Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w23 Januarie bl. 14-19
  • Jehovah help jou om suksesvol te wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah help jou om suksesvol te wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WANNEER DINGE SKIELIK VERANDER
  • AS DIE SITUASIE ERGER WORD
  • HOE JEHOVAH JOU SUKSESVOL MAAK
  • TEL JOU SEËNINGE
  • “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • ’n Slaaf wat gehoorsaam was aan God
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Josef in die tronk
    My boek met Bybelverhale
  • Dodelike hongersnood in ’n tyd van oorvloed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
w23 Januarie bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 3

Jehovah help jou om suksesvol te wees

‘Jehovah was met Josef en het alles wat hy gedoen het suksesvol gemaak.’ – GEN. 39:2, 3.

LIED 30 My Vader, my God en Vriend

IN HIERDIE ARTIKELa

1-2. (a) Hoekom is ons nie verbaas wanneer ons probleme het nie? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

AS JEHOVAH se volk is ons nie verbaas wanneer ons probleme ondervind nie. Die Bybel sê: “Ons moet baie verdrukking deurmaak om in die Koninkryk van God in te gaan” (Hand. 14:22). Ons weet ook dat party van ons probleme nie heeltemal opgelos gaan word totdat ons in God se nuwe wêreld lewe nie, waar “die dood . . . nie meer [sal] wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie.” – Op. 21:4.

2 Jehovah beskerm ons nie teen probleme nie. Maar hy help ons om dit te verduur. Kyk wat die apostel Paulus gesê het vir die Christene wat in Rome gebly het. Hy het eers ’n paar probleme genoem wat hy en sy broers ondervind het. Toe het hy geskryf: “Ons [het] heeltemal oorwin deur hom wat ons liefgehad het” (Rom. 8:35-37). Dit beteken dat Jehovah jou suksesvol kan maak selfs wanneer jy ’n probleem deurmaak. Kom ons kyk hoe Jehovah vir Josef gehelp het om suksesvol te wees en hoe Hy jou kan help.

WANNEER DINGE SKIELIK VERANDER

3. Hoe het Josef se lewe skielik verander?

3 Jakob het dit duidelik gemaak dat hy baie lief was vir sy seun Josef (Gen. 37:3, 4). Daarom het Jakob se ouer seuns jaloers geword op hulle broer. Toe hulle ’n geleentheid sien, het hulle Josef verkoop aan ’n groep Midianitiese handelaars. Daardie handelaars het Josef honderde kilometers weggeneem na Egipte waar hy weer verkoop was – hierdie keer aan Potifar, die hoof van Farao se wagte. Josef se lewe het skielik verander. Eers was hy sy pa se geliefde seun, en nou was hy ’n onbelangrike slaaf van ’n Egiptenaar! – Gen. 39:1.

4. Hoe sal ons dalk ’n soortgelyke probleem deurmaak as wat Josef deurgemaak het?

4 Die Bybel sê dat “slegte dinge met almal gebeur” (Pred. 9:11, Holy Bible—Easy-to-Read Version). Partykeer ondervind ons probleme “wat ander mense ook deurmaak” (1 Kor. 10:13). Of dalk kry ons swaar net omdat ons Jesus se dissipels is. Byvoorbeeld, ons word dalk gespot, teëgestaan of selfs vervolg as gevolg van ons geloof (2 Tim. 3:12). Watter probleem jy ook al deurmaak, Jehovah kan jou suksesvol maak. Hoe het hy dit vir Josef gedoen?

Potifar koop Josef as ’n slaaf.

Jehovah het vir Josef gehelp om suksesvol te wees selfs toe hy as ’n slaaf verkoop was aan Potifar in Egipte (Sien paragraaf 5)

5. Tot watter gevolgtrekking het Potifar gekom oor Josef se sukses? (Genesis 39:2-6)

5 Lees Genesis 39:2-6. Potifar het gesien dat Josef ’n baie intelligente jong man en ’n harde werker was. Hy het ook geweet hoekom. Potifar het gesien dat “Jehovah alles wat [Josef] doen, suksesvol maak”.b Later het die Egiptenaar Josef sy persoonlike dienaar gemaak. Hy het Josef ook oor sy hele huis aangestel. Wat was die gevolg? Alles het goed verloop vir Potifar.

6. Hoe het Josef dalk oor sy situasie gevoel?

6 Probeer om die situasie uit Josef se oogpunt te sien. Wat wou hy meer as enige iets hê? Wou hy deur Potifar gesien en beloon word? Josef wou seker eerder vrygelaat word sodat hy na sy pa toe kon teruggaan. Maar al het hy baie voorregte in Potifar se huis gehad, was Josef nog steeds ’n slaaf van ’n meester wat Jehovah nie aanbid het nie. Jehovah het nie veroorsaak dat Potifar Josef vrylaat nie. En Josef se situasie sou nou baie erger word.

AS DIE SITUASIE ERGER WORD

7. Hoe het Josef se situasie al hoe erger geword? (Genesis 39:14, 15)

7 Soos ons in Genesis hoofstuk 39 sien, was Potifar se vrou aangetrokke tot Josef en het sy hom oor en oor probeer verlei. Josef het elke keer vir haar nee gesê. Sy het uiteindelik so kwaad vir Josef geword dat sy gesê het dat hy haar probeer verkrag het. (Lees Genesis 39:14, 15.) Toe Potifar hiervan hoor, het hy Josef in die tronk gegooi, waar hy vir ’n paar jaar was (Gen. 39:19, 20). Hoe was dit in die tronk? Die Hebreeuse woord wat Josef vir “tronk” gebruik het, kan “reënput” of “gat” beteken, wat wys dat sy omgewing donker was en dat hy dalk hopeloos gevoel het (Gen. 40:15; vtn.). Die Bybel wys ook dat Josef se voete vir ’n ruk lank in boeie was en dat sy nek in ysters gesit was (Ps. 105:17, 18). Josef se situasie het al hoe erger geword. Eers was hy ’n betroubare slaaf en nou is hy ’n onbelangrike gevangene.

8. Waarvan kan ons seker wees as ’n moeilike situasie selfs erger word?

8 Was jy al ooit in ’n moeilike situasie wat al hoe erger geword het, al het jy baie hard gebid? Dit kan gebeur. Jehovah beskerm ons nie teen probleme in ’n wêreld wat deur Satan beheer word nie (1 Joh. 5:19). Maar jy kan hiervan seker wees: Jehovah is heeltemal bewus van wat jy deurmaak, en hy gee om vir jou (Matt. 10:29-31; 1 Pet. 5:6, 7). En hy het belowe: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie” (Heb. 13:5). Jehovah kan jou help om te volhard selfs wanneer jou situasie hopeloos lyk. Kom ons kyk hoe dit in Josef se geval waar was.

Josef gee ander gevangenes instruksies.

Jehovah was met Josef selfs toe hy in die tronk en oor al die gevangenes aangestel was (Sien paragraaf 9)

9. Wat wys dat Jehovah met Josef was toe hy in die tronk was? (Genesis 39:21-23)

9 Lees Genesis 39:21-23. Selfs gedurende hierdie moeilike tyd in die tronk het Jehovah Josef suksesvol gemaak. Hoe? Met verloop van tyd het die hoofbeampte, net soos Potifar, Josef begin vertrou en respekteer. Later het die hoofbeampte Josef oor die ander gevangenes aangestel. Die Bybel sê eintlik dat dit “nie vir die hoofbeampte van die tronk nodig [was] om na enigiets om te sien wat onder Josef se toesig was nie”. Josef het nou iets gehad om hom besig te hou – produktiewe werk. Dit was ’n onverwagte verandering. Hoe kon ’n gevangene wat daarvan beskuldig is dat hy die vrou van ’n hofbeampte probeer verkrag het, so ’n belangrike posisie kry? Daar is net een verduideliking. Genesis 39:23 sê: “Jehovah was met Josef, en Jehovah het alles wat hy gedoen het, suksesvol gemaak.”

10. Verduidelik hoekom Josef dalk gevoel het dat hy nie in alles suksesvol was nie.

10 Probeer weer om die situasie uit Josef se oogpunt te sien. Dink jy dat hy gevoel het dat hy in alles suksesvol was nadat hy valslik beskuldig en in die tronk gegooi is? Wat wou Josef meer as enige iets hê? Wou hy die goedkeuring van die hoofbeampte van die tronk kry? Heel moontlik wou Josef eerder vrygelaat word. Hy het selfs ’n ander gevangene wat vrygelaat sou word, gevra om namens hom met Farao te praat sodat hy uit daardie depressiewe tronk kon kom (Gen. 40:14). Maar die man het nie dadelik met Farao gaan praat nie. As gevolg daarvan het Josef vir nog twee jaar in daardie tronk gebly (Gen. 40:23; 41:1, 14). Maar Jehovah het aangehou om hom suksesvol te maak. Hoe?

11. Watter spesiale vermoë het Jehovah vir Josef gegee, en hoe het dit gehelp om Jehovah se doel te bereik?

11 Terwyl Josef in die tronk was, het Jehovah die koning van Egipte twee drome laat kry wat hom bekommerd gemaak het. Farao was desperaat om uit te vind wat dit beteken. Toe die koning uitvind dat Josef die vermoë het om te sê wat drome beteken, het hy hom laat roep. Met Jehovah se hulp het Josef gesê wat die drome beteken en Farao beïndruk met die praktiese raad wat hy hom gegee het. Farao het besef dat Jehovah vir Josef help, en daarom het Farao hom as die kosadministrateur aangestel van die hele Egipte (Gen. 41:38, 41-44). Later was daar ’n groot hongersnood in Egipte en in Kanaän, die land waar Josef se familie gebly het. Josef kon nou sy familie red, en so is die geslagslyn wat tot die Messias sou lei, beskerm.

12. Hoe het Jehovah Josef suksesvol gemaak?

12 Dink aan die ongewone gebeure in Josef se lewe. Wie het veroorsaak dat Potifar Josef, ’n eenvoudige slaaf, raaksien? Wie het veroorsaak dat Josef, ’n onbelangrike gevangene, die goedkeuring kry van die hoofbeampte van die tronk? Wie het vir Farao drome gegee en Josef die vermoë gegee om te sê wat dit beteken? Wie het Farao gemotiveer om Josef aan te stel as die kosadministrateur van Egipte? (Gen. 45:5). Dit was natuurlik Jehovah wat alles wat Josef gedoen het, suksesvol gemaak het. Al wou Josef se broers hom doodmaak, het Jehovah die situasie verander sodat Hy Sy wil kon uitvoer.

HOE JEHOVAH JOU SUKSESVOL MAAK

13. Beheer Jehovah alles wat met ons gebeur? Verduidelik.

13 Wat leer ons uit Josef se verslag? Beheer Jehovah alles wat met ons gebeur? Beheer hy elke gebeurtenis in ons lewe sodat alle slegte dinge vir ’n goeie rede gebeur? Nee, dis nie wat die Bybel sê nie (Pred. 8:9; 9:11). Maar ons weet dit: Wanneer ons ’n probleem deurmaak, is Jehovah daarvan bewus en luister hy wanneer ons vir hulp vra (Ps. 34:15; 55:22; Jes. 59:1). En Jehovah kan ons help om moeilike situasies suksesvol te verduur. Hoe?

14. Hoe help Jehovah ons gedurende moeilike tye?

14 Een manier hoe Jehovah ons help, is deur ons te vertroos en aan te moedig, dikwels net op die regte tyd (2 Kor. 1:3, 4). Dit het gebeur met Eziz, ’n broer in Turkmenistan wat vir twee jaar tronk toe gestuur is vir sy geloof. Hy sê: “Die oggend van my verhoor, het ’n broer Jesaja 30:15 vir my gelees, waar dit sê: ‘Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.’ Hierdie vers het my altyd gehelp om kalm te bly en om op Jehovah vir alles te vertrou. Om oor hierdie vers na te dink, het my die hele tyd gehelp terwyl ek in die tronk was.” Kan jy aan ’n tyd in jou lewe dink toe Jehovah jou gehelp het deur jou te vertroos en aan te moedig toe jy dit die nodigste gehad het?

15-16. Wat leer jy uit Tori se ondervinding?

15 Dikwels besef ons nie hoe Jehovah ons deur ’n moeilike tyd gehelp het totdat dit verby is nie. ’n Suster met die naam Tori het gesien dat dit waar is. Haar seun, Mason, het ses jaar lank kanker gehad en het toe gesterf. Tori se hart was natuurlik gebreek. Sy sê: “Ek dink nie dat daar vir my as ’n ma ’n moeiliker situasie as dit kon wees nie.” Sy sê verder: “Ek is seker dat ander ouers sou saamstem dat dit erger is om te sien hoe jou kind swaarkry as om dit self te ondervind.”

16 Al het dit Tori baie hartseer gemaak om te sien hoe baie haar seun swaarkry, het sy later gedink aan hoe Jehovah haar gehelp het om te volhard. Sy sê: “Wanneer ek aan daardie tyd dink, kan ek sien hoe Jehovah my gehelp het toe my seun siek was. Byvoorbeeld, selfs toe Mason te siek was om besoekers te sien, sou broers en susters twee uur lank ry om by die hospitaal uit te kom. Daar was altyd iemand in die wagkamer – gereed en gewillig om ons te ondersteun. Die broers en susters het ook in ons materiële behoeftes voorsien. Ons het altyd gehad wat ons nodig gehad het, selfs wanneer dinge baie moeilik was.” Jehovah het vir Tori gegee wat sy nodig gehad het om te volhard, en hy het dieselfde vir Mason gedoen. – Sien die venster “Jehovah het ons presies gegee wat ons nodig gehad het”.

“Jehovah het ons presies gegee wat ons nodig gehad het”

Mason was gediagnoseer met kanker toe hy sewe jaar oud was en vir die volgende ses jaar het hy moedig teen die siekte geveg. Mason moes ’n hele paar keer in die hospitaal bly terwyl hy siek was. Maar dié wat in sy gemeente was, het ’n patroon gesien. Elke keer wanneer Mason uit die hospitaal ontslaan was, het hy amper onmiddellik aan die bediening begin deelneem. Mason het daarvan gehou om velddiens te doen vir solank as wat sy liggaam hom toegelaat het.

Toe Mason gesterf het, het meer as 700 mense sy begrafnis bygewoon, insluitende baie van sy skoolmaats en onderwysers. Een onderwyser wat hom besoek het net voordat hy gesterf het, het gesê dat sy wou hê dat haar kinders dieselfde soort geloof moes hê as wat Mason gehad het. Sy het ook gesê dat Jehovah se Getuies haar nog nie gekontak het in die vyf jaar dat sy in die gebied bly nie. Die volgende dag het twee Getuies na haar huis toe gekom. Die onderwyser het gesê dat sy ’n vergadering sou bywoon.

Tori, Mason se ma, sê: “Jehovah het nie Mason deur ’n wonderwerk gesond gemaak nie, en partykeer het daardie gedagte dit vir my moeilik gemaak om te sien hoe Jehovah ons help. Maar hy het. Jehovah het ons presies gegee wat ons nodig gehad het wanneer ons dit nodig gehad het.”

TEL JOU SEËNINGE

17-18. Wat sal ons help om Jehovah se ondersteuning gedurende moeilike tye te sien en te waardeer? (Psalm 40:5)

17 Lees Psalm 40:5. ’n Persoon wat ’n berg klim se doelwit is om op die top van die berg te kom. Maar soos hy loop, is daar baie plekke waar hy kan stop en die pragtige omgewing kan geniet. Net so moet jy gereeld tyd maak om te stop en te dink oor hoe Jehovah jou suksesvol maak selfs wanneer jy ’n moeilike tyd deurmaak. Vra jou aan die einde van elke dag af: ‘Hoe het ek gesien dat Jehovah my vandag seën? Hoe help Jehovah my om te volhard selfs al is die probleem nog nie opgelos nie?’ Kyk of jy ten minste een ding kan identifiseer wat Jehovah gedoen het om jou te help.

18 Ja, jy bid dalk vir jou probleem om opgelos te word. Dit is verstaanbaar en gepas (Fil. 4:6). Maar ons moet ook bewus wees van die seëninge wat ons nou geniet. Onthou, Jehovah belowe om ons te versterk en om ons te help om te volhard. So wees altyd dankbaar dat Jehovah jou ondersteun. Dan sal jy sien hoe Jehovah jou selfs gedurende moeilike tye help om suksesvol te wees, net soos hy vir Josef gehelp het. – Gen. 41:51, 52.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe het Jehovah vir Josef gehelp om suksesvol te wees terwyl hy Potifar se persoonlike dienaar was?

  • Hoe het Jehovah vir Josef suksesvol gemaak terwyl hy in die tronk was?

  • Hoe kan Jehovah jou help om suksesvol te wees?

LIED 32 Kies kant vir Jehovah!

a Wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan, sal ons dalk nie dink dat ons “suksesvol” is nie. Ons dink dalk dat ons net daardie woord kan gebruik wanneer ons moeilike tyd verby is. Maar die dinge wat met Josef gebeur het, leer ons ’n baie belangrike les – Jehovah kan ons help om suksesvol te wees selfs wanneer ons probleme het. Hierdie artikel sal verduidelik hoe Jehovah dit doen.

b Die Bybel beskryf hierdie veranderinge aan die begin van Josef se slawerny in net ’n paar verse, maar dit het dalk oor ’n hele paar jaar gebeur.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel