Daklose kinders—Is daar ’n oplossing?
MENSE wat werklik vir hulle medemens omgee, wil nie tou opgooi asof niks meer vir daklose kinders gedoen kan word nie. Hulle besef dat straatkinders meer as ’n dak oor hulle kop nodig het. Kinders floreer wanneer hulle gemoedsrus, genotvolle werk, goeie gesondheid en selfvertroue het. Altruïstiese manne en vroue bied hul dienste aan in die belang van die dakloses, en dit is prysenswaardig. Maar ondanks hulle pogings bestaan die probleem van straatkinders steeds.
Die rede daarvoor is dat die huidige stelsel waarin toestande voortbestaan wat daklose kinders tot gevolg het, nie herstel kan word nie. Dit is soos ’n wrak van ’n motor wat nie meer herstel kan word nie. Moet ons dan nie realisties wees en besef dat die mens se skeppingsvermoë alleen nie ’n regverdige mensegemeenskap tot stand kan bring nie?
Gelukkig is ’n verandering moontlik—maar nie deur mensetoedoen nie. Slegs die almagtige God het die vermoë en die wysheid om skadelike dinge op aarde geheel en al uit te wis. Sy Woord, die Bybel, vertel ons van regering deur sy hemelse Koninkryk en hoe dit die mens se begeerte na regverdige toestande hier op die aarde sal vervul.—Daniël 2:44.
God gee om
Dink jy dit is vir God moontlik om die huidige stelsel te verwyder en ’n nuwe lewenswyse in te stel? Indien wel, moet jy onthou dat nie net die mens se redding nie, maar Jehovah God se naam bowenal daarby betrokke is. Omdat hy die Skepper is, die uitnemendste voorbeeld van ordelikheid en stiptheid, verseker hy ons dat hy deur sy Koninkryk op sy bestemde tyd en manier sal optree. Daardie Koninkryk is in werklikheid nie iets onbepaalds en vaags nie, maar is ’n hemelse regering wat toesig en progressiewe onderrigting kan voorsien om in die mens se werklike behoeftes te voorsien.—Jesaja 48:17, 18.
’n Daklose kind kan die woorde van Dawid in Psalm 27:10 (NAV) ter harte neem: “Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.” Dit is ook bemoedigend om te weet dat ’n lae status in die wêreld ’n mens nie diskwalifiseer om God se wil te leer nie. Spreuke 22:2 sê: “Rykes en armes ontmoet mekaar, die HERE het hulle almal gemaak.” Ja, die minder bevoorregte mense kan daarvan seker wees dat Jehovah God bereid is om hulle te help, mits hulle opreg is.—Psalm 10:14, 17.
Jehovah stel belang in ons welsyn en weet hoe om ons regverdige begeertes te bevredig. Hy het eenkeer deur die profeet Jesaja vir die Israeliete gevra: “Is dít nie die vas wat Ek verkies nie? . . . Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee?” (Jesaja 58:6, 7). Dit is die gelykheid en geregtigheid wat God deur middel van sy Koninkryksregering tot stand sal bring. Niemand sal geïgnoreer word of behandel word asof hy nie bestaan nie. Psalm 145:19 deel ons derhalwe mee: “Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.” Liefde vir God en jou medemens sal die vernaamste krag wees om die mensefamilie te verenig. Gevolglik sal die probleem van daklose kinders opgelos word. Niemand sal alleen gelaat word nie!
Sal die mens se onvolmaaktheid God se voorneme in die wiele ry?
Nee, daar sal nie toegelaat word dat die mens se slegte neigings Jehovah se voorneme om die aarde in ’n paradys van genot te omskep in die wiele ry nie. Diegene wat bevoorreg is om in God se nuwe wêreld te lewe, hetsy omdat hulle die slag van Armageddon, soos in die Bybel beskryf, oorlewe het of omdat hulle uit die dood opgewek is om weer op aarde te lewe, sal aangemoedig word om hulle uiterste bes te doen.—Johannes 5:28, 29; Openbaring 16:14, 16.
Niemand wat gehoor gee, sal vind dat sy werk vergeefs is nie. Sy werk sal dienooreenkomstig beloon word. Let asseblief op God se belofte: “Hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle” (Jesaja 65:22, 23). Sal jy en jou gesin nie graag die vervulling van hierdie woorde wil sien nie? En wat ’n vreugde is dit om te weet dat jy dan nêrens hongersnood, armoede, werkloosheid of daklose kinders sal vind nie!
Diegene wat tans, soos die daklose kinders, ontberinge verduur, sal die seëninge van ’n gelukkige gesin en ’n gerieflike huis beslis meer waardeer. Soos ons in Jesaja 65:17 lees: “Aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” Mense wat bevoorreg sal wees om dan te lewe, sal vind dat ongunstige toestande vir ewig tot die verlede behoort en dat mense van alle nasies, tale en rasse in ’n liefdevolle broederskap saam sal werk. Gesinne wat tot in daardie tyd bly lewe, sal ongetwyfeld voortgaan om God te verheerlik. Psalm 37:11 sê van daardie aardse Paradys: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”
Hoe kan jy jou vir die toekoms voorberei?
Dit is selfs nou moontlik om lewegewende kennis te verkry en om goeie eienskappe, soos liefde en vriendelikheid, aan te kweek. Hoe so? Jehovah is lief vir die mensegesin, en deur sy Seun, Jesus Christus, ‘trek hy mense na Christus’ deur hulle in aanraking te bring met Sy Woord en Sy volk (Johannes 6:44). Hy het ook ’n organisasie op aarde met ’n onderrigprogram wat jou kan help om God se wil te doen sodat jy kan uitsien na ’n gelukkige en betekenisvolle lewe vir ewig. Die goeie nuus van God se Koninkryk word derhalwe verkondig aan diegene wat behoeftig is (Mattheüs 24:14). God se Woord sê: “Wie sy naaste verag, doen sonde; maar hy wat medelye het met die ellendiges, hy is gelukkig” (Spreuke 14:21). Dit is hartverblydend om te weet dat selfs minder bevoorregtes God kan nader as hulle beweegrede reg is. Die psalmis het geskryf: “Maar ek is ellendig en behoeftig: o God, kom tog gou na my! U is my hulp en my redder; HERE, vertoef tog nie!”—Psalm 70:6.
Ja, God se Woord kan jou ’n ware hoop op die toekoms gee. Maar die algemene gebruik van die woord “hoop” het nie altyd op sekerheid betrekking nie. In Brasilië hoor ’n mens dikwels die uitdrukking: “A esperança é a última que morre” (soortgelyk aan die Afrikaanse “Teen beterwete in hoop”). Die gedagte is dat ’n mens hoopvol bly selfs wanneer dit lyk asof daar geen grond daarvoor is nie. Die Skrif voorsien daarenteen vaste redes om sterk geloof in God en vertroue in sy beloftes te behou. Ons lees in Romeine 10:11: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” So ’n Bybelse hoop sal nie op frustrasie uitloop nie. Net soos die wonders van ons aarde ’n werklikheid is, en van Jehovah se wysheid en liefde getuig, so stel die vervulling van Bybelprofesieë jou in staat om ’n positiewe beskouing, ’n ware hoop vir die toekoms, te hê.—Romeine 15:13.
God se Koninkryk is die ware oplossing vir daklose kinders, ja, vir almal wat die goeie liefhet. As jy nou juiste Bybelkennis opdoen, sal dit jou in staat stel om geluk en ewige lewe in God se nuwe wêreld te geniet. Die verwagting van hierdie beloftes is nie ’n fantasieproduk nie. Soos Spreuke 11:19 sê: “Ware geregtigheid lei tot die lewe.”
[Venster op bladsy 11]
’n Tydelike oplossing?
’n Uitgestrekte hand van ’n daklose kind met gevoelvolle oë kan ’n mens se hartsnare roer. Maar besorgde mense weet nie wat om te doen om ’n daklose kind te help nie. Omdat hulle skuldig voel, sal sommige mense ’n paar sente in die kind se hand stop en dan vinnig wegloop. Maar die kanse is skraal dat die aalmoes aan kos of onderdak bestee sal word. Dit sal eerder heel moontlik gebruik word om dwelms of alkohol te koop. Daarom skenk sommige volwassenes met ’n burgersin hulle aandag en geld aan plaaslike staatsondersteunde programme wat volgens hulle mening daklose kinders sal help. Ander mense meen dat dit ’n praktieser benadering is om die daklose kind na die regte instansie vir hulp te rig. Op hierdie manier meen besorgde burgers dat hulle probeer om hulle eie gemeenskap mensliker te maak.
[Prent op bladsy 9]
“Hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie.”—Jesaja 65:22
[Erkenning]
FAO photo
[Prent op bladsy 10]
“Want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome.”—Jesaja 65:22