Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 12/8 bl. 4-8
  • Haweloosheid—Wat is die oorsaak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Haweloosheid—Wat is die oorsaak?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Keer op keer haweloos
  • Slagoffers van omstandighede
  • Hulp vir die haweloses?
  • Haweloosheid—Wat is die oplossing?
    Ontwaak!—2005
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Daklose kinders—Is daar ’n oplossing?
    Ontwaak!—1990
  • Haweloosheid—’n Wêreldwye probleem
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 12/8 bl. 4-8

Haweloosheid—Wat is die oorsaak?

“WÊRELDWYD is daar meer as 100 miljoen haweloses”, berig die Verenigde Nasies. As daardie syfer akkuraat is, beteken dit dat 1 uit sowat 60 mense nie ’n behoorlike blyplek het nie! Dit is egter moeilik om die ware omvang van die probleem te bepaal. Waarom?

Definisies van haweloosheid verskil van land tot land. Die benaderings en oogmerke van dié wat die probleem bestudeer, beïnvloed hoe hulle dit definieer. En die definisie wat hulle gebruik, beïnvloed dan die statistiek wat hulle publiseer. Dit is dus moeilik, indien nie onmoontlik nie, om ’n akkurate beeld van die probleem te kry.

Die boek Strategies to Combat Homelessness, uitgegee deur die Verenigde Nasies se Sentrum vir Menslike Vestiging, definieer haweloosheid as die situasie waar iemand “nie ’n aanvaarbare vorm van behuising het nie. Dit sluit alles in wat as onvoldoende beskou kan word” vir die gemeenskap waarin die haweloses lewe. Party woon dalk op straat of in vervalle of verlate geboue, terwyl ander moontlik onderdak vind in ’n herberg vir haweloses. Nog ander word tydelik deur vriende gehuisves. Hoe dit ook al sy, dieselfde studie sê: “As iemand as haweloos geklassifiseer word, is dit ’n aanduiding dat ‘iets gedoen moet word’ om die slagoffer van hierdie omstandighede te help.”

In Pole, ’n land met ’n bevolking van omtrent 40 miljoen mense, is daar na raming tot 300 000 haweloses. Niemand weet presies hoeveel daar is nie, aangesien hulle nie ’n vaste adres het nie en voortdurend rondbeweeg. Party glo dat die werklike syfer na aan ’n halfmiljoen is!

Aangesien haweloosheid baie algemeen is, is iemand wat jy ken, dalk ’n slagoffer daarvan. Die benarde situasie van haweloses laat ’n aantal vrae ontstaan. Wat het daartoe gelei dat hierdie mense sonder geskikte behuising is? Hoe maak hulle ’n bestaan? Wie help hulle? En wat hou die toekoms vir haweloses in?

Keer op keer haweloos

Sabrinaa is ’n enkelmoeder uit ’n arm buurt in Harlem, in die stad New York. Sy het ná graad tien die skool verlaat. Sabrina en haar drie kindertjies woon in ’n munisipale herberg vir mense wat ’n geruime tyd haweloos is. Sy en haar drie seuntjies—wat tien maande, drie jaar en tien jaar oud is—deel ’n eenslaapkamerwoonstelletjie. Die stad voorsien hierdie plekke vir mense wat geen ander veilige woonplek het nie.

Sabrina het tien jaar gelede uit haar ma se woonstel getrek. Sy het sedertdien by haar kêrel, by vriende en familielede, en wanneer dit sleg gegaan het, in herberge vir haweloses gebly. “Ek het nou en dan los werkies gedoen, soos om mense se hare teen betaling te vleg”, sê Sabrina, “maar oor die algemeen het ek van ’n welsynstoelae gelewe.”

Sabrina se probleme, soos berig is in die tydskrif Parents, het vreemd genoeg begin toe sy ’n goeie werk as ’n skoonmaker in ’n hotel gekry het. Terwyl sy daar gewerk het, het sy te veel verdien om vir ’n welsynstoelae in aanmerking te kom, maar nie genoeg om haar uitgawes, soos behuising, kos, klere, vervoer en kindersorg, te dek nie. Dit was dus moeilik vir haar om die huur te betaal, en die verhuurder wou haar uit die woonstel sit. Op die ou end het Sabrina by haar werk bedank en aangeklop by ’n tydelike herberg vir haweloses totdat daar plek beskikbaar was waar sy nou woon.

“Die hele situasie is baie moeilik vir my kinders”, sê Sabrina. “My oudste seun was al in drie verskillende skole. Hy moes nou in graad vyf gewees het, maar is ’n jaar teruggehou . . . Ons moes soveel keer trek.” Sabrina is op ’n waglys vir gesubsidieerde behuising.

Vir enigiemand wat hoegenaamd geen blyplek het nie, lyk Sabrina dalk na een van die gelukkiges. Maar die lewe in sulke herberge is nie so aantreklik vir alle haweloses nie. Volgens die Poolse Komitee vir Gemeenskapsbystand is sommige “bang vir die dissipline en reëls van herberge vir haweloses” en verwerp hulle die hulp wat voorsien word. Daar word byvoorbeeld verwag van dié wat in hierdie herberge woon, om te werk en hulle van alkohol en dwelms te onthou. Nie almal is bereid om dit te doen nie. Gevolglik sal ’n mens, afhangende van die tyd van die jaar, haweloses sien slaap op treinstasies, onder trappe, in kelders sowel as op parkbanke, onder brûe en in nywerheidsgebiede. Die situasie is soortgelyk regoor die wêreld.

’n Boek oor hierdie onderwerp gee ’n lys van baie van die faktore wat tot haweloosheid in Pole bydra. Dit sluit afdankings, skuld en gesinsprobleme in. Daar is ’n tekort aan behuising vir bejaardes, gestremdes en mense wat met MIV besmet is. Baie haweloses het geestes- en fisiese probleme of ’n probleem met verslawing, veral aan alkohol. Die meeste hawelose vroue het hulle mans verlaat—of van hulle mans af gevlug—is uit die huis gesit of het ’n geskiedenis van prostitusie. Dit lyk asof elke geval maar ’n hartseer verhaal is.

Slagoffers van omstandighede

Stanisława Golinowska, ’n spesialis op die gebied van sosio-ekonomie, sê: “Hier [in Pole] is daar niemand wat werklik uit eie keuse haweloos is nie. . . . Dit is eerder ’n gevolg van verskeie mislukkings in die lewe, wat gelei het tot ’n ineenstorting en geen begeerte om te lewe nie.” Mense wat haweloos word, voel blykbaar om verskillende redes dat hulle nie hulle probleme kan hanteer nie. Party het byvoorbeeld uit die tronk gekom en gevind dat hulle huis deur vandale geplunder is. Ander is uit hulle huise gesit. Baie het tydens ’n natuurramp hulle blyplek verloor.b

Volgens een studie was bykans die helfte van die haweloses in Pole met wie ’n onderhoud gevoer is, voorheen deel van ’n gesin en het hulle saam met hulle huweliksmaat gewoon, hoewel die gesin dikwels probleme gehad het. Die meeste is uit hulle huis gesit of het gevoel dat hulle die huis moet verlaat omdat hulle net te swaar gekry het. Slegs 14 persent het self besluit om dit te doen.

Nadat hulle ’n ruk lank in ’n herberg gebly het, is party haweloses in staat om weer vir hulleself te sorg en hulle eie huisvesting te kry. Vir ander is die situasie moeiliker. Hulle word chronies haweloos weens ’n fisiese of geestesiekte, verslawing, geen motivering om te werk nie, slegte werksgewoontes, gebrek aan voldoende skoolopleiding of ’n kombinasie van faktore. In die Verenigde State bevind sowat 30 persent van haweloses hulle in wat ’n organisasie sonder winsoogmerk die “hawelose stelsel” noem—’n stelsel van herberge vir haweloses, hospitale en, ongelukkig, tronke. Diegene wat gedurigdeur van hierdie stelsel afhanklik is, gebruik blykbaar tot 90 persent van die nasionale fondse wat vir hierdie doel beskikbaar gestel word.

Hulp vir die haweloses?

Party herberge vir haweloses bied dienste aan wat mense probeer help om van hulle lewe as hawelose los te breek. Individue kan gehelp word om staatsondersteuning, finansiële hulp uit ander bronne of regsbystand te kry, asook hulp om weer familiebande op te bou of die geleentheid om basiese vaardighede te leer. Herberge vir jongmense in Londen gee raad oor dieet, die kookkuns, gesonder lewenstyle en hoe om werk te kry. Die doel van hierdie voorligting is om hulle selfrespek te vergroot, hulle meer gemotiveerd te laat voel en hulle te help om onafhankliker te wees sodat hulle hulle eie tuiste kan vind en behou. Sulke voorsienings is beslis prysenswaardig.

Maar herberge voorsien nie altyd die hulp wat haweloses meen hulle die nodigste het nie. Jacek, ’n hawelose in Warskou, verduidelik dat die lewe in die herberge haweloses nie toerus om in die buitewêreld die mas op te kom nie. Hy meen dat die inwoners “’n verwronge denkpatroon” ontwikkel omdat hulle feitlik net met mekaar assosieer en gesels. Hy sê: “Die herberg wat ons van die buitewêreld afsonder, word soos ’n kinderhuis vir volwassenes.” Volgens hom het baie van die inwoners “verstande wat nie heeltemal reg funksioneer nie”.

Volgens ’n Poolse studie is eensaamheid die pynlikste emosie wat haweloses ondervind. As gevolg van finansiële probleme en ’n lae sosiale stand dink haweloses dikwels dat hulle niks werd is nie. Party gee hulle oor aan drank. Jacek sê: “Omdat die situasie so wanhopig lyk, verloor baie van ons geleidelik die hoop dat ons ons treurige situasie kan verbeter.” Hulle voel skaam oor hulle voorkoms, oor hulle armoede en hulpeloosheid en oor die blote feit dat hulle haweloos is.

“Hetsy ons praat van die straatbewoners in Bombaai [Moembaai] en Kolkata of die boemelaars in die strate van Londen of die straatkinders in Brasilië”, sê Francis Jegede, wat spesialiseer in bevolkingskwessies, “die toestand van haweloosheid is veels te erg en te pateties om ons dit voor te stel, wat nog te sê dit te ondervind.” Hy voeg by: “Wat die oorsaak of oorsake van hierdie verskynsel ook al is, die vraag wat ’n mens jou bly afvra, is: Waarom is die wêreld, met al sy rykdom en wysheid en tegnologiese kennis, nie in staat om die probleem van haweloosheid op te los nie?”

Dit is duidelik dat alle haweloses hulp nodig het—nie net fisiese hulp nie, maar ook die soort hulp wat die pyn in hulle harte kan verlig en hulle kan bemoedig. Sulke hulp kan mense die krag gee om baie van die probleme wat tot haweloosheid bydra, die hoof te bied. Maar waar kan die haweloses daardie soort hulp vind? En watter hoop is daar dat die tragedie van haweloosheid ooit uit die weg geruim sal word?

[Voetnote]

a Van die name in hierdie artikels is verander.

b Miljoene mense regoor die wêreld is deur die een of ander vorm van politieke onstabiliteit of gewapende konflik gedwing om uit hulle huise te vlug. Vir ’n bespreking van hulle droewige situasie, sien die reeks “Vlugtelinge—Sal hulle ooit ’n tuiste vind?” in die Ontwaak! van 22 Januarie 2002.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Die gevolge van volslae armoede

In die stede van Indië is daar honderdduisende mense wat op straat woon. Volgens vorige ramings is daar ongeveer 250 000 haweloses in Moembaai alleen. Die enigste beskutting vir sommige is ’n stuk seil wat tussen pale en omliggende geboue gespan is. Waarom woon hulle eerder hier as in redelik bekostigbare behuising naby die stad se buitewyke? Omdat hulle naby die middestad werk—as straatverkopers, smouse, riksja-trekkers of skrootversamelaars. “Hulle het geen keuse nie”, sê Strategies to Combat Homelessness. “Hulle word eenvoudig deur armoede gedwing om geen geld wat vir kos gebruik kan word, aan huur te bestee nie.”

Sowat 2 300 mans, vroue en kinders bly op Park-stasie in Johannesburg. Hulle slaap op oop stasieplatforms, met stukkies komberse as beddens of onder stukke karton. Die meeste het geen werk nie en het moed opgegee dat hulle ooit werk sal kry. Duisende lewe in soortgelyke omstandighede regoor die stad. Hulle het nie water, toiletgeriewe of elektrisiteit nie. In hierdie toestande versprei siekte vinnig.

Die rede waarom hierdie twee groepe en baie ander haweloos is, is eenvoudig—volslae armoede.

[Venster/Prente op bladsy 7]

Waar die moderne samelewing te kort skiet

Die boek Strategies to Combat Homelessness, uitgegee deur die Verenigde Nasies se Sentrum vir Menslike Vestiging, identifiseer etlike gebiede waarop die huidige maatskaplike, politieke en ekonomiese stelsel te kort skiet wat die voorsiening van huise vir almal betref. Dit sluit die volgende in:

● “Die grootste probleem in verband met haweloosheid is nog steeds die onvermoë van regerings om genoegsame fondse beskikbaar te stel om die reg op geskikte behuising ten volle te verwesenlik.”

● “Ongepaste regulasies en ondoeltreffende beplanningstelsels kan . . . chaos veroorsaak wanneer dit kom by die voorsiening van huise vir die arm meerderheid.”

● “Haweloosheid is ’n teken van die onregverdige verdeling van behuisingskoste en -voordele in die gemeenskap.”

● “Die haweloosheidskrisis is die gevolg van beleide wat die skadelike uitwerking van die volgende faktore ignoreer of onderskat: ekonomiese skommelinge, die gebrek aan bekostigbare behuising, ’n toename in dwelmmisbruik en ander fisiese en geestesgesondheidsprobleme onder dié wat die weerloosste in . . . die samelewing is.”

● “Daar is ’n groot behoefte aan beter opleiding vir beroepspersone wat met weerlose mense werk. Haweloses, veral straatkinders, moet beskou word as onbenutte maar potensiële bates eerder as ’n las vir die samelewing.”

[Prent]

’n Ma en haar twee dogters bedel in Mexiko

[Erkenning]

© Mark Henley/ Panos Pictures

[Prent op bladsy 6]

Hierdie herberg vir haweloses in Pretoria was voorheen ’n treinstasie

[Erkenning]

© Dieter Telemans/Panos Pictures

[Foto-erkennings op bladsy 4]

Links: © Gerd Ludwig/Visum/Panos Pictures; inlasfoto: © Mikkel Ostergaard/Panos Pictures; regs: © Mark Henley/Panos Pictures

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel