DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK
Ek sal een van Jehovah se Getuies bly
Ana María (Mary) Glass
GEBORE 1935
GEDOOP 1956
PROFIEL ’n Ywerige jong Katoliek wat Bybelwaarheid geleer het en teenstand van haar familie, die Kerk en die Staat moedig verduur het.
EK WAS baie godsdienstig en was aktief betrokke by die Katolieke Kerk. Ek het in die kerkkoor gesing en het saam met die priesters na ontspanningsoorde op die platteland gegaan, waar hulle die mis opgedra het. Toe, in 1955, het my suster met my oor die komende Paradys gepraat. Sy het vir my ’n Bybel, die boekie “Hierdie goeie nuus van die koninkryk” en die boek “Laat God waaragtig wees” gegee. Dit het my belangstelling gewek, en daarom het ek die priester gevra of ek die Bybel kan lees. Hy het gesê dat ek sou “mal raak”, maar ek het besluit om dit nogtans te lees.
Nadat ek by my grootouers in Boca Chica gaan woon het, het ’n priester my gevra waarom ek nie kerk toe gaan nie. Ek het verduidelik dat ek ontdek het dat baie kerkleerstellings nie in die Bybel gevind word nie. Die priester was woedend. “Luister, jong dame”, het hy geskreeu, “jy is ’n skaap wat van my kudde weggedwaal het.”
“Nee”, het ek geantwoord, “jý het van Jehovah se kudde weggedwaal, want die skape behoort aan Jehovah en nie aan enige mens nie.”
Ek het nooit weer teruggegaan kerk toe nie. Ek het by my suster ingetrek, en net ses maande nadat ek van die waarheid gehoor het, is ek gedoop. Ek het dadelik gewone pionierdiens begin doen. ’n Jaar later het ek met Enrique Glass getrou, wat as ’n kringopsiener gedien het. Terwyl ons eenkeer in ’n park in La Romana gepreek het, het die polisie Enrique in hegtenis geneem. Terwyl hulle hom weggeneem het, het ek agter hulle aan gehardloop en gesê: “Ek is ook een van Jehovah se Getuies, en ek het ook gepreek. Waarom neem julle my nie ook nie?” Maar hulle wou my nie in hegtenis neem nie.
Enrique het toe reeds altesaam sewe en ’n half jaar in die tronk deurgebring. Hierdie keer is hy tot 20 maande tronkstraf gevonnis. Ek het Enrique elke Sondag besoek. Tydens een van my besoeke het ’n tronkbeampte my gevra: “Waarom is jy hier?”
Ek het verduidelik: “My man is opgesluit omdat hy een van Jehovah se Getuies is.”
“Jy is jonk en het ’n blink toekoms”, het hy geantwoord. “Waarom mors jy jou tyd met Jehovah se Getuies?”
“Ek is ook een van Jehovah se Getuies”, het ek gesê. “Al maak jy my sewe keer dood en wek jy my sewe keer op, sal ek een van Jehovah se Getuies bly.” Hy het genoeg gehoor en my beveel om weg te gaan.
Nadat die verbod opgehef is, het ek en Enrique ’n hele paar jaar in die kring- en streekwerk gedien. Enrique is op 8 Maart 2008 oorlede. Ek dien nog steeds as ’n gewone pionier.