“U liefderyke goedhartigheid is beter as die lewe”
Soos vertel deur Calvin H. Holmes
Dit was Desember 1930, en ek het die koeie net klaar gemelk toe my pa tuiskom nadat hy ’n buurman naby ons besoek het. “Dit is ’n boek wat Wyman my geleen het”, het hy gesê terwyl hy ’n blou publikasie uit sy sak gehaal het. Dit het die titel Verlossing gehad en is deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee. My pa, wat selde iets gelees het, het hierdie boek tot diep in die nag gelees.
LATER het my pa ander boeke geleen, met titels soos Lig en Reconciliation, deur dieselfde uitgewer. Hy het my ma se ou Bybel in die hande gekry en snags laat opgebly om by die lig van ’n paraffienlamp te lees. My pa het ’n groot verandering ondergaan. Daardie winter het hy ure lank met ons gesels—met my, my ma en my drie susters—terwyl ons styf teen mekaar om ons ou koolstoof gesit het.
My pa het gesê dat die mense wat hierdie boeke publiseer Bybelstudente genoem word en dat ons, volgens hulle, in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Hy het verduidelik dat die aarde nie met die einde van die wêreld vernietig sal word nie, maar dat dit onder God se Koninkryk in ’n paradys verander sal word (2 Petrus 3:5-7, 13; Openbaring 21:3, 4). Dit het vir my werklik interessant geklink.
My pa het met my gepraat terwyl ons saam gewerk het. Ek onthou dat ons mielies skoongemaak het toe hy verduidelik het dat God se naam Jehovah is (Psalm 83:18, NW). Gedurende die lente van 1931, toe ek net 14 was, het ek dus my standpunt vir Jehovah en sy Koninkryk ingeneem. Ek het in die ou appelboord agter die huis tot Jehovah gebid en plegtig belowe dat ek hom vir ewig sal dien. Die liefderyke goedhartigheid van ons wonderlike God het my hart reeds geraak.—Psalm 63:4, NW.
Ons het op ’n plaas gewoon wat ongeveer 30 kilometer van St. Joseph, Missouri, VSA, en minder as 65 kilometer van Kansas City af was. My pa is in ’n houthuis gebore wat my oupagrootjie in die vroeë deel van die 19de eeu op die plaas gebou het.
Opleiding vir die bediening
In die somer van 1931 het ons gesin oor die radio geluister na die openbare toespraak “Die Koninkryk, die hoop van die wêreld”, wat Joseph Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, by ’n streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, gehou het. Dit het my hart geraak, en ek het dit geniet om die boekie wat hierdie belangrike openbare toespraak bevat het saam met my pa onder kennisse te versprei.
In die lente van 1932 het ek vir die eerste keer ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon. Ons buurman het my en my pa genooi om in St. Joseph na ’n toespraak deur George Draper, ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies, te kom luister. Toe ons daar aankom, was die vergadering al halfpad verby, en ek het ’n sitplek gevind agter die bonkige, breë rug van J. D. Dreyer, wat ’n belangrike rol in my lewe sou speel.
In September 1933 het ek saam met my pa ’n byeenkoms in Kansas City bygewoon, waar ek vir die eerste keer aan die openbare predikingswerk deelgeneem het. My pa het my drie boekies gegee en my geleer om te sê: “Ek is een van Jehovah se Getuies wat die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. Jy het regter Rutherford ongetwyfeld al oor die radio gehoor. Sy toesprake word elke week deur meer as 300 stasies uitgesaai.” Daarna het ek ’n boekie aangebied. Terwyl ek daardie aand terug op die plaas die koeie gemelk het, het ek gedink dat dit die onvergeetlikste dag in my lewe was.
Kort daarna het die winter begin, en ons kon nie veel reis nie. Maar toe het broer Dreyer en sy vrou ons besoek en gevra of ek die Saterdagaand na hulle huis wil kom en die aand daar wil oorbly. Die tien kilometer wat ek na die Dreyers se huis moes stap, was beslis die moeite werd, want ek kon die volgende dag saam met hulle in die bediening uitgaan en die Wagtoring-studie in St. Joseph bywoon. Sedertdien het dit selde gebeur dat ek nie op Sondae aan die bediening deelgeneem het nie. Broer Dreyer se opleiding en raad was van onskatbare waarde.
Op 2 September 1935 kon ek uiteindelik by ’n byeenkoms in Kansas City my toewyding aan Jehovah deur waterdoop simboliseer.
Die begin van ’n lewenslange loopbaan
Vroeg in 1936 het ek aansoek gedoen om as ’n pionier, oftewel voltydse bedienaar, te dien, en ek is op die lys geplaas van diegene wat ’n pioniermaat soek. Kort daarna het ek ’n brief ontvang van Edward Stead van Arvada, Wyoming. Hy het verduidelik dat hy aan ’n rolstoel gekluister is en hulp nodig het om die pionierdiens te betree. Ek het sy aanbod onmiddellik aanvaar en is op 18 April 1936 as ’n pionier aangestel.
Voordat ek vertrek het om by broer Stead aan te sluit, het my ma alleen met my gepraat. “My seun, is jy seker dít is wat jy wil doen?” het sy gevra.
“Die lewe sal andersins nie die moeite werd wees nie”, het ek geantwoord. Ek het tot die besef gekom dat Jehovah se liefderyke goedhartigheid belangriker as enigiets anders is.
Om saam met Ted, soos ons broer Stead genoem het, pionierdiens te doen, was uitstekende opleiding. Hy was vol ywer en het die Koninkryksboodskap op ’n baie mooi manier aangebied. Maar Ted kon feitlik net skryf en praat; al sy gewrigte het weens gewrigsrumatiek verstyf. Ek het vroeg opgestaan en hom gewas en geskeer, ontbyt voorberei en hom gevoer. Daarna het ek hom aangetrek en hom gereedgekry vir die bediening. Daardie somer het ons in Wyoming en Montana pionierdiens gedoen en snags gekampeer. Ted het in die spesiale kajuit geslaap wat op sy bakkie aangebring is, en ek het op die grond geslaap. Later daardie jaar het ek na die suide vertrek om in Tennessee, Arkansas en Mississippi pionierdiens te doen.
In September 1937 het ek my eerste groot streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, bygewoon. Daar is reëlings getref om die grammofoon in die predikingswerk te begin gebruik. Elke keer as ons die grammofoon gebruik het, het ons dit ’n opstelling genoem. Een maand het ek meer as 500 opstellings gedoen, en meer as 800 mense het geluister. Nadat ek in baie dorpe in die ooste van Tennessee, Virginië en Wes-Virginië getuig het, is ek uitgenooi om in ’n nuwe hoedanigheid as ’n spesiale pionier te dien, naamlik in samewerking met die sonekneg, soos reisende opsieners destyds genoem is.
Ek het gemeentes en afgesonderde groepe in Wes-Virginië besoek—deur twee tot vier weke by elkeen deur te bring—en die leiding in die veldbediening geneem. Toe, in Januarie 1941, is ek as ’n sonekneg aangestel. Teen dié tyd het my ma en my drie susters—Clara, Lois en Ruth—hulle standpunt vir die Koninkryk ingeneem. Daardie somer het ons hele gesin dus die groot streekbyeenkoms in St. Louis saam bygewoon.
Kort ná die byeenkoms is soneknegte in kennis gestel dat sonewerk aan die einde van November 1941 sou eindig. Die volgende maand het die Verenigde State tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree. Ek is as ’n spesiale pionier aangestel, wat behels het dat ek 175 uur per maand aan die bediening bestee.
Spesiale diensvoorregte
In Julie 1942 het ek ’n brief ontvang waarin ek gevra is of ek gewillig sou wees om in die buiteland te dien. Nadat ek bevestigend geantwoord het, is ek na Bethel genooi, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, in Brooklyn, New York. Sowat 20 ongetroude broers is op dieselfde tyd vir spesiale opleiding ingeroep.
Nathan H. Knorr, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was, het verduidelik dat die predikingswerk afgeneem het en dat ons opgelei sou word om die gemeentes geestelik te versterk. “Ons wil nie net weet wat fout is in die gemeente nie”, het hy gesê, “maar wat jy daaromtrent gedoen het.”
Terwyl ons by Bethel was, het Fred Franz, wat broer Knorr in 1977 as president opgevolg het, ’n toespraak gehou waarin hy gesê het: “Die Tweede Wêreldoorlog sal eindig, en ’n groot predikingswerk sal begin. Miljoene mense sal ongetwyfeld nog in Jehovah se organisasie versamel word!” Daardie toespraak het my sienswyse heeltemal verander. Toe ons ons toewysings ontvang, het ek gesien dat ek al die gemeentes in die state Tennessee en Kentucky moet besoek. Ons is knegte vir die broers genoem, ’n term wat sedertdien na kringopsiener verander is.
Ek het gemeentes op 1 Oktober 1942 begin dien, toe ek nog maar net 25 was. Destyds kon sommige gemeentes net te voet of te perd bereik word. Soms het ek in dieselfde kamer geslaap as die gesin wat my verblyf gegee het.
Toe ek in Julie 1943 die Greeneville-gemeente in Tennessee gedien het, het ek ’n uitnodiging ontvang om die tweede klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. In Gilead het ek geleer wat dit werklik beteken om “meer as die gewone aandag [te] skenk aan die dinge wat ons gehoor het” en om “altyd volop [te hê] om in die werk van die Here te doen” (Hebreërs 2:1; 1 Korintiërs 15:58). Die vyf maande van die skoolkursus het verbygevlieg, en die gradueringsdag was op 31 Januarie 1944.
Kanada en toe na België
’n Paar van ons is na Kanada gestuur, waar ’n verbod op die bedrywighede van Jehovah se Getuies kort tevore opgehef is. Ek is in die reisende werk aangestel, wat beteken het dat ek groot afstande tussen party gemeentes moes aflê. Terwyl ek gereis het, het dit my vreugde verskaf om die ondervindinge te hoor van hoe ons predikingswerk tydens die verbod in Kanada gedoen is (Handelinge 5:29). Baie het vertel van die so genoemde blitsveldtog, toe daar gedurende net een aand ’n boekie by feitlik elke huis dwarsdeur Kanada gelaat is. Watter goeie nuus was dit tog om in Mei 1945 te hoor dat die oorlog in Europa verby was!
Terwyl ek daardie somer ’n gemeente in die dorpie Osage, Saskatchewan, gedien het, het ek ’n brief van broer Knorr ontvang, wat gesê het: “Ek bied jou die voorreg om na België te gaan. . . . Daar is baie werk wat in daardie land gedoen moet word. Dit is ’n oorloggeteisterde land, en ons broers het hulp nodig, en dit sal beter wees om iemand van Amerika te stuur om hulle die nodige bystand en bemoediging te gee.” Ek het dadelik geantwoord en die toewysing aanvaar.
In November 1945 was ek in die Brooklynse Bethel besig om Frans te leer onder die toesig van Charles Eicher, ’n bejaarde Elsassiese broer. Ek het ook in ’n kort tydjie opleiding in takkantoorprosedures ontvang. Voordat ek na Europa vertrek het, het ek kortliks ’n besoek afgelê by my familie en vriende in St. Joseph, Missouri.
Op 11 Desember het ek uit New York vertrek op die Queen Elizabeth, en vier dae later het ek in Southampton, Engeland, aangekom. Ek het ’n maand by die tak in Brittanje gebly, waar ek verdere opleiding ontvang het. Daarna het ek op 15 Januarie 1946 die Engelse Kanaal oorgesteek en by Oostende, België, aan wal gegaan. Van daar af het ek per trein gereis na Brussel, waar die hele Bethelgesin my op die stasie kom ontmoet het.
Naoorlogse bedrywigheid word uitgebrei
My toewysing was om oor die Koninkrykswerk in België toesig te hou, maar ek kon nie eers die taal praat nie. Binne ongeveer ses maande het ek genoeg Frans geleer om oor die weg te kom. Dit was ’n voorreg om sy aan sy te werk met diegene wat tydens vyf jaar van Nazi-besetting hulle lewe gewaag het om die predikingswerk te doen. Sommige is kort tevore uit die konsentrasiekampe vrygelaat.
Die broers was gretig om die werk georganiseer te kry en om dié te voed wat na Bybelwaarheid honger. Reëlings is dus getref om byeenkomste te hou en vir reisende opsieners om gemeentes te besoek. Ons het ook aanmoedigende besoeke ontvang van Nathan Knorr, Milton Henschel, Fred Franz, Grant Suiter en John Booth—almal verteenwoordigers van die Brooklyn-hoofkwartier. In daardie vroeë dae het ek as kringopsiener, streekopsiener en takopsiener gedien. Op 6 Desember 1952, ná byna sewe jaar van diens in België, het ek met Emilia Vanopslaugh getrou, wat ook by die tak in België gewerk het.
’n Paar maande later, op 11 April 1953, is ek na die plaaslike polisiekantoor ontbied en ingelig dat my teenwoordigheid die veiligheid van België bedreig. Ek het na Luxemburg gegaan om te wag terwyl my saak by die Raad van State geappelleer is.
In Februarie 1954 het die Belgiese Raad van State die besluit gehandhaaf dat my teenwoordigheid ’n gevaar vir die land is. Die bewyse wat gelewer is, was dat die getal Getuies in België sedert my aankoms in die land dramaties toegeneem het—van 804 in 1946 tot 3304 in 1953—en dat die veiligheid van België as gevolg hiervan bedreig word omdat talle jong Getuies besluit het om Christelik neutraal te bly. Ek en Emilia het dus ’n toewysing in Switserland gekry, waar ons in die kringwerk in die Franssprekende deel begin dien het.
Die Koninkryksbedieningskool—’n skool wat gevorderde opleiding vir Christen- ouer manne voorsien—is in 1959 in South Lansing, New York, begin. Ek is daarheen genooi om opleiding te ontvang om klasse van hierdie skool in Europa te onderrig. Terwyl ek in die Verenigde State was, het ek my familie in St. Joseph, Missouri, besoek. Daar het ek my geliefde moeder vir die laaste keer gesien. Sy het in Januarie 1962 gesterf; my pa is in Junie 1955 oorlede.
Die Koninkryksbedieningskool in Parys, Frankryk, het in Maart 1961 begin, en Emilia het saam met my gegaan. Streekopsieners, kringopsieners, gemeentelike opsieners en spesiale pioniers het van Frankryk, België en Switserland vir die skool gekom. Gedurende die volgende 14 maande het ek hierdie vier-week-kursus vir 12 klasse gehou. Later, in April 1962, het ons uitgevind dat Emilia swanger is.
Ons pas ons by omstandighede aan
Ons het na Genève, Switserland, teruggekeer, waar ons permanente verblyfspermitte gehad het. Maar dit was nie maklik om ’n blyplek te vind nie, want daar was ’n ernstige behuisingstekort. Dit was ook nie maklik om werk te kry nie. Uiteindelik het ek in ’n groot afdelingswinkel in die middestad van Genève werk gekry.
Ek was 26 jaar lank in die voltydse diens, en daarom het ons veranderde omstandighede ’n groot aanpassing geverg. Gedurende die 22 jaar wat ek in die afdelingswinkel gewerk het en ons twee dogters, Lois en Eunice, help grootmaak het, het ons gesin Koninkryksbelange altyd eerste gestel (Matteus 6:33). Nadat ek in 1985 afgetree het, het ek as ’n waarnemende kringopsiener begin dien.
Emilia se gesondheid is nie te goed nie, maar sy doen wat sy kan in die bediening. Lois het sowat tien jaar as ’n pionier gedien. Wat ’n geestelike hoogtepunt was dit tog om gedurende die somer van 1993 daardie wonderlike internasionale byeenkoms in Moskou saam met haar by te woon! Kort daarna het Lois, toe sy met vakansie was in Senegal, Afrika, haar lewe verloor terwyl sy in die see geswem het. Die liefde en goedhartigheid van ons swart broers en die sendelinge was ’n groot bemoediging vir my toe ek na Senegal gereis het om die begrafnis te reël. Ek sien werklik daarna uit om Lois in die opstanding te sien!—Johannes 5:28, 29.
Ek is dankbaar dat ek nou al veel langer as vier dekades die lojale ondersteuning van ’n liefdevolle metgesel geniet. Ondanks al my hartseer en probleme was Jehovah se liefderyke goedhartigheid inderdaad aangenaam en het dit die lewe die moeite werd gemaak. My hart word beweeg om soos die psalmis aangaande ons God, Jehovah, te sê: “Want u liefderyke goedhartigheid is beter as die lewe, my lippe sal u prys.”—Psalm 63:3, NW.
[Prent op bladsy 26]
Ons het die predikings- werk met die grammofoon begin doen
[Prent op bladsy 26]
My ouers in 1936
[Prent op bladsy 26]
Straatgetuieniswerk in 1948 in België