Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 November bl. 22-27
  • Jy is baie kosbaar vir Jehovah!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy is baie kosbaar vir Jehovah!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE JESUS MENSE GEHELP HET OM TE BESEF DAT HULLE WAARDEVOL IS
  • HOE OM ONSSELF TE SIEN SOOS JEHOVAH ONS SIEN
  • Jehovah “genees dié wie se hart gebreek is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Jehovah is baie lief vir jou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Wat ons uit Jesus se laaste 40 dae op die aarde leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 November bl. 22-27

STUDIEARTIKEL 47

LIED 38 Hy maak jou sterk

Jy is baie kosbaar vir Jehovah!

“Jy is ’n baie kosbare man.” – DAN. 9:​23, vtn.

FOKUS

Om dié wat gevoelens van minderwaardigheid het, te help verstaan wat hulle ware waarde in Jehovah se oë is.

1-2. Wat kan ons help om seker te wees dat ons kosbaar is in Jehovah se oë?

ONDER Jehovah se kosbare knegte is daar party wat min van hulleself dink. Dalk het iemand hulle behandel asof hulle min waarde het. Het jy dit al ondervind? Indien wel, wat kan jou help om seker te wees dat jy kosbaar is in Jehovah se oë?

2 Dit sal jou dalk help om Bybelverslae te lees wat wys hoe Jehovah wil hê mense beskou en behandel moet word. Sy Seun, Jesus, het mense met liefde en respek behandel. Deur dit te doen, het hy gewys dat nederiges wat voel dat hulle min waarde het, baie kosbaar is vir hom en sy Vader (Joh. 5:19; Heb. 1:3). In hierdie artikel sal ons bespreek: (1) hoe Jesus mense gehelp het om te besef dat hulle waardevol is en (2) hoe ons onsself kan oortuig dat ons regtig kosbaar is in God se oë. – Hag. 2:7.

HOE JESUS MENSE GEHELP HET OM TE BESEF DAT HULLE WAARDEVOL IS

3. Hoe het Jesus die Galileërs behandel wat na hom toe gekom het vir hulp?

3 Gedurende Jesus se derde predikingsreis in Galilea het baie mense uit die een gebied ná die ander na hom toe gekom om na hom te luister en om genees te word. Jesus het gesê dat hulle “verwaarloos en sleg behandel [was], soos skape sonder ’n herder”. (Matt. 9:36; sien studienotas in nwtsty.) Hulle godsdiensleiers het op hulle neergekyk en selfs gesê dat hulle “vervloekte mense” is (Joh. 7:​47-49; studienota in nwtsty). Maar Jesus het hulle met liefde en respek behandel deur die tyd te neem om hulle te leer en om hulle siektes te genees (Matt. 9:35). En om meer mense te help, het hy sy apostels opgelei om die predikingswerk te doen en hulle die gesag gegee om siektes te genees. – Matt. 10:​5-8.

4. Wat leer ons uit die manier hoe Jesus sy nederige luisteraars behandel het?

4 Deur sy luisteraars met liefde en respek te behandel, het Jesus gewys dat hy en sy Vader dié as kosbaar beskou waarop ander dikwels neergekyk het. As jy Jehovah dien, maar oor jou waarde twyfel, dink aan hoe Jesus nederige mense behandel het wat by hom wou leer. As jy dit doen, kan dit jou help om te sien hoe kosbaar jy is in Jehovah se oë.

5. Beskryf die omstandighede van ’n Galilese vrou wat Jesus ontmoet het.

5 Jesus het nie net skares mense geleer nie, maar hy het ook aandag geskenk aan individue. Byvoorbeeld, gedurende sy Galilese bediening het Jesus ’n vrou ontmoet wat 12 jaar lank aan abnormale bloedvloeiing gely het (Mark. 5:25). Omdat haar mediese toestand haar seremonieel onrein gemaak het, sou enige iemand wat aan haar raak, onrein word. Dit het sekerlik haar kontak met mense grootliks beperk. En sy kon nie saam met ander deelneem aan die gebruike en vieringe van openbare aanbidding nie (Lev. 15:​19, 25). Hierdie vrou het ongetwyfeld fisies sowel as emosioneel gely. – Mark. 5:26.

6. Hoe is die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, genees?

6 Hierdie vrou wat so baie gely het, wou hê dat Jesus haar moes genees. Maar sy het nie direk na hom toe gegaan nie. Hoekom nie? Dalk het sy skaam gevoel as gevolg van haar toestand. Of sy was dalk bang dat Jesus haar sou verwerp omdat sy tussen ’n skare gekom het terwyl sy seremonieel onrein was. Daarom het sy net aan sy bo-kleed geraak omdat sy oortuig was dat dit haar sou genees (Mark. 5:​27, 28). Haar geloof is beloon – sy is genees. Toe het Jesus gevra wie aan hom geraak het, en sy het vir hom gesê wat sy gedoen het. Hoe het Jesus haar behandel?

7. Hoe het Jesus hierdie ontstelde vrou behandel? (Markus 5:34)

7 Jesus het die vrou met liefde en respek behandel. Hy het opgelet dat sy ‘bang was en gebewe het’ (Mark. 5:33). Hy het haar gevoelens in gedagte gehou, en daarom het hy op ’n vertroostende manier met haar gepraat. Hy het haar selfs “dogter” genoem – ’n aanspreekvorm wat nie net beleefd was nie maar ook liefdevol en respekvol. (Lees Markus 5:34.) Die studienota vir hierdie woord sê dat dit “die enigste opgetekende geval [is] waarin Jesus ’n vrou direk as ‘dogter’ aangespreek het, dalk as gevolg van haar delikate situasie en omdat sy ‘gebewe’ het.” Dink net hoe verlig sy moes gevoel het! As Jesus nie op ’n vertroostende manier met haar gepraat het nie, was sy dalk fisies genees maar emosioneel belas met skuldgevoelens. Jesus het haar eerder gehelp om haarself te sien vir wie sy werklik is – ’n kosbare dogter van ’n liefdevolle hemelse Vader.

8. Watter uitdagings het ’n suster uit Brasilië gehad?

8 Vandag het party van God se knegte ook gesondheidsprobleme wat hulle emosioneel raak. Maria,a ’n gewone pionier uit Brasilië, is met fisiese gebreke gebore, wat beteken dat sy nie bene en ’n linkerhand het nie. Sy verduidelik: “Ek was heeltyd by die skool geboelie as gevolg van my gebrek. My skoolmaats het vir my lelike byname gegee. En soms het my eie familie my selfs sleg behandel.”

9. Wat het Maria gehelp om te sien dat sy kosbaar is vir Jehovah?

9 Wat het Maria gehelp? Toe sy een van Jehovah se Getuies geword het, het mede-Christene haar vertroos en haar gehelp om haarself te sien soos Jehovah haar sien. Sy sê: “Daar is nie genoeg bladsye in my notaboek om almal wat my gehelp het, se name neer te skryf nie! Ek dank Jehovah met my hele hart omdat hy vir my ’n wonderlike geestelike familie gegee het.” Maria se geestelike broers en susters het haar gehelp om te sien dat sy kosbaar is in God se oë.

10. Watter verskriklike probleme het Maria Magdalena gehad? (Sien ook prente.)

10 Kyk hoe Jesus nog iemand gehelp het – Maria Magdalena. Daar was sewe demone in haar! (Luk. 8:2). Sy het heel moontlik vreemd opgetree omdat sy onder demoniese invloed was, en as gevolg daarvan het mense haar vermy. Gedurende daardie baie moeilike tydperk van haar lewe het sy seker verwerp, onseker en hulpeloos gevoel. Jesus het waarskynlik die demone wat in haar was, uitgedryf, en sy het sy toegewyde dissipel geword. Op watter ander manier het Jesus Maria Magdalena gehelp om te verstaan hoe kosbaar sy vir God is?

Collage: 1. Jesus sien die angstige Maria Magdalena terwyl sy op die grond kniel in ’n donker agterstraatjie. 2. Maria Magdalena gaan vreugdevol saam met Jesus en sy ander dissipels.

Hoe het Jesus Maria Magdalena daarvan verseker dat sy waardevol is vir Jehovah? (Sien paragraaf 10-11)


11. Hoe het Jesus vir Maria Magdalena gewys dat sy kosbaar is vir God? (Sien ook prente.)

11 Jesus het Maria Magdalena genooi om saam met hom te kom op sy predikingsreise.b As gevolg daarvan kon sy aanhou baat vind wanneer sy gehoor het hoe hy ander onderrig. Jesus het ook aan haar verskyn op die einste dag dat hy opgewek is. Sy was een van die eerste dissipels met wie hy op daardie dag gepraat het. Jesus het haar selfs gestuur om vir sy apostels te gaan sê dat hy opgewek is. Dit was wonderlike bewyse dat sy regtig kosbaar was vir Jehovah! – Joh. 20:​11-18.

12. Verduidelik hoekom Lidia se agtergrond haar laat voel het dat sy waardeloos is.

12 Soos dalk die geval was met Maria Magdalena, voel baie vandag dat hulle waardeloos is. Lidia, ’n suster uit Spanje, sê dat haar ma voor haar geboorte daaraan gedink het om ’n aborsie te kry. Lidia onthou hoe haar ma haar selfs as ’n kleuter verwaarloos het en baie wrede dinge vir haar gesê het. Sy sê: “My doel in die lewe was dat ander my moet aanvaar en moet liefhê. Ek was bang dat ek nooit daardie liefde sou verdien nie omdat my ma my oortuig het dat ek ’n slegte mens is.”

13. Wat het Lidia gehelp om te sien dat sy kosbaar is vir Jehovah?

13 Nadat Lidia die waarheid geleer het, het persoonlike gebed en studie sowel as die liefdevolle woorde en dade van mede-Christene haar gehelp om te verstaan dat sy kosbaar is in Jehovah se oë. Sy sê: “My man sê dikwels vir my hoe lief hy vir my is. Hy herinner my oor en oor aan my goeie eienskappe. Ander liefdevolle vriende het al dieselfde gedoen.” Kan jy aan iemand dink wat hulp nodig het om te verstaan hoe kosbaar hy of sy in Jehovah se oë is?

HOE OM ONSSELF TE SIEN SOOS JEHOVAH ONS SIEN

14. Hoe help 1 Samuel 16:7 ons om onsself te sien soos Jehovah ons sien? (Sien ook die venster “Hoekom is Jehovah se volk vir hom waardevol?”)

14 Onthou dat Jehovah jou nie sien soos die wêreld jou sien nie. (Lees 1 Samuel 16:7.) Hy bepaal nie jou waarde gebaseer op hoe jy lyk, jou sosiale status of jou sekulêre opvoeding nie (Jes. 55:​8, 9). So in plaas daarvan om jou waarde te meet volgens die wêreld se standaarde, moet jy jou waarde evalueer gebaseer op Jehovah se standaarde. Jy kan Bybelverslae lees wat wys dat mense wat soms waardeloos gevoel het, soos Elia, Naomi en Hanna, kosbaar was vir Jehovah. Jy kan ook ondervindinge neerskryf wat jy gehad het wat bevestig dat Jehovah jou regtig liefhet en waardeer. En jy kan inligting hersien oor die onderwerp van eiewaarde wat in ons publikasies gevind kan word.c

Hoekom is Jehovah se volk vir hom waardevol?

Jehovah het mense baie anders as die diere geskep. Hy het ons ontwerp om ’n betekenisvolle verhouding met hom te ontwikkel en sy vriende te word (Gen. 1:27; Ps. 8:5; 25:14; Jes. 41:8). Daardie feit alleen gee ons ’n grondslag om ’n gesonde mate van eiewaarde te hê. Maar ons het ’n selfs groter grondslag as ons kies om nader aan Jehovah te kom, ons aan hom toe te wy en hom te gehoorsaam. Dan word ons werklik kosbaar vir ons God en Skepper. – Jes. 49:15.

15. Hoekom het Jehovah Daniël beskou as “’n baie kosbare man”? (Daniël 9:23 en voetnoot)

15 Besef dat jou getrouheid jou waardevol maak in Jehovah se oë. Op een stadium, moontlik toe hy in sy laat 90’s was, het die profeet Daniël “heeltemal uitgeput” en mismoedig gevoel (Dan. 9:​20, 21). Hoe het Jehovah hom aangemoedig? God het die engel Gabriël gestuur om Daniël te herinner dat hy “’n baie kosbare man” is en dat sy gebede verhoor is. (Lees Daniël 9:23 en voetnoot.) Wat het Daniël so kosbaar gemaak vir God? Dit was sy liefde vir regverdigheid en sy getrouheid (Eseg. 14:14). Jehovah het daardie verslag in sy Woord bewaar om ons te vertroos (Rom. 15:4). Jehovah luister ook na jou gebede, en jy is kosbaar vir hom as gevolg van jou liefde vir wat reg is en jou getroue diens aan hom. – Miga 6:​8, voetnote; Heb. 6:10.

16. Wat kan jou help om Jehovah as ’n liefdevolle Vader te sien?

16 Sien Jehovah as ’n Vader wat jou liefhet. Hy wil jou help, nie met jou foutvind nie (Ps. 130:3; Matt. 7:11; Luk. 12:​6, 7). Om daaroor na te dink, het baie gehelp wat sukkel met gevoelens van minderwaardigheid. Byvoorbeeld, kyk na Michelle, ’n suster uit Spanje wat verwerp en waardeloos gevoel het nadat haar man jare lank wrede dinge vir haar gesê het. Sy sê: “Wanneer ek ook al waardeloos voel, probeer ek my indink hoe Jehovah my in sy arms dra en hoe hy my liefhet en beskerm” (Ps. 28:9). Lauren, ’n suster uit Suid-Afrika, herinner haarself: “As Jehovah my liefdevol na hom toe getrek het met die koorde van liefde, my al hierdie jare na aan hom gehou het en my selfs gebruik het om ander te leer, dan dink hy beslis dat ek kosbaar en waardevol is.” – Hos. 11:4.

17. Wat kan jou help om oortuig te wees dat jy Jehovah se goedkeuring het? (Psalm 5:12) (Sien ook prent.)

17 Wees oortuig daarvan dat jy Jehovah se goedkeuring het. (Lees Psalm 5:12.) Dawid het Jehovah se goedkeuring vergelyk met “’n groot skild” wat regverdige mense beskerm. Om te weet dat jy Jehovah se goedkeuring en ondersteuning het, kan jou beskerm deur te keer dat twyfelgedagtes oor jouself jou begin oorweldig. Hoe kan jy weet dat jy Jehovah se goedkeuring het? Soos ons gesien het, gee Jehovah jou daardie versekering deur middel van sy Woord. En hy gebruik ouermanne, goeie vriende en ander om jou daaraan te herinner dat jy kosbaar is in sy oë. Hoe moet jy op sulke aanmoediging reageer?

’n Suster glimlag terwyl sy ’n Koninkryksaal verlaat om velddiens te doen saam met ’n ander suster wat haar arm om haar het.

Om te weet dat ons Jehovah se goedkeuring het, kan ons help om gevoelens van minderwaardigheid te vermy (Sien paragraaf 17)


18. Hoekom moet jy dit aanvaar wanneer ander jou prys?

18 Aanvaar dit wanneer dié wat jou ken en jou liefhet, jou prys. Hou in gedagte dat Jehovah hulle dalk gebruik om jou te help besef dat jy sy goedkeuring het. Michelle, wat vroeër genoem is, sê: “Ek leer bietjie vir bietjie om die liefdevolle woorde van ander in my hart te aanvaar. Dit is nie maklik nie, maar ek weet dat dit iets is wat Jehovah wil hê ek moet doen.” Michelle het baat gevind by die liefdevolle hulp van die ouermanne. Sy dien nou as ’n pionier en as ’n afstandsvrywilliger vir Bethel.

19. Hoekom kan jy daarvan seker wees dat jy kosbaar is in God se oë?

19 Jesus herinner ons liefdevol daaraan dat ons baie vir ons hemelse Vader saak maak (Luk. 12:24). So ons kan daarvan seker wees dat ons kosbaar is in Jehovah se oë. Ons moet dit nooit vergeet nie! En laat ons ons bes doen om ander te help om te sien hoe kosbaar hulle in God se oë is!

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe het Jesus mense help besef dat hulle kosbaar is in God se oë?

  • Hoe het Jesus die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, gehelp?

  • Wat kan ons help om onsself te sien soos Jehovah ons sien?

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

a Party name is verander.

b Maria Magdalena was glo onder die vrouens wat saam met Jesus gereis het. Hierdie vrouens het uit hulle eie besittings in Jesus en die apostels se behoeftes voorsien. – Matt. 27:​55, 56; Luk. 8:​1-3.

c Byvoorbeeld, sien hoofstuk 24 van die boek Kom nader aan Jehovah en lees die voorgestelde tekste en Bybelverslae onder die onderwerp “Twyfelgedagtes” in die boek Bybeltekste vir ons Christelike lewenswyse.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel