). Eerste Kronieke 5:9 sê dat sekere nakomelinge van Ruben in die tyd voor Dawid se heerskappy hulle woonplek “tot teen die wildernis by die Eufraatrivier” uitgebrei het. Maar aangesien die Eufraat omtrent 800 km ver van Gilead is, wanneer jy “oos van Gilead” reis (1Kr 5:10), beteken dit dalk dat die Rubeniete hulle gebied oos van Gilead tot in die grens van die Siriese Woestyn, wat tot teen die Eufraat gestrek het, uitgebrei het. Dit lyk asof Jehovah se belofte vir die eerste keer ten volle vervul was gedurende die heerskappy van Dawid en Salomo toe die grense van Israel se gebied uitgebrei het om die Aramese koninkryk Soba in te sluit en dus die banke van die Eufraat bereik het, blykbaar al langs die deel wat oor noordelike Sirië strek (2Sa 8:3; 1Kn 4:21; 1Kr 18:3-8; 2Kr 9:26). Omdat dit so merkwaardig was, was daar baie keer net daarna verwys as “die Rivier”. – Jos 24:2, 15; Ps 72:8.
12-18 AUGUSTUS 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 73-74
Wat as ons jaloers is op dié wat God nie dien nie?
“Jehovah . . . red dié wat mismoedig is”
14 Die skrywer van Psalm 73 was ’n Leviet. So hy het die wonderlike voorreg gehad om by Jehovah se plek van aanbidding te dien. Maar op een stadium van sy lewe het selfs hy mismoedig geword. Hoekom? Hy het jaloers begin word op die goddeloses en hoogmoediges, nie omdat hy slegte dinge wou doen nie, maar omdat dit gelyk het asof hulle lewe beter as syne is (Ps. 73:2-9, 11-14). Dit het gelyk asof hulle alles het – rykdom, ’n goeie lewe en geen bekommernisse. Toe die Leviet dit sien, het hy baie mismoedig geword en gesê: “Ek het seker verniet my hart suiwer gehou en my hande in onskuld gewas.” Dit is duidelik dat dit kon veroorsaak het dat hy Jehovah ophou dien.
“Jehovah . . . red dié wat mismoedig is”
15 Lees Psalm 73:16-19, 22-25. Die Leviet het “in die groot heiligdom van God ingegaan”. Daar, in die huis van God, waar hy tussen ander was wat Jehovah aanbid het, kon hy kalm wees, reguit dink en bid oor sy situasie. Dit het hom gehelp om te sien dat sy denke nie reg was nie en dat hy uiteindelik sy vriendskap met Jehovah kon verloor. Hy het ook besef dat die goddeloses “op glibberige grond” was en dat hulle “tot ’n verskriklike einde” sou kom. Die Leviet moes dinge sien soos Jehovah dit sien sodat hy nie meer mismoedig sou wees nie en ook nie meer jaloers op goddelose mense sou wees nie. Toe hy dit gedoen het, het hy weer vrede gehad, en hy was gelukkig. Hy het gesê: “Behalwe [Jehovah] begeer ek niks op die aarde nie.”
16 Lesse vir ons. Laat ons nooit jaloers wees op goddelose mense wat lyk asof hulle ’n gelukkige lewe het nie. Hulle geluk is oppervlakkig en sal nie lank hou nie en hulle gaan nie vir ewig lewe nie (Pred. 8:12, 13). Om jaloers op hulle te wees, sal jou net mismoedig maak en kan selfs veroorsaak dat jy jou vriendskap met Jehovah verloor. So as jy ooit begin voel soos daardie Leviet gevoel het, doen wat hy gedoen het. Wees gehoorsaam aan God se liefdevolle raad en assosieer met persone wat Jehovah se wil doen. Wanneer jy Jehovah meer as enige iets anders liefhet, sal jy regtig gelukkig wees. En jy sal op die pad bly wat na “die werklike lewe” lei. – 1 Tim. 6:19.
Volg Moses se geloof na
5 Hoe kan jy “die tydelike genieting van sonde” weerstaan? Moet nooit vergeet dat sondige genot kortstondig is nie. Met oë van geloof moet jy sien dat ‘die wêreld verbygaan en so ook sy begeerte’ (1 Joh. 2:15-17). Dink na oor die toekoms van onberouvolle sondaars. Hulle is “op glibberige grond”, en ‘skielike verskrikkinge sal ’n einde aan hulle maak!’ (Ps. 73:18, 19). Wanneer jy in die versoeking kom om jou aan sondige gedrag skuldig te maak, moet jy jou afvra: ‘Watter soort toekoms wil ek hê?’
Moenie dat enigiets jou verhinder om heerlikheid aan te gryp nie
3 Die psalmis het die vertroue uitgespreek dat Jehovah sy regterhand sou vat en hom tot ware heerlikheid sou lei. (Lees Psalm 73:23, 24.) Hoe doen Jehovah dit? Jehovah lei sy nederige knegte tot heerlikheid deur hulle op baie maniere te eer. Hy seën hulle met ’n begrip van sy wil (1 Kor. 2:7). Hy gee diegene wat na sy woord luister en hom gehoorsaam, die eer om ’n hegte persoonlike verhouding met hom te hê.—Jak. 4:8.
4 Jehovah vertrou ook aan sy knegte die glorieryke skat van die Christelike bediening toe (2 Kor. 4:1, 7). En hierdie bediening lei tot heerlikheid. Aan dié wat hulle voorreg van diens gebruik om hom te loof en ander tot voordeel te strek, belowe Jehovah: “Dié wat my eer, sal ek eer” (1 Sam. 2:30). Hierdie persone word geëer met ’n goeie naam by Jehovah, en ander knegte van God sê waarskynlik goeie dinge van hulle.—Spr. 11:16; 22:1.
5 Wat van die toekoms van diegene wat ‘op Jehovah hoop en sy weg hou’? Aan hulle word belowe: “Hy [Jehovah] sal jou verhef om die aarde in besit te neem. Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien” (Ps. 37:34). Hulle sien daarna uit om die onvergelyklike eer te hê om die ewige lewe te ontvang.—Ps. 37:29.
Geestelike skatte
it-2-E 240
Leviatan
Psalm 74 beskryf God se rekord van verlossing vir sy volk, en vers 13 en 14 verwys op ’n simboliese manier na hoe hy Israel uit Egipte gered het. Hier word die term “seemonsters [Heb., than·ni·nimʹ, meervoud van tan·ninʹ]” gebruik as ’n ander term vir “Leviatan”, en die koppe van die Leviatan wat stukkend gebreek word, verwys dalk na die vernietigende oorwinning oor Farao en sy leërmag met die uittog uit Egipte. Die Aramese Targoems sê hier “die magtiges van Farao” in plaas van “die koppe van die Leviatan”. (Vergelyk Ese 29:3-5, waar Farao vergelyk word met ’n “groot seemonster” wat in die strome van die Nyl lê; sien ook Ese 32:2.) Jesaja 27:1 gebruik blykbaar die Leviatan as ’n simbool van ’n ryk, ’n internasionale organisasie wat beheer word deur die een waarna daar verwys word as “slang” of “draak” (Op 12:9). Die profesie gaan oor die herstel van Israel, en daarom moet die feit dat Jehovah met die Leviatan afreken na Babilon verwys. Maar vers 12 en 13 praat ook van Assirië en Egipte. So, hier verwys Leviatan blykbaar na ’n internasionale organisasie of ryk wat Jehovah en sy aanbidders teëstaan.
19-25 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 75-77
Moenie grootpraat nie – Hoekom nie?
Sien die verskil in mense
4 Nadat Paulus gesê het dat mense geld sal liefhê, het hy geskryf dat mense hoogmoedig, opgeblase van trots en aanmatigend sal wees, of dat hulle sal spog met wat hulle het. Mense met sulke eienskappe dink dat hulle beter as ander is omdat hulle sekere dinge kan doen, meer geld het, een of ander posisie in die lewe het en omdat hulle dink dat hulle beter as ander lyk. Hulle wil baie graag hê dat mense van hulle moet hou en hulle moet bewonder. Een geleerde het die volgende oor sulke persone gesê: “In sy hart is ’n klein altaar en hy buig voor homself neer.” Party het al gesê dat sulke trots baie lelik is en dat selfs trotse mense nie daarvan hou om dit in ander mense te sien nie.
5 Jehovah haat trots, of “trotse oë” (Spr. 6:16, 17). Trots keer dat ons nader aan God kan kom (Ps. 10:4). Dit is ’n eienskap van die Duiwel (1 Tim. 3:6). Ongelukkig het party van Jehovah se lojale knegte trots geword. Ussia, ’n koning van Juda, was jare lank getrou aan Jehovah. Die Bybel sê: “Maar net toe hy sterk geword het, het sy hart so hoogmoedig geword dat dit verderf aangerig het, sodat hy ontrou gehandel het teenoor Jehovah sy God en in die tempel van Jehovah ingegaan het om reukwerk op die reukaltaar te brand.” Later het koning Hiskia ook trots geword, maar slegs vir ’n kort tydjie. — 2 Kron. 26:16; 32:25, 26.
Glanspunte uit die Derde en Vierde Boek van Psalms
75:4, 5, 10 Wat beteken die term horing? Die horings van n dier is n kragtige wapen. Die term horing dui dus in figuurlike sin op krag, of sterkte. Jehovah lig die horings van sy volk op, sodat hulle verhef word, terwyl hy die horings van die goddeloses afkap. Ons word gewaarsku om nie ons horing in die hoogte te verhef nie, in die sin dat ons nie n trotse of verwaande gesindheid moet ontwikkel nie. Aangesien Jehovah die verheffing doen, moet aanstellings in verantwoordelike posisies in die gemeente beskou word as toewysings wat van hom af kom.Psalm 75:7.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die Derde en Vierde Boek van Psalms
76:10—Hoe kan “die woede van die mens” Jehovah prys? Wanneer God mense toelaat om ons die skyf van hulle woede te maak omdat ons sy knegte is, kan dit ’n positiewe afloop hê. Enige teëspoed wat ons verduur, kan ons op die een of ander manier dissiplineer. Jehovah laat lyding net toe tot die mate waarin dit sulke opleiding voorsien (1 Petrus 5:10). ‘Met die res van die woede van die mens omgord God hom.’ Gestel ons lyding het ons dood tot gevolg. Dit kan Jehovah ook verheerlik, want dié wat ons getroue volharding sien, begin God dalk ook loof.
26 AUGUSTUS 2012–1 SEPTEMBER 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 78
Israel se ontrouheid – ’n Waarskuwende voorbeeld
“Onthou die vervloë dae”—Waarom?
Ongelukkig het die Israeliete dikwels voor die sonde van vergeetagtigheid geswig. Met watter gevolg? “Hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk. Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie” (Psalm 78:41, 42). Uiteindelik het die feit dat hulle sy gebooie vergeet het daartoe gelei dat hy hulle verwerp het.—Matteus 21:42, 43.
’n Goeie voorbeeld is gestel deur die psalmis wat geskryf het: “Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade” (Psalm 77:12, 13). Om so peinsend terug te dink aan lojale diens van die verlede en Jehovah se liefdevolle dade sal ons die nodige aansporing, bemoediging en waardering gee. “Om die vroeëre dae te onthou”, kan ook vermoeidheid verdryf en kan ons aanspoor om alles in ons vermoë te doen en om getrou te volhard.
‘Doen alles sonder murmurering’
16 Murmurering laat ons behep raak met onsself en ons probleme en skuif die seëninge wat ons as Getuies van Jehovah geniet, op die agtergrond. As ons ’n neiging om te kla, te bowe wil kom, moet ons hierdie seëninge helder voor oë hou. Byvoorbeeld, elkeen van ons het die wonderlike voorreg om die persoonlike naam van Jehovah te dra (Jesaja 43:10). Ons kan ’n hegte verhouding met hom opbou, en ons kan te eniger tyd met die “Hoorder van die gebed” praat (Psalm 65:2; Jakobus 4:8). Ons lewe is werklik sinvol omdat ons die geskil van universele soewereiniteit verstaan en in gedagte hou dat dit ons voorreg is om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf (Spreuke 27:11). Ons kan gereeld deelneem aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk (Matteus 24:14). Geloof in die losprysoffer van Jesus Christus stel ons in staat om ’n skoon gewete te hê (Johannes 3:16). Ons geniet hierdie seëninge ongeag wat ons moet verduur.
Het Jehovah gevoelens?
Die psalmis sê: “Hoe dikwels het hulle in die wildernis teen hom in opstand gekom!” (vers 40). Die volgende vers voeg by: “Keer op keer het hulle God op die proef gestel” (vers 41). Let op dat die skrywer ’n patroon van opstandigheid beskryf. Hierdie lelike gesindheid het vroeg-vroeg kop uitgesteek—in die wildernis kort ná hulle verlossing uit Egipte. Die volk het teen God begin murmureer en het sy vermoë en bereidwilligheid om vir hulle te sorg, in twyfel getrek (Numeri 14:1-4). ’n Naslaanwerk vir Bybelvertalers sê dat die woorde ‘hulle het teen hom in opstand gekom’ “idiomaties vertaal kan word as ‘hulle het hulle harte teen God verhard’ of ‘hulle het vir God “Nee” gesê’”. Tog het Jehovah sy volk uit sy barmhartigheid vergewe wanneer hulle berou getoon het. Maar dan het hulle na hulle ou weë teruggekeer en weer eens opstandig geword, en die patroon is voortgesit.—Psalm 78:10-19, 38.
Hoe het Jehovah elke keer gevoel wanneer sy wispelturige volk teen hom in opstand gekom het? ‘Hulle het hom gekrenk’, sê vers 40. ’n Ander vertaling sê dat hulle “hom rede tot smart gegee het”. Een Bybelnaslaanwerk verduidelik: “Die betekenis is hier dat die gedrag van die Hebreërs pyn kon veroorsaak—soos die gedrag van ’n ongehoorsame en opstandige kind.” Net soos ’n ongehoorsame kind groot droefheid vir sy ouers kan veroorsaak, het die opstandige Israeliete “die Heilige van Israel bedroef”.—Vers 41.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die Derde en Vierde Boek van Psalms
78:24, 25; voetnoot in NW.—Waarom word manna “die graan van die hemel” en “die brood van engele” genoem? Nie een van hierdie uitdrukkings beteken dat manna die voedsel van engele was nie. Dit was “die graan van die hemel” in die sin dat dit uit die hemel gekom het (Psalm 105:40). Aangesien engele, of “magtiges”, in die hemel woon, beteken die uitdrukking “die brood van engele” moontlik maar net dat dit voorsien is deur God, wat in die hemel woon (Psalm 11:4). Jehovah het moontlik ook die engele gebruik om die manna vir die Israeliete te voorsien.