Bedrog in die wetenskap—Waarom dit toeneem
“DIE mededinging is ongelooflik. Oorwinnaars ontvang enorme belonings; verloorders word deur vergetelheid in die gesig gestaar. Dit is ’n atmosfeer waarin ’n onwettige kortpad soms onweerstaanbaar is—deels omdat die gevestigde orde dikwels huiwer om oortreding te straf.” Dit is hoe die artikel “Publiseer of krepeer—of vervals dit” in U.S.News & World Report begin het. Baie wetenskaplike navorsers maak hulle aan vervalsing skuldig om nie onder te gaan nie.
Oorweldigende druk word op wetenskaplikes uitgeoefen om artikels in wetenskaptydskrifte te publiseer. Hoe langer die lys gepubliseerde artikels wat aan die navorser toegeskryf word, hoe beter is sy kanse op werk, bevordering, ’n permanente pos aan ’n universiteit en regeringsubsidies om sy navorsing te finansier. In Amerika beheer die federale regering “die grootste bron van navorsingsfondse, naamlik [R14,6 miljard] per jaar afkomstig van die National Institutes of Health”.
Omdat “die wetenskaplike gemeenskap min lus het om sy etiese dilemma die hoof te probeer bied”, “buitengewoon huiwerig is om te hard na vasstaande data aangaande sy etiese gedrag te soek” en “nie gretig is om voor eie deur te vee of selfs oortredings indringend te ondersoek nie”, het kongreskomitees verhore gehou en wetgewing oorweeg om te verseker dat daar wel beheer uitgeoefen word (New Scientist; U.S.News & World Report). Hierdie vooruitsig het wetenskaplikes al baie laat kerm en tande kners. Nietemin vra en antwoord een wetenskaptydskrif die vraag: “Is die wetenskap se sake gesond en in orde? Die bietjie getuienis wat die publiek bereik, lei tot ernstige twyfel.”
Party navorsers elimineer data wat nie hulle teorieë staaf nie (knoeiery); doen verslag oor meer toetse of proefnemings as wat werklik gedoen is (aanpassing); eien data of idees van ander navorsers vir hulle eie gebruik toe (plagiaat); en versin eksperimente of data wat hulle nooit gedoen of gekry het nie (vervalsing). ’n Spotprent in ’n wetenskaptydskrif het met hierdie laaste taktiek gekgeskeer en toon een wetenskaplike wat met ’n ander een praat en van ’n derde sê: ‘Hy het baie gepubliseer sedert hy daardie skryfkunskursus aangepak het.’
“Wat is deesdae die hoofproduk van wetenskaplike navorsing? Die antwoord: papier”, het U.S.News & World Report gesê. “Honderde nuwe tydskrifte ontstaan elke jaar om die vloed navorsingsverhandelinge te publiseer wat geskryf word deur wetenskaplikes wat weet dat akademiese sukses afhang van hoeveel artikels hulle gepubliseer het.” Die doelwit is kwantiteit, nie kwaliteit nie. Elke jaar publiseer veertigduisend tydskrifte ’n miljoen artikels, en ’n deel van hierdie vloed “is simptomaties vir fundamentele euwels, met inbegrip van ’n publiseer-of-krepeeretiek wat nou algemener as ooit tevore onder navorsers is en slordige, herhalende, nuttelose of selfs oneerlike werk bevorder”.
’n Senior redakteur van The Journal of the American Medical Association, dr. Drummond Rennie, het oor die gebrek aan kwaliteit gesê: “Dit lyk asof geen studie te onsamehangend, geen hipotese te onbeduidend, geen letterkundige aanhaling te bevooroordeeld of te egotisties, geen oogmerk te verwronge, geen metodiek te verbroud, geen bekendmaking van resultate te onakkuraat, te onduidelik en te teenstrydig, geen ontleding te selfsugtig, geen argument te omslagtig, geen gevolgtrekkings te onbeduidend of te ongegrond en geen grammatika en sinskonstruksie te swak is om gedruk te word nie.”
Hulle maak berge van miershope
Die publiseer-of-krepeersindroom het talle navorsers baie vindingrykheid gegee om ’n beskeie aantal gepubliseerde artikels in verbasende getalle te omskep. Hulle skryf een artikel en verdeel dit dan in vier kleiner dele—dit staan bekend as salami-deling in die jargon van die beroep. Op dié manier het hulle vier artikels wat op hulle publikasielys geplaas word, pleks van ’n enkele publikasie-erkenning vir een artikel. Soms stuur hulle ook dieselfde artikel na verskeie tydskrifte, en elke keer wat dit gepubliseer word, tel dit as ’n ander artikel. Dikwels word etlike wetenskaplikes as skrywers van ’n artikel aangegee, en elke skrywer voeg die artikel by sy lys gepubliseerde artikels. ’n Artikel van twee of drie bladsye verskyn soms onder 6, 8, 10, 12 of meer skrywers se name.
Op die NOVA-program “Kul wetenskaplikes?” wat op 25 Oktober 1988 uitgesaai is, het een wetenskaplike oor hierdie gebruik gesê: “Mense probeer om erkenning vir soveel moontlik publikasies te kry, sodat ’n mens nou heel dikwels baie groot spanne kry waar al 16 mense ’n bepaalde publikasie onderteken, wat waarskynlik nie eers die moeite werd was om te publiseer nie. Maar dit maak deel uit van ’n dolle gejaag, ’n gees van mededinging, ’n siek mentaliteit wat behep is met kwantiteit, en dit word grootliks deur die struktuur van die hedendaagse wetenskap in die Verenigde State bevorder.” Party wat as medeskrywers aangegee word, het moontlik baie min met die artikel te doen gehad of het dit dalk nie eers gelees nie, maar plaas nogtans die artikel op hulle lys publikasies. Sulke lang lyste beïnvloed die verlening van honderdduisende rande se navorsingsubsidies uit staatsgelde.
Kollegiale resensie—’n Beveiliging teen bedrog?
Redakteurs van wetenskaptydskrifte lê dikwels—maar nie altyd nie—verhandelinge aan ander wetenskaplikes voor vir hersiening voordat dit gepubliseer word. Hierdie gebruik, wat as kollegiale resensie bekendstaan, sif teoreties alle foutiewe en bedrieglike artikels uit. “Die wetenskap is selfkorrigerend op ’n wyse wat geen ander veld van intellektuele strewe kan ewenaar nie”, sê Isaac Asimov. “Die wetenskap is selfbewakend soos geen ander veld is nie.” Hy was trots op die feit dat “skandale so selde voorkom.”
Maar baie ander stem nie hiermee saam nie. Kollegiale resensie is “’n vrotsige manier om bedrog op te spoor”, het dr. Drummond Rennie, wat ons reeds aangehaal het, gesê. Die American Medical News het gesê: “Tydskrifte wat van kollegiale resensie gebruik maak en vroeër as feitlik onfeilbaar beskou is, moes erken dat hulle bedrog nie kan uitroei nie.” “Kollegiale resensie word te veel geprys”, het ’n rubriek- en mediese skrywer van The New York Times gesê.
Die tydskrif Science berig dat een navorser wat ’n ander navorser se verhandeling moes resenseer van plagiaat beskuldig is. Hy “het data van ’n kollega se verhandeling wat hy geresenseer het, geneem en vir sy eie werk gebruik”, aldus die NIH (National Institutes of Health). Sulke gedrag is ’n “skending van vertroue wat veronderstel is om die grondslag van kollegiale resensie te wees”, en in hierdie besondere geval is die resensent “ongeskik vir verdere federale subsidies” verklaar.
“Die onbeskaamde vermetelheid waarmee die wetenskaplike gemeenskap sy etiese suiwerheid verkondig, maak hom lank reeds die wegholoorwinnaar op hierdie gebied”, het die tydskrif New Scientist gesê. Die stelsel van kollegiale resensie wat teoreties al die bedrog uitsif en waarop daar so baie geroem word, word deur baie as ’n klugspel beskou. “Die ware toedrag van sake”, het New Scientist gesê, “is dat min wetenskaplike skelms betrap word, maar wanneer hulle betrap word, blyk dit dikwels dat hulle al jare lank ongehinderd vervalste data in vername tydskrifte gepubliseer het sonder dat dit betwyfel is.”
The New York Times het berig dat ’n amptenaar van die NIH ’n ruk gelede gesê het: “Ek dink ’n era van onskuld het geëindig. In die verlede het mense aangeneem dat wetenskaplikes nie sulke dinge doen nie. Maar mense begin besef dat wetenskaplikes nie moreel bo enigiemand anders verhewe is nie.” Die Times se berig het bygevoeg: “Hoewel dit ’n paar jaar gelede buitengewoon was as die National Institutes of Health een klagte van beweerde bedrog per jaar ontvang het, het die amptenaar gesê dat daar nou ten minste twee ernstige aanklagte per maand is.” Die tydskrif Science het opgemerk: “Wetenskaplikes het die publiek herhaaldelik verseker dat bedrog en wangedrag in navorsing seldsaam is . . . En tog lyk dit of betekenisvolle gevalle aanhoudend opduik.”
Die voorsitter van een van die kongresondersoekkomitees, John Dingell, het eenkeer vir wetenskaplikes gesê: “Ek moet vir julle sê dat ek julle bedrogbestryding heeltemal onvoldoende vind en dat skelmagtigheid blykbaar in die meeste gevalle oor deugsaamheid seëvier op ’n wyse wat vir my geheel en al onaanvaarbaar is. Ek hoop dit is ook vir julle.”
Die NOVA-program “Kul wetenskaplikes?” het geëindig met hierdie erkenning deur een van die wetenskaplikes wat teenwoordig was: “Geheime skandes moet aan die lig kom, en burokrate se loopbane moet benadeel word indien dit nodig is en daar geen ander uitweg is nie. Dit is ’n etiese vereiste, dit is ’n wetlike vereiste en dit is beslis ’n morele vereiste.”
[Lokteks op bladsy 6]
‘Sestien mense onderteken ’n bepaalde publikasie’
[Lokteks op bladsy 7]
“Dit is ’n etiese vereiste, dit is ’n wetlike vereiste en dit is beslis ’n morele vereiste”