’n Leser se reaksie op ’n artikel in Ontwaak!
Hoe ons DOWN SE SINDROOM verwerk het
DIE Ontwaak! van 8 Augustus 1989 het ’n artikel bevat oor ’n dogtertjie genaamd Suzy wat met Down se sindroom gebore is. Die artikel het die groot liefde, sorg en geduld beskryf waarmee Suzy se ouers, suster en broer haar behandel het. In reaksie op daardie artikel het ’n vrou in Spokane, Washington, die volgende brief aan Ontwaak! geskryf:
“Nadat ek die Ontwaak! van 8 Augustus gelees het, moes ek net aan julle skryf. Ek wil julle bedank omdat julle die artikel oor klein Suzy gedruk het. Ek voel aardig, want ek is ’n ‘ouer’ vir my ma wat soos ’n baba versorg moet word, en gevolglik het ek baie na aan Suzy se ma gevoel. Ek wil graag hê dat julle almal moet weet van nog een van die talle dinge waarmee party van ons vandag te kampe het en hoe die werk wat julle doen om ons dit die hoof te help bied ons bemoedig.
“Ek was so diep geroer deur klein Suzy met Down se sindroom dat ek gehuil het. Ek het baie empatie vir sulke kinders en ouers gehad, aangesien ek heelparty geken het. Terwyl ek gelees het hoe moeilik Suzy se lewe was, het ek oor my ma gehuil. Ek is self ’n bejaarde vrou van oor die sewentig, en ek het gesien hoe my ma se lewe nou sy sirkel voltooi.
“My vroegste herinneringe aan haar is van ’n mooi, liefdevolle, beminde en lewenslustige jong persoon. Sy is nou in die negentig. Ek het gesien hoe sy na ’n reeks beroertes fisies agteruitgegaan het tot ’n jammerlik verwronge liggaam, hoewel haar lewensfunksies byna normaal is.
“Haar eerste noemenswaardige beroerte het veroorsaak dat sy nie haar tjekboek kon balanseer nie, nie inkopielyste kon maak nie, ens. Hierdie toestand het binne ’n jaar so versleg dat sy nie eers ’n versnapering of ’n klein maaltyd kon opwarm nie.
“Een en ’n half jaar later het nog ’n groot beroerte haar beweeglikheid, behendigheid en spraak weggeneem en het sy inkontinent geraak. Sy het die ‘baba’-stadium van die lewe ’n tweede keer bereik, en ek het haar soos ’n baba beskou. Sy moet gevoer word, soos ’n baba doeke dra en uit die bed in haar rolstoel getel word.
“Moeder kon nie met ons praat om vir ons te sê wat sy gedink het, gevoel het of wat sy wou hê nie. Maar ons het geleer om met ons oë, glimlagge en trane te kommunikeer! Haar gesig het letterlik opgehelder wanneer ek haar iets interessants vertel het wat ek by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies waarheen ek gaan, gehoor het, of wanneer party van die mense daar vir haar ’n boodskap gestuur het, of as ek miskien iets van besondere belang in Ontwaak! of Die Wagtoring gelees het.
“Wanneer ek weggegaan het, het haar oë gewoonlik vol trane geskiet en het sy my liggies op my wang tot siens gesoen. Maar wanneer ek na ’n besoek gesê het: ‘Mamma, dis sewe-uur en ek moet na die vergadering by die Koninkryksaal gaan’, het sy geglimlag en haar kop instemmend geknik en my hard gesoen. Sy het my dan met haar oë tot by die deur gevolg en glimlaggend met haar vingers ‘totsiens gesê’, soos een van haar agterkleindogters haar geleer het.
“Sy is kort voor Allerheiligeaand in die herstellingsoord opgeneem. Toe ek haar op ’n dag besoek het, het ek haar in die ontspanningskamer aangetref. Daar was vier rolstoele by elke lang tafel, en al die materiaal wat nodig was om artikels vir Allerheiligeaand te maak het oral op die tafels gelê. Mamma het daar gesit met ’n gesig soos dié van ’n vierjarige kind, wat sonder woorde gesê het: ‘Ek wil dit nie doen nie, en ek sal dit nie doen nie!’
“Ek het van agter tot by haar geloop en gesê: ‘Hallo, Mamma’, en terwyl ek afgebuk en haar op haar wang gesoen het, het ek gegiggel (om my trane te verberg) en in haar oor gefluister: ‘Hulle het jou hierheen gebring om goed vir Allerheiligeaand te maak.’ Sy het haar kop gedraai en met die ondeundste vonkeling in haar oë na my opgekyk en geglimlag. Toe het sy haar hele gesig minagtend vertrek! En so was dit met elke vakansiedag. Sy het nie aan daardie vakansiedae met hulle heidense agtergronde geglo nie maar het, ten spyte van haar beperkings, by haar opvattinge gebly.
“Agt maande gelede het sy nog ’n groot beroerte gehad, wat haar in ’n koma laat gaan en nierversaking veroorsaak het. Maar al die ander lewensfunksies was normaal. Haar dokter kon nie haar ommekeer na vyf dae glo nie. Aanvanklik het sy nie een van ons herken nie. Maar nou reageer sy soms wanneer ons haar soen. Ons voel hoe sy haar lippe liggies teen ons wange druk.
“My ma was die afgelope agt maande soos ’n pasgebore baba, ’n mens wat lewe en asemhaal maar nie op haar eie kan voortbestaan nie. ’n Baba sal soms weier om te eet, maar sal ’n halfuur later deur sy gehuil aandui dat hy honger is of aandag nodig het. Moeder het geen manier om vir ons te sê wat sy wil hê of nodig het nie. Die verpleegsters en familielede moes leer waarom sy kos soms ’n geruime tyd in haar mond hou sonder om te sluk. Met die dokter se hulp het ons uitgevind dat dit veroorsaak kan word wanneer sy wag om ’n wind op te breek, omdat haar spiere soms vanweë haar gedeeltelike verlamming nie werk nie. As sy haastig is en sluk voordat sy gereed is, sal sy verstik.
“As ’n mens ’n baba (iemand soos Suzy of my ma) goed wil versorg, moet jy jouself oplei. Hoe gelukkig was Suzy tog om so ’n liefdevolle gesin te hê! Ons is bly dat ons deur ouers wat ons groot vreugde verskaf het, grootgemaak is. Toe ons grootgeword het, het Mamma vir ons artikels uit Wagtoringpublikasies gelees oor gesondheidswenke en ook baie ander onderwerpe van gesinsbelang. Sy het my aangemoedig om sulke inligting vir opstelle en toesprake op skool te gebruik.
“Ons, die kinders, is dus nou die ouer, en Moeder is die kind. Waarom het ek gehuil toe ek van Suzy gelees het? Waarom het klein Suzy my aan my bejaarde ma laat dink? Ek dink dit is omdat ek na aan haar ma gevoel het. Ek het ook ’n skielike opwelling van innige liefde en waardering gevoel vir ons hemelse Vader, Jehovah God, wat deur sy liefde vir ons almal voorsiening gemaak het dat liewe klein Suzy en ons moeder eendag, in God se nuwe wêreld op ’n paradysaarde, volmaak sal wees, soos wat sy oorspronklike voorneme met die mens was.—Mattheüs 6:9, 10; Openbaring 21:4, 5.
“Ek hoop dat ons twee gesinne eendag, in die toekomstige Paradys, kan ontmoet en saam met ander soos ons kan wees. Miskien kan ons dan trane van geluk stort, saam met baie vreugde en gelag, terwyl ons ons Skepper, Jehovah, en sy Seun, Jesus Christus, ons Verlosser, dank en loof.”—Bygedra.