Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
5-11 MEI
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 12
Harde werk het baie voordele
’n Goddelike eienskap wat kosbaarder is as diamante
Dit kan vir party van Jehovah se knegte baie moeilik wees om genoeg geld te verdien om in hulle basiese behoeftes te voorsien. Eerder as om ’n maklike maar oneerlike oplossing te vind, is hulle fluks en hardwerkend. Sodoende openbaar hulle God se wonderlike eienskappe, insluitende eerlikheid, wat vir hulle baie kosbaarder is as enige materiële dinge.—Spreuke 12:24; Efesiërs 4:28.
Hoe om harde werk te geniet
Dit is veral goed om na te dink oor die laaste vraag, want ons put die meeste bevrediging uit ons werk wanneer ons sien hoe ander daarby baat vind. Jesus self het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Benewens diegene wat direk by ons dienste baat vind—soos kliënte en werkgewers—is daar ander wat by ons harde werk baat vind. Dit sluit lede van ons huisgesin asook behoeftiges in.
Lede van ons huisgesin. Wanneer ’n gesinshoof hard werk om vir die lede van sy huisgesin te sorg, vind hulle op ten minste twee maniere daarby baat. Eerstens, hy maak seker dat hulle die lewensbenodigdhede het—kos, klere en onderdak. Sodoende vervul hy sy godgegewe verantwoordelikheid om “vir sy eie mense [te] sorg” (1 Timoteus 5:8). Tweedens, ’n hardwerkende broodwinner leer ander deur sy voorbeeld hoe belangrik dit is om hard te werk. “My pa is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat ’n goeie werketiek het”, sê Shane, wat in die vorige artikel aangehaal is. “Hy is ’n eerlike man wat sy hele lewe lank hard gewerk het, merendeels as ’n skrynwerker. Sy voorbeeld het my die waarde daarvan geleer om met jou hande te werk en dinge te maak wat vir ander mense van nut is.”
Behoeftiges. Die apostel Paulus het Christene aangeraai om “hard [te] werk . . . sodat [hulle] iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Efesiërs 4:28). Ja, wanneer ons hard werk om vir onsself en ons gesin te sorg, sal ons moontlik ook dié wat swaarkry, kan help (Spreuke 3:27). Harde werk kan ons dus in staat stel om die groter geluk te ondervind wat dit meebring om te gee.
Geestelike skatte
Hoeveel uithouvermoë het ek?
● Kyk of die probleem regtig so ernstig is. Leer wat die verskil is tussen groot probleme en klein probleme. Die Bybel sê: “’n Dwaas wys dadelik dat hy hom vererg het, maar die verstandige man sien ’n belediging oor” (Spreuke 12:16). Nie alle probleme hoef jou lewe te beheer nie.
“Op skool het kinders oor klein dingetjies gekla en heeltemal geoorreageer. Dan het hulle gesien hoe hulle vriende op sosiale media hieroor voel. Dit het hulle nog meer opgewerk en dan kon hulle glad nie reguit oor hulle probleme dink nie.” – Joanne.
12-18 MEI
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 13
Moenie deur “die lamp van die goddeloses” mislei word nie
“Die wet van die wyse”—’n Bron van lewe
Die lamp is ’n simbool van dit waarop ons staatmaak om ons lewenspad te verlig. ‘God se woord is ’n lamp vir die voet van die regverdige en ’n lig vir sy pad’ (Psalm 119:105). Dit bevat die Skepper se onuitputlike kennis en wysheid. Hoe meer ons ons begrip van God se wil en voorneme verbeter, hoe helderder word die geestelike lig waardeur ons gelei word. Wat ’n groot bron van vreugde is dit tog! Waarom sou ons dan ons aandag laat aftrek deur wêreldse wysheid of deur “sogenaamde ‘kennis’”?—1 Timoteus 6:20; 1 Korintiërs 1:20; Kolossense 2:8.
Wat die goddelose betref, dit lyk dalk of sy lamp helder skyn en of hy voorspoedig is, maar sy lamp sal uitgedoof word. Hy sal in die donker beland, waar sy voet beslis sal struikel. Wat meer is, “daar sal geen toekoms [vir hom] wees” nie.—Spreuke 24:20.
Dien die God van vryheid
3 As Satan twee volmaakte mense—asook ’n aantal geesskepsele—kon oorhaal om God se soewereiniteit te verwerp, kan hy ons ook bedrieg. Sy strategie is nog baie dieselfde. Hy probeer ons mislei om te dink dat God se standaarde swaar is en ons van pret en opwinding beroof (1 Joh. 5:3). Hierdie denke kan groot druk uitoefen as ons herhaaldelik daaraan blootgestel word. “Slegte omgang het ’n groot invloed op my gehad, veral omdat ek bang was om ’n ander opinie as my portuurs te hê”, het ’n 24-jarige suster gesê wat haar aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het. Dalk het jy al soortgelyke portuurdruk ondervind.
“Elke skerpsinnige sal met kennis optree”
’n Verstandige en regskape persoon wat met ware kennis optree, sal geseën word. Salomo verseker ons: “Die regverdige eet tot versadiging van sy siel, maar die maag van die goddeloses sal leeg wees” (Spreuke 13:25). Jehovah weet wat goed is vir ons op alle gebiede van die lewe—ons gesinsaangeleenthede, ons verhouding met ander, ons bediening of wanneer ons gedissiplineer word. En as ons die raad in sy Woord wyslik toepas, sal ons ongetwyfeld die beste lewenswyse geniet.
Geestelike skatte
‘Die hoof van elke man is die Christus’
3 Lesse vir ons. Alles wat ’n gesinshoof doen, moet deur liefde gemotiveer word. Hoekom is dit so belangrik? Die apostel Johannes antwoord: “As iemand nie lief is vir sy broer [of gesin], wat hy gesien het nie, kan hy nie lief wees vir God, wat hy nie gesien het nie” (1 Joh. 4:11, 20). ’n Man wat vir sy gesin lief is en wat Jehovah wil navolg, sal geestelik, emosioneel en materieel vir sy gesin sorg (1 Tim. 5:8). Hy sal sy kinders oplei en dissiplineer. Hy sal ook aanhou leer hoe om besluite te maak wat vir sy gesin die beste sal wees en wat Jehovah sal eer. Kom ons kyk hoe ’n gesinshoof hierdie dinge kan doen en hoe hy Jehovah en Jesus kan navolg.
19-25 MEI
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 14
Dink mooi na oor wat jy moet doen as daar ’n ramp is
Waardeer God se geskenk van lewe
10 Partykeer kan ons nie keer dat lewensgevaarlike dinge gebeur nie. Dit is veral so wanneer dit kom by natuurrampe, epidemies en gewelddadige konflikte. Maar wanneer sulke rampe gebeur, kan ons probeer om so veilig as moontlik te bly deur gehoorsaam te wees aan die regering wanneer hulle sê dat ons die gebied moet verlaat of ander dinge moet doen (Rom. 13:1, 5-7). Dit is moontlik om vir party noodgevalle voor te berei, en daarom moet ons na die riglyne van die regering luister om ons te help om gereed te wees daarvoor. Byvoorbeeld, dit sal dalk goed wees om seker te maak dat jy water en kos het wat nie sal bederf nie, sowel as ’n basiese noodhulpkissie.
11 Wat moet ons doen as ’n aansteeklike siekte versprei waar ons bly? Ons moet gehoorsaam wees aan die riglyne van die regering wanneer dit kom by dinge soos om ons hande te was, fisiese afstand te behou, ’n masker te dra en onsself in kwarantyn te plaas. Wanneer ons hierdie dinge doen, wys ons hoe baie ons God se geskenk van lewe waardeer.
12 Gedurende noodgevalle hoor ons partykeer dinge by ons vriende, bure of in die nuus wat nie waar is nie. Eerder as om “elke woord” te glo wat ons hoor, moet ons luister na die akkuraatste inligting wat ons van die regering en dokters kry. (Lees Spreuke 14:15.) Die Bestuursliggaam en die takkantore doen alles wat hulle kan om akkurate inligting te kry voordat hulle riglyne gee oor gemeentelike vergaderinge en die predikingswerk (Heb. 13:17). Deur hierdie riglyne te volg, beskerm ons onsself en ander. Ons sal dalk ook ander help om ’n goeie indruk van Jehovah se Getuies te hê. – 1 Pet. 2:12.
Wees moedig soos Sadok
11 Hoe kan ons moedig wees soos Sadok as ons gevra word om ons broers gedurende gevaarlike tye te help? (1) Volg riglyne. In sulke omstandighede is dit belangrik dat ons verenig bly. Wees gehoorsaam aan die riglyne van jou plaaslike takkantoor (Heb. 13:17). Ouermanne moet gereeld die instruksies hersien oor hoe om vir ’n ramp voor te berei en wat om te doen wanneer daar ’n ramp is (1 Kor. 14:33, 40). (2) Wees moedig maar versigtig (Spr. 22:3). Dink voordat jy optree. Moenie onnodige risiko’s neem nie. (3) Vertrou op Jehovah. Onthou dat jou veiligheid en jou broers s’n vir Jehovah baie belangrik is. Hy kan jou help om jou broers op ’n veilige manier by te staan.
Geestelike skatte
Hou aan om geduldig te wees
16 Dink aan die voordele wat dit inhou as ons geduldig is. As ons geduldig is, is ons gelukkiger en kalmer. Daarom kan geduld ons verstandelike en fisiese gesondheid verbeter. Wanneer ons geduldig is met ander, geniet ons beter verhoudings met hulle. Ons gemeente word meer verenig. As iemand ons irriteer en ons nie gou kwaad word nie, kan dit keer dat die situasie erger word (Ps. 37:8, vtn.; Spr. 14:29). Maar nog belangriker, wanneer ons geduldig is, volg ons ons hemelse Vader na en kom ons selfs nader aan hom.
26 MEI–1 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 15
Help ander om ’n vreugdevolle hart te hê
Ons sal in ons onkreukbaarheid wandel!
16 Job was gasvry (Job 31:31, 32). Al is ons miskien nie ryk nie, kan ons “die weg van gasvryheid” volg (Rom. 12:13). Ons kan ’n eenvoudige maaltyd met ander deel, want ons weet: “’n Bak groente waar daar liefde is, is beter as ’n vetgemaakte bul en haat daarby” (Spr. 15:17). As ons in ’n liefdevolle atmosfeer saam met iemand eet wat ook onkreukbaarheid handhaaf, sal dit selfs ’n eenvoudige maaltyd aangenaam maak en ons beslis geestelik tot voordeel strek.
Moedig mekaar al hoe meer aan
16 Ons dink dalk dat ons ander nie kan aanmoedig nie omdat dit vir ons moeilik is om met mense te praat of omdat ons nie altyd weet wat om te sê nie. Maar al wat dalk nodig is om iemand aan te moedig, is ’n vriendelike glimlag. As die persoon nie vir jou terugglimlag nie, is daar miskien ’n probleem en kan jy hom dalk aanmoedig deur net na hom te luister. — Jak. 1:19.
17 ’n Jong broer met die naam Henri was baie ontsteld toe party van sy gesinslede, insluitende sy pa wat ’n gerespekteerde ouer man was, die waarheid verlaat het. Henri is aangemoedig deur ’n kringopsiener wat saam met hom ’n koppie koffie gaan drink het en na hom geluister het terwyl hy sy hart uitpraat. Henri het besef dat die enigste manier waarop hy sy familie kan help om Jehovah weer te dien, is deur te volhard en getrou te bly. Dit was vir hom baie aanmoedigend om die woorde in Psalm 46, Sefanja 3:17 en Markus 10:29, 30 te lees.
18 Die voorbeelde van Marthe en Henri wys dat enigeen van ons ’n broer of ’n suster wat vertroosting nodig het, kan aanmoedig. Koning Salomo het geskryf: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog! Die glans van die oë maak die hart bly; ’n goeie berig maak die gebeente vet” (Spr. 15:23, 30). Ons kan ook persone wat hartseer of mismoedig is, beter laat voel deur vir hulle artikels te lees wat in Die Wagtoring of op ons webwerf is. Paulus wys dat dit ook aanmoedigend kan wees om saam Koninkryksliedjies te sing. Hy het geskryf: “Hou aan om mekaar te leer en ernstig te vermaan [of “aan te moedig”] met psalms, lofliedere tot God, geestelike liedere met welwillendheid, terwyl julle in julle harte tot Jehovah sing.” — Kol. 3:16; Hand. 16:25.
Geestelike skatte
Mag ’n Christen mediese behandeling aanvaar?
2. Moet ek ’n tweede of ’n derde mediese opinie kry? ’n “Veelheid van raadgewers” kan nuttig wees, veral as jou toestand ernstig is.—Spreuke 15:22.
2-8 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 16
Drie vrae wat jou sal help om goeie besluite te maak
Maak wyse keuses gedurende jou jeug
11 Dit verskaf ons die grootste geluk om Jehovah te dien (Spr. 16:20). Jeremia se sekretaris, Barug, het dit blykbaar vergeet. Op een stadium het hy nie meer Jehovah se diens geniet nie. Jehovah het vir hom gesê: “Jy hou aan om vir jou groot dinge te soek. Moet dit nie aanhou soek nie. Want kyk, ek bring rampspoed oor alle vlees . . . en ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan” (Jer. 45:3, 5). Wat dink jy? Wat sou Barug gelukkig gemaak het—om groot dinge te soek of om die vernietiging van Jerusalem te oorleef as ’n getroue kneg van God?—Jak. 1:12
12 Ramiro het die geluk gesmaak wat dit meebring om ander te dien. Hy sê: “Ek kom uit ’n arm gesin wat in ’n dorpie in die Andesgebergte woon. Toe my ouer broer aangebied het om vir my universiteitsopleiding te betaal, was dit dus vir my ’n groot geleentheid. Maar ek is kort tevore as een van Jehovah se Getuies gedoop, en ek het ’n ander aanbod ontvang—’n pionier het my genooi om saam met hom in ’n dorpie te gaan preek. Ek het soontoe gegaan, geleer om hare te sny en ’n haarkapperswinkel oopgemaak om my te onderhou. Wanneer ons aangebied het om mense die Bybel te leer, het baie mense met waardering gereageer. Later het ek by ’n pas gestigte gemeente aangesluit waar ’n inheemse taal gepraat word. Ek is nou al tien jaar lank in die voltydse diens. Geen ander beroep kon my die vreugde verskaf het wat ek ondervind terwyl ek mense help om die goeie nuus in hulle moedertaal te studeer nie.”
Word verander
ONS almal word baie deur ons opvoeding en ons omgewing beïnvloed. Ons trek op ’n sekere manier aan; ons hou van sekere kos; ons gedra ons op ’n sekere wyse. Waarom? Gedeeltelik weens die invloed van die mense om ons en ons omstandighede.
2 Daar is egter dinge wat baie belangriker is as ons keuse van kos en die styl van ons klere. Ons word byvoorbeeld grootgemaak om party dinge as reg en aanvaarbaar te beskou, maar om ander as verkeerd en onaanvaarbaar te verwerp. Baie van hierdie dinge is ’n persoonlike saak en verskil van persoon tot persoon. Ons keuses weerspieël moontlik selfs die prikkels van ons gewete. Die Bybel erken dat “mense van die nasies, wat geen wet het nie, [dikwels] van nature die dinge van die wet doen” (Rom. 2:14). Beteken dit egter dat ons die gebruike en standaarde waarmee ons grootgeword het en wat algemeen is in ons gebied, maar net kan navolg solank ’n spesifieke wet van God dit nie verbied nie?
3 Daar is ten minste twee belangrike redes waarom Christene dit nie kan doen nie. Eerstens herinner die Bybel ons: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood” (Spr. 16:25). Weens ons onvolmaaktheid het ons as mense nie ten volle die vermoë om te bepaal wat werklik voordelig is om ons voetstappe foutloos te rig nie (Spr. 28:26; Jer. 10:23). Tweedens toon die Bybel dat die tendense en standaarde van die wêreld gemanipuleer en beheer word deur niemand anders nie as Satan, “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Kor. 4:4; 1 Joh. 5:19). As ons dus Jehovah se seën en goedkeuring wil geniet, moet ons gehoor gee aan die vermaning wat gevind word in Romeine 12:2.—Lees.
Geestelike skatte
“Wysheid dien as ’n beskerming”
Dit is geen wonder nie dat “wie wys van hart is”, “intelligent” of “oordeelkundig” genoem word! (Spreuke 16:21, An American Translation; New International Version). Ja, insig is “’n fontein van die lewe” vir diegene wat dit besit. Maar wat van die dwase? Hulle “verag wysheid en dissipline” (Spreuke 1:7). Watter vrugte pluk hulle omdat hulle die dissipline van Jehovah verwerp? Soos hierbo gemeld word, sê Salomo: “Die dissipline van die dwase is dwaasheid” (Spreuke 16:22). Hulle ontvang verdere dissipline, dikwels in die vorm van ernstige tugtiging. Die dwase bring dalk ook ontberinge, skande, siekte en selfs ontydige dood oor hulleself.
9-15 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 17
Geniet vrede in jou huwelik
Hoe om gegriefdheid te laat vaar
Doen eerlike selfondersoek. Die Bybel erken dat party mense “gou toornig word” en “geneig is tot woede” (Spreuke 29:22). Is dit hoe jy is? Vra jou af: ‘Is ek geneig om verbitterd te word? Neem ek maklik aanstoot? Is ek geneig om ’n berg van ’n molshoop te maak?’ Die Bybel sê: “Hy wat oor ’n saak bly praat, skei dié wat vertroulik met mekaar omgaan” (Spreuke 17:9; Prediker 7:9). Dit kan ook in ’n huwelik gebeur. As jy tot gegriefdheid geneig is, moet jy jou dus afvra: ‘Kan ek geduldiger wees met my huweliksmaat?’—Bybelbeginsel: 1 Petrus 4:8.
Hoe om probleme op te los
1. Stel ’n tyd vas om die kwessie te bespreek. “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, . . . ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Prediker 3:1, 7). Soos die voorgemelde woordewisseling getoon het, kan party probleme sterk emosies laat ontstaan. As dit gebeur, moet ’n mens die selfbeheersing hê om die gesprek vir eers te beëindig—om “stil te bly”—voordat humeure opvlam. Jy kan voorkom dat julle verhouding groot skade berokken word as jy die Bybel se raad volg: “Om rusie te begin, is om ’n damwal te breek; staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.”—Spreuke 17:14, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.
Maar daar is ook “’n tyd om te praat”. Probleme floreer soos onkruid wanneer niks daaromtrent gedoen word nie. Moet dus nie die geskil ignoreer en hoop dat dit net sal verdwyn nie. As jy ’n gesprek beëindig, moet jy respek vir jou maat toon deur ’n tyd in die nabye toekoms te kies wanneer julle oor die probleem sal praat. So ’n belofte kan julle albei help om die gees van die Bybel se raad toe te pas: “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Jy sal jou belofte dan natuurlik moet nakom.
Geestelike skatte
Vermy ’n hoogmoedige gees!
’n Wyse Bybelspreuk sê: “Elkeen wat sy ingang hoog maak, soek ineenstorting” (Spreuke 17:19, NW). Wat is verkeerd met ’n hoë ingang? En wat is die hoofbetekenis van hierdie spreuk?
IN ANTIEKE tye was individue en roofbendes op perde algemeen. Onbeskermde huise op die platteland kon maklik deur diewe beroof word. Om te keer dat hulle besittings gesteel word, het party huiseienaars ’n muur met ’n spesiale poort gebou. Die muur was hoog, maar die ingang laag. Trouens, party was skaars ’n meter hoog—te laag vir ’n perd en sy ruiter om deur te gaan. Diegene wat nie die ingang tot hulle binnehof laag gemaak het nie, het die gevaar geloop dat manne op perde kon inry en hulle besittings plunder.
In die stede was ingange gewoonlik laag en onaantreklik en het geen aanduiding gegee van die rykdom wat dalk binne ’n ommuurde woning was nie. Maar in Persië was ’n hoë ingang een van die tekens van koninklikheid, wat party onderdane probeer naboots het en hulleself sodoende in groot gevaar geplaas het. Enigeen wat ’n hoë ingang vir sy huis gemaak het, het ’n gevaar geloop om beroof te word omdat hy ’n vertoon van welvarendheid gemaak het.
Spreuke 17:19 toon dus dat diegene wat hulle ingang hoog maak rampspoed oor hulleself bring deur die indruk te skep dat hulle welvarender is as wat hulle werklik is. Hierdie spreuk kan ook dui op die mond as ’n poort wat hoog gelig word deur grootpratery en verwaande spraak. Sulke spraak bevorder onenigheid en kan uiteindelik die trotse persoon tot rampspoed lei. Hoe wys is dit dus tog om ’n hoogmoedige gees te vermy!
16-22 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 18
Moedig dié aan wat sukkel met gesondheidsprobleme
Ware wysheid roep hard uit
17 Dink voordat jy praat. As ons nie versigtig is nie, kan ons woorde baie skade veroorsaak. Die Bybel sê: “As ’n mens praat sonder om te dink, sal jou woorde soos swaardsteke wees, maar die tong van die wyses is genesend” (Spr. 12:18). Ons help om die vrede te bewaar wanneer ons nie oor ander se foute skinder nie (Spr. 20:19). As ons wil hê dat ons woorde ander moet vertroos en nie moet seermaak nie, moet ons God se Woord gereeld lees en daaroor nadink (Luk. 6:45). Wanneer ons nadink oor wat die Bybel sê, kan ons woorde soos “’n fontein van wysheid” word wat ander verfris. – Spr. 18:4.
mrt artikel 19 venster
Hoe om ’n gesondheidsprobleem wat skielik opgekom het, te hanteer
Wees ’n goeie luisteraar. Een van die beste maniere om jou vriend te help, is om te luister wanneer hy wil praat. Moenie voel dat jy op alles wat hy sê, moet reageer nie. Baie keer is dit net genoeg om te luister. Probeer om ’n oop gemoed te behou, en moet hom nie oordeel nie. Moenie aanneem dat jy weet hoe jou vriend voel nie, veral nie as hy nie fisies siek lyk nie. – Spreuke 11:2.
Wees positief. Jy weet dalk nie wat om te sê nie, maar selfs al erken jy net dat jou vriend se situasie moeilik is, sal dit heel moontlik meer vertroostend wees as om niks te sê nie. As jy nie weet wat om te sê nie, probeer iets sê wat eenvoudig is, maar wat uit die hart uit kom. Probeer iets soos: “Ek is nie seker wat om te sê nie, maar ek wil hê jy moet weet dat ek omgee.” Moenie dinge sê soos: “Dit kon erger gewees het” of “Ten minste het jy nie . . . . ”
Jy kan persoonlike belangstelling toon deur meer uit te vind oor die siekte wat jou vriend het. Hy sal heel moontlik dankbaar wees dat jy probeer verstaan waardeur hy gaan en jou woorde sal meer betekenis hê (Spreuke 18:13). Maar wees versigtig om nie raad te gee waarvoor jy nie gevra is nie.
Bied praktiese hulp aan. ’n Mens dink dalk dat jy weet hoe om te help, maar vra eerder wat jy kan doen. Onthou dat jou vriend dalk nie wil erken dat hy hulp nodig het nie omdat hy nie ’n las wil wees nie. As dit gebeur, probeer om iets prakties voor te stel, soos om inkopies te doen, skoon te maak of iets anders. – Galasiërs 6:2.
Moenie opgee nie. Terwyl jou vriend sy siekte hanteer, sal hy dalk van tyd tot tyd sy planne met jou kanselleer of nie met jou wil praat nie. Wees geduldig en probeer verstaan waardeur hy gaan. Hou aan om hom die ondersteuning te gee wat hy nodig het. – Spreuke 18:24.
Hoe om dié te help wat gesondheidsprobleme het
“Praat vertroostend.” – 1 TESSALONISENSE 5:14.
Jou vriend is dalk angstig of hy sukkel dalk met gevoelens van waardeloosheid. As jy hom verseker dat jy omgee, kan jy hom vertroos en aanmoedig, al weet jy nie presies wat om te sê nie.
“’n Ware vriend betoon altyd liefde.” – SPREUKE 17:17.
Bied praktiese hulp aan. Moenie aanneem dat jy weet hoe om te help nie, vra eerder wat jy kan doen. As dit vir jou vriend moeilik is om te verduidelik wat hy nodig het, probeer iets prakties voorstel wat julle saam kan doen, soos om te gaan stap. Of jy kan aanbied om te help met inkopies, skoonmaakwerk of iets anders. – Galasiërs 6:2.
“Wees geduldig.” – 1 TESSALONISENSE 5:14.
Jou vriend sal dalk nie altyd lus wees om te praat nie. Verseker jou vriend dat jy graag sal luister wanneer hy ook al wil praat. As gevolg van sy siekte sal jou vriend dalk dinge sê of doen wat jou seermaak. Hy sal dalk planne met jou kanselleer of in ’n slegte bui wees. Wees geduldig en probeer hom verstaan terwyl jy hom ondersteun. – Spreuke 18:24.
Geestelike skatte
“Wysheid dien as ’n beskerming”
“In die skoot word die lot gewerp,” sê die koning van Israel, “maar elke beslissing daardeur kom van Jehovah” (Spreuke 16:33). In eertydse Israel het Jehovah soms sy wil deur middel van die lot bekend gemaak. Klippies of hout- of kliptablette is as lote gebruik. Eerstens is ’n versoek tot Jehovah gerig dat hy ’n saak moet beslis. Daarna is die lote in die voue van ’n kleed gegooi en dan uitgetrek. Daar is aanvaar dat die resultaat van God afkomstig is.
Jehovah gebruik nie meer die lot om sy volk in kennis te stel van wat hy in gedagte het nie. Hy het sy wil in sy Woord, die Bybel, geopenbaar. Juiste kennis van wat in die Bybel gesê word, is noodsaaklik om goddelike wysheid te verkry. Daarom moet ons nie toelaat dat ’n enkele dag verbygaan sonder dat ons uit die geïnspireerde Skrif lees nie.—Psalm 1:1, 2; Matteus 4:4.
23-29 JUNIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 19
Wees ’n ware vriend vir jou broers en susters
Hoe om ons liefde vir mekaar sterk te hou
16 Fokus op die positiewe eienskappe van jou broers en susters, nie op die negatiewe nie. Dink aan hierdie vergelyking. Stel jou voor dat jy saam met ’n groep broers en susters kuier. Jy het ’n lekker tyd, en aan die einde van die kuier neem julle ’n groepfoto. Om die waarheid te sê, julle neem nog twee foto’s net ingeval die eerste foto nie goed lyk nie. Nou het julle drie foto’s. Maar in een van hulle sien jy dat ’n broer frons. Wat doen jy met daardie foto? Jy vee dit uit omdat jy twee ander foto’s het waarin almal in die groep, insluitende daardie broer, glimlag.
17 Kom ons vergelyk die foto’s wat ons hou met die herinneringe wat ons hou. Ons het gewoonlik goeie herinneringe van die tye wat ons met ons broers en susters spandeer het. Maar sê nou ’n broer of ’n suster sê of doen iets wat nie liefdevol is nie by een van daardie geleenthede. Wat moet ons met daardie herinnering doen? Ons moet probeer om daardie herinnering te vergeet, net soos ons een van daardie foto’s sou uitvee (Spr. 19:11; Ef. 4:32). Ons kan ons broer of suster se klein fout vergeet omdat ons baie goeie tye onthou wat ons met hom of haar spandeer het. Dit is die soort herinneringe wat ons wil hou en koester.
Hou aan groei in jou liefde
10 Ons soek ook na maniere om ons Christenbroers en -susters te help (Heb. 13:16). Kyk na die voorbeeld van Anna, wat in die vorige artikel genoem is. Ná ’n verskriklike storm het sy en haar man ’n Getuiegesin besoek en ontdek dat hulle huis se dak ineengestort het. As gevolg daarvan het die gesin nie skoon klere gehad nie. Anna sê: “Ons het hulle klere gevat, dit gewas, dit gestryk, dit opgevou en teruggeneem. Vir ons was dit iets kleins, maar as gevolg daarvan is ons tot vandag toe baie goeie vriende.” Anna en haar man se liefde vir die broers en susters het hulle gemotiveer om praktiese hulp te gee. – 1 Joh. 3:17, 18.
11 Wanneer ons ander op ’n liefdevolle en vriendelike manier behandel, sien hulle dikwels dat ons probeer om die manier hoe Jehovah dink en optree, na te volg. En hulle waardeer dalk ons vriendelikheid meer as wat ons ooit sal weet. Khanh, wat vroeër genoem is, het goeie herinneringe van dié wat haar gehelp het. Sy sê: “Ek is so dankbaar teenoor al die dierbare susters wat my in velddiens uitgeneem het. Hulle het my kom oplaai, my genooi om iets saam met hulle te eet en my veilig by die huis afgelaai. Ek besef nou dat hulle baie moeite gedoen het. En hulle het dit met liefde gedoen.” Nie almal sal natuurlik vir ons dankie sê vir wat ons vir hulle doen nie. Khanh sê die volgende oor dié wat haar gehelp het: “Ek wens dat ek hulle kon terugbetaal vir al die liefdevolle dinge wat hulle vir my gedoen het, maar ek weet nie waar hulle almal bly nie. Maar Jehovah weet, en ek bid dat hy hulle vir my sal terugbetaal.” Khanh is reg. Jehovah sien elke liefdevolle ding raak wat ons vir ander doen, selfs al is dit baie klein. Hy sien dit as ’n kosbare opoffering en as ’n skuld wat hy gaan terugbetaal. – Lees Spreuke 19:17.
Hou aan om mekaar met lojale liefde te behandel
6 Vandag word iemand wat jare lank by dieselfde maatskappy werk, baie keer as ’n lojale werker beskryf. Maar al werk hy al so lank by die maatskappy, het hy dalk nog nie eers die bestuurders ontmoet nie. Hy stem dalk nie altyd saam met die besluite wat die maatskappy neem nie. Hy is nie lief vir die maatskappy nie, maar hy is bly dat hy ’n werk het wat hom help om kos op die tafel te sit. Hy sal aanhou om daar te werk totdat hy aftree, tensy hy ’n beter werk aangebied word.
7 Wat is die verskil tussen lojale liefde en party mense se beskouing van lojaliteit? Dit is ’n mens se beweegrede. Hoekom het God se knegte in Bybeltye lojale liefde betoon? Hulle het dit gedoen, nie omdat hulle moes nie, maar omdat hulle harte hulle beweeg het om dit te doen. Kom ons kyk na Dawid se voorbeeld. Sy hart het hom beweeg om lojale liefde aan sy geliefde vriend Jonatan te betoon, al wou Jonatan se pa Dawid doodmaak. Selfs jare ná Jonatan se dood het Dawid aangehou om lojale liefde aan Jonatan se seun Mefiboset te betoon. – 1 Sam. 20:9, 14, 15; 2 Sam. 4:4; 8:15; 9:1, 6, 7.
Geestelike skatte
Vrees Jehovah en jy sal gelukkig wees
◆ 19:17, vgl. NW—Waarom is hulp aan die geringes soos ’n lening aan Jehovah?
Die geringes behoort aan God, en wat ons aan hulle doen, word beskou asof ons dit aan hom doen (Spreuke 14:31). As liefde en vrygewigheid ons beweeg om die geringes ’n guns te bewys of aan die armes gawes te gee, sonder om terugbetaling van hulle te verwag, beskou Jehovah sulke geëry as lenings aan hom, en hy betaal dit terug in die vorm van guns en seën.—Lukas 14:12-14.
30 JUNIE–6 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 20
Hoe om ’n sukses te maak van ’n romantiese verhouding
Hoe om ’n sukses te maak van ’n romantiese verhouding
3 Al kan ’n romantiese verhouding lekker wees, is dit ook ’n ernstige stap wat tot die huwelik kan lei. Op hulle troudag maak ’n paartjie ’n belofte voor Jehovah om mekaar lief te hê en te respekteer vir so lank as wat hulle albei lewe. Voordat ons enige belofte maak, moet ons baie mooi oor die saak dink. (Lees Spreuke 20:25.) Dit is beslis waar wanneer dit kom by die huweliksbelofte. ’n Romantiese verhouding stel ’n paartjie in staat om mekaar te leer ken en om ’n goeie besluit te maak. Partykeer is daardie besluit om te trou; partykeer is daardie besluit om die romantiese verhouding te beëindig. As ’n paartjie opbreek, beteken dit nie dat hulle verhouding misluk het nie. Die verhouding het eerder sy doel gedien – dit het hulle gehelp om ’n goeie besluit te maak.
4 Hoekom is dit belangrik om die regte beskouing van romantiese verhoudings te hê? Wanneer ongetroudes die regte beskouing het, sal hulle nie met iemand uitgaan as hulle reeds weet dat hulle nie met daardie persoon sal trou nie. Maar ongetroudes is nie die enigstes wat die regte beskouing moet hê nie. Ons almal moet dit ontwikkel. Byvoorbeeld, party dink dat ’n paartjie moet trou as hulle in ’n verhouding is. Hoe affekteer hierdie gesindheid ongetroude Christene? Melissa, ’n ongetroude suster in die Verenigde State, sê: “Daar is baie druk op Getuies wat in ’n verhouding is. As gevolg daarvan wil party paartjies nie ’n verhouding beëindig nie, al werk dit nie. Ander ongetroudes vermy verhoudings heeltemal. Die druk kan oorweldigend wees.”
Hoe om ’n potensiële huweliksmaat te vind
8 Hoe kan jy die ander persoon dophou? By gemeentelike vergaderinge of by sosiale geleenthede sal jy dalk dinge oor hierdie persoon se geestelikheid, persoonlikheid en gedrag oplet. Wie is sy vriende, en waaroor praat hy? (Luk. 6:45). Is sy doelwitte soortgelyk aan joune? Jy kan dalk met sy gemeentelike ouermanne praat, of met ander volwasse Christene wat hom goed ken (Spr. 20:18). Jy kan hulle dalk uitvra oor die persoon se reputasie en eienskappe (Rut 2:11). Terwyl jy hierdie persoon dophou, moet jy dit vermy om hom ongemaklik te laat voel. Respekteer sy gevoelens, privaatheid en persoonlike spasie.
Hoe om ’n sukses te maak van ’n romantiese verhouding
7 Hoe kan jy uitvind wie die ander persoon werklik is? Een van die beste maniere is om openlik en eerlik te praat, om vrae te vra en regtig te luister (Spr. 20:5; Jak. 1:19). Julle kan dalk kies om dinge saam te doen wat vir julle ’n geleentheid sal gee om te praat, soos om saam te eet, om saam in openbare plekke te gaan stap en om saam velddiens te doen. Julle kan ook mekaar leer ken wanneer julle tyd met vriende en familie spandeer. En beplan aktiwiteite wat vir jou sal wys hoe die ander persoon in verskillende omstandighede en met verskillende mense optree. Kyk wat Aschwin, van Nederland, probeer doen het. Hy sê die volgende omtrent sy verhouding met Alicia: “Ons het na aktiwiteite gesoek wat ons sou help om mekaar te leer ken. Dit was dikwels eenvoudige dinge, soos om saam kos te maak of om ander takies saam te doen. Gedurende sulke aktiwiteite het ons mekaar se sterk punte en swakhede gesien.”
8 Julle kan ook mekaar leer ken deur geestelike onderwerpe saam te studeer. As julle trou, sal julle tyd moet maak vir gesinsaanbidding, sodat God ’n baie belangrike deel van julle huwelik is (Pred. 4:12). So hoekom maak julle nie nou, terwyl julle uitgaan, tyd om saam te studeer nie? ’n Paartjie wat in ’n verhouding is, is natuurlik nog nie ’n gesin nie, en die broer is nog nie die suster se hoof nie. Maar deur gereeld saam te studeer, kan julle omtrent mekaar se geestelikheid leer. Max en Laysa, ’n paartjie van die Verenigde State, het nog ’n voordeel gesien. Hy sê: “Ons het vroeg in ons verhouding publikasies begin studeer wat gegaan het oor romantiese verhoudings, die huwelik en die gesinslewe. Daardie publikasies het ons die geleentheid gegee om oor baie belangrike dinge te praat wat nie vanself sou opkom nie.”
Geestelike skatte
Jongmense—Is julle gereed om gedoop te word?
4 Die Bybel sê nie dat slegs dié wat ouer is of wat ’n sekere ouderdom bereik het, gedoop kan word nie. Ons lees in Spreuke 20:11: “Deur sy handelinge laat ’n seun hom tog ken, of sy optrede suiwer en reg is.” Selfs ’n kind kan dus verstaan wat dit beteken om te doen wat reg is en om aan sy Skepper toegewy te wees. Doop is dus ’n belangrike en gepaste stap vir ’n jongmens wat volwasse genoeg is en wat hom aan Jehovah toegewy het.—Spreuke 20:7.
5 Wat beteken dit om volwasse te wees? Volwassenheid verwys nie altyd na ’n persoon se ouderdom of grootte nie. Die Bybel sê dat volwasse mense hulle “onderskeidingsvermoë” geoefen het om tussen reg en verkeerd te onderskei (Hebreërs 5:14, NW). ’n Volwasse persoon weet wat reg is en het in sy hart besluit om te doen wat reg is. Daarom kan hy nie maklik beïnvloed word om te doen wat verkeerd is nie. En hy het nie altyd iemand nodig om vir hom te sê om te doen wat reg is nie. Dit is redelik om te verwag dat ’n jongmens wat gedoop word, sal doen wat reg is selfs wanneer sy ouers of ander volwassenes nie naby is nie.—Vergelyk Filippense 2:12.