STUDIEARTIKEL 25
LIED 96 God se boek— ’n Ware skat
Lesse wat ons kan leer uit ’n sterfbedprofesie – Deel 2
“Hy het hulle elkeen ’n gepaste seën gegee.” – GEN. 49:28.
FOKUS
Praktiese lesse uit Jakob se sterfbedprofesie in verband met agt van sy seuns.
1. Watter deel van Jakob se sterfbedprofesie sal ons in hierdie artikel bespreek?
JAKOB se seuns staan rondom hom en luister mooi terwyl hulle bejaarde pa hulle elkeen seën. Soos ons in die vorige artikel bespreek het, het Jakob se woorde aan Ruben, Simeon, Levi en Juda sy seuns geïnteresseer – en dalk selfs verbaas. So hulle wonder seker wat Jakob vir sy agt oorblywende seuns sal sê. Kom ons kyk watter lesse ons kan leer uit sy woorde aan Sebulon, Issaskar, Dan, Gad, Aser, Naftali, Josef en Benjamin.a
SEBULON
2. Beskryf Sebulon se seën en hoe dit vervul is. (Genesis 49:13) (Sien ook venster.)
2 Lees Genesis 49:13. Jakob sê dat Sebulon se nakomelinge by die strand sal woon, in die noorde van die Beloofde Land. Meer as 200 jaar later het die Sebuloniete ’n erfdeel ontvang wat geleë was tussen die See van Galilea en die Middellandse See. Moses het geprofeteer: “Wees bly, o Sebulon, wanneer jy uitgaan” (Deut. 33:18). Dit was dalk ’n verwysing na die feit dat Sebulon maklik toegang sou hê tot kommersiële handel omdat dit tussen die twee seë geleë was. Wat ook al die geval is, die nakomelinge van Sebulon het rede gehad om bly te wees.
3. Wat kan ons help om tevrede te wees?
3 Wat kan ons leer? Ons het rede om gelukkig te wees, maak nie saak waar ons bly of wat ons omstandighede dalk is nie. Om gelukkig te bly, moet ons tevrede wees met wat ons het (Ps. 16:6; 24:5). Soms kan dit makliker wees om te fokus op wat ons nie het nie eerder as op die goeie dinge wat ons wel geniet. So probeer om die positiewe in jou omstandighede te sien. – Gal. 6:4.
ISSASKAR
4. Beskryf Issaskar se seën en hoe dit vervul is. (Genesis 49:14, 15) (Sien ook venster.)
4 Lees Genesis 49:14, 15. Jakob prys Issaskar omdat hy ’n harde werker is deur hom te vergelyk met ’n sterkgeboude donkie – ’n dier wat swaar vragte kan dra. Jakob sê ook dat Issaskar ’n lieflike land sou hê. In ooreenstemming met Jakob se woorde het die nakomelinge van Issaskar ’n produktiewe en vrugbare deel van die land by die Jordaanrivier ontvang (Jos. 19:22). Hulle het ongetwyfeld hard gewerk om hulle grond te bewerk, maar hulle het ook hard gewerk om ander te help (1 Kon. 4:7, 17). Byvoorbeeld, die stam van Issaskar was gereed om hulle deel te doen om in die nasie se gevegte te veg, soos wat die geval was gedurende die tyd van rigter Barak en die profetes Debora. – Rigt. 5:15.
5. Hoekom moet ons harde werkers probeer wees?
5 Wat kan ons leer? Jehovah waardeer ons harde werk in sy diens net soos hy die harde werk van die stam van Issaskar waardeer het (Pred. 2:24). Dink byvoorbeeld aan die broers wat hard werk om vir die gemeente te sorg (1 Tim. 3:1). Hierdie broers hoef nie in letterlike gevegte te veg nie, maar hulle moet hulleself inspan om God se volk teen geestelike gevare te beskerm (1 Kor. 5:1, 5; Jud. 17-23). Hulle werk ook hard om aanmoedigende toesprake wat die gemeente sal versterk, voor te berei en te gee. – 1 Tim. 5:17.
DAN
6. Watter toewysing het die stam van Dan ontvang? (Genesis 49:17, 18) (Sien ook venster.)
6 Lees Genesis 49:17, 18. Jakob vergelyk Dan met ’n slang wat baie groter diere, soos ’n perd wat in gevegte gebruik word, aanval. Dan sou ’n gevaar wees vir Israel se vyande. Gedurende hulle reis na die Beloofde Land het die stam van Dan die nasie beskerm deur ‘die agterhoede te vorm’ (Num. 10:25). Dit was ’n belangrike toewysing, al kon die res van die nasie nie alles sien wat die stam van Dan agter hulle gedoen het nie.
7. Wat is waar van enige teokratiese toewysing wat ons uitvoer?
7 Wat kan ons leer? Het jy al ooit ’n toewysing uitgevoer en dan gevoel dat ander nie raaksien wat jy doen nie? Dalk het jy gehelp om die Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou, aangebied om by ’n byeenkoms te werk of ’n ander toewysing uitgevoer. Indien wel, moet jy geprys word! Jy moet altyd onthou dat Jehovah alles wat jy vir hom doen, raaksien en waardeer. Hy waardeer dit veral wanneer jy hom dien, nie omdat jy deur ander geprys wil word nie, maar omdat jy jou opregte liefde vir hom wil wys. – Matt. 6:1-4.
GAD
8. Hoekom was dit maklik vir vyande van Israel om die stam van Gad aan te val? (Genesis 49:19) (Sien ook venster.)
8 Lees Genesis 49:19. Jakob het voorspel dat ’n rowerbende Gad sou aanval. Meer as twee eeue later het die stam van Gad in ’n deel van die land oos van die Jordaanrivier gaan bly wat gegrens het aan vyandelike nasies. So vyande uit daardie nasies kon hulle maklik aanval. Maar die Gadiete wou daar bly omdat daar genoeg weiding vir hulle vee was (Num. 32:1, 5). Dit is duidelik dat die Gadiete moedig was. Wat meer is, hulle het vertrou dat Jehovah hulle sou help om hulle godgegewe land teen enige rowerbende te beskerm. Hulle het selfs hulle leërmagte jare lank weggestuur om die ander stamme te help om die res van die Beloofde Land wes van die Jordaan te verower (Num. 32:16-19). Hulle het vertrou dat Jehovah hulle vrouens en kinders sou beskerm terwyl die mans weg is. Jehovah het hulle vir hulle moed en selfopoffering geseën. – Jos. 22:1-4.
9. Hoe sal vertroue in Jehovah ons keuses in die lewe raak?
9 Wat kan ons leer? Om Jehovah te bly dien in moeilike omstandighede, moet ons op hom bly vertrou (Ps. 37:3). Baie wys vandag hulle vertroue in Jehovah deur opofferings te maak om teokratiese bouprojekte te ondersteun, om te dien waar daar meer verkondigers nodig is of om na ander toewysings om te sien. Hulle doen dit omdat hulle vol vertroue is dat Jehovah altyd vir hulle sal sorg. – Ps. 23:1.
ASER
10. Wat het Aser nie gedoen nie? (Genesis 49:20) (Sien ook venster.)
10 Lees Genesis 49:20. Jakob het voorspel dat die stam van Aser voorspoedig sou word, en dit is presies wat gebeur het. Die stam van Aser het ’n deel van die land ontvang wat baie vrugbaar was (Deut. 33:24). Dit het ook gegrens aan die Middellandse See en die ryk Fenisiese handelshawe van Sidon ingesluit. Maar Aser het nie die Kanaäniete uit die gebied verdryf nie (Rigt. 1:31, 32). Die slegte invloed van die Kanaäniete sowel as Aser se voorspoed het dalk daartoe gelei dat die stam minder ywer vir ware aanbidding gehad het. Aser het nie gereageer toe rigter Barak vrywilligers gesoek het om teen Kanaänitiese leërmagte te veg nie. As gevolg daarvan het die stam nie ’n aandeel gehad in die wonderdadige oorwinning “by die waters van Megiddo” nie (Rigt. 5:19-21). Dit het Aser seker skaam laat voel toe hulle Barak en Debora se geïnspireerde oorwinningslied hoor, wat die volgende woorde ingesluit het: “Aser het op die strand gesit en niks doen nie.” – Rigt. 5:17.
11. Hoekom moet ons ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge behou?
11 Wat kan ons leer? Ons wil Jehovah ons bes gee. Om dit te doen, moet ons die wêreld se beskouing van materiële gemak en besittings verwerp (Spr. 18:11). Ons probeer ’n gebalanseerde beskouing van geld behou (Pred. 7:12; Heb. 13:5). Ons laat nie toe dat die najaging van onnodige materiële dinge ons terughou in ons diens aan God nie. Ons wil Jehovah eerder nou die meeste van ons tyd en energie gee omdat ons weet dat ’n werklik gemaklike en veilige lewe in die toekoms op ons wag. – Ps. 4:8.
NAFTALI
12. Hoe het Jakob se woorde aan Naftali dalk waar geword? (Genesis 49:21) (Sien ook venster.)
12 Lees Genesis 49:21. Die ‘aangename woorde’ waarvan Jakob gepraat het, verwys heel moontlik na die manier hoe Jesus gedurende sy bediening gepraat het. Jesus, wat bekend was vir sy doeltreffende onderrigting, het Kapernaum in die gebied van Naftali “sy eie stad” gemaak (Matt. 4:13; 9:1; Joh. 7:46). Jesaja het in verband met Jesus geprofeteer dat die mense van Sebulon en Naftali “’n groot lig” sou sien (Jes. 9:1, 2). Jesus was “die ware lig wat vir elke soort mens lig gee” deur middel van sy onderrigting. – Joh. 1:9.
13. Hoe kan ons seker maak dat ons spraak Jehovah se goedkeuring het?
13 Wat kan ons leer? Wat ons sê en hoe ons dit sê, maak vir Jehovah saak. Hoe kan ons ‘aangename woorde’ gebruik wat Jehovah se goedkeuring het? Ons kan die waarheid praat (Ps. 15:1, 2). Ons kan ander opbou deur wat ons sê deur gou te wees om te prys maar stadig te wees om te kritiseer of te kla (Ef. 4:29). En ons kan dit ’n doelwit maak om vaardiger daarin te word om gesprekke te begin wat tot ’n getuienis kan lei.
JOSEF
14. Hoe het die profesie oor Josef waar geword? (Genesis 49:22, 26) (Sien ook venster.)
14 Lees Genesis 49:22, 26. Jakob was seker baie trots op Josef – hy was “onder sy broers uitgesonder”. Jakob het hom “die jong takkie van ’n vrugdraende boom” genoem. Jakob was die boom, en Josef was soos ’n jong takkie van daardie boom. Josef was Jakob se geliefde vrou, Ragel, se eerste seun. Jakob het gesê dat Josef die dubbele deel sou ontvang wat Ruben – Jakob se eerste seun by sy vrou Lea – nie ontvang het nie (Gen. 48:5, 6; 1 Kron. 5:1, 2). In die vervulling van daardie profesie het die nakomelinge van Josef se seuns, Efraim en Manasse, elkeen ’n deel van die land as twee aparte stamme ontvang. – Gen. 49:25; Jos. 14:4.
15. Hoe het Josef op onregte gereageer?
15 Jakob het ook gepraat van boogskutters wat op Josef “geskiet [het] en . . . heeltyd vyandig teenoor hom” was (Gen. 49:23). Dit het verwys na sy jaloerse broers, wat verantwoordelik was vir baie van die onregte wat hy ondervind het. Maar Josef het nie bitter geword teenoor sy broers of teenoor Jehovah nie. Soos Jakob dit gestel het, het Josef se “boog in plek gebly, en sy hande het sterk en vinnig gebly” (Gen. 49:24). Josef het gedurende sy moeilike tye op Jehovah vertrou, en hy het nie net sy broers vergewe nie, maar hulle ook liefdevol behandel (Gen. 47:11, 12). Josef het toegelaat dat die moeilike tye wat hy ondervind het, hom ’n beter persoon maak (Ps. 105:17-19). As gevolg daarvan kon Jehovah hom gebruik om baie wonderlike dinge te doen.
16. Hoe kan ons Josef se voorbeeld navolg wanneer ons moeilike tye ondervind?
16 Wat kan ons leer? Ons wil nooit toelaat dat moeilike tye veroorsaak dat ons ons liefde vir Jehovah en vir ons broers en susters verloor nie. Onthou dat Jehovah dalk sal toelaat dat ons geloof getoets word as deel van ons opleiding (Heb. 12:7, vtn.). Hierdie opleiding kan ons help om sy eienskappe beter na te volg, soos genade en vergifnis (Heb. 12:11). Jehovah sal ons vir ons volharding beloon, net soos hy Josef beloon het.
BENJAMIN
17. Hoe het die profesie oor Benjamin waar geword? (Genesis 49:27) (Sien ook venster.)
17 Lees Genesis 49:27. Jakob het voorspel dat die Benjaminiete goed sou kon veg soos ’n wolf (Rigt. 20:15, 16; 1 Kron. 12:2). Dit was “in die oggend” van die koninkryk van Israel dat Israel se eerste koning, Saul, uit die stam van Benjamin gekom het. Hy was ’n dapper vegter teen die Filistyne (1 Sam. 9:15-17, 21). “In die aand” van daardie koninklike geskiedenis het koningin Ester en eerste minister Mordegai, albei Benjaminiete, gekeer dat die Israeliete onder die Persiese Ryk doodgemaak word. – Est. 2:5-7; 8:3; 10:3.
18. Hoe kan ons die Benjaminiete se lojaliteit aan Jehovah se reëlings navolg?
18 Wat kan ons leer? Die Benjaminiete was beslis baie trots om te sien dat iemand uit hulle eie stam koning word soos die profesie voorspel het. Maar toe Jehovah die koningskap aan Dawid van die stam van Juda oordra, het die Benjaminiete uiteindelik daardie verandering ondersteun (2 Sam. 3:17-19). Jare later, toe die ander stamme gerebelleer het, het die Benjaminiete lojaal aan Juda en Jehovah se aangestelde koning gebly (1 Kon. 11:31, 32; 12:19, 21). Mag ons ook lojaal wees aan dié wat Jehovah vandag kies om sy volk te lei. – 1 Tess. 5:12.
19. Hoe kan ons baat vind by Jakob se sterfbedprofesie?
19 Ons kan baat vind by Jakob se sterfbedprofesie. Wanneer ons dink aan hoe dit vervul is, versterk dit ons geloof in die betroubaarheid van Jehovah se profetiese Woord. En wanneer ons sien hoe Jakob se seuns geseën is, help dit ons om beter te verstaan hoe ons Jehovah se goedkeuring kan verkry.
LIED 128 Volhard tot die einde toe
a Nadat Jakob Ruben, Simeon, Levi en Juda van die oudste tot die jongste geseën het, volg hy nie die orde waarin hulle gebore is wanneer hy sy oorblywende seuns seën nie.