Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr25 Januarie bl. 1-9
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2025
  • Onderhofies
  • 6-12 JANUARIE
  • 13-19 JANUARIE 2012
  • 20-26 JANUARIE
  • 27 JANUARIE 2012–2 FEBRUARIE 2012
  • 3-9 FEBRUARIE 2012
  • 10-16 FEBRUARIE 2012
  • 17-23 FEBRUARIE 2012
  • 24 FEBRUARIE 2012–2 MAART 2012
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2025
mwbr25 Januarie bl. 1-9

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

© 2024 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania

6-12 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 127-134

Ouers – Hou aan om vir julle kosbare geskenke te sorg

w21.08 5 ¶9

Waardeer jou plek in Jehovah se familie

9 Jehovah het mense die vermoë gegee om kinders te hê, en ook die verantwoordelikheid om hulle te leer om hom lief te hê en om hom te dien. As jy ’n ouer is, waardeer jy hierdie spesiale geskenk? Alhoewel Jehovah vir die engele baie vermoëns gegee het, het hy nie vir hulle die vermoë gegee om kinders te hê nie. So almal wat kinders grootmaak, moet baie dankbaar wees vir daardie voorreg. Ouers het die heilige voorreg en die belangrike verantwoordelikheid gekry om hulle kinders volgens “die dissipline en riglyne van Jehovah” groot te maak (Ef. 6:4; Deut. 6:5-7; Ps. 127:3). God se organisasie voorsien baie Bybelgebaseerde hulpmiddele, soos publikasies, video’s, musiek en artikels op die webwerf om ouers te help. Dit is duidelik dat ons hemelse Vader en sy Seun baie lief is vir jongmense (Luk. 18:15-17). Dit maak Jehovah baie bly wanneer ouers op hom vertrou en hulle bes doen om vir hulle kosbare kinders te sorg. En sulke ouers gee hulle kinders die geleentheid om vir ewig deel van Jehovah se familie te kan word!

w19.12 27 ¶20

Ouers – Leer julle kinders om Jehovah lief te hê

20 Ken jou kinders goed. Psalm 127 vergelyk kinders met pyle. (Lees Psalm 127:4.) Net soos pyle van verskillende materiaal gemaak word en in grootte verskil, is daar nie een kind wat presies dieselfde as die ander een is nie. So ouers moet besluit hoe hulle elke kind gaan leer. ’n Paartjie in Israel wat twee kinders suksesvol grootgemaak het om Jehovah te dien, sê wat hulle gehelp het: “Ons het ’n Bybelstudie met elke kind apart gehou.” Elke gesinshoof sal natuurlik besluit of dit nodig of moontlik is om op hierdie manier te studeer.

Geestelike skatte

w21.07 22 ¶6

Vind vreugde in jou eie vordering!

6 Ouers kan ’n belangrike les vind in Psalm 131:1, 2. (Lees.) Koning Dawid het gesê dat hy nie na dinge streef “wat te groot is” of wat vir hom onbereikbaar is nie. Sy nederigheid en beskeidenheid het hom “gekalmeer en tot bedaring gebring”. Wat kan ouers uit Dawid se woorde leer? Nederige ouers verwag nie te veel van hulleself of van hulle kinders nie. Ouers kan hulle kinders help om waardevol te voel deur vir hulle te help besef wat hulle sterk en swak punte is en deur vir hulle te help om doelwitte te stel wat hulle kan bereik. ’n Suster met die naam Marina sê: “My ma het my nooit met my broers of met ander kinders vergelyk nie. Sy het my geleer dat almal verskillende talente het en dat elkeen van ons vir Jehovah kosbaar is. Danksy haar vergelyk ek myself amper nooit met ander nie.”

13-19 JANUARIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 135-137

“Ons Here is groter as alle ander gode”

it-2-E 661 ¶4-5

Krag, kragtige werke

God se beheer oor natuurkragte is uniek. Om te wys dat Jehovah die ware God is, word daar dalk van hom verwag om te wys dat hy beheer het oor die natuurkragte en dat hy dit doen op ’n manier wat uniek verband hou met sy naam (Ps 135:5, 6). Aangesien die son, maan, planete en sterre in hulle gewone bane beweeg, aangesien die aarde se atmosferiese elemente (wind, reën en ander elemente) die wette gehoorsaam wat beheer oor hulle het, aangesien ’n swerm sprinkane en voëls migreer, is hierdie en ander dinge wat normaal funksioneer nie genoeg om God se naam te heilig wanneer dit kom by teenstand en valse aanbidding nie.

