IBOLYA BARTHA | LEWENSVERHAAL
Ek het my man “sonder ’n woord” gewen
Daar is so baie mooi dinge wat my na Jehovah toe getrek het. Die liefde en goedhartigheid van sy Getuies het my hart geraak, en ek was beïndruk deur die manier waarop hulle die waarheid aan ander uit die Bybel geleer het. Ek was baie opgewonde om te leer dat God regtig vir mense omgee en dat hy ’n wonderlike toekoms vir hulle in gedagte het. Maar my man het nie dieselfde as ek gevoel nie, en dit het vir my baie probleme veroorsaak.
Op ons troudag
Ek is in 1952 in Roemenië gebore. Alhoewel my ma ’n gedoopte Getuie was, was sy onbedrywig. Daarom het ek nie Christelike vergaderinge bygewoon nie. Roemenië was ook onder ’n Kommunistiese regering, en as gevolg daarvan was die drukwerk en predikingsbedrywighede van Jehovah se Getuies verbied. So, vir die eerste 36 jaar van my lewe het ek nie geweet wie Jehovah was of wat die Bybel geleer het nie. Maar in 1988, terwyl ek in die stad Satu-Mare saam met my man, István, gebly het, het iets gebeur wat my lewe verander het.
’n Uitnodiging wat ek nie kon weier nie
Eendag het my ma my kom besoek. Sy het gesê: “Ek gaan by jou tannie kuier. Wil jy saam met my kom? Ons kan ná die tyd saam inkopies gaan doen.” Omdat ek niks belangriks gehad het om te doen nie, het ek ingestem om saam te gaan.
Toe ons by my tannie se huis aangekom het, het ek uitgevind dat daar ’n vergadering van Jehovah se Getuies aan die gang was. Daar was omtrent nege ander mense daar. Ek het uitgevind dat my ma weer ’n bedrywige en ywerige Getuie geword het. Wat ek daardie oggend gehoor het, het my baie beïndruk.
Nadat die vergadering klaargemaak het, het die studiehouer na my toe gekom en homself aan my voorgestel. Hy het gesê: “My naam is János. Ek het opgelet dat jy mooi aandag geskenk het. Hou jy van wat jy vandag gehoor het?” Ek het vir hom gesê dat ek nog nooit by so ’n vergadering was nie en dat ek weer wil kom. Hy het gevra: “Wil jy graag die Bybel studeer?” Dit was ’n uitnodiging wat ek nie kon weier nie. Ek het geweet dat God my na hierdie mense toe getrek het.
Die volgende dag het János my aan Ida voorgestel. Sy het die Bybel met my begin studeer. Maar ek was bang vir hoe István sou reageer as hy uitgevind het dat ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer. Ek het ’n hele paar keer met hom daaroor probeer praat, maar hy het nie belanggestel in wat ek vir hom gesê het nie. Ek het geweet dat hy nie gehou het van wat ek besig was om te doen nie.
Ten spyte hiervan het ek aangehou om die Bybel te studeer en is ek in Augustus 1989 gedoop. Vier maande later het die Kommunistiese regering in Roemenië sy mag verloor en die regering se leier is doodgemaak.
Teenstand neem toe
Nadat die regering verander het, het ons meer vryheid geniet. Jehovah se Getuies kon nou vryelik bymekaarkom en preek. Maar in my geval het hierdie vryheid meer teenstand veroorsaak. István het vir my gesê: “Ek gee nie om wat jy glo nie, maar ek wil nie hê dat jy van huis tot huis moet gaan preek nie.”
Ek het natuurlik nie opgehou preek nie (Handelinge 4:20). Daarom het ek probeer om so versigtig as moontlik te wees. Maar eendag het István se vriende my in die deur-tot-deur-bediening gesien, en hulle het István daarvan vertel. Toe ek by die huis kom, het my man op my geskree: “Jy bring oneer op my en op ons gesin!” Hy het ’n mes teen my keel gedruk en gedreig om my dood te maak as ek nie ophou preek nie.
Ek het met István probeer redeneer en hom verseker dat ek hom liefhet. Dit het gelyk asof my woorde hom ’n tyd lank gekalmeer het. Maar toe ek geweier het om die godsdienstige huwelikseremonie van ’n nabye familielid by te woon, het hy weer baie kwaad geword. Hy het toe nog meer lelike dinge vir my gesê.
Ongelukkig moes ek István se woede 13 jaar lank verduur. Gedurende daardie tydperk het hy gedreig om van my te skei. Partykeer het hy die deur gesluit en geweier om my in die huis te laat kom. Ander kere het hy vir my gesê om my sakke te pak en te loop.
Wat het my gehelp om hierdie aaklige situasies te verduur? Ek het gebid en Jehovah gevra om my te help om kalm te bly, en ek het werklik gevoel hoe hy my ondersteun (Psalm 55:22). Die gemeente het my ook baie ondersteun. Die ouermanne en party ervare susters het my aangemoedig om nie in my diens aan Jehovah op te gee nie. Hulle het my herinner aan wat die Bybel sê oor vrouens wat hulle mans “sonder ’n woord” wen deur standvastig en lojaal aan Jehovah te bly (1 Petrus 3:1). Met verloop van tyd is dit wat met my gebeur het.
’n Keerpunt
In 2001 het István ’n beroerte gehad, en as gevolg daarvan kon hy nie meer loop nie. Hy was ’n maand lank in die hospitaal en nog ’n paar weke in rehabilitasie. Gedurende daardie tydperk het ek die hele tyd by hom gebly. Ek het hom gevoer, met hom gepraat en seker gemaak dat hy alles het wat hy nodig gehad het.
Broers en susters in die gemeente het hom ook kom besoek. István het eerstehands die liefde en besorgdheid van die broers ervaar. Baie broers en susters het aangebied om ons met takies te help. En die ouermanne was altyd daar om ons te vertroos en te ondersteun.
Hierdie besoeke het István se hart geraak, en hy het begin om skaam te voel oor hoe hy my behandel het. Hy het ook besef dat sy vriende nooit vir hom kom kuier het nie. So, toe hy uit die hospitaal ontslaan is, het István gesê: “Ek wil die Bybel studeer en een van Jehovah se Getuies word.” Ek kon nie die trane van vreugde keer nie!
István is in Mei 2005 gedoop. Aangesien hy nie kon loop nie, het die broers hom in ’n rolstoel tot by die rand van die doopbad gestoot, hom versigtig in die water ingedra en hom gedoop. István het ’n ywerige Koninkryksprediker geword. Ek het goeie herinneringe van die tyd wat ek saam met hom in velddiens spandeer het. Dit was ongelooflik! Dink net – die man wat my eers teëgestaan het omdat ek die waarheid van God se Woord verkondig het, was nou reg langs my en het vreugdevol die goeie nuus met ander gedeel!
István het Jehovah baie liefgehad en het sy tyd gebruik om te studeer en Bybelverse te memoriseer. Hy was lief daarvoor om met ander in die gemeente oor hierdie verse te praat. Hy het hierdie geleenthede gebruik om sy broers en susters aan te moedig.
Saam met vriende by ’n streekbyeenkoms
István se gesondheid het al hoe meer agteruitgegaan. Nadat hy ’n paar ligte beroertes gehad het, kon hy nie meer praat nie en het hy later bedlêend geword. Het hierdie situasie gekeer dat hy Jehovah dien? Glad nie! Hy het aangehou om soveel as wat hy kon te lees en te studeer. Wanneer broers en susters by hom kom kuier het, het hy ’n elektroniese toestel met ’n eenvoudige skerm gebruik om met hulle te kommunikeer en hulle geloof te versterk. Een broer het gesê: “Ek is mal daaroor om István te sien. Ek voel altyd so verfris en het nuwe krag wanneer ek teruggaan huis toe.”
Ongelukkig het István in Desember 2015 gesterf. Dit was ’n groot verlies wat my baie hartseer gemaak het. Maar dit het my ook ware gemoedsrus gegee omdat István Jehovah se vriend geword het lank voordat hy gesterf het. En dit is een van my grootste vreugdes. Beide István en my ma is nou in Jehovah se geheue. Dit sal wonderlik wees om hulle weer ’n drukkie te kan gee en hulle te verwelkom in Jehovah se regverdige nuwe wêreld.
Meer as 35 jaar het verbygegaan vandat ek en my ma my tannie besoek het, en dit is ’n besoek wat ek nooit sal vergeet nie. Ek is nou net oor die 70 jaar oud en dien as ’n gewone pionier. Ek kan nie aan ’n beter manier dink om vir Jehovah dankie te sê vir alles wat hy vir my gedoen het nie (Psalm 116:12). Hy het my gehelp om lojaal en kalm te bly toe ek teëgestaan was. En ten spyte van daardie teenstand het ek geleer dat my omstandighede kan verander. Al was dit heeltemal onverwags kon ek my man sonder ’n woord wen.