Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
7-13 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 21
Wyse beginsels vir ’n gelukkige huwelik
Hoe kan jy wyse besluite neem?
Besluite wat oorhaastig geneem word, kan maklik onwyse besluite wees. Spreuke 21:5 waarsku: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af.” Verliefde tieners moet byvoorbeeld tyd neem voordat hulle besluit om te trou. Anders vind hulle dalk uit hoe waar die woorde is van William Congreve, ’n Engelse toneelskrywer van die 18de eeu: “Gou trou, lank berou.”
Hoe om ’n suksesvolle huwelik op te bou
Lê nederigheid aan die dag. “[Julle moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag” (Filippense 2:3). Baie konflikte begin omdat getroudes uit trots probeer om hulle maat vir probleme te blameer pleks van om na maniere te soek om dinge vir mekaar te verbeter. Ootmoed, of nederigheid, kan jou help om die drang te onderdruk om tydens meningsverskille daarop aan te dring dat jý reg is.
“Verheug jou met die vrou van jou jeug”
13 Gestel die huwelik is onder druk weens die manier waarop die man en vrou mekaar behandel. Dit verg inspanning om ’n oplossing te vind. Byvoorbeeld, dalk het die gewoonte om onvriendelike spraak te gebruik in hulle huwelik ingesluip en word dit nou daardeur gekenmerk (Spreuke 12:18). Soos in die vorige artikel bespreek is, kan dit vernietigende gevolge hê. ’n Bybelspreuk sê: “Dit is beter om in ’n woeste land te woon as saam met ’n twisgierige vrou en ergernis daarby” (Spreuke 21:19). As jy ’n vrou in so ’n huwelik is, moet jy jou afvra: ‘Maak my gesindheid dit vir my man moeilik om in my geselskap te wees?’ Die Bybel sê vir mans: “Hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie” (Kolossense 3:19). As jy ’n man is, moet jy jou afvra: ‘Is my houding kil, sodat my vrou in die versoeking kan kom om elders troos te soek?’ Daar is natuurlik geen verskoning vir geslagsonsedelikheid nie. Maar die feit dat so ’n tragedie moontlik is, is goeie rede om probleme openhartig te bespreek.
Geestelike skatte
Voorskoue van God se Koninkryk word ’n werklikheid
9 Jesus is nie meer ’n blote mens wat op die hingsvul van ’n esel ry nie, hy is nou ’n magtige Koning. Hy word uitgebeeld as iemand wat op ’n perd ry—’n Bybelse simbool van oorlogvoering (Spreuke 21:31). “Kyk! ’n wit perd”, sê Openbaring 6:2, “en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi.” Ook het die psalmis Dawid oor Jesus geskryf: “Die staf van u sterkte sal Jehovah uit Sion stuur en sê: ‘Gaan oorwin te midde van jou vyande.’”—Psalm 110:2.
14-20 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 22
Wyse beginsels om kinders groot te maak
Sal jou kinders God dien wanneer hulle groot is?
7 As julle ’n getroude paartjie is wat graag kinders wil hê, vra julle af: ‘Is ons nederige mense wat lief is vir Jehovah en sy Woord? Sou Jehovah ons kies om vir ’n kosbare babatjie te sorg?’ (Ps. 127:3, 4). As jy alreeds ’n ouer is, vra jou af: ‘Leer ek my kinders dat dit goed is om hard te werk?’ (Pred. 3:12, 13). ‘Doen ek my bes om my kinders teen die gevare in Satan se wêreld te beskerm?’ (Spr. 22:3). Jy kan nie jou kinders beskerm teen al die probleme wat hulle dalk sal hê nie. Dit is onmoontlik om dit te doen. Maar jy kan hulle voorberei vir die probleme in die lewe deur aan te hou om hulle op ’n liefdevolle manier te leer hoe om op die Bybel te vertrou vir raad. (Lees Spreuke 2:1-6.) Byvoorbeeld, as ’n familielid besluit om op te hou om Jehovah te dien, help jou kinders om uit God se Woord te leer hoekom dit belangrik is om getrou aan Jehovah te bly (Ps. 31:23). Of as iemand vir wie julle lief is, sterf, wys vir jou kinders Bybelverse wat hulle kan help om die hartseer te hanteer en om weer vrede in hulle harte te hê. – 2 Kor. 1:3, 4; 2 Tim. 3:16.
Ouers – Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
17 Begin julle kinders so gou as moontlik leer. Hoe vroeër ouers hulle kinders begin leer, hoe beter (Spr. 22:6). Dink aan Timoteus, wat saam met die apostel Paulus gereis het toe hy ouer was. Timoteus se ma, Eunice, en sy ouma, Loïs, het hom “van kleintyd af” geleer. – 2 Tim. 1:5; 3:15.
18 Jean-Claude en Peace, nog ’n paartjie in Côte d’Ivoire, wat ses kinders het, kon hulle almal grootmaak om Jehovah lief te hê en hom te dien. Wat het hulle gehelp om suksesvol te wees? Hulle het die voorbeeld van Eunice en Loïs nagevolg. Hulle sê: “Ons het God se Woord by ons kinders van kleins af ingeskerp. Ons het begin kort nadat hulle gebore is.” – Deut. 6:6, 7.
19 Wat beteken dit om Jehovah se Woord by jou kinders ‘in te skerp’? ‘Om in te skerp’ beteken ‘om te leer deur dikwels te herhaal’. Om dit te doen, moet ouers gereeld tyd met hulle kinders spandeer. Partykeer kan ouers gefrustreerd raak omdat hulle heeltyd instruksies vir hulle kinders moet herhaal. Maar ouers kan dit as ’n geleentheid sien om hulle kinders te help om God se Woord te verstaan en toe te pas.
Ouers—Stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders
Kinders is natuurlik kinders, en party is geneig om dwars te trek, selfs opstandig te wees (Genesis 8:21). Wat kan ouers doen? “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n seun; die roede van dissipline sal dit ver van hom af verwyder”, sê die Bybel (Spreuke 22:15). Party beskou dit as wreed en outyds. Maar die Bybel is teen geweld en mishandeling van enige aard. Hoewel die “roede” soms letterlik bedoel word, verteenwoordig dit ouerlike gesag wat op ’n ferm dog liefdevolle en gepaste wyse uitgeoefen word uit besorgdheid oor die kinders se ewige welsyn.—Hebreërs 12:7-11.
Geestelike skatte
Vind vreugde in die voorregte wat jy het
11 Net so kan ons meer vreugde kry as ons enige toewysing wat ons kry, met ons hele hart en siel aanpak. Bly “druk besig” in die predikingswerk en wees ten volle betrokke by gemeentelike aktiwiteite (Hand. 18:5; Heb. 10:24, 25). Berei goed voor vir die vergaderinge sodat jy opbouende kommentare kan gee. Alle studentetoewysings by die vergaderinge is belangrik, so doen dit na die beste van jou vermoë. As jy gevra word om iets in die gemeente te doen, wees op tyd en wees betroubaar. Moenie dink dat enige toewysing onbelangrik is en dat dit nie jou tyd verdien nie. Probeer hard om jou werk al hoe beter te doen (Spr. 22:29). Hoe harder jy vir Jehovah werk, hoe vinniger sal jy vordering maak, en dan sal jy meer vreugde hê (Gal. 6:4). Dan sal dit ook vir jou makliker wees om saam met ander bly te wees wanneer hulle ’n voorreg ontvang wat jy graag wil hê. – Rom. 12:15; Gal. 5:26.
21-27 JULIE 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 23
Wyse beginsels vir die gebruik van alkohol
Behou ’n gebalanseerde beskouing van die gebruik van alkohol
5 Sê nou iemand gebruik alkohol maar sorg dat hy nie soveel drink dat hy sigbaar dronk is nie? Party mense toon min tekens van dronkenskap selfs nadat hulle ’n aantal drankies gedrink het. Maar as iemand dink dat so ’n gebruik onskadelik is, mislei hy homself (Jeremia 17:9). ’n Persoon kan stadigaan, progressief, afhanklik raak van alkohol en “aan baie wyn verslaaf” raak (Titus 2:3). Die skryfster Caroline Knapp sê oor die proses wat tot alkoholisme lei: “Dit is ’n stadige, geleidelike, verraderlike, bedrieglike proses.” Wat ’n dodelike strik is die oormatige gebruik van alkohol tog!
6 Dink ook aan Jesus se waarskuwing: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon” (Lukas 21:34, 35). ’n Persoon hoef hom nie dronk te drink voordat die drinkery hom lomerig en lui maak nie—fisies sowel as geestelik. Sê nou Jehovah se dag oorval hom in so ’n toestand?
Word gelei deur God se beskouing van alkohol
Maar Christene het wyse leiding van hulle liefdevolle Skepper. Byvoorbeeld, hy het vir ons vertel van die verskriklike gevolge wat dit het as jy te veel drink. Ons het dalk al die gedetailleerde beskrywing in Spreuke 23:29-35 gelees van ’n dronk persoon en party van die gevolge daarvan. Daniel, ’n Christenouerman in Europa, onthou hoe sy lewe was voordat hy ’n ware Christen geword het. Hy sê: “Ek het voorheen te veel alkohol gedrink, en dit het veroorsaak dat ek slegte besluite maak. As gevolg daarvan het ek verskriklike dinge ondervind, en ek is nog steeds ontsteld wanneer ek daaraan dink.”
Geestelike skatte
Vrae van lesers
Byvoorbeeld, vetsug kan ’n teken van vraatsug wees, maar dit is nie altyd die geval nie. Iemand kan oorgewig wees as gevolg van ’n siekte. Oorerflikheidsfaktore kan ook tot vetsug bydra. Ons moet ook in gedagte hou dat vetsug ’n fisiese toestand is, terwyl vraatsug ’n geestesgesindheid is. Vetsug word omskryf as “’n toestand wat gekenmerk word deur oormatige liggaamsvet”, terwyl vraatsug ’n “gulsige of onbeteuelde oorgawe aan kos” is. Vraatsug word dus nie deur iemand se liggaamsgrootte bepaal nie, maar deur sy gesindheid teenoor kos. Iemand kan van normale grootte of selfs maer wees en nogtans ’n vraat wees. Wat meer is, beskouings oor wat die ideale liggaamsgewig of -grootte is, verskil grootliks van plek tot plek.
28 JULIE 2012–3 AUGUSTUS 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 24
Maak jouself sterk vir moeilike tye
“Wees standvastig, onbeweeglik”
15 Studeer God se Woord en dink daaroor na. Net soos ’n boom sterk kan staan as dit diep wortels het, kan ons standvastig bly as ons geloof in God se Woord diepgewortel is. Soos ’n boom groei, groei sy wortels dieper en versprei dit verder. Wanneer ons studeer en nadink oor dit wat ons lees, versterk ons ons geloof en is ons meer oortuig dat God se manier van dinge doen, die beste is (Kol. 2:6, 7). Dink na oor hoe Jehovah se instruksies, raad en beskerming sy knegte in die verlede gehelp het. Byvoorbeeld, Esegiël het ’n engel mooi dopgehou terwyl hy die tempel wat Esegiël in ’n visioen gesien het, versigtig gemeet het. Hierdie visioen het Esegiël versterk, en dit gee ons praktiese lesse oor hoe ons gehoorsaam kan wees aan Jehovah se standaarde vir rein aanbidding (Eseg. 40:1-4; 43:10-12). Ons vind ook daarby baat wanneer ons tyd neem om te studeer en na te dink oor die dieper dinge van God se Woord.
Behou jou vreugde in moeilike tye
12 Spreuke 24:10 erken: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” ’n Ander spreuk sê: “Weens die pyn van die hart is daar ’n verslae gees” (Spr. 15:13). Party Christene het so mismoedig geword dat hulle opgehou het om hulle persoonlike Bybellees te doen en om oor God se Woord te peins. Hulle gebede het oppervlakkig geword, en hulle sonder hulle dalk af van medeaanbidders. Om in ’n mismoedige toestand te bly, kan ongetwyfeld skadelik wees.—Spr. 18:1, 14.
13 Aan die ander kant sal ’n positiewe uitkyk ons help om ons aandag te vestig op aspekte van ons lewe waaruit ons genot en vreugde kan put. Dawid het geskryf: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen” (Ps. 40:8). Wanneer dinge skeef loop in ons lewe, moet ons allermins ophou om ons heilsame roetine van aanbidding te volg. Trouens, die teenmiddel vir hartseer is om aan bedrywighede deel te neem wat vreugde verskaf. Jehovah sê vir ons dat ons genot en vreugde daaruit kan put om sy Woord te lees en gereeld diep daarin te kyk (Ps. 1:1, 2; Jak. 1:25). Uit die Heilige Skrif sowel as by Christelike vergaderinge ontvang ons “aangename woorde” wat ons kan opbeur en ons hart kan bly maak.—Spr. 12:25; 16:24.
Vrae van lesers
Spreuke 24:16 sê: “Die regverdige kan sewe keer val, en hy sal weer opstaan.” Praat hierdie vers van iemand wat herhaaldelik in sonde val, maar dan deur God vergewe word?
Eintlik is dit nie die punt van hierdie vers nie. Dit praat eerder van iemand wat val in die sin dat hy herhaaldelik probleme het of moeilike tye ervaar en weer opstaan in die sin dat hy herstel.
So dit beteken dat Spreuke 24:16 nie na sonde verwys nie, maar dit verwys eerder daarna om probleme te hê of moeilike tye te ervaar, selfs herhaaldelik. In vandag se goddelose wêreld het ’n regverdige persoon dalk gesondheidsprobleme of ander probleme. Hy word dalk selfs deur die regering vervolg as gevolg van sy geloof. Maar hy kan vertrou dat God hom sal ondersteun en hom sal help om hierdie dinge te hanteer en om suksesvol te wees. Vra jou af: ‘Het ek nog nie gesien dat dinge gewoonlik goed uitwerk vir God se knegte nie?’ Hoekom is dit die geval? Ons het die versekering dat ‘Jehovah almal ondersteun wat val en almal ophelp wat gebuk gaan onder probleme’. – Ps. 41:1-3; 145:14-19.
Geestelike skatte
Vrae van lesers
As ’n man in Bybeltye sy “huisgesin [wou] opbou”, of wou trou en met ’n gesin begin, moes hy hom afvra: ‘Is ek gereed om te sorg vir ’n vrou en vir kinders wat ons dalk later sal hê?’ Voordat hy met ’n gesin kon begin, moes hy werk en na sy landerye en gesaaides omsien. Today’s English Version stel hierdie vers dus as volg: “Moenie jou huis bou en met ’n gesin begin voordat jou landerye gereed is en jy seker is dat jy ’n bestaan kan maak nie.” Geld dieselfde beginsel vandag?
Ja. ’n Man wat wil trou, moet hom behoorlik voorberei vir hierdie verantwoordelikheid. As hy fisies daartoe in staat is, moet hy werk. ’n Man se harde werk om na sy gesin om te sien, moet natuurlik nie tot fisiese dinge beperk word nie. God se Woord toon dat ’n man wat nie na die fisiese, emosionele en geestelike behoeftes van sy gesin omsien nie, erger as ’n ongelowige is! (1 Tim. 5:8). Wanneer ’n jong man hom vir die huwelik en gesinslewe voorberei, moet hy hom dus vrae soos die volgende afvra: ‘Is ek redelik voorbereid om materieel vir ’n gesin te sorg? Is ek gereed om die geestelike hoof van ’n gesin te wees? Sal ek die verantwoordelikheid nakom om ’n gereelde Bybelstudie met my vrou en kinders te hou?’ God se Woord beklemtoon beslis hierdie noodsaaklike verantwoordelikhede.—Deut. 6:6-8; Ef. 6:4.
’n Jong man wat wil trou, moet dus goed nadink oor die beginsel in Spreuke 24:27. ’n Jong vrou moet haar eweneens afvra of sy gereed is vir die verantwoordelikhede van ’n getroude vrou en moeder. ’n Jong egpaar kan hulle soortgelyke vrae afvra wanneer hulle daaraan dink om kinders te hê (Luk. 14:28). As God se knegte hierdie geïnspireerde leiding volg, kan dit hulle help om baie hartseer te vermy en ’n bevredigende gesinslewe te geniet.
4-10 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 25
Wyse beginsels vir ons spraak
Gebruik jou tong wyslik
6 Waarom is dit belangrik om die regte tyd te kies om te praat? Spreuke 25:11 sê: “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word.” Goue appels is baie mooi. En as ’n mens dit teen ’n silwer agtergrond sien, lyk dit nog mooier. Aanmoedigende woorde is iets aangenaams. En as ons die regte tyd kies om iemand aan te moedig, sal hy ons woorde meer waardeer en dit aanmoedigender vind. Hoe kan ons die regte tyd kies om te praat?
7 As ons op die verkeerde tyd praat, sal mense miskien nie verstaan of aanvaar wat ons sê nie; maar as ons die regte tyd kies, sal ons woorde dalk presies wees wat hulle nodig het. (Lees Spreuke 15:23.) Byvoorbeeld, in Maart 2011 het ’n aardbewing en ’n tsoenami ’n aantal stede in die ooste van Japan verwoes. Dit het meer as 15 000 lewens geëis. Hoewel baie Getuies van Jehovah vriende en familielede aan die dood afgestaan het, wou hulle die Bybel gebruik om ander te help wat in dieselfde situasie was. Maar hulle het geweet dat baie van die mense Boeddhiste is wat min van die Bybel weet. Daarom het die broers nie aanvanklik met hulle oor die opstanding gepraat nie, maar hulle eerder vertroos en verduidelik waarom sulke slegte dinge met goeie mense gebeur.
Gebruik jou tong wyslik
15 Hoe ons met ander praat, kan net so belangrik wees soos wat ons sê. Mense het dit geniet om na Jesus te luister omdat hy op ’n liefdevolle en vriendelike manier gepraat het (Lukas 4:22). As ons op ’n liefdevolle manier praat, sal mense dit waarskynlik geniet om na ons te luister en sal ons woorde oortuigender wees (Spreuke 25:15). Ons sal slegs met ander op ’n liefdevolle manier kan praat as ons hulle respekteer en as hulle gevoelens vir ons belangrik is. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel. Byvoorbeeld, toe ’n groep mense baie moeite gedoen het om na hom te kom luister, het hy hulle baie jammer gekry en hulle begin leer (Markus 6:34). En toe mense hom uitgeskel het, het hy hulle nie terug uitgeskel nie.—1 Petrus 2:23.
16 Hoewel ons lief is vir ons familielede en vriende, kan ons soms geneig wees om gemene dinge vir hulle te sê omdat ons hulle baie goed ken. Ons dink dalk dat dit nie saak maak hoe ons met hulle praat nie. Maar Jesus het nooit dinge gesê wat sy vriende seergemaak het nie. Toe hulle gestry het oor wie onder hulle die grootste was, het hy hulle liefdevol reggehelp deur die voorbeeld van ’n klein kindjie te gebruik om hulle denkwyse te verander (Markus 9:33-37). Ouer manne kan Jesus se voorbeeld volg deur ander op ’n liefdevolle manier raad te gee.—Galasiërs 6:1.
Spoor aan tot liefde en voortreflike werke—Hoe?
8 In ons diens aan God kan ons almal mekaar deur ons voorbeeld aanspoor. Jesus het beslis sy luisteraars aangespoor. Hy het die werk van die Christelike bediening liefgehad en die bediening verheerlik. Hy het gesê dat dit vir hom soos voedsel is (Johannes 4:34; Romeine 11:13). Sulke geesdrif kan aansteeklik wees. Kan jy op soortgelyke wyse jou vreugde in die bediening toon? Vertel ander in die gemeente van jou goeie ondervindinge, terwyl jy daarop let om nie grootpraterig te klink nie. Wanneer jy ander nooi om saam met jou te werk, moet jy kyk of jy hulle nie kan help om ware genot daaruit te put om met ander oor ons Grootse Skepper, Jehovah, te praat nie.—Spreuke 25:25.
Geestelike skatte
Laat sagmoedigheid jou sterk punt wees
3 Sagmoedigheid is ’n sterk punt, nie ’n swakheid nie. Dit vereis innerlike krag om kalm te bly in ’n moeilike situasie. Sagmoedigheid is een aspek van “die vrug van die gees” (Gal. 5:22, 23). Die Griekse woord vir “sagmoedigheid” was soms gebruik om ’n wilde perd te beskryf wat mak gemaak is. Dink aan ’n wilde perd wat mak word. Al is die perd nou mak, is hy nog steeds sterk. Hoe kan ons, as mense, sagmoedigheid ontwikkel en op dieselfde tyd sterk wees? Ons kan dit nie op ons eie doen nie. Ons moet bid vir God se gees en hom vra om ons te help om hierdie pragtige eienskap te ontwikkel. Daar is baie wat dit al reggekry het. Baie Getuies het op ’n sagmoedige manier gereageer toe teenstanders met hulle gestry het, en dit het ’n goeie indruk op ander gemaak. (Lees 2 Timoteus 2:24, 25.) Hoe kan jy sagmoedigheid een van jou sterk punte maak?
11-17 AUGUSTUS 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 26
Bly weg van “’n dwaas”
it-2-E 729 ¶6
Reën
Seisoene. Die twee hoof seisoene in die Beloofde Land, somer en winter, kan ook gesien word as die droë seisoen en die reënseisoen. (Vergelyk Ps 32:4; Hgl 2:11, vtn.) Van omtrent middel-April tot middel-Oktober val daar baie min reën. Gedurende hierdie tydperk wanneer die oes plaasvind, is reën skaars. Spreuke 26:1 wys dat reën tydens die oestyd baie ongewoon was. – Vergelyk 1Sa 12:17-19.
Dissipline lewer ’n vredevolle vrug
12 Soos Spreuke 26:3 toon, is drastieser maatreëls in die geval van party persone nodig: “’n Sweep is vir ’n perd, ’n toom vir die esel en ’n roede vir die rug van die dwase.” Soms het Jehovah sy nasie Israel getug deur die probleme wat hulle hulle op die hals gehaal het: “Omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite [onderwerp]; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie. Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos” (Psalm 107:11-13). Sommige dwase verhard egter hulle hart sodat hulle nie deur enige soort helende dissipline geraak word nie: “’n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.”—Spreuke 29:1.
it-2-E 191 ¶4
Kreupelheid
Spreekwoordelike gebruik. “Soos iemand wat sy eie voete vermink en homself seermaak, so is die een wat sake aan ’n dwaas toevertrou,” het wyse koning Salomo gesê. Die man wat ’n dwaas vra om vir hom enige projek te doen, doen homself groot skade aan. Hy sal beslis sien hoe die werk wat hy beplan het, ineenstort tot sy eie nadeel. – Spr 26:6.
Geestelike skatte
Laat sagmoedigheid jou sterk punt wees
18 Om dinge op ’n duidelike en oortuigende manier te verduidelik, is dalk nie genoeg om party mense te oortuig nie. Maar dit sal help as ons op ’n taktvolle en sagmoedige manier praat. (Lees Kolossense 4:6.) Om met iemand te praat oor wat ons glo, kan vergelyk word met wanneer ’n bal gegooi word. Ons kan dit sag of hard gooi. Wanneer ons dit sag gooi, is daar ’n groter kans dat die ander persoon dit sal vang en sal aanhou speel. Net so, as ons op ’n taktvolle en sagmoedige manier praat, sal mense miskien gewilliger wees om te luister en om verder te gesels. As iemand natuurlik ’n debat wil wen of ons oortuigings wil bespot, hoef ons nie verder met hom te praat nie (Spr. 26:4). Maar so ’n persoon is dalk die uitsondering; party – miskien baie – sal luister.
18-24 AUGUSTUS 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 27
Hoe ware vriende ons help
Jehovah waardeer sy nederige knegte
12 Iemand wat nederig is, waardeer raad. Stel jou voor dat jy by ’n Christelike vergadering is. Nadat jy met ’n hele paar broers en susters gepraat het, neem een van hulle jou eenkant en sê dat jy kos tussen jou tande het. Op daardie oomblik wens jy dat die aarde jou wil insluk. Maar sal jy nie ook dankbaar wees dat hy of sy vir jou gesê het nie? Om die waarheid te sê, jy wens dalk dat iemand anders jou vroeër gesê het! Net so moet ons nederig wees en dit waardeer wanneer ’n broer of suster die moed het om ons raad te gee wanneer ons dit nodig het. Ons beskou daardie persoon as ons vriend, nie ons vyand nie. – Lees Spreuke 27:5, 6; Gal. 4:16.
it-2-E 491 ¶3
Naaste
Wanneer dit kom by geloof en vertroue in ’n vriend en om hom te vra vir hulp, gee Spreuke die volgende raad: “Moenie jou rug draai op jou vriend of jou pa se vriend nie, en moenie na jou broer se huis gaan as rampspoed jou tref nie. ’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver weg is” (Spr 27:10). Hier lyk dit asof die skrywer sê dat ’n vriend wat naby is, waardeer moet word en eerder vir hulp gevra moet word, in plaas van ’n familielid, soos ’n broer wat ver weg is, want hy is dalk nie gereed of in die beste posisie om te help soos die vriend wat naby is nie.
Jongmense – Hoe sal julle lewe uitdraai?
7 Een les wat ons kan leer uit Joas se slegte besluit is dat ons vriende moet kies wat ’n goeie invloed op ons sal hê – vriende wat lief is vir Jehovah en wat hom gelukkig wil maak. Ons moenie net vriende wees met dié wat dieselfde ouderdom as ons is nie. Onthou, Joas was baie jonger as sy vriend Jojada. Wanneer dit by jou keuse van vriende kom, vra jouself: ‘Help hulle my om my geloof in Jehovah te versterk? Moedig hulle my aan om volgens God se standaarde te lewe? Praat hulle oor Jehovah en sy kosbare waarhede? Wys hulle dat hulle God se standaarde respekteer? Sê hulle net wat ek dalk wil hoor of het hulle die moed om my reg te help wanneer ek dit nodig het?’ (Spr. 27:5, 6, 17). Om eerlik te wees, as jou vriende nie lief is vir Jehovah nie, het jy hulle nie nodig nie. Maar as jy vriende het wat lief is vir Jehovah, bly vriende met hulle – hulle sal goed wees vir jou! – Spr. 13:20.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Spreuke
27:21. Lof kan openbaar watter soort persone ons werklik is. Nederigheid kom aan die lig as lof ons beweeg om te erken hoeveel ons aan Jehovah verskuldig is en as dit ons aanspoor om hom te bly dien. ’n Gebrek aan nederigheid kom aan die lig wanneer lof ons ’n gevoel van meerderwaardigheid gee.
25-31 AUGUSTUS 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 28
Die verskil tussen ’n slegte persoon en ’n regverdige persoon
Volg jy Jehovah volkome na?
“DIE regverdiges is soos ’n jong leeu wat vol vertroue is” (Spreuke 28:1, NW). Hulle beoefen geloof, steun vol vertroue op God se Woord en gaan moedig vooruit in Jehovah se diens voor watter gevaar hulle ook al te staan kom.
it-2-E 1139 ¶3
Begrip
Dié wat wegdraai van die Bron. Die persoon wat kies om verkeerde dinge te doen, begin dink dat dit nie belangrik is om God in ag te neem wanneer hy besluite en planne maak nie (Job 34:27). So ’n persoon laat toe dat sy hart hom verblind teen die verkeerde dinge wat hy doen en hy verloor insig (Ps 36:1-4). Selfs al sê hy dat hy God aanbid, stel hy mense se denke bo God s’n; hy verkies dit (Jes 29:13, 14). Hy maak verskonings vir sy skandelike gedrag deur te sê dat dit net “’n speletjie” is (Spr 10:23). En hy word so verdorwe en dwaas in sy denke, so erg dat hy aanneem dat die onsigbare God nie sy verkeerde dade sien of onderskei nie, asof God se waarnemingsvermoë misluk het (Ps 94:4-10; Jes 29:15, 16; Jer 10:21). Deur sy dade sê hy eintlik: “Daar is geen Jehovah nie” (Ps 14:1-3) en hy los hom ‘uit die prentjie’. Omdat hy nie deur God se beginsels gelei word nie, kan hy nie sake reg oordeel nie. Hy kan ook nie dinge duidelik sien en al die faktore wat betrokke is, oorweeg om wyse besluite te maak nie. – Spr 28:5.
it-1-E 1211 ¶4
Integriteit
Dit is net moontlik vir ’n persoon om sy integriteit te behou as hy sterk geloof en vertroue in Jehovah en Sy reddingskrag het en nie omdat hy sedelik sterk is nie (Ps 25:21). God belowe dat hy ’n “skild” en ’n “vesting” sal wees, wat die weg beskerm van dié wat in integriteit wandel (Spr 2:6-8; 10:29; Ps 41:12). Omdat hulle Jehovah se goedkeuring aanhoudend soek, gee dit hulle stabiliteit in hulle lewe en help dit hulle om op die pad te bly om hulle doelwit te bereik (Ps 26:1-3; Spr 11:5; 28:18). Alhoewel Job in verwarring opgelet het dat die onskuldige dalk ly as gevolg van die goddelose en dalk saam met die goddelose sal doodgaan, het Jehovah verseker dat hy bewus is van die lewe van die getroue persoon en hy belowe dat so ’n persoon se erfdeel vir ewig sal bestaan, sy toekoms vreedsaam sal wees en hy baie goeie dinge sal ontvang (Job 9:20-22; Ps 37:18, 19, 37; 84:11; Spr 28:10). Soos in Job se geval is dit nie ’n man se rykdom wat hom waardevol maak nie, maar eerder sy integriteit (Spr 19:1; 28:6). Kinders wat die voorreg het om so ’n persoon as ’n ouer te hê, kan baie gelukkig wees (Spr 20:7). Hulle vind baat by hulle pa se goeie voorbeeld en geniet die voordele van sy goeie naam en die respek wat hy opgebou het.
Geestelike skatte
Jy kan ’n geestelike hartaanval vermy
Te veel selfvertroue. Baie slagoffers van ’n hartaanval was net voor hulle hartaanval nog vol vertroue dat hulle blakend gesond is. Hulle het roetine-ondersoeke of ander mediese ondersoeke dikwels as heeltemal onnodig beskou of selfs weggelag. Net so ook dink party dalk dat niks met hulle kan gebeur nie, aangesien hulle al ’n geruime tyd Christene is. Hulle verwaarloos dalk geestelike ondersoeke of selfondersoek totdat rampspoed hulle tref. Dit is noodsaaklik dat ons die apostel Paulus se geldige vermaning teen te veel selfvertroue in gedagte hou: “Hy wat dink dat hy staan, [moet] oppas dat hy nie val nie.” Dit is verstandig om te erken dat ons onvolmaak is en om ons van tyd tot tyd geestelik te ondersoek.—1 Korintiërs 10:12; Spreuke 28:14.