Maar Jehovah God kan veroorsaak dat die natuurlike skepping en elemente van sy Godheid getuig deur hulle te gebruik om ’n spesifieke doel buite hulle normale funksie te verrig en baie keer op ’n spesifieke tyd wat deur hom vasgestel is. Selfs wanneer gebeure, soos ’n droogte, ’n reënstorm of soortgelyke weerstoestande nie opsig self uniek was nie, was dit uniek omdat dit ’n profesie van Jehovah waar laat word het. (Vergelyk 1Kn 17:1; 18:1, 2, 41-45.) Maar in die meeste gevalle was die gebeure self buitengewoon, eerder as gevolg van die grootheid of die intensiteit daarvan (Eks 9:24) of omdat dit op ’n ongewone manier of tyd gebeur het. – Eks 34:10; 1Sa 12:16-18.

w21.11 6 ¶16

Wat beteken Jehovah se lojale liefde vir jou?

16 Wanneer Jehovah ons Skuilplek is, voel ons veilig. Maar party dae voel ons dalk emosioneel platgeslaan, asof ons net nie op ons voete kan kom nie. Wat sal Jehovah vir ons doen wanneer ons so voel? (Lees Psalm 136:23.) Hy sal sy arms gebruik om ons saggies op te tel en ons help om weer op ons voete te kom (Ps. 28:9; 94:18). Hoe ons baat vind: Die feit dat ons altyd op Jehovah kan staatmaak, help ons om te besef dat ons op twee maniere geseënd is. Eerstens, ons het ’n veilige skuilplek of vesting, maak nie saak waar ons is nie. Tweedens, ons liefdevolle hemelse Vader gee verskriklik baie vir ons om.

Geestelike skatte

it-1-E 1248

Jah

Die enkele lettergreep Jah hou gewoonlik verband met emosies van lof en sang, gebed en smeekbede. En dit word gewoonlik gevind wanneer daar gepraat word van die blydskap oor ’n oorwinning en verlossing, of wanneer daar erkenning gegee word aan God se magtige hand en krag. Daar is baie voorbeelde van hoe dit op hierdie spesiale manier gebruik word. Die frase, “Loof Jah!” (Halleluja) kom as ’n uitdrukking van lof aan God voor in die Psalms, die eerste voorbeeld daarvan is in Psalm 104:35. In die boek Openbaring beklemtoon geesskepsele herhaaldelik hulle lof aan Jehovah deur hierdie uitdrukking te gebruik. – Op 19:1-6.

Die oorblywende gevalle waar “Jah” verskyn, weerspieël ook verheerliking in liedere en versoeke tot Jehovah. ’n Voorbeeld hiervan is die lied van verlossing deur Moses (Eks 15:2). In dié wat deur Jesaja opgeteken is, word meer klem gegee deur albei name “Jah Jehovah” te gebruik (Jes 12:2; 26:4). Hiskia het op ’n digterlike manier uitdrukking gegee aan sy gevoelens deur Jah herhaaldelik te gebruik nadat hy op ’n wonderdadige manier van sy dodelike siekte genees was (Jes 38:9, 11). En ander psalms weerspieël waardering vir verlossing, beskerming en dissipline deur middel van gebed. – Ps 94:12; 118:5, 14.

20-26 JANUARIE

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 138-139

Moenie dat vrees jou keer nie

w19.01 10 ¶10

Loof Jehovah in die gemeente

10 Kry jy ’n knop op jou maag elke keer as jy net daaraan dink om jou hand op te steek om ’n antwoord te gee? Dan is jy nie alleen nie. Die meeste van ons voel ’n bietjie bang wanneer ons ’n antwoord gee. Voordat jy iets omtrent hierdie vrees kan doen, moet jy eers uitvind wat die rede daarvoor is. Is jy bang dat jy jou woorde sal vergeet of dat jy dalk die verkeerde antwoord sal gee? Of is jy miskien bang dat jou antwoord nie so goed soos iemand anders s’n sal wees nie? Eintlik is sulke vrese ’n goeie teken. Dit wys dat jy nederig is en dat jy ander hoër as jouself beskou. Jehovah is lief vir dié wat nederig is (Ps. 138:6; Fil. 2:3). Maar Jehovah wil ook hê dat jy hom moet loof en dat jy jou broers en susters by die vergaderinge moet aanmoedig (1 Tess. 5:11). Hy is lief vir jou en sal jou die moed gee wat jy nodig het.

w23.04 21 ¶7

Moedig mekaar aan by gemeentelike vergaderinge

7 Dit sal jou dalk help om ’n paar van die voorstelle te hersien wat in vorige nommers van Die Wagtoring gepubliseer was. Byvoorbeeld, berei goed voor (Spr. 21:5). Hoe beter jy die inligting ken, hoe makliker sal dit vir jou wees om ’n antwoord te gee. En hou jou antwoorde kort (Spr. 15:23; 17:27). Jy sal minder senuweeagtig voel wanneer jy ’n kort antwoord gee. ’n Kort antwoord, miskien een of twee sinne, sal dalk vir jou broers en susters selfs makliker wees om te verstaan as ’n lang antwoord wat baie idees ontwikkel. Deur ’n kort antwoord in jou eie woorde te gee, sal jy wys dat jy goed voorberei het en dat jy die inligting goed verstaan.

Geestelike skatte

w97 12/1 19 ¶15

‘Hou aan om mekaar vryelik te vergewe’

15 Maar sê nou ander sondig op so ’n manier teen ons dat dit ’n baie diep wond veroorsaak, en tog is daar geen erkenning van die sonde of enige berou nie en vra die oortreder glad nie om verskoning nie? (Spreuke 28:13). Die Skrif toon duidelik dat Jehovah nie onberouvolle, verstokte sondaars vergewe nie (Hebreërs 6:4-6; 10:26, 27). Wat van ons? Insight on the Scriptures sê: “Daar word nie van Christene verwag om diegene te vergewe wat voorbedagte, opsetlike sonde sonder enige berou beoefen nie. Hulle word God se vyande” (Deel 1, bladsy 862). Geen Christen wat die slagoffer van uiters onregverdige, verfoeilike of gruwelike optrede was, hoef hom gedwonge te voel om ’n oortreder te vergewe, of te verskoon, wat nie berouvol is nie.—Psalm 139:21, 22.

27 JANUARIE 2012–2 FEBRUARIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 140-143

Doen alles wat jy kan nadat jy vir hulp gebid het

w22.02 12 ¶13-14

“Skenk aandag aan die woorde van die wyses”

13 Beskou raad as ’n bewys van God se liefde. Jehovah wil net die beste vir ons hê (Spr. 4:20-22). Wanneer Jehovah vir ons deur middel van sy Woord, ’n Bybelpublikasie of ’n ervare Christen raad gee, wys hy dat hy vir ons lief is. Hebreërs 12:9, 10 sê: “Hy doen dit tot ons voordeel.”

14 Fokus op die raad, nie op hoe dit gegee word nie. Soms voel ons dalk dat die raad nie op die beste manier gegee was nie. Enige een wat raad gee, moet natuurlik die raad op ’n manier gee wat dit vir die ander persoon maklik maak om te aanvaar (Gal. 6:1). Maar as ons raad kry, moet ons op die raad self fokus, selfs al voel ons dat dit op ’n beter manier oorgedra kon gewees het. Ons kan onsself vra: ‘Is daar iets wat ek kan toepas, al hou ek nie van hoe die raad gegee was nie? Kan ek verby die persoon se foute kyk en by die raad baat vind?’ Dit sal wys wees van ons om altyd te probeer om by raad baat te vind. – Spr. 15:31.

w10 3/15 32 ¶4

Behou “suiwerheid van hart” in hierdie kritieke tye

Druk van teenstanders, ekonomiese ontbering en ernstige siekte het al ’n swaar las op party van God se knegte geplaas. Soms is hulle hart ook negatief beïnvloed. Selfs koning Dawid het so ’n ondervinding deurgemaak: “My gees versmag in my; in my binneste is my hart lam” (Ps. 143:4). Wat het hom in staat gestel om deur sulke tye te kom? Dawid het gedink aan God se handelinge met Sy knegte asook hoe hy self verlos is. Hy het gepeins oor wat Jehovah ter wille van Sy groot naam gedoen het. Dawid het bly nadink oor God se werke (Ps. 143:5). As ons eweneens peins oor ons Skepper en alles wat hy al vir ons gedoen het en nog steeds doen, sal dit ons help selfs wanneer ons beproewinge verduur.

w15 3/15 32 ¶2

Trou “net in die Here” Is dit nog realisties?

Soms voel jy moontlik soos Dawid, wat gesê het: “Antwoord my, o Jehovah. My gees het tot ’n einde gekom. Moenie u aangesig vir my verberg nie” (Psalm 143:5-7, 10). Moenie moed opgee nie. Gee Jehovah tyd om vir jou te toon wat hy wil hê jy moet doen. Luister na Jehovah deur die Bybel te lees en diep na te dink oor wat jy gelees het. Dit sal jou help om te besef wat Jehovah van jou vereis en om te sien hoe hy sy knegte in die verlede gehelp het. En dit alles sal jou die vertroue gee om aan hom gehoorsaam te bly.

Geestelike skatte

w22.07 20 ¶2

Waardeer jou voorreg van gebed

2 Koning Dawid het die voorreg van gebed waardeer. Hy het tot Jehovah gesing: “Mag my gebed wees soos reukwerk wat voor u voorberei is” (Ps. 141:1, 2). In Dawid se tyd het die priesters baie moeite gedoen om die heilige reukwerk wat in ware aanbidding gebruik was, voor te berei (Eks. 30:34, 35). Die feit dat Dawid oor reukwerk gepraat het, wys dat hy baie mooi wou dink oor wat hy gaan sê wanneer hy met sy hemelse Vader praat. Dit is wat ons ook baie graag wil doen. Ons wil hê dat ons gebede Jehovah se goedkeuring moet hê.

3-9 FEBRUARIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 144-146

“Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”

w18.04 32 ¶3-4

Vrae van lesers

2. Die bewoording in die hersiene uitgawe pas by die res van die psalm. In die hersiene uitgawe word die woord “dan” in vers 12 gebruik, en dit beteken dat die seëninge in vers 12 tot 14 op die regverdiges van toepassing is. Hulle is diegene wat vra om van die goddeloses ‘bevry en verlos’ te word (vers 11). Wanneer die vers so vertaal word, pas dit ook beter by vers 15, want nou is die woord “gelukkig” in albei gevalle van toepassing op dieselfde volk — dié “wie se God Jehovah is!” Ons moet ook in gedagte hou dat die oorspronklike Hebreeuse teks geen leestekens, soos aanhalingstekens, gehad het nie. Daarom moet vertalers seker maak wat die regte betekenis is deur die Hebreeuse digterlike styl, die konteks en die Bybelverse wat daarmee verband hou, in ag te neem.

3. Die bewoording in die hersiene uitgawe stem ooreen met ander Bybelverse wat belowe dat God sy getroue volk sal seën. Omdat die hersiene uitgawe die woord asjer met “dan” vertaal, stem die psalm nou ooreen met Dawid se hoop dat God die nasie Israel sou seën nadat Hy hulle van hulle vyande gered het. Hulle sou gelukkig wees, en dit sou goed gaan met hulle (Lev. 26:9, 10; Deut. 7:13; Ps. 128:1-6). Deuteronomium 28:4 sê byvoorbeeld: “Geseënd sal die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou grond en die vrug van jou mak diere, die kalwers van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee wees.” Toe Dawid se seun Salomo as koning regeer het, het die nasie wel vrede geniet, en dit het baie goed met hulle gegaan. En sekere aspekte van Salomo se heerskappy het gewys hoe dit gaan wees wanneer die Messias regeer. — 1 Kon. 4:20, 21; Ps. 72:1-20.

w22.10 28 ¶16-17

Hou jou Christelike hoop sterk

16 Ons hoop om vir ewig te lewe is ’n kosbare geskenk van God. Ons sien uit na ’n wonderlike toekoms – een wat ons seker kan wees sal gebeur. Dit is soos ons anker – dit stabiliseer ons sodat ons in moeilike tye kan volhard, vervolging kan verduur en selfs die dood in die gesig kan staar. Dit is soos ons helm – dit beskerm ons denke sodat ons die dinge wat verkeerd is, kan verwerp en kan vashou aan wat reg is. Ons Bybelse hoop bring ons nader aan God, en dit wys hoe lief hy vir ons is. Dit help ons baie as ons ons hoop helder en sterk hou.

17 Die apostel Paulus het die Romeine in sy brief aangemoedig: “Wees bly oor die hoop” (Rom. 12:12). Paulus kon bly wees omdat hy seker was dat hy die ewige lewe in die hemel sou kry as hy getrou bly. Ons kan ook bly wees oor ons hoop omdat ons seker is dat Jehovah sy beloftes sal nakom. Dit is soos die psalmis geskryf het: “Gelukkig is die een . . . wat sy hoop vestig op Jehovah sy God . . . die Een wat altyd getrou bly”. – Ps. 146:5, 6.

w18.01 26 ¶19-20

Watter soort liefde maak ons werklik gelukkig?

19 Mense kry al 6 000 jaar lank swaar in Satan se wêreld. Daar is baie mense op die aarde wat hulleself, geld en plesier te veel liefhet. Hulle dink net die heeltyd aan wat hulle kan kry, en hulle eie begeertes is die belangrikste ding in hulle lewe. Sulke mense sal nooit werklik gelukkig wees nie. Die psalmis het eerder geskryf: “Gelukkig is hy wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop op Jehovah sy God is.” — Ps. 146:5.

20 Jehovah se knegte word al hoe liewer vir hom. En elke jaar is daar baie wat hom leer ken en ook lief word vir hom. Dit is ’n bewys dat God se Koninkryk regeer en dat dit binnekort baie seëninge op die aarde gaan bring. Wanneer ons doen wat Jehovah wil hê ons moet doen, maak ons hom bly en dit maak ons werklik gelukkig. En dié wat lief is vir Jehovah sal vir ewig gelukkig wees! In die volgende artikel gaan ons eienskappe bespreek wat mense ontwikkel as hulle selfsugtige liefde het en ons gaan sien hoe dit verskil van die eienskappe wat Jehovah se knegte het.

Geestelike skatte

it-1-E 111 ¶9

Diere

Die Bybel beklemtoon dat ons diere regverdig en genadig moet behandel. Jehovah stel hom voor as hulle liefdevolle Voorsiener (Spr 12:10; Ps 145:15, 16). Die Wet van Moses het seker gemaak dat daar goed vir mak diere gesorg word. Wanneer mak diere weggedwaal het, moes hulle na hulle eienaar teruggebring word en wanneer hulle onder ’n vrag geval het, moes hulle bevry word (Eks 23:4, 5). Wanneer hulle vir werksdoeleindes gebruik was, moes hulle goed behandel word (De 22:10; 25:4). Hulle, sowel as mense, moes by die sabbatsrus baat vind (Eks 20:10; 23:12; De 5:14). Gevaarlike diere moes beheer of doodgemaak word (Ge 9:5; Eks 21:28, 29). Kruisteling van verskillende soorte diere was verbied. – Le 19:19.

10-16 FEBRUARIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PSALM 147-150

Ons het baie redes om Jah te loof

w17.07 18 ¶5-6

“Loof Jah”—Waarom?

5 Jehovah het nie net die nasie Israel vertroos nie, maar hy het ook elke Israeliet individueel vertroos. Jehovah doen vandag dieselfde. Die psalmis het gesê dat God ‘die gebrokenes van hart genees’ (Ps. 147:3). Ja, Jehovah help almal wat siek of depressief is. Jehovah wil ons graag vertroos en ons emosionele wonde genees (Ps. 34:18; Jes. 57:15). Hy gee ons die wysheid en krag sodat ons probleme ons nie onderkry nie.—Jak. 1:5.

6 Die psalmis het toe na die hemel gekyk en gesê dat Jehovah ‘die getal van die sterre bepaal’ en dat ‘hy hulle almal by hulle name noem’ (Ps 147:4). Hy kon die sterre sien, maar hy het geen idee gehad hoeveel daar werklik is nie. Party meen dat daar net in ons Melkwegstelsel miljarde sterre is. En daar is moontlik biljoene sterrestelsels in die heelal! Dit is vir mense onmoontlik om die sterre te tel, maar die Skepper kan! Hy ken die sterre so goed dat hy elkeen van hulle ’n naam gegee het (1 Kor. 15:41). Die God wat weet waar elke ster is, ken jou ook. Hy weet presies waar jy is, presies hoe jy voel en wat jy elke oomblik nodig het!

w17.07 18 ¶7

“Loof Jah”—Waarom?

7 Jehovah weet wat jy deurmaak, en hy kan jou met jou probleme help. (Lees Psalm 147:5.) Jy voel dalk dat jou probleme net te veel raak en te moeilik is om te verduur. God weet dat ons perke het en hy weet “dat ons stof is” (Ps. 103:14). Ons is onvolmaak en ons maak dikwels dieselfde foute oor en oor. Ons is so jammer oor verkeerde dinge wat ons gesê het, verkeerde begeertes wat ons gehad het en dat ons op ander mense jaloers was! Jehovah maak nie sulke foute nie, maar hy verstaan hoe ons voel!—Jes. 40:28.

w17.07 21 ¶18

“Loof Jah”—Waarom?

18 Die psalmis het geweet hoe geseënd God se eertydse volk was. Hulle was die enigste nasie wat God se “woord” en sy “voorskrifte en sy regterlike beslissings” gehad het. (Lees Psalm 147:19, 20.) Ons het vandag die voorreg om die enigste mense op die aarde te wees wat God se naam dra. Ons is baie bly dat ons Jehovah ken, dat ons sy Woord het om ons te rig en dat ons ’n goeie verhouding met hom kan hê. Jy het net soos die skrywer van Psalm 147 baie goeie redes om te sê “Loof Jah”, en om ander aan te spoor om dit ook te doen!

Geestelike skatte

w04 6/1 13 ¶22

Die skepping maak die heerlikheid van God bekend!

22 “Wilde diere en alle mak diere, kruipende diere en gevleuelde voëls”, sê Psalm 148:10. Talle landdiere en vlieënde skepsele openbaar verstommende vermoëns. Die swartwangalbatros kan groot afstande aflê (in een geval 40 000 kilometer in net 90 dae). Die Nieu-Engelandse sangvoël reis van Noord- na Suid-Amerika, en bly meer as 80 uur in die lug in een ononderbroke vlug. Die kameel berg water, nie in sy rugbult soos oor die algemeen gedink is nie, maar in sy spysverteringstelsel, wat hom in staat stel om nie te ontwater nie, al bly hy lang tye sonder water. Dit is dus geen wonder nie dat ingenieurs die diereryk noukeurig bestudeer wanneer hulle masjiene en nuwe materiale ontwerp. “As jy iets wil bou wat goed sal funksioneer . . . en volmaak in sy omgewing sal inpas”, sê die skryfster Gail Cleere, “sal jy heel waarskynlik ’n goeie voorbeeld êrens in die natuur vind.”

17-23 FEBRUARIE 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 1

Jongmense – Na wie sal julle luister?

w17.11 29 ¶16-17

Hou styf vas aan die prys

16 Miskien is jy ’n tiener wat voel dat jou Christenouers jou nie verstaan nie of dat hulle te streng is. Omdat jy so gefrustreerd is, kan jy dalk begin twyfel of jy Jehovah regtig wil dien. Maar as jy Jehovah ophou dien, sal jy sien dat niemand in die wêreld jou so liefhet soos jou ouers en die broers en susters in die gemeente nie.

17 As jou ouers jou nooit reggehelp het nie, hoe sou jy geweet het of hulle vir jou omgee? (Heb. 12:8). Dalk is dit die manier waarop jou ouers jou dissiplineer wat jou ontstel. Maar moenie daarop fokus nie. Probeer eerder die redes verstaan vir wat hulle doen en sê. Bly kalm en moenie oorreageer nie. God se Woord sê: “Iemand wat sy woorde inhou, besit kennis, en ’n man met onderskeidingsvermoë is kalm van gees” (Spr. 17:27). Maak dit jou doelwit om ’n meer volwasse persoon te wees wat raad aanvaar en iets daaruit leer, maak nie saak hoe dit gegee word nie (Spr. 1:8). Dit is ’n seën om ouers te hê wat lief is vir Jehovah. Hulle wil jou help om die prys van die lewe te wen.

w05 2/15 19-20 ¶11-12

Hoe om ons Christelike identiteit te bewaar

11 Streef daarna om God te behaag, nie mense nie. Dit is maar net natuurlik om ons identiteit deels te bevestig deur aan ’n groep te behoort. Almal het vriende nodig, en ons voel goed wanneer ander ons aanvaar. Gedurende adolessensie—asook later in die lewe—kan portuurdruk sterk wees en ’n desperate begeerte laat ontstaan om ander na te boots of tevrede te stel. Maar vriende en portuurs dra nie altyd ons belange op die hart nie. Soms soek hulle net iemand om saam met hulle verkeerde dinge te doen (Spreuke 1:11-19). Wanneer ’n Christen voor negatiewe portuurdruk swig, probeer hy gewoonlik sy identiteit verberg (Psalm 26:4). “Moenie julle na die gedrag van die wêreld om julle vorm nie”, het die apostel Paulus gewaarsku (Romeine 12:2, The Jerusalem Bible). Jehovah voorsien die innerlike krag wat ons nodig het om te stry teen enige eksterne druk om toe te gee.—Hebreërs 13:6.

12 Wanneer eksterne druk ons Christelike identiteitsgevoel in gevaar stel, is dit goed om te onthou dat ons lojaliteit aan God baie belangriker is as die openbare mening of die rigting wat die meerderheid inslaan. Die woorde van Eksodus 23:2 is ’n veilige beginsel om te volg: “Jy mag die menigte nie volg met bose oogmerke nie.” Toe die meerderheid van die Israeliete getwyfel het aan Jehovah se vermoë om Sy beloftes te vervul, het Kaleb beslis geweier om die meerderheid te volg. Hy was seker dat God se beloftes betroubaar is, en hy is ryklik beloon vir die standpunt wat hy ingeneem het (Numeri 13:30; Josua 14:6-11). Is jy eweneens gewillig om die druk van die openbare mening te weerstaan sodat jy jou verhouding met God kan bewaar?

Geestelike skatte

w22.10 19-20 ¶6, 11

Ware wysheid roep hard uit

6 Baie wil nie luister wanneer ware wysheid ‘in die straat uitroep’ nie. Volgens die Bybel is daar drie groepe mense wat wysheid verwerp: “onervarenes,” “spotters” en “dwase”. (Lees Spreuke 1:22-25.) Kom ons bespreek hoekom hierdie mense God se wysheid verwerp, en kom ons kyk ook hoe ons dit kan vermy om soos hulle te word.

11 Die derde groep mense wat wysheid verwerp, is die “dwase”. Hulle is dwaas omdat hulle weier om volgens God se sedelike wette te lewe. Hulle doen wat reg is in hulle eie oë (Spr. 12:15). Sulke mense verwerp Jehovah, die Bron van wysheid (Ps. 53:1). Wanneer ons hulle in die predikingswerk ontmoet, kritiseer hulle ons dikwels omdat ons Bybelstandaarde respekteer, maar hulle het niks beters om ons te bied nie. Die Bybel sê: “’n Dwaas kan nie ware wysheid verkry nie. In die stadspoort het hy niks om te sê nie” (Spr. 24:7). Die dwase kan nie vir ons enige wyse raad gee nie. Dit is geen wonder dat Jehovah ons hierdie raad gee nie: “Bly weg van die dwaas”! – Spr. 14:7.

24 FEBRUARIE 2012–2 MAART 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 2

Hoekom moet jy jou hart en siel in jou persoonlike studie sit?

w22.08 19 ¶16

‘Gaan voort om die weg van die waarheid te volg’

16 Nie almal van ons is lief vir lees en studeer nie. Maar Jehovah nooi ons om te “bly soek” sodat ons die waarheid beter kan verstaan. (Lees Spreuke 2:4-6.) Wanneer ons dit doen, sal dit ons altyd help. Corey sê dat hy op een vers op ’n slag fokus wanneer hy sy persoonlike Bybellees doen. Hy verduidelik: “Ek lees elke voetnoot, kyk na elke kruisverwysing en doen ekstra navorsing. . . . Hierdie metode help my om baie dinge te leer!” Of ons nou hierdie metode of ’n ander een gebruik, ons wys dat ons die waarheid waardeer wanneer ons tyd opsysit en moeite doen om dit te studeer. – Ps. 1:1-3.

w22.10 19 ¶3-4

Ware wysheid roep hard uit

3 Wysheid kan verwys na die vermoë om te gebruik wat ons weet om goeie besluite te maak. Maar ware wysheid behels meer. Die Bybel sê: “Vrees vir Jehovah is die begin van wysheid, en kennis van die Allerheiligste lei tot insig” (Spr. 9:10). So wanneer ons ’n belangrike besluit moet maak, moet ons Jehovah se denke – “kennis van die Allerheiligste” – die grondslag vir ons besluit maak. Ons kan dit doen deur die Bybel en Bybelse publikasies te studeer. Wanneer ons dit doen, wys ons ware wysheid. – Spr. 2:5-7.

4 Jehovah is die enigste een wat vir ons ware wysheid kan gee (Rom. 16:27). Hoekom is hy die Bron van wysheid? Eerstens, as die Skepper, het hy onbeperkte kennis en begrip van sy skepping (Ps. 104:24). Tweedens, alles wat Jehovah doen, wys dat hy wys is (Rom. 11:33). Derdens, Jehovah se wyse raad sal dié wat dit toepas, altyd help (Spr. 2:10-12). As ons ware wysheid wil verkry, moet ons hierdie basiese waarhede aanvaar en toelaat dat dit ons besluite en ons dade rig.

w16.09 23 ¶2-3

Jongmense, versterk julle geloof

2 As ’n jong kneg van Jehovah of as iemand wat besig is om meer van Hom te leer, voel jy dalk dat daar druk op jou geplaas word om eerder aan dinge soos evolusie as aan ’n Skepper te glo. Indien wel, kan jy stappe doen om jou geloof te versterk en dit dan sterk te hou. Een stap is om die vermoë te gebruik wat God jou gegee het om vir jouself te dink, want dit sal “oor jou wag hou”. Dit sal jou beskerm teen wêreldse filosofieë wat jou geloof kan vernietig.—Lees Spreuke 2:10-12.

3 Ware geloof is op juiste kennis van God gebaseer (1 Tim. 2:4). Wanneer jy God se Woord en ons Christelike publikasies studeer, moet jy dit dus nie net vinnig lees nie. Jy moet dink terwyl jy lees sodat jy kan begryp, of verstaan, wat jy lees (Matt. 13:23). As jy dit doen, sal jy “duidelike bewys” vind dat God die Skepper is en dat die Bybel van hom af kom. Kom ons kyk hoe dit jou geloof kan versterk.—Heb. 11:1.

Geestelike skatte

bhs hfst. 19 ¶10

Bly na aan Jehovah

10 Hoe het jy Jehovah se vriend geword? Deur jou studie van die Bybel. So het jy Jehovah beter leer ken en ’n vriendskap met hom opgebou. Hierdie vriendskap is soos ’n vuur wat jy aan die brand wil hou. Net soos jy moet aanhou om hout op ’n vuur te sit sodat dit kan bly brand, moet jy aanhou om van Jehovah te leer om julle vriendskap sterk te hou. – Spreuke 2:1-5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel