Kente—Materiaal vir konings
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GHANA
DIE wewer se hande beweeg vinnig heen en weer oor die materiaal. Deur die geskree van katrolle en die gekraak van hefbome heen konsentreer die vakman op die kleurvolle stuk materiaal voor horn. Hy hou toue tussen sy tone vas; hierdie toue beheer die hewels—kamme wat op en af beweeg en die vertikale skeringdrade skei en lei wat ses meter voor die weefstoel uitstrek.a Behendig weef sy vingers kleurvolle sydrade horisontaal deur die geskeide skeringdrade om ’n geweefde patroon te vorm wat dan stewig vasgeslaan word om die eindproduk te vorm.
Die geweefde materiaal is slegs tien sentimeter breed. Maar dit is vol pragtige kleure en ingewikkelde patrone. Die vakman glimlag tevrede wanneer hy sy meesterstuk bestudeer—egte kente.
’n Ou kuns
Bekwame vakmanne beoefen die weefkuns al duisende jare lank. Weefgare wat van vlas, katoen en sy gespin is, het nog altyd die regte weefstof voorsien. Basiese kleure is van wortels en plante se blare gemaak, wat die wewers in staat gestel het om eenvoudige ontwerpe en patrone in hulle werk te gebruik.
Wewers onder die nomadiese volke van Afrika het klein weefstoele ontwerp wat maklik van plek tot plek vervoer kon word. Dit is ’n strookweefstoel genoem, en daarmee kon hulle ’n strook materiaal van net 7,5 tot 11,5 sentimeter