Die Wes-Afrikaanse wewer aan die werk
Deur Ontwaak!-medewerker in Liberië
HOE verkwikkend is dit tog om in hierdie hipermoderne 20ste eeu met sy gerekenariseerde massaproduksiefabrieke ’n ambagsman dop te hou wat pragtige werk lewer amper net soos in Bybelse tye.
Toe ek op ’n dag by Mustapha gaan kuier het, het ek hom agter sy weeftoestel aangetref. Weefwerk was vroeër ’n geheime kuns, en volgens plaaslike tradisie kon niemand derhalwe agter ’n wewer staan en kyk hoe hy werk nie. Mustapha het verduidelik dat wewers in die Mende-stam voorheen almal tot dieselfde familie in ’n hoofman se gebied behoort het. Selfs toe het net ’n paar mense geweet hoe om te weef, en net opperhoofde kon ’n wewer se dienste bekostig.
Wanneer ’n opperhoof ’n wewer in diens geneem het, is ’n plek in die bos daar naby skoongemaak en ’n heining van palmtakke gebou om die weefgebied af te kamp. Almal het geglo dat ’n gees die wewer met die ingewikkelde ontwerp van die doek gehelp het, en die omheining het dus verhinder dat enigiemand daar ingaan sonder dat die wewer daarvan bewus is.
Die opperhoof het die wewer gebruik om ’n gbalee te maak, wat uit verskeie stroke bestaan het en aanmekaar gewerk is om ’n doek effens groter as ’n deken te maak. Die wewer en sy gesin, saam met ’n handlanger, het in die hoofman se kraal gaan woon, waar hulle ’n hut gegee en daagliks van voedsel voorsien is. Die wewer het hom nie uitermate gehaas nie, en dit kon ’n jaar duur om twee gbalees klaar te maak. Wanneer ’n staatsamptenaar of ’n ander hoogwaardigheidsbekleër daar besoek afgelê het, is die gbalee as geskenk aan hom gegee. Die wewer is nie met geld vir sy werk betaal nie maar is moontlik ’n bees of ’n maagd gegee.
Maar hedendaagse wewers, soos Mustapha, werk op ’n handelsgrondslag. Mustapha het selfs ’n kontrak aangegaan om die Organisasie vir Afrika-eenheid se konferensiesaal in Monrovia te stoffeer. Met die ontwikkeling van die toeristebedryf is daar ’n toenemende vraag na rokke, hemde, dekens, tafelmatjies en ander geweefde ware.
Bron van die grondstowwe
Ek het uitgevind dat al die grondstowwe plaaslik verkrygbaar is. Die garings word van katoen gemaak. Daar is basies twee soorte: laag groeiende (wit) en hoog groeiende (bruin) katoen. Die katoen word dan volgens kleur geskei—bruin, ligbruin en wit—en in kinjas (opgaarmandjies) gesit.
Ek is genooi om by ’n ou vrou, Siah, te gaan kuier sodat ek kon sien hoe die katoen vir die wewer voorberei word. Sy was baie trots daarop om haar vaardighede te wys.
Die eerste stap is om die sade uit die katoen te verwyder. Daarvoor word die katoen op ’n houtblok gesit, en ’n ronde stok of stuk yster word daaroor gerol. So word die sade uit die katoen gepers. Daarna word die stukke ontpitte vesel in mandjies gesit waar dit wag vir die volgende stap, die kaardproses.
Dit is fassinerend om hierdie proses dop te hou. Katoenvesel word oor die snaar van ’n boog gevou, wat herhaaldelik gepluk word om die katoen los te maak. Die katoen word eindelik pluiserig. Dan word stukke so groot soos die handpalm afgetrek, platgedruk en in los lae in mandjies gesit, gereed om gespin te word.
Die volgende proses, die spinnery, word hoofsaaklik deur vroue gedoen. Dit herinner aan hoe die Bybel ’n bekwame vrou prys: “Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas” (Spreuke 31:19). Dit is ’n raak beskrywing van die metode wat vandag nog gebruik word, soos Siah gewys het.
Eers draai sy die gekaarde katoen lossies om ’n gladde stok, die spinstok. Terwyl sy die spinstok met haar linkerhand omhoog hou, trek sy die vesels met haar regterhand na onder en draai sy dit terselfdertyd om die growwe garing te vorm. Die garing word aan ’n spoel vasgemaak en die vinnig draaiende spoel draai dit verder.
Aangesien die katoen eintlik wit of bruin is, het ek gewonder hoe die helder kleure verkry word. Wel, ’n helderrooi kleurstof word verkry deur die bas van die kamhoutboom te kook. Geel kleurstof is van die kurkuma afkomstig. ’n Wortel word op dieselfde manier verwerk om ’n bruin kleurstof te maak. Houtas word bygevoeg om dit kleurvas te maak.
’n Helderblou word van die sagte jong blare van die indigoplant verkry. Die blare word met die voete op ’n mat fyngetrap en dan drie of vier dae lank in die son gedroog. Daarna word dit lossies in opgaarmandjies gepak en onder die huis se dakrand opgehang. Die kleurstowwe word later uit hierdie houers gehaal en met water gemeng. Dit word dan in groot, bedekte kleipotte gehou wat in die binnehof of agter die huis staan of in die grond gesink is. Die gare word ’n dag lank op ’n keer in die kleursel gedompel, en verskeie kleurskakerings word verkry na gelang van die aantal kere wat dit ingedompel word.
Die weefkuns word al eeue lank gebruik om ’n verskeidenheid artikels te vervaardig wat ons genot in die lewe vergroot. Dit was vir my werklik boeiend om ’n bietjie eerstehandse kennis oor die proses op te doen.