Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • mwbr25 September bl. 1-13
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
  • Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2025
  • Onderhofies
  • 1-7 SEPTEMBER
  • 8-14 SEPTEMBER 2012
  • 15-21 SEPTEMBER 2012
  • 22-28 SEPTEMBER 2012
  • 29 SEPTEMBER 2012–5 OKTOBER 2012
  • 6-12 OKTOBER 2012
  • 13-19 OKTOBER 2012
  • 20-26 OKTOBER 2012
  • 27 OKTOBER 2012–2 NOVEMBER 2012
Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek – 2025
mwbr25 September bl. 1-13

Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek

© 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania

1-7 SEPTEMBER

SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 29

Verwerp onskriftuurlike oortuigings en tradisies

wp16.06 6, venster

Visioene van diegene in die onsigbare hemele

Bygelowigheid en vrees vir bose geeste het ’n groot houvas op miljoene mense. Hulle vertrou op gelukbringers en toormiddels om hulle te beskerm. Dit hoef nie met jou die geval te wees nie. Die Bybel gee ons hierdie versekering: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). Die ware God, Jehovah, wat baie magtiger is as Satan, sal jou beskerm as jy op Hom vertrou.

As jy wil hê dat Jehovah jou moet beskerm, moet jy leer wat hy vereis en dit dan doen. In die eerste eeu het Christene in die stad Efese byvoorbeeld al hulle boeke oor die toorkuns bymekaargebring en dit verbrand (Handelinge 19:19, 20). Dieselfde geld vir jou. As jy God se beskerming wil hê, moet jy ontslae raak van gelukbringers, afgodsbeeldjies, boeke oor towery, “beskermende” toutjies en enigiets anders wat met demonistiese gebruike verband hou.

w19.04 17 ¶13

Verdedig die waarheid oor die dood

13 As jy onseker is oor ’n sekere gebruik, bid tot Jehovah en vra vir sy wysheid. (Lees Jakobus 1:5.) Doen dan navorsing in ons publikasies. As dit nodig is, praat met die ouer manne in jou gemeente. Hulle sal nie vir jou sê wat om te doen nie, maar hulle kan jou help om Bybelbeginsels te vind, soos die beginsels wat hier bespreek word. Wanneer jy hierdie dinge doen, oefen jy jou “waarnemingsvermoëns”, en hierdie vermoëns sal jou help om te “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”. – Heb. 5:14.

w18.11 11 ¶12

“Ek sal in u waarheid wandel”

12 Onskriftuurlike gewoontes en gebruike. Familielede, werksmaats en skoolmaats probeer ons dalk kry om saam met hulle aan hulle feesvieringe deel te neem. Hoe kan ons die druk weerstaan om aan gebruike deel te neem en vakansiedae te vier wat Jehovah nie goedkeur nie? Ons kan dit doen deur te verstaan hoekom Jehovah dit nie goedkeur nie. Dit kan ons baie help as ons weer artikels in ons publikasies lees wat verduidelik wat die oorsprong van sekere vakansiedae is. Wanneer ons nadink oor die skriftuurlike redes hoekom ons nie sulke vakansiedae vier nie, oortuig dit ons dat ons op die pad wandel wat “vir die Here aanneemlik is” (Ef. 5:10). As ons op Jehovah en sy Woord van waarheid vertrou, sal ons nie vir ‘mense bewe’ nie. — Spr. 29:25

Geestelike skatte

w17.10 9 ¶11

“Laat ons liefhê . . . met dade en in waarheid”

11 Prys ander opreg. Soek na geleenthede om ander te prys, want dit bou hulle op (Ef. 4:29). Maar wanneer ons ander prys moet ons seker maak dat dit opreg is, anders vlei ons hulle net. Ons moet bedoel wat ons sê en ons moet ook nie vergeet om raad te gee wanneer dit nodig is nie (Spr. 29:5). Ons sal skynheilig wees as ons iemand prys en hom dan agter sy rug afkraak. Die apostel Paulus se liefde was opreg. Hy het byvoorbeeld die gemeente in Korinte opreg geprys vir die goeie dinge wat hulle gedoen het (1 Kor. 11:2). Maar toe hulle raad nodig gehad het, het hy dit reguit maar op ’n liefdevolle manier gedoen.—1 Kor. 11:20-22.

8-14 SEPTEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 30

“Moenie vir my rykdom of armoede gee nie”

w18.01 24-25 ¶10-12

Watter soort liefde maak ons werklik gelukkig?

10 Ons almal het natuurlik geld nodig. Dit gee ons ’n bietjie beskerming (Pred. 7:12). Maar kan ’n persoon werklik gelukkig wees as hy net genoeg geld het vir sy basiese behoeftes? Natuurlik! (Lees Prediker 5:12.) Agur, die seun van Jake, het geskryf: “Gee my nie armoede of rykdom nie. Laat my die voedsel verslind wat vir my voorgeskryf is.” Ons kan verstaan hoekom hy nie baie arm wou wees nie. Hy wou nie voel dat hy moet steel om aan die lewe te bly nie, want dit sou God baie teleurgestel het. Maar hoekom wou hy nie ryk wees nie? Hy het verder geskryf: “Sodat ek nie versadig word en u verloën en sê: ‘Wie is Jehovah?’ nie” (Spr. 30:8, 9). Jy ken dalk mense wat op geld vertrou eerder as op God.

11 Dié wat lief is vir geld, kan God nie gelukkig maak nie. Jesus het gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.” Hy het ook gesê: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nie mot of roes verteer nie en waar diewe nie inbreek en steel nie.” — Matt. 6:19, 20, 24.

12 Baie wat ’n eenvoudige lewe lei, is gelukkiger en het ook meer tyd om Jehovah te dien. Jack, wat in die Verenigde State bly, het sy groot huis en sy besigheid verkoop, want hy het geweet dat dit hom sou help om saam met sy vrou te pionier. Hy sê: “Dit was nie maklik om ons pragtige huis en eiendom in die platteland te verkoop nie. Maar ek het vir jare probleme by die werk gehad wat vir my baie stres veroorsaak het. My vrou, wat pionier, was altyd gelukkig. Sy het altyd gesê: ‘Ek het die beste baas ooit!’ Noudat ek pionier, werk ons al twee vir dieselfde Persoon, Jehovah.”

w87 5/15 30 ¶8

Vrees Jehovah en jy sal gelukkig wees

◆ 30:15, 16—Waarop kom hierdie voorbeelde aan?

Hulle illustreer die onversadigbaarheid van hebsug. Bloedsuiers suig hulle propvol bloed, net soos hebsugtiges altyd meer geld of mag wil hê. Sjeool is insgelyks nooit versadig nie, maar bly oop om nog slagoffers van die dood te ontvang. ’n Onvrugbare moederskoot ‘roep uit’ om kinders (Genesis 30:1). Grond wat deur droogte geteister is, drink reënwater in en lyk gou weer droog. En die vlamme van ’n vuur wat alles verteer het wat daarin gegooi is, versprei en vernietig ander brandbare stowwe binne hulle bereik. Dit geld ook vir hebsugtige mense. Maar diegene wat deur goddelike wysheid gerig word, word nie eindeloos deur sulke selfsug gedryf nie.

w11 6/1 10 ¶4

Lewe binne jou inkomste—Hoe jy dit kan doen

Spaar voordat jy koop. Party beskou dit dalk as oudmodies om te spaar voordat ’n mens iets koop, maar dit is in werklikheid een van die verstandigste maniere om finansiële probleme te voorkom. Deur dit te doen, vermy baie mense skuld en die probleme wat daarmee gepaardgaan, soos hoë rentekoerse, wat alles wat jy koop uiteindelik duurder maak. In die Bybel word die mier “wys” genoem omdat hy sy “voedselvoorraad tydens die oes” vir toekomstige gebruik opberg.—Spreuke 6:6-8; 30:24, 25.

w24.06 13 ¶18

Bly vir ewig Jehovah se gas!

18 Dit is goed vir ons om ons persoonlike gesindheid teenoor geld te ondersoek. Vra jouself: ‘Dink ek dikwels aan geld en wat dit kan koop? As ek geld leen, vat ek lank om dit terug te betaal omdat ek dink dat die persoon by wie ek dit geleen het, dit nie nodig het nie? Laat geld my belangrik voel, maar is dit vir my moeilik om vrygewig te wees? Dink ek dat my broers en susters materialisties is net omdat hulle geld het? Maak ek vriende met dié wat ryk is, en toon ek min belangstelling in die armes?’ Ons het die wonderlike voorreg ontvang om Jehovah se gaste te wees. Ons kan daardie voorreg beskerm deur ons lewenswyse vry te hou van die liefde vir geld. As ons dit doen, sal Jehovah ons nooit verlaat nie! – Lees Hebreërs 13:5.

Geestelike skatte

w09 4/15 17 ¶11-13

Jehovah se wysheid word in die skepping gesien

11 Die klipdassie is nog ’n betreklike klein diertjie wat ons belangrike lesse kan leer. (Lees Spreuke 30:26.) Hy lyk ietwat soos ’n groot konyn, maar het kort, ronde ore en kort bene. Hierdie diertjie woon in rotsagtige gebiede. Die skerp gesigsvermoë van die klipdassie is vir hom ’n groot voordeel, en die gate en skeure in sy rotsagtige habitat voorsien ’n veilige skuilplek teen roofdiere. Die klipdassie is gemaak om in ’n hegte gemeenskap te floreer, wat beskerming bied en hom help om in die winter warm te bly.

12 Wat kan ons by die klipdassie leer? Let eerstens daarop dat hierdie diertjie hom nie aan aanvalle blootstel nie. Hy gebruik eerder sy skerp gesigsvermoë om roofdiere van ver af te sien, en hy bly naby gate en skeure wat lewensreddende skuiling kan bied. Ons het eweneens skerp geestelike gesigsvermoë nodig sodat ons die gevare wat in Satan se wêreld skuil, kan raaksien. Die apostel Petrus het Christene vermaan: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Pet. 5:8). Toe Jesus op die aarde was, het hy waaksaam gebly, op sy hoede vir al Satan se pogings om Sy onkreukbaarheid te ondermyn (Matt. 4:1-11). Jesus het ’n goeie voorbeeld vir sy volgelinge gestel!

13 Een manier waarop ons waaksaam kan wees, is deur gebruik te maak van die geestelike beskerming wat Jehovah aan ons beskikbaar stel. Ons moenie nalaat om God se Woord te bestudeer en Christelike vergaderinge by te woon nie (Luk. 4:4; Heb. 10:24, 25). En net soos die klipdassie in ’n hegte gemeenskap floreer, moet ons na aan ons mede-Christene bly sodat ons “wedersydse aanmoediging” met hulle kan geniet (Rom. 1:12). Deur gebruik te maak van die beskerming wat Jehovah voorsien, toon ons dat ons saamstem met die psalmis Dawid, wat geskryf het: “Jehovah is my groot rots en my vesting en die Een wat aan my ontkoming verskaf. My God is my rots. Tot hom sal ek my toevlug neem.”—Ps. 18:2.

15-21 SEPTEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 31

Lesse uit ’n ma se liefdevolle raad

w11 2/1 19 ¶7-8

Skerp sedelike waardes by jou kinders in

Leer hulle die volle waarheid oor seks. Waarskuwings is noodsaaklik (1 Korintiërs 6:18; Jakobus 1:14, 15). Maar die Bybel beeld seks hoofsaaklik uit as ’n gawe van God, nie ’n strik van Satan nie (Spreuke 5:18, 19; Hooglied 1:2). As jy jou tieners slegs van die gevare vertel, kan dit hulle ’n verwronge en onskriftuurlike beskouing van die onderwerp gee. “My ouers het baie klem gelê op geslagsonsedelikheid”, sê ’n jong vrou in Frankryk met die naam Corrina, “en dit het my ’n negatiewe beskouing van seks gegee.”

Maak seker dat jou kinders die volle waarheid oor seks verstaan. “Wat ek my tieners altyd probeer leer het”, sê ’n ma in Mexiko met die naam Nadia, “is dat seks pragtig en natuurlik is en dat Jehovah God dit aan mense gegee het om te geniet. Maar dit hoort slegs in die huwelik. Dit kan vir ons geluk of lyding meebring, afhangende van hoe ons dit gebruik.”

ijwhf artikel 4 ¶11-13

Praat met jou kinders oor alkohol

Neem die inisiatief om die onderwerp te bespreek. “Die gebruik van alkohol kan verwarrend wees vir jongmense,” sê Mark, ’n pa in Brittanje. “Ek het my agtjarige seun gevra of hy dink dat dit reg of verkeerd is om alkohol te drink. Ek het die atmosfeer ontspanne en informeel gehou, en dit het hom gehelp om openlik te sê wat hy dink.”

Jy sal ’n groter indruk maak as jy ’n hele paar keer oor die gebruik van alkohol praat. Afhangende van jou kind se ouderdom kan jy oor alkohol sowel as oor ander belangrike onderwerpe praat, soos padveiligheid en seks.

Stel die voorbeeld. Kinders is soos sponse – hulle absorbeer hulle omgewing – en navorsing toon dat ouers hulle kinders die meeste beïnvloed. As jy dus alkohol drink om te kalmeer en jou stres te verlig, sal jou kind dalk dink dat alkohol die antwoord op die lewe se probleme is. Wees dus ’n goeie rolmodel. Maak seker dat jy alkohol op ’n verantwoordelike manier gebruik.

g17.6 9 ¶5

Leer jou kind om nederig te wees

Moedig jou kind aan om te gee. Wys vir jou kind dat ‘dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang’ (Handelinge 20:35). Hoe? Julle kan miskien saam ’n lys maak met die name van mense wat hulp nodig het met inkopies, vervoer en herstelwerk. Neem dan jou kind saam wanneer jy party van hulle gaan help. Laat jou kind sien hoe gelukkig en tevrede jy is terwyl jy na die behoeftes van ander omsien. Die beste manier om jou kind nederigheid te leer, is deur jou voorbeeld.—Bybelwaarheid: Lukas 6:38.

Geestelike skatte

w92 11/1 11-12 ¶7-8

Opvoeding in Bybeltye

7 In Israel is kinders van ’n baie vroeë ouderdom af deur die vader sowel as die moeder geleer (Deuteronomium 11:18, 19; Spreuke 1:8; 31:26). In die Franse Dictionnaire de la Bible het die Bybelgeleerde E. Mangenot geskryf: “Sodra die kind kon praat, het hy ’n paar gedeeltes uit die Wet geleer. Sy moeder het ’n vers opgesê; wanneer hy dit geken het, het sy hom nog een geleer. Later is die geskrewe teks van die verse wat hulle reeds uit die hoof kon opsê in die kinders se hande geplaas. Só het hulle met lees kennis gemaak, en wanneer hulle groter was, kon hulle hulle godsdiensonderrig voortsit deur die wet van die Here te lees en te bepeins.”

8 Dit dui daarop dat memorisering as ’n basiese onderrigtingsmetode gebruik is. Die dinge wat hulle aangaande Jehovah se wette en sy handelinge met sy volk geleer is, moes in hulle hart insink (Deuteronomium 6:6, 7). Hulle moes daaroor peins (Psalm 77:12, 13). Verskillende geheuehulpmiddele is gebruik om jonk en oud te help om dinge te memoriseer. Dit het alfabetiese letterverse ingesluit, waar opeenvolgende verse in ’n psalm met ’n ander letter begin (soos in Spreuke 31:10-31); alliterasie (woorde wat met dieselfde letter of klank begin) en die gebruik van getalle, soos dié wat in die laaste deel van Spreuke hoofstuk 30 gebruik is. Interessant genoeg, sommige geleerdes is van mening dat die Gezer-kalender, wat een van die oudste voorbeelde van antieke Hebreeuse skrif is, ’n skoolseun se geheue-oefening was.

22-28 SEPTEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PREDIKER 1-2

Hou aan om die volgende generasie op te lei

w17.01 27-28 ¶3-4

“Vertrou dit aan getroue mense toe”

3 Baie van ons geniet ons werk en sal dit graag so lank as moontlik wil doen. Maar ongelukkig word elke geslag oud en deur ’n nuwe geslag vervang (Pred. 1:4). Vandag skep dit unieke uitdagings vir ware Christene. Die werk van Jehovah se volk het uitgebrei en meer gekompliseerd geraak. Wanneer ons nuwe projekte aanpak, word nuwe metodes daarvoor gebruik—en dikwels maak ons gebruik van nuwe tegnologie. Party ouer broers en susters vind dit dalk moeilik om by te hou met hierdie vooruitgang (Luk. 5:39). Soms kan hulle daarmee byhou, maar jongmense het dalk meer krag en energie as hulle (Spr. 20:29). Dit is dus liefdevol en prakties as ouer persone die jonges leer om groter verantwoordelikheid te aanvaar.—Lees Psalm 71:18.

4 Dit is nie altyd maklik vir broers wat die leiding neem om verantwoordelikheid aan jonger broers te delegeer nie. Party is bang dat hulle ’n toewysing wat vir hulle kosbaar is, sal verloor. Ander is oortuig dat hulle die leiding moet neem omdat jonges die werk nie so goed sal kan doen nie. Party meen dat hulle nie die tyd het om iemand anders op te lei nie. Jonger broers daarenteen moet nie ongeduldig raak as hulle nie meer verantwoordelikheid gegee word nie.

Geestelike skatte

si 112 ¶3

Bybelboek nommer 21—Prediker

3 In watter sin was koning Salomo ’n byeenbringer, en waartoe het hy byeengebring? Hy was ’n byeenbringer van sy volk, die Israeliete, en van hulle metgeselle, die tydelike inwoners. Hy het hulle almal byeengebring om sy God, Jehovah, te aanbid. Hy het vroeër Jehovah se tempel in Jerusalem gebou, en by die inwyding daarvan het hy hulle almal saamgeroep, of byeengebring, vir die aanbidding van God (1 Kon. 8:1). Nou het hy, deur middel van Prediker, probeer om sy volk byeen te bring vir lonende werke en hulle die vergeefse, nuttelose werke van hierdie wêreld die rug te laat toekeer.—Pred. 12:8-10.

29 SEPTEMBER 2012–5 OKTOBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PREDIKER 3-4

Versterk julle driedubbele tou

ijwhf artikel 10 ¶2-8

Hoe om tegnologie op sy plek te hou

● Wanneer tegnologie reg gebruik word, kan dit goed wees vir die huwelik. Byvoorbeeld, party paartjies gebruik dit om in kontak te bly wanneer hulle gedurende die dag nie bymekaar is nie.

“’n Eenvoudige boodskap wat sê ‘Ek is lief vir jou’ of ‘Ek dink aan jou’, kan baie beteken.” – Jonathan

● Wanneer tegnologie verkeerd gebruik word, kan dit sleg wees vir die huwelik. Byvoorbeeld, party mense gebruik die heeltyd hulle toestelle wat maak dat hulle minder tyd of aandag vir hulle huweliksmaat het.

“Ek is seker daar was al tye wanneer my man meer geneig sou wees om met my te praat as ek nie op my foon besig was nie.” – Julissa.

● Party mense sê dat hulle betekenisvolle gesprekke met hulle huweliksmaat kan hê terwyl hulle hulle toestelle op dieselfde tyd gebruik. Die sosioloog Sherry Turkle dink dat dit onmoontlik is om meer as een ding op ’n slag goed te doen. Al dink mense dat dit goed is, is dit eintlik ’n slegte ding. Sy sê dat wanneer ons baie dinge op dieselfde tyd probeer doen, ons in werklikheid dit nie goed kan doen nie.

“Dis lekker wanneer ek en my man gesels, maar nie wanneer hy met ander dinge besig is nie. Wanneer hy dit doen, laat dit my voel asof hy nie omgee of ek daar is of nie.” – Sarah.

Die slotsom: Die manier hoe jy tegnologie gebruik, kan goed of sleg wees vir jou huwelik.

w23.05 23-24 ¶12-14

Hou “die vlam van Jah” aan die brand

12 Hoe kan paartjies Aquila en Priscilla navolg? Dink aan die baie dinge wat jy en jou huweliksmaat moet doen. Kan julle van daardie dinge as ’n paartjie doen in plaas van op julle eie? Byvoorbeeld, Aquila en Priscilla het saam gepreek. Maak julle gereeld planne om dieselfde te doen? Aquila en Priscilla het ook saam gewerk. Jy en jou huweliksmaat het dalk nie dieselfde werk nie, maar kan julle huistakies saam doen? (Pred. 4:9). Wanneer julle mekaar met takies help, voel julle meer soos ’n span en het julle die geleentheid om te praat. Robert en Linda is al vir meer as 50 jaar getroud. Hy sê: “Om eerlik te wees, ons het nie baie tyd om saam te ontspan nie. Maar wanneer ek die skottelgoed was en my vrou dit afdroog of wanneer ek buite in die tuin werk en sy my kom help, voel ek baie gelukkig. Om dinge saam te doen, bring ons nader aan mekaar. Ons liefde hou aan groei.”

13 Maar onthou dat om net saam te wees dalk nie noodwendig tot eenheid bydra nie. ’n Getroude vrou in Brasilië sê: “Deesdae is daar so baie afleidings, en ek het gevind dat ons in die strik kan trap om te dink dat ons tyd saam spandeer net omdat ons onder dieselfde dak bly. Ek het geleer dat dit nie genoeg is om net saam te wees nie. Ek moet ook vir my huweliksmaat die aandag gee wat hy nodig het.” Let op hoe Bruno en sy vrou, Tays, seker maak dat hulle mekaar aandag gee. Hy sê: “Wanneer ons tyd saam spandeer, sit ons ons selfone weg en geniet ons die tyd met mekaar.”

14 Maar wat as jy en jou huweliksmaat dit nie geniet om tyd saam te spandeer nie? Dalk het julle verskillende belangstellings of dalk irriteer julle mekaar. Wat kan julle doen? Dink aan die kampvuur wat vroeër genoem is. Dit is nie ’n groot vuur wanneer dit begin brand nie. Jy moet stadig maar seker groter en groter stukke hout daarop sit. Net so kan julle begin deur elke dag net ’n paar minute saam te spandeer. Maak seker dat julle iets doen wat julle albei geniet, nie iets wat ’n stryery kan veroorsaak nie (Jak. 3:18). Deur klein te begin, sal julle dalk sien hoe julle liefde vir mekaar weer begin groei.

w23.05 21 ¶3

Hou “die vlam van Jah” aan die brand

3 Om “die vlam van Jah” aan die brand te hou, moet ’n man en ’n vrou hard werk om ’n sterk verhouding met Jehovah te hê. Hoe help hulle sterk verhouding met hom hulle huwelik? Wanneer ’n paartjie se vriendskap met hulle hemelse Vader vir hulle kosbaar is, pas hulle sy raad gretig toe, en dit help hulle om probleme wat hulle liefde vir mekaar kan laat afkoel, te vermy en te oorkom. (Lees Prediker 4:12.) Geestelike mense probeer ook om Jehovah na te volg en om sy eienskappe te ontwikkel, soos liefde, geduld en vergewensgesindheid (Ef. 4:32–5:1). ’n Paartjie wat sulke eienskappe openbaar, maak dit vir hulle liefde makliker om te groei. ’n Suster met die naam Lena, wat al vir meer as 25 jaar getroud is, sê: “Dit is maklik om ’n geestelike persoon lief te hê en te respekteer.”

Geestelike skatte

it-E “Liefde” ¶39

Liefde

“’n Tyd om lief te hê.” Liefde word net teruggehou van dié wat Jehovah wys dit nie waardig is nie, of van dié wat vasbeslote is om ’n slegte weg te volg. Liefde word aan alle mense betoon totdat hulle wys dat hulle God haat. Dan word daar nie meer liefde teenoor hulle betoon nie. Jehovah God en Jesus Christus is lief vir regverdigheid en haat wetteloosheid (Ps 45:7; Heb 1:9). Dié wat intense haat vir die ware God het, is nie persone aan wie liefde betoon moet word nie. Daar sal niks goeds kom deur aan te hou om liefde aan sulke persone te toon nie, want dié wat God haat, sal nie op sy liefde reageer nie (Ps 139:21, 22; Jes 26:10). Daarom haat God hulle tereg en het hy ’n vasgestelde tyd wanneer hy teen hulle sal optree. – Ps 21:8, 9; Pr 3:1, 8.

6-12 OKTOBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PREDIKER 5-6

Hoe ons diep respek vir ons groot God wys

w08 8/15 15-16 ¶17-18

Eer Jehovah deur waardigheid aan die dag te lê

17 Ons moet spesiale aandag daaraan skenk om waardigheid aan die dag te lê wanneer ons Jehovah in aanbidding nader. “Gee ag op jou voete wanneer jy na die huis van die ware God gaan”, sê Prediker 5:1. Moses sowel as Josua is beveel om hulle sandale uit te trek toe hulle op ’n heilige plek was (Eks. 3:5; Jos. 5:15). Hulle moes dit doen as ’n blyk van respek of eerbied. Israelitiese priesters was verplig om linnebroeke te dra “om die naakte vlees te bedek” (Eks. 28:42, 43). Dit het onwelvoeglike ontbloting voorkom wanneer hulle by die altaar gedien het. Elke lid van ’n priester se gesin moes die goddelike standaard van waardigheid handhaaf.

18 Waardigheid in aanbidding behels dus eer en respek. As ons eer en respek waardig wil wees, moet ons met respek optree. Die waardigheid wat ons aan die dag lê, moet nie net vir die skyn of bloot ’n identifiserende kleed wees nie. Dit moet verder strek as wat menseoë kan sien, tot wat God sien—ons hart (1 Sam. 16:7; Spr. 21:2). Waardigheid moet deel van ons word en ’n invloed hê op ons gedrag, ons gesindheid, ons verhouding met ander, selfs die manier waarop ons onsself beskou en oor onsself voel. Ja, waardigheid moet te alle tye en in alles wat ons sê en doen, gesien kan word. Wanneer dit kom by ons gedrag, houding, kleredrag en persoonsversorging, neem ons die woorde van die apostel Paulus ter harte: “In geen opsig gee ons enige rede tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie; maar in elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan” (2 Kor. 6:3, 4). Ons “[versier] die leer van ons Redder, God, in alles”.—Tit. 2:10.

w09 11/15 11 ¶21

Verryk jou gebede deur Bybelstudie

21 Jesus het eerbiedig in vaste geloof gebid. Byvoorbeeld, voordat hy Lasarus opgewek het, “het [Jesus] sy oë na die hemel opgeslaan en gesê: ‘Vader, ek dank u dat u my verhoor het. Ek het weliswaar geweet dat u my altyd verhoor’” (Joh. 11:41, 42). Getuig jou gebede van sulke eerbied en geloof? Bestudeer Jesus se eerbiedige modelgebed, en jy sal sien dat die heiliging van Jehovah se naam, die koms van sy Koninkryk en die uitvoering van sy wil besonder belangrike punte daarin is (Matt. 6:9, 10). Dink aan jou eie gebede. Weerspieël dit jou lewendige belangstelling in Jehovah se Koninkryk, die uitvoering van sy wil en die heiliging van sy naam? Dit behoort.

w17.04 6-7 ¶12

“Wat jy plegtig belowe, moet jy betaal”

12 Toe ons gedoop is, het ons Jehovah belowe dat ons ons lewe in sy diens sal gebruik en dat ons volgens sy beginsels sal lewe. Doop is egter net die begin. Ons moet aanhou om selfondersoek te doen en onsself afvra: ‘Het ek sedert my doop geestelike vordering gemaak? Dien ek Jehovah nog heelhartig? (Kol. 3:23). Bid ek gereeld? Lees ek die Bybel elke dag? Woon ek vergaderinge gereeld by? Is ek bedrywig in die bediening? Of is ek nie meer so ywerig nie?’ Die apostel Petrus het gewaarsku dat ons onbedrywig kan word in ons diens aan Jehovah. As ons kennis, volharding en godvrugtige toegewydheid by ons geloof voeg, sal dit nie gebeur nie.—Lees 2 Petrus 1:5-8.

Geestelike skatte

w20.09 31 ¶3-5

Vrae van lesers

Prediker 5:8 verwys na ’n heerser wat die arme onderdruk en onregverdig behandel. Die heerser moet in gedagte hou dat hy moontlik deur iemand dopgehou word wat in ’n hoër posisie as hy is, of wat meer gesag in die regering as hy het. Om die waarheid te sê, daar is dalk ander wat selfs in ’n hoër posisie is. Ongelukkig, in menseregerings, is al hierdie heersers dalk korrup en die mense kry swaar as gevolg van al hierdie korrupsie.

Maar al lyk dit asof daar nie hoop is nie, vertroos dit ons om te weet dat Jehovah ‘selfs hoë amptenare dophou’ in menseregerings. Ons kan God vra om ons te help en ons las vir hom gee (Ps. 55:22; Fil. 4:6, 7). Ons weet dat “die oë van Jehovah . . . die hele aarde [deursoek] om dié te ondersteun wat met hulle hele hart op hom vertrou”. – 2 Kron. 16:9.

So Prediker 5:8 herinner ons aan die wêreld waarin ons lewe en dat daar altyd iemand is wat meer gesag het. Maar nog belangriker, die vers kan ons herinner aan die feit dat Jehovah die hoogste, ja, die Oppergesag is. Hy heers nou deur middel van sy Seun, Jesus Christus, die Koning van die Koninkryk. Die Almagtige, wat alles sien, is heeltemal regverdig en sy Seun is ook heeltemal regverdig.

13-19 OKTOBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PREDIKER 7-8

‘Gaan na ’n huis waar daar getreur word’

it-E “Treur” ¶9

Treur

’n Tyd om te treur. Prediker 3:1, 4 sê: “Daar is . . . ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur en ’n tyd om te dans.” Omdat ons almal doodgaan, toon ’n persoon dat hy wys is deur “in die huis waar daar getreur word,” eerder as “in die huis van blydskap” te wees. (Pr 7:2, 4; vergelyk Spr 14:13.) Die wyse persoon maak gebruik van hierdie geleentheid om simpatie te wys en vertroosting te gee, eerder as om so ’n geleentheid te vermy om homself gelukkig te maak. Dit help hom om in gedagte te hou dat hy ’n sterflike mens is en om sy hart in die regte gesindheid teenoor sy Skepper te hou.

w19.06 23-24 ¶15

Help ander wat deur stresvolle tye gaan

15 William, wie se vrou ’n paar jaar gelede gesterf het, sê: “Ek waardeer dit wanneer ander stories oor my vrou vertel; dit gee my die versekering dat mense vir haar lief was en respek vir haar gehad het. Hierdie soort ondersteuning help my baie. Dit is so vertroostend, want my vrou was so kosbaar vir my en ’n groot deel van my lewe.” ’n Weduwee met die naam Bianca verduidelik: “Dit vertroos my wanneer ander saam met my bid en ’n teks of twee vir my lees. Dit help wanneer hulle oor my man praat en wanneer hulle na my luister wanneer ek oor hom praat.”

w17.07 16 ¶16

“Huil saam met mense wat huil”

16 Ons gebede vir en saam met broers en susters wat treur, het groot waarde. Al is dit vir jou moeilik om in so ’n emosionele situasie te bid, sal jou opregte gebed hulle vertroos, al is dit met trane en ’n bewerige stem. Dalene sê: “Wanneer susters my kom vertroos het, het ek hulle soms gevra om vir my te bid. Aan die begin sukkel hulle dalk ’n bietjie, maar na ’n rukkie kry hulle meer selfvertroue en dan bid hulle uit die hart. Hulle sterk geloof, liefde en belangstelling het my geloof versterk.”

w17.07 16 ¶17-19

“Huil saam met mense wat huil”

17 Ons almal treur op verskillende maniere. Ná die dood van ’n geliefde is daar baie vriende en familie om die bedroefde te vertroos. Maar wanneer die bedroefde weer alleen is, moet jy bereid wees om hulle te help en te vertroos. “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spr. 17:17). Christene moet bereid wees om bedroefdes te vertroos vir solank as wat hulle dit nodig het.—Lees 1 Tessalonisense 3:7.

18 Onthou dat enigiets hulle weer baie hartseer kan maak. Dit kan ’n huweliksherdenking, ’n liedjie, ’n foto, ’n reuk, ’n geluid of selfs die tyd van die jaar wees. Dit kan baie moeilik wees as die persoon vir die eerste keer iets alleen moet doen, soos om die Gedenkmaal of ’n byeenkoms by te woon. ’n Broer vertel: “Ek het gedink dat die eerste huweliksherdenking ná my vrou se dood baie traumaties gaan wees, en dit was nie maklik nie. Maar ’n paar broers en susters het gereël dat goeie vriende kom kuier, sodat ek nie alleen hoef te wees nie.”

19 Maar hou in gedagte dat bedroefdes nie net aanmoediging op spesiale geleenthede nodig het nie. Junia sê: “Soms is ’n bietjie hulp en geselskap op ander tye net die regte medisyne. Sulke spontane oomblikke is so kosbaar en vertroostend.” Ons kan nie al hulle hartseer en eensaamheid wegvat nie, maar ons kan hulle vertroos deur iets vir hulle te doen (1 Joh. 3:18). Gaby sê: “Ek dank Jehovah vir die liefdevolle ouer manne wat my deur dik en dun gehelp het. Ek het regtig gevoel hoe Jehovah sy liefdevolle arms om my sit.”

Geestelike skatte

w23.03 31 ¶18

“So sal almal weet dat julle my dissipels is”

18 Soms voel ons dalk dat ons met die broer of suster moet praat wat ons seergemaak het. Maar dit sal goed wees om onsself vrae te vra soos: ‘Het ek genoeg feite?’ (Spr. 18:13). ‘Het die persoon dalk nie bedoel om my seer te maak nie?’ (Pred. 7:20). ‘Het ek al ooit ’n soortgelyke fout gemaak?’ (Pred. 7:21, 22). ‘As ek met die persoon daaroor praat, sal dit die probleem selfs erger maak?’ (Lees Spreuke 26:20.) Wanneer ons tyd maak om oor sulke vrae te dink, sal ons dalk besef dat liefde ons kan motiveer om eenvoudig op te hou dink aan wat gebeur het.

20-26 OKTOBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PREDIKER 9-10

Behou die regte beskouing van jou probleme

w13 8/15 14 ¶20-21

Moet nooit ‘vir Jehovah woedend word’ nie

20 Identifiseer wat die ware oorsaak van ’n probleem is. Waarom moet ons dit doen? Wel, ons is dalk self verantwoordelik vir party van ons probleme. Indien wel, moet ons hierdie feit erken (Gal. 6:7). Moenie Jehovah vir die probleme probeer blameer nie. Waarom sou dit onredelik wees om dit te doen? Kyk na hierdie voorbeeld: ’n Motor kan moontlik ’n hoë spoed bereik. Stel jou voor dat ’n bestuurder die aanbevole spoedgrens ver oorskry terwyl hy om ’n skerp draai gaan en in ’n ongeluk betrokke is. Moet die vervaardiger van die motor vir die ongeluk verantwoordelik gehou word? Nee, natuurlik nie! Net so het Jehovah ons met wilsvryheid geskep. Maar hy het ons ook riglyne gegee oor hoe om wyse besluite te neem. Waarom sou ons ons Skepper dan vir ons eie foute blameer?

21 Nie al ons probleme is natuurlik die gevolg van ons foute en verkeerde optrede nie. Soms is “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” die oorsaak (Pred. 9:11). Laat ons egter nooit uit die oog verloor dat Satan die Duiwel die hoofoorsaak van goddeloosheid is nie (1 Joh. 5:19; Op. 12:9). Hy is die vyand—nie Jehovah nie!—1 Pet. 5:8.

w19.09 5 ¶10

Jehovah waardeer sy nederige knegte

10 Dit maak ook ons lewe makliker as ons nederig is. Ons sal soms dinge in die lewe sien wat dalk nie vir ons reg of regverdig lyk nie. Die wyse man koning Salomo het gesê: “Ek het knegte op perde gesien maar vorste wat soos knegte op die grond loop” (Pred. 10:7). Mense wat baie talentvol is, word nie altyd daarvoor geëer nie. En mense wat nie baie talentvol is nie, word dalk meer geëer. Maar Salomo het besef dat ons eerder die werklikheid moet aanvaar en nie heeltyd moet tob oor die negatiewe dinge in die lewe nie (Pred. 6:9). As ons nederig is, sal dit vir ons makliker wees om die lewe te aanvaar soos dit is – nie soos ons dink dit moet wees nie.

w11 10/15 8 ¶1-2

Is jou ontspanning voordelig?

DWARSDEUR die Bybel vind ons verklarings wat daarop dui dat Jehovah wil hê dat ons nie net moet lewe nie, maar ook die lewe moet geniet. Psalm 104:14, 15 sê byvoorbeeld dat Jehovah “voedsel uit die aarde . . . laat voortkom, en wyn wat die hart van die sterflike mens vrolik maak, om die gesig te laat blink van olie, en brood wat die hart van die sterflike mens versterk”. Ja, Jehovah laat gewasse groei om graan, olie en wyn te lewer om vir ons as voedsel te dien. Maar wyn ‘maak ook die hart vrolik’. Dit voorsien meer as wat werklik nodig is om die lewe te onderhou en vergroot ons vreugde (Pred. 9:7; 10:19). Ja, Jehovah wil hê dat ons vreugdevol moet wees, dat ons harte met “vrolikheid” gevul moet wees.—Hand. 14:16, 17.

2 Daar is dus geen rede om skuldig te voel wanneer ons nou en dan tyd inruim om ‘die voëls van die hemel en die lelies van die veld dop te hou’ of om ander bedrywighede te geniet wat ons verkwik en ons lewe verryk nie (Matt. 6:26, 28; Ps. 8:3, 4). ’n Heilsame lewe is ’n “gawe van God” (Pred. 3:12, 13). As ons vrye tyd as deel van hierdie gawe beskou, sal dit ons beweeg om dit te gebruik op ’n manier wat die Gewer sal bly maak.

Geestelike skatte

lv 137-138 ¶11, 12

Gebruik woorde “wat goed is vir opbouing”

11 Skadelike skinderpraatjies, laster. Skinderpraatjies is kletspraatjies oor mense en hulle lewe. Is alle skinderpraatjies sleg? Nie as ons verwys na onskuldige gesprekke waarin ons moontlik positiewe of nuttige inligting meedeel nie, soos wie onlangs gedoop is of wie ’n bietjie aanmoediging nodig het. Eerste-eeuse Christene het ’n lewendige belangstelling in mekaar se welsyn gehad en het gepaste inligting oor medegelowiges aan mekaar oorgedra (Efesiërs 6:21, 22; Kolossense 4:8, 9). Maar skinderpraatjies kan skadelik wees as dit die feite verdraai of private sake openbaar. Selfs ernstiger, dit kan tot laster lei, wat altyd skadelik is. Laster is “die uiting van valse aantygings . . . wat iemand se reputasie skend en dit skade berokken”. Die Fariseërs het Jesus byvoorbeeld deur middel van kwaadwillige laster in onguns probeer bring (Matteus 9:32-34; 12:22-24). Laster veroorsaak dikwels twis.—Spreuke 26:20.

12 Jehovah keur nie diegene goed wat die gawe van spraak gebruik om ander te belaster of om verdeeldheid te veroorsaak nie. Hy haat dié wat “twis onder broers” veroorsaak (Spreuke 6:16-19). Die Griekse woord wat as “lasteraar” vertaal word, is di·aʹbo·los, wat ook gebruik word as ’n titel van Satan. Hy is die “Duiwel”, die bose lasteraar teen God (Openbaring 12:9, 10). Ons wil beslis spraak vermy wat ons as ’t ware ’n duiwel sal laat word. Daar is geen plek in die gemeente vir lasterlike spraak wat werke van die vlees soos “rusies” en “verdeeldhede” sal aanblaas nie (Galasiërs 5:19-21). Voordat jy dus die een of ander nuusbrokkie oor iemand oorvertel, vra jou af: ‘Is dit waar? Sou dit liefdevol wees om dit oor te vertel? Is dit nodig of raadsaam om hierdie inligting bekend te maak?’—1 Tessalonisense 4:11.

27 OKTOBER 2012–2 NOVEMBER 2012

SKATTE UIT GOD SE WOORD PREDIKER 11-12

Geniet ’n gelukkige en gesonde lewe

g 3/15 13 ¶6-7

Vars lug en sonskyn natuurlike “antibiotika”?

Sonlig tree ook as ’n natuurlike ontsmettingsmiddel op. Die Journal of Hospital Infection verduidelik dat “die meeste kieme wat lugverspreide infeksies veroorsaak, nie in sonlig aan die lewe kan bly nie”.

Hoe kan jy hierby baat vind? Jy kan ’n bietjie tyd in die buitelug deurbring om die sonskyn te geniet en die vars lug in te asem. Dit sal jou waarskynlik goed doen.

w23.02 21 ¶6-7

Waardeer God se geskenk van lewe

6 Al is die Bybel nie ’n boek oor gesondheidsorg nie, of al sê dit nie vir ons wat om te eet nie, leer dit ons baie oor hoe Jehovah oor hierdie dinge voel. Byvoorbeeld, hy spoor ons aan om weg te bly van “skadelike dinge” wat ’n slegte uitwerking op ons liggaam kan hê (Pred. 11:10). Die Bybel sê dat ons nie te veel kos moet eet of te veel alkohol moet drink nie, want hierdie dinge kan sleg wees vir ons gesondheid en kan ons selfs doodmaak (Spr. 23:20). Jehovah verwag dat ons selfbeheersing moet hê wanneer ons besluit wat en hoeveel om te eet en te drink. – 1 Kor. 6:12; 9:25.

7 Ons kan besluite maak wat wys dat ons God se geskenk van lewe waardeer deur ons denkvermoë te gebruik. (Ps. 119:99, 100; lees Spreuke 2:11.) Byvoorbeeld, ons sal goeie keuses maak wanneer dit kom by wat ons eet. As ons van ’n sekere soort kos hou, maar ons weet dat dit ons siek maak, gaan ons dit natuurlik vermy. Ons is ook wys as ons probeer om genoeg slaap te kry, gereeld te oefen en ons liggaam en huis skoon te hou.

w24.09 2 ¶2-3

Doen wat die Woord sê

2 As Jehovah se aanbidders is ons ’n gelukkige volk. Hoekom? Ons het baie redes, maar een belangrike rede is dat ons God se Woord gereeld lees en ons bes probeer om toe te pas wat ons leer. – Lees Jakobus 1:22-25.

3 Daar is ’n hele paar maniere hoe ons baat vind wanneer ons ‘doen wat die woord sê’. Byvoorbeeld, wanneer ons toepas wat ons uit God se Woord leer, maak ons Jehovah gelukkig, en dit maak ons gelukkig (Pred. 12:13). En wanneer ons die raad in God se Woord volg, verbeter ons ons gesinslewe en bou ons sterk vriendskappe met ons broers en susters. Dit het heel moontlik in jou lewe gebeur. Wat meer is, ons vermy baie van die probleme wat mense het wanneer hulle nie gehoorsaam is aan Jehovah se bevele nie. Ja, ons stem saam met koning Dawid. Nadat hy gesing het oor Jehovah se wet, bevele en oordele het hy gesê: “Wanneer ’n mens dit gehoorsaam, is daar ’n groot beloning.” – Ps. 19:7-11.

Geestelike skatte

g 11/07 11 ¶2-3

Die Bybel se beskouing

Wie is die Outeur van die Bybel?

Goddelike inspirasie het nie die skrywer sy individualiteit ontneem nie. Trouens, dit het persoonlike inspanning geverg om God se boodskap neer te skryf. Die skrywer van die Bybelboek Prediker het byvoorbeeld gesê dat hy “gesoek [het] om die welgevallige woorde te vind en korrekte woorde van waarheid neer te skryf” (Prediker 12:10). Esra het ten minste 14 bronne geraadpleeg om sy geskiedkundige verslag saam te stel, soos “die kroniek van koning Dawid” en “die Boek van die konings van Juda en van Israel” (1 Kronieke 27:24; 2 Kronieke 16:11). Die Evangelieskrywer Lukas het “alles van die begin af noukeurig nagespeur . . . om dit in logiese volgorde . . . te skryf”.—Lukas 1:3.

Sommige Bybelboeke openbaar aspekte van die skrywer se persoonlikheid. Byvoorbeeld, Matteus Levi, wat ’n belastinggaarder was voordat hy een van Jesus se dissipels geword het, het veral aan syfers aandag geskenk. Hy is die enigste evangelieskrywer wat opgeteken het dat die prys om Jesus te verraai, “dertig silwerstukke” was (Matteus 27:3; Markus 2:14). Lukas, ’n dokter, het mediese besonderhede akkuraat opgeteken. Wanneer hy byvoorbeeld die toestand beskryf het van sommige van dié wat deur Jesus genees is, het hy uitdrukkings soos “hoë koors” en “vol melaatsheid” gebruik (Lukas 4:38; 5:12; Kolossense 4:14). Jehovah het skrywers dus dikwels toegelaat om hulle in hulle eie woorde en styl uit te druk; maar terselfdertyd het hy hulle gedagtes gerig sodat die teks akkuraat was en sy boodskap oorgedra het.—Spreuke 16:9.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel