Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w24 Junie bl. 14-18
  • Jehovah het aandag geskenk aan my gebede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het aandag geskenk aan my gebede
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N LEWENSVERANDERENDE BESOEK
  • LEWE GEDURENDE DIE OORLOG
  • GEESTELIKE GROEI
  • VOLTYDSE DIENS
  • DIE VERDEDIGING VAN ONS WETLIKE REGTE
  • KUBA MAAK OOP
  • ONS HELP ONS BROERS IN RWANDA
  • VASBESLOTE OM GETROU TE BLY
  • “U liefderyke goedhartigheid is beter as die lewe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Ek het dit geniet om oor Jehovah te leer en om ander van hom te leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
w24 Junie bl. 14-18
Marcel Gillet in sy kantoor by die takkantoor in België.

LEWENSVERHAAL

Jehovah het aandag geskenk aan my gebede

SOOS VERTEL DEUR MARCEL GILLET

AS ’N tienjarige seuntjie het ek na die skitterende sterre in die naghemel gekyk. Dit het my beweeg om op my knieë te gaan en te bid. Ek het so pas van Jehovah geleer, maar ek het hom van my diepste bekommernisse vertel. Daardie gebed het my lewenslange reis begin met Jehovah God, die “Hoorder van gebed” (Ps. 65:2). Kom ek vertel hoekom ek tot ’n God gebid het wat ek net onlangs leer ken het.

’N LEWENSVERANDERENDE BESOEK

Ek is op 22 Desember 1929 gebore in Noville, ’n klein dorpie met nege plase naby Bastogne, in die Belgiese Ardenne. Ek het goeie herinneringe van my kinderjare op die plaas saam met my ouers. Ek en my jonger broer, Raymond, het elke dag ons koeie met die hand gemelk en gehelp met die oes. In ons dorpie het almal saamgewerk om mekaar te help.

Ek en my gesin werk saam op ons plaas

My ouers, Emile en Alice, was toegewyde Katolieke. Hulle het elke Sondag die mis bygewoon. Maar in omtrent 1939 het pioniers van Engeland na ons dorpie gekom en vir my pa ’n intekening aangebied op die Vertroosting-tydskrif (nou die Ontwaak!). My pa het vinnig besef dat die dinge in die tydskrifte waar is, en dit het hom gemotiveer om die Bybel te begin lees. Toe hy opgehou het om die mis by te woon, het ons bure, wat vriendelik was, hom erg begin teëstaan. Hulle het druk op my pa geplaas om ’n Katoliek te bly, en dit het tot baie intense gesprekke gelei.

Dit het my baie hartseer gemaak om my pa onder hierdie geweldige druk te sien. Dit is hoekom ek God se hulp gevra het in die opregte gebed wat aan die begin van hierdie artikel genoem is. Toe die teenstand van ons bure geleidelik verminder het, was ek baie gelukkig. Ek het daarvan oortuig geword dat Jehovah die “Hoorder van gebed” is.

LEWE GEDURENDE DIE OORLOG

Nazi-Duitsland het op 10 Mei 1940 België binnegeval, en as gevolg daarvan het ’n groot aantal mense die land verlaat. Ons familie het na die suidelike deel van Frankryk gevlug. Soos ons gereis het, was ons partykeer op gevaarlike plekke waar die Duitse en Franse leërmagte teen mekaar geveg het.

Toe ons na ons plaas teruggegaan het, het ons gesien dat die meeste van ons besittings gesteel is. Net ons hond, Bobbie, was daar om ons te verwelkom. Sulke ondervindinge het my laat wonder: ‘Hoekom is daar oorlog en so baie pyn en lyding?’

Marcel as ’n tiener.

In my tienerjare het ek ’n sterker verhouding met Jehovah ontwikkel

Om en by daardie tyd het ons grootliks baat gevind by die besoeke van broer Emile Schrantz,a ’n getroue ouerman wat ’n pionier was. Hy het mooi uit die Bybel verduidelik hoekom daar so baie pyn en lyding is en my ander vrae oor die lewe beantwoord. Ek het ’n sterker verhouding met Jehovah ontwikkel en daarvan oortuig geword dat hy ’n God van liefde is.

Selfs voordat die oorlog geëindig het, het ons familie meer gereeld kontak met die broers geniet. In Augustus 1943 het broer José-Nicolas Minet ons plaas besoek om ’n toespraak te gee. Hy het gevra: “Wie wil gedoop word?” My pa het sy hand opgesteek, en ek het ook. Ons is in ’n klein rivier naby ons plaas gedoop.

In Desember 1944 het die Duitse leërmag sy finale groot aanval op sy wesfront begin – wat bekend staan as die Ardenne-offensief. Ons het naby die plek gebly waar die geveg was, en ons moes vir omtrent ’n maand in die kelder van ons huis bly. Eendag toe ek uitgaan om die diere kos te gee, het bomme die plaas getref en die dak van die skuur vernietig. ’n Amerikaanse soldaat in die stal naby my het uitgeroep: “Lê op die grond!” Ek het gehardloop en naby hom gaan lê, en hy het sy helmet op my kop gesit om my te beskerm.

GEESTELIKE GROEI

Op ons troudag

Ná die oorlog kon ons gereeld kommunikeer met die broers en susters in ’n gemeente in Liège, omtrent 90 kilometer noord van ons. Met verloop van tyd kon ons ’n klein studiegroep in Bastogne vorm. Ek het begin werk in die belastingbedryf en het die geleentheid gehad om regte te studeer. Later het ek in ’n plaaslike regeringskantoor gewerk. In 1951 het ons ’n klein kringbyeenkoms in Bastogne georganiseer. Omtrent ’n honderd mense het dit bygewoon, insluitende ’n baie ywerige pionier suster, Elly Reuter. Sy het 50 kilometer met haar fiets gereis om dit by te woon. Kort daarna was ons verlief en het ons verloof geraak. Elly het ’n uitnodiging ontvang om die Gileadskool in die Verenigde State by te woon. Sy het aan die wêreldhoofkwartier geskryf om te verduidelik hoekom sy gevoel het dat sy nie die uitnodiging kan aanvaar nie. Broer Knorr, wat toe die leiding onder Jehovah se volk geneem het, het liefdevol geantwoord en gesê dat sy dalk eendag Gilead saam met haar man sal bywoon. Ons is in Februarie 1953 getroud.

Elly en ons seun, Serge

Daardie selfde jaar het ek en Elly die Nuwewêreldgemeenskap-byeenkoms bygewoon wat by die Yankee-stadion, New York, gehou is. Terwyl ons daar was, het ek ’n broer ontmoet wat my ’n goeie werk aangebied het en my genooi het om na die Verenigde State te immigreer. Nadat ons tot Jehovah hieroor gebid het, het ek en Elly besluit om nie die aanbod te aanvaar nie en na België terug te keer om die klein groep van omtrent tien verkondigers in Bastogne te ondersteun. Die volgende jaar is ons geseën met ’n seuntjie, Serge. Ongelukkig het Serge sewe maande later siek geword en gesterf. Ons het ons droefheid in gebed met Jehovah gedeel, en ons is versterk deur die vaste hoop van die opstanding.

VOLTYDSE DIENS

In Oktober 1961 kon ek ’n deeltydse werk vind wat dit vir my moontlik sou maak om te pionier. Maar daardie selfde dag het ek ’n foonoproep van die takkneg in België gekry. Hy het my gevra of ek beskikbaar is om as ’n kringkneg (nou ’n kringopsiener) te begin dien. “Kan ons nie eers as pioniers dien voordat ons hierdie toewysing aanvaar nie?” het ek gevra. Die broers het gesê dat ons dit kon doen. Nadat ons vir agt maande as pioniers gedien het, het ons in September 1962 met die kringwerk begin.

Nadat ons vir twee jaar in die kringwerk was, is ons genooi om by die Bethel in Brussel te dien. Ons het in Oktober 1964 daar begin dien. Hierdie nuwe toewysing het vir ons baie seëninge gebring. Kort nadat broer Knorr ons Bethel in 1965 besoek het, was ek verbaas om as ’n takkneg aangestel te word. Later is ek en Elly genooi om die 41ste klas van die Gileadskool by te woon. Dit wat broer Knorr 13 jaar vroeër gesê het, het waar geword! Nadat ons gegradueer het, het ons teruggekeer na die Bethel in België.

DIE VERDEDIGING VAN ONS WETLIKE REGTE

Oor die jare het ek die voorreg gehad om my regsagtergrond te gebruik om te help om ons vryheid van aanbidding in Europa en ander plekke te verdedig (Fil. 1:7). As gevolg hiervan het ek in kontak gekom met amptenare van meer as 55 lande waar ons werk beperk of verbied was. Eerder as om my regsondervinding te beklemtoon, het ek myself as “’n man van God” voorgestel. Ek het altyd Jehovah vir sy leiding gevra omdat ek weet dat “’n koning [of regter] se hart . . . soos waterstrome [is] in Jehovah se hand. Hy lei dit waarheen Hy wil.” – Spr. 21:1.

Een ondervinding wat veral ’n indruk op my gemaak het, was toe ek met ’n lid van die Europese Parlement gepraat het. Ek het ’n hele paar keer gevra om met hom te praat, en hy het uiteindelik ingestem om my te ontmoet. Hy het gesê: “Ek sal jou vyf minute gee en nie ’n minuut langer nie.” Ek het my kop gebuig en begin bid. Die man was senuweeagtig en het my gevra wat ek doen. Ek het my kop opgelig en gesê: “Ek het vir God dankie gesê omdat jy een van sy dienaars is.” Hy het gevra: “Wat bedoel jy?” Ek het Romeine 13:4 vir hom gewys. Hy was ’n Protestant, so hierdie Bybelvers het sy belangstelling geprikkel. Wat was die gevolg? Hy het my ’n halfuur gegee, en ons het ’n baie produktiewe vergadering gehad. Hy het selfs gesê dat hy ons werk respekteer.

Oor die jare was Jehovah se volk betrokke by baie hofsake in Europa in verband met Christelike neutraliteit, kindertoesig, belasting en meer. Ek het die voorreg gehad om deel te wees van baie van hulle en om eerstehands te sien hoe Jehovah ons sukses en oorwinning gegee het. Jehovah se Getuies het meer as 140 hofsake in die Europese Hof van Menseregte gewen!

KUBA MAAK OOP

Gedurende die 1990’s het ek saam met broer Philip Brumley, van die wêreldhoofkwartier, en broer Valter Farneti, van Italië, gewerk om ons broers en susters in Kuba te help om Jehovah vryeliker te aanbid omdat ons werk daar beperk was. Ek het aan die Kubaanse ambassade in België geskryf en toe ’n beampte ontmoet wat aangestel was om ons versoek te hanteer. Gedurende ons eerste vergaderinge kon ons nie die misverstande oplos wat veroorsaak het dat die regering ons werk daar beperk het nie.

Met Philip Brumley en Valter Farneti gedurende een van ons besoeke aan Kuba in die 1990’s

Nadat ons Jehovah vir leiding gevra het, het ons gevra om 5 000 Bybels na Kuba te stuur, en ons het toestemming daarvoor gekry. Die Bybels het veilig daar aangekom en is onder die broers versprei, en dit het ons daarvan oortuig dat Jehovah ons pogings seën. Ons het toe vir toestemming gevra om nog 27 500 Bybels te stuur. Dit was ook goedgekeur. Om ons dierbare broers en susters in Kuba te help om ’n persoonlike kopie van die Bybel te hê, het my baie gelukkig gemaak.

Ek het Kuba op baie geleenthede besoek om te help om die wetlike situasie van ons werk te verbeter. In die proses kon ek goeie verhoudings met baie regeringsamptenare ontwikkel.

ONS HELP ONS BROERS IN RWANDA

In 1994 is meer as 1 000 000 mense vermoor gedurende ’n volksmoord teen die Tutsiʼs in Rwanda. Ongelukkig is party van ons broers en susters ook doodgemaak. Kort daarna is ’n groep broers gevra om noodvoorraad en bystand aan die broers en susters daar te voorsien.

Toe ons groep in Kigali, die hoofstad, aangekom het, het ons gesien dat die mure van die vertaalkantoor en lektuurdepot vol koeëlgate is. Ons het baie tragiese stories gehoor van broers en susters wat met kapmesse vermoor is. Maar ons het ook van voorbeelde gehoor van Christelike liefde in aksie. Byvoorbeeld, ons het ’n Tutsi-broer ontmoet wat vir 28 dae in ’n gat onder die grond weggekruip het, en hy was beskerm deur ’n gesin van Hutu-Getuies. Gedurende ’n vergadering in Kigali het ons hard gewerk om meer as 900 broers en susters aan te moedig en te vertroos.

Collage: 1. ’n Beskadigde hardebandboek. 2. Marcel met twee ander broers tussen noodlenigingsvoorraad.

Links: ’n Boek wat deur ’n koeël getref is by ons vertaalkantoor

Regs: Ek help met werk in verband met noodvoorraad

Ons het toe die grens oorgesteek na Zaïre (nou Demokratiese Republiek van die Kongo) om te soek na ’n groot aantal Rwandese Getuies wat gevlug het na vlugtelingkampe naby die stad Goma. Ons kon hulle nie vind nie, en daarom het ons gebid en Jehovah gevra om ons na hulle te lei. Ons het toe iemand gesien wat na ons toe stap, en ons het hom gevra of hy enige Jehovah se Getuies ken. “Ja, ek is ’n Getuie,” het hy gesê. “Ek sal julle met graagte na die noodlenigingskomitee toe vat.” Ná ’n aanmoedigende vergadering met die noodlenigingskomitee het ons met omtrent 1 600 vlugtelinge ontmoet om hulle te vertroos en aan te moedig. Ons het ook vir hulle ’n brief van die Bestuursliggaam gelees. Die broers en susters was diep geraak om die versekering te hoor: “Ons bid die heeltyd vir julle. Ons weet dat Jehovah julle nie sal verlaat nie.” Hierdie woorde van die Bestuursliggaam was beslis waar. Vandag floreer meer as 30 000 Getuies in Rwanda!

VASBESLOTE OM GETROU TE BLY

Nadat ons vir amper 58 jaar getroud was, het ek my dierbare Elly in 2011 verloor. Jehovah het my vertroos terwyl ek my droefheid met hom in gebed gedeel het. Dit het my ook vertroos om die goeie nuus van die Koninkryk met my bure te deel.

Al is ek in my 90’s, neem ek nog steeds elke week deel aan die Christelike bediening. Ek geniet dit ook om die Regsafdeling hier by die takkantoor in België te help, om my ondervinding met ander te deel en om te help om die jonges in die Bethelgesin aan te moedig.

Omtrent 84 jaar gelede het ek vir die eerste keer tot Jehovah gebid. Dit was die begin van ’n wonderlike reis wat my al hoe nader aan hom laat kom het. Ek is so dankbaar dat Jehovah regdeur my lewe aandag geskenk het aan my gebede.b – Ps. 66:19.

a Broer Schrantz se lewensverhaal is in Die Wagtoring van 15 September 1973, bl. 570-574 (beskikbaar in Engels).

b Terwyl hierdie artikel voorberei is, het broer Marcel Gillet op 4 Februarie 2023 gesterf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel