Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 11/22 bl. 12-15
  • Kullery in die wetenskap

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kullery in die wetenskap
  • Ontwaak!—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • Bedrog in die wetenskap—Waarom dit toeneem
    Ontwaak!—1990
  • Bedrog in die wetenskap—Dikwels in die nuus
    Ontwaak!—1990
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • Tot watter mate kan jy die wetenskap vertrou?
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 11/22 bl. 12-15

Kullery in die wetenskap

DIT is nie veronderstel om te gebeur nie. Nie op die verhewe gebied van die wetenskap nie. Nie waar onpartydige, onbevooroordeelde najaers van die waarheid onvermoeid in hulle laboratoriums werk nie. Nie waar toegewyde navorsers, wat daartoe verbind is om die waarheid te vind ongeag waarheen die soektog lei, daarna streef om die natuur se geheime te ontrafel nie. Dit is nie veronderstel om te gebeur in ’n verenigde groep mans en vroue wat skouer aan skouer veg om die verwoesting wat siekte veroorsaak tot voordeel van die mensdom te stuit nie.

Wie sou verwag dat sulke toegewyde wetenskaplikes met hulle gegewens sou knoei om hul argumente te ondersteun? Of dat hulle dit wat hulle teorie ondersteun, uitsoek en die res verwerp? Of dat hulle eksperimente aanteken wat hulle nooit uitgevoer het nie en gegewens vervals om die gevolgtrekkings te steun wat hulle nie kon bewys nie? Of dat hulle verslag gee oor studies wat hulle nooit gemaak het nie en aanspraak maak op die outeurskap van artikels waaraan hulle nooit gewerk het of wat hulle selfs nie eers gesien het nie? Wie sou ooit sulke kullery in die wetenskap verwag?

Dit is nie veronderstel om te gebeur nie, maar dit gebeur.a ’n Wetenskapstydskrif het verlede jaar berig: “Smeergeld, bedrog en wangedrag is algemeen onder Amerikaanse mediese navorsers, volgens ’n snydende kritiek wat hierdie week deur ’n Amerikaanse Kongreskomitee gepubliseer is. Die verslag sê dat die Nasionale Gesondheidsinstitute ‘openbare gesondheid in gevaar gestel het’ deur nie toesig te hou oor die wetenskaplikes wat deur hulle ondersteun word nie.”—New Scientist, 15 September 1990.

Die meeste van die gevalle behels kullery wat wangedrag genoem word, maar ander is niks anders as bedrog nie. Dit is wat dit genoem is in die geval van dr. Thereza Imanishi-Kari en haar vyf medeskrywers aan ’n verhandeling wat “die indirekte invoeging van ’n vreemde geen in die immuunselle van muise beskryf het. Die skrywers het beweer dat die muis se natuurlike geen toe begin het om die ingevoegde geen na te boots en ’n spesiale teenliggaam te produseer” (Science News, 11 Mei 1991). Dit sou ’n belangrike stap in immuniteitsnavorsing gewees het, maar dit het blykbaar nooit plaasgevind nie.

Die verslag is in April 1986 in Cell, ’n wetenskapstydskrif, gepubliseer. Kort daarna het dr. Margot O’Toole, ’n junior navorser in molekulêre biologie in Imanishi-Kari se laboratorium, gesê dat die verhandeling bewerings maak wat nie deur die gegewens ondersteun word nie. Sy het met 17 bladsye vol gegewens uit Imanishi-Kari se aantekeningboeke na dr. David A. Baltimore, ’n Nobelpryswenner wat ’n medeskrywer van die navorsingsverhandeling was, gegaan. Hierdie bladsye het getoon dat die eksperiment nie gewerk het nie, terwyl die gepubliseerde verhandeling gesê het dit wel gewerk het. Dr. Baltimore het egter geen rede gevind om die gegewens in twyfel te trek nie en het O’Toole maar net ’n “onvergenoegde postdoktorale navorser” genoem.—The New York Times, 22 Maart 1991.

In daardie selfde jaar het twee universiteite die artikel in Cell hersien. Een was M.I.T. (Tegnologiese Instituut van Massachusetts) waar die werk gedoen is; die ander was die Tufts-universiteit waar Imanishi-Kari vir ’n belangrike betrekking oorweeg is. Hulle hersienings het ’n paar probleme gevind, maar niks ernstigs nie. Die saak is twee jaar lank daar gelaat.

Toe het verteenwoordiger John D. Dingell, voorsitter van die Huis van Afgevaardigdes se Onderkomitee van Toesig en Ondersoeke, die saak hervat. Die regering ondersteun wetenskaplike navorsing en deur die NIH (Nasionale Gesondheidsinstituut) staan dit elke jaar R22000-000 000 aan individuele wetenskaplikes en hulle institute toe vir navorsingsprojekte. Dingell se onderkomitee kontroleer hoe goed die publiek se geld aangewend word, en ondersoek ook misbruike.

Dr. Baltimore was baie ongelukkig. Hy het die onderkomitee daarvan beskuldig dat hulle, deur hierdie saak te hervat, “wil wegdoen met die standaardmaatstaf en dit vervang met ’n heel nuwe standaard om die wetenskap te beoordeel. Hulle het ’n styl van vervolging gekies. Die boodskap is dat jy jou wetenskap beoefen met die wete dat jy vervolg kan word. As hierdie verhoor vandag verteenwoordigend is van die Kongres se sienswyse oor hoe die wetenskap beoefen moet word, is die Amerikaanse wetenskap soos ons dit ken in die moeilikheid.”

Dr. Baltimore het ondersteuning van simpatieke kollegas ontvang deur ’n brief aan 400 wetenskaplikes te stuur waarin hy waarsku dat inmenging deur die Kongres die “Amerikaanse wetenskap [kan] verlam.” Hy het die ondersoek ’n voorloper van bedreigings vir kommunikasie in die wetenskap en vryheid genoem. Baie uit die wetenskapswêreld het agter Baltimore, een van sy mees vooraanstaande lede, gestaan en die verhore ’n “heksejag” en Dingell ’n “nuwe McCarthy” genoem.

“Ondersteuners van dr. Baltimore en sy verdediging van die artikel het gereageer deur die Kongres aan te val”, het The New York Times van 26 Maart 1991 berig. “Hulle het mnr. Dingell gekritiseer omdat hy sy neus in die wetenskap se aantekeningboeke steek en het sy span met uitdrukkings soos die ‘wetenskapspolisie’ beskryf. Feitlik elke brief en artikel het gesê dat daar geen sprake van bedrog was nie, slegs van interpretasie. ‘Ons is toegegooi onder briewe van wetenskaplikes wat hulle diepe kommer uitgespreek het oor dit wat ons doen’, het ’n personeellid van die Dingell-onderkomitee gesê. ‘Maar in baie van hulle, dalk die helfte of meer, was daar ’n teenstrydigheid, aangesien hulle gesê het dat hulle nie met die feite van die saak bekend is nie. Dit is ’n bietjie vreemd.’”

Wanneer gemoedere hoog loop, word die feite dalk irrelevant en verdwyn dit in die agtergrond. Die stroom briewe ter ondersteuning van dr. Baltimore en dr. Imanishi-Kari het die Kongres in sterk, emosionele taal gekritiseer. Dr. Stephen J. Gould van Harvard het geskryf: “In die lig van onlangse verwikkelings in Washington is ek nie so seker dat Galileo vandag nie dalk in groter moeilikheid sou wees nie.” Dr. Phillip A. Sharp van M.I.T. het wetenskaplikes aangespoor om vir hulle verteenwoordigers in die Kongres te skryf om beswaar te maak teen die optrede van hierdie onderkomitee. Hy het aangevoer dat dit “die oordeel van gekwalifiseerde wetenskaplikes [dat daar geen bedrog by betrokke was nie] herhaaldelik verwerp het”. Hy het verder gesê dat dit “’n vendetta teen eerlike wetenskaplikes” op tou gesit het wat “die samelewing duur te staan gaan kom”. As ’n vendetta daarby betrokke was, was dit op stuk van sake nie teen eerlike wetenskaplikes nie, maar teen dr. Margot O’Toole, wie se eerlikheid haar duur te staan gekom het.

“Solank die wetenskap redelik glad voortbeweeg, wil dit voorkom asof dit geheel en al voortgedryf word deur die rede en die antwoord wat die natuur op eksperimente gee. Maar wanneer dinge verkeerd loop, gooi die menslike akteurs hulle maskers van professionele onverstoorbaarheid af en die emosionele onderstrominge van die wetenskapsonderneming kan skielik te voorskyn kom” (The New York Times, 26 Maart 1991). En wanneer hulle verskyn, moet kragte buite die wetenskap ook te voorskyn kom om die kullery te keer en die onreg wat gepleeg is teen dié wat alarm gemaak het reg te stel.

Dit was wat in hierdie geval nodig was. Baie in die wetenskapswêreld wat nooit eers die moeite gedoen het om die getuienis te ondersoek nie, het outomaties vir dr. Baltimore en dr. Imanishi-Kari en teen dr. O’Toole kant gekies. Boonop het hulle die regeringsagentskap gekritiseer wat tussenbeide moes tree om die onreg te herstel. Dit herinner ons aan die Bybelspreuk wat sê: “Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ’n sotheid en ’n skande wees.”—Spreuke 18:13.

Dit was slegs deur uitgerekte ondersoeke deur die Dingell-onderkomitee, die Geheime Diens en die Buro vir Wetenskaplike Integriteit aan die NIH dat O’Toole se aantygings uiteindelik bewys is. Die New Scientist van 30 Maart 1991 het berig: “Ondersoekers by die Nasionale Gesondheidsinstituut het tot die gevolgtrekking gekom dat ’n medeskrywer van die Nobelpryswenner David Baltimore volledige stelle gegewens van 1986 tot 1988 versin het om ’n verhandeling wat in 1986 in die tydskrif Cell verskyn het, te ondersteun. Baltimore, wat vroeër die Kongres se ondersoek in hierdie saak aangeval het as ’n bedreiging vir die wetenskap se vryheid, het Cell nou gevra om die verhandeling terug te trek.” Hy het dr. O’Toole om verskoning gevra vir sy versuim om haar bedenkinge deegliker te ondersoek.

Die ondersoeke het aan die lig gebring dat dr. Imanishi-Kari gegewens versin het en verslag gedoen het oor ’n eksperiment wat sy nooit gedoen het nie, en toe dit lyk asof alles op die lappe gaan kom, het sy dinge probeer toesmeer. “Toe O’Toole en eksterne ondersoekers vrae oor die verhandeling begin vra het”, het die New Scientist gesê, het Imanishi-Kari “volgens die NIH-verslag stelselmatig begin om gegewens te versin wat dit sou ondersteun. Van hierdie vervalste gegewens is in 1988 as regstellings van die oorspronklike verhandeling in Cell gepubliseer.” Op 6 April 1991 het die New Scientist gesê: “Wetenskaplikes moet ook erken dat selfregulering slegs werk wanneer dit op openbare vertroue berus. Om mense wat alarm maak as lastige rusverstoorders te beskou, doen min om dit te help.” Maar weke nadat al hierdie getuienis ingesamel is, het dr. Imanishi-Kari dit alles nog steeds ’n “heksejag” genoem.

’n Hoofartikel in The New York Times van 26 Maart 1991, het dit onder die titel “’n Wetenskaplike Watergate?” bevraagteken. Dit het gesê: “Die oortuigendste aanklag moet ingedien word teen die wetenskaplikes se slap manier om bedrog te ondersoek. Verskeie ondersoekspanne het voor obstruksie deur dr. Baltimore, een van die land se mees vooraanstaande wetenskaplikes, te staan gekom en dit het gelyk asof hulle harder probeer het om slegte publisiteit te smoor as om die waarheid uit te grawe.” Tog is dit hierdie selfde wetenskaplikes wat sê dat hulle eerder hulle eie ondersoeke moet behartig as dat buitestaanders dit doen.

Die hoofartikel het voortgegaan: “Die aanvanklike ondersoeke van dr. O’Toole se klagtes het gesmaak na vriendespolitiek wat saamspan om reputasies in die wetenskap te beskerm. Ondersoeke by die Tufts-universiteit en M.I.T. het geen bedrog of selfs geen groot foute gevind nie. Die Nasionale Gesondheidsinstituut het ’n ondersoekspan aangewys wat ’n noue verbintenis met dr. Baltimore het. Selfs nadat die span hersaamgestel is om kritici tevrede te stel, is ’n niksseggende verslag ingedien wat geen bewys vir wangedrag gevind het nie, ondanks die feit dat daar verslag gedoen is oor ’n eksperiment wat in werklikheid nooit uitgevoer is nie. Eers nadat die Kongres betrokke geraak het, het die N.I.H. begin om ’n bietjie ruggraat te toon. Sy nuwe Buro vir Wetenskaplike [Integriteit] het die moedige en veroordelende verslag ingedien wat uiteindelik ’n versinsel ’n versinsel noem. Dr. Baltimore het van die begin af gelyk asof hy harder probeer om ’n einde aan die ondersoek te maak as om die waarheid oor die aantygings te ontdek. Hoewel hy nie self van bedrog beskuldig is nie, het hy twee dokumente onderteken—die oorspronklike verhandeling en ’n regstelling wat daarop gevolg het—wat gegewens bevat wat nou beskou word as versinsels van dr. Imanishi-Kari.”

Wetenskaplikes is ongelukkig as enigeen van buite hulle bedrywighede beoordeel. Hulle hou vol dat hulle, nie buitestaanders en sekerlik nie regeringsagentskappe nie, diegene moet wees wat hulle eie gevalle oordeel waar daar aantygings van wangedrag of bedrog is. Maar enigeen in die wetenskapswêreld wat dit sou waag om vooraanstaande lede in twyfel te trek, kan sleg vaar, soos Margot O’Toole.

Die nadraai vir die hoofkarakters in hierdie verhaal staaf die punt. Dr. Baltimore het die rektor van die Rockefeller-universiteit geword. Dr. Imanishi-Kari het die hoë betrekking wat sy by die Tufts-universiteit wou hê, gekry. Dr. O’Toole het haar werk in die laboratorium by Tufts verloor, sy het haar huis verloor en sy kon jare lank geen ander wetenskaplike aanstelling kry nie. Sy moes ’n werk as telefoniste by haar broer se vervoermaatskappy aanvaar.

Dr. Baltimore het volgens berig aan mnr. Dingell, die voorsitter van die subkomitee, gesê dat geskille soos die Imanishi-Kari-geval deel is van “’n voortdurende proses van selfsuiwering” in die wetenskap. In hierdie geval het die “suiwering” beteken dat daar van die eerlike wetenskaplike dr. Margot O’Toole ontslae geraak is sodat sy nie eers in die wetenskap kon werk nie. Maar gelukkig was hierdie “suiwering” in haar geval nie permanent nie. Vier jaar later, in 1990, na haar regverdiging, het sy ’n werk in die wetenskap gekry by die Genetics Institute, ’n maatskappy wat deur een van haar min ondersteuners, Mark Ptashne van Harvard, gestig is.

Die meeste mense stem saam dat sulke kullery nie in die wetenskap hoort nie, en tog was dit juis ’n wetenskapstydskrif wat berig het dat sulke kullery “algemeen onder die Amerikaanse mediese navorsers” is.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 Januarie 1990, “Bedrog in die wetenskap”, bladsye 2-15.

[Lokteks op bladsy 13]

“Smeergeld, bedrog en wangedrag is algemeen onder Amerikaanse mediese navorsers”

[Lokteks op bladsy 13]

R22 000 000 000 van die belastingbetaler se geld gaan elke jaar na wetenskaplikes en hulle institute vir navorsingsprojekte

[Lokteks op bladsy 14]

’n Onderkomitee van die Kongres stel belang in hoe die publiek se geld aangewend word

[Lokteks op bladsy 15]

Die skrywers het bevordering gekry, maar die een wat alarm gemaak het, het haar werk verloor

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel