Iets wat ons aan ander verskuldig is
1 Die apostel Paulus het gevoel dat hy onder verpligting is om vir ander te preek. Hy het geweet dat Jehovah dit vir alle soorte mense moontlik gemaak het om deur middel van die kosbare bloed van Sy Seun gered te word (1 Tim. 2:3-6). Daarom het Paulus gesê: “Teenoor Grieke sowel as Barbare, teenoor wyses sowel as onverstandiges is ek ’n skuldenaar.” Hy het ywerig en onvermoeid gewerk om sy skuld teenoor sy medemens te betaal deur die goeie nuus aan hulle bekend te maak.—Rom. 1:14, 15.
2 Soos Paulus, probeer Christene vandag om die goeie nuus by elke geleentheid aan hulle medemens bekend te maak. Omdat die “groot verdrukking” vinnig nader kom, is ons soektog na opregtes van hart dringend. Mag opregte liefde vir mense ons beweeg om hierdie lewensreddende werk met ywer te doen.—Matt. 24:21; Eseg. 33:8.
3 Hoe ons ons skuld betaal: Die vernaamste manier waarop ons mense bereik, is deur van huis tot huis te gaan. Deur akkurate verslae te hou en op verskillende tye terug te gaan, sal ons meer mense kan bereik in gebiede waar baie mense nie tuis is nie (1 Kor. 10:33). Ons kan mense ook bereik deur in sakegebied, op straat, in parke, in parkeerterreine en oor die telefoon te getuig. Ons kan ons afvra: ‘Doen ek my bes om aan alle aspekte van die predikingswerk deel te neem om die boodskap van die lewe aan ander te verkondig?’—Matt. 10:11.
4 Een pionier het gevoel dat sy ’n groot verantwoordelikheid het om al die mense in haar gebied te bereik. By een huis was die blindings altyd toe, en niemand was ooit tuis nie. Maar eendag toe die pionier nie in velddiens uit was nie, het sy ’n motor voor die huis gesien. Sy wou nie die geleentheid laat verbygaan nie en het die deurklokkie gelui. ’n Man het die deur oopgemaak, en die aanvanklike gesprek het tot etlike herbesoeke deur hierdie suster en haar man gelei. Uiteindelik het die man ’n Bybelstudie aanvaar, en hy is nou ’n gedoopte broer. Hy is dankbaar dat hierdie suster gevoel het dat sy dit aan ander verskuldig is om vir hulle te getuig.
5 Die tyd raak min; daarom is dit juis nou die tyd om ons skuld aan ons medemens te betaal deur ons kragtig in te span in die predikingswerk.—2 Kor. 6:1, 2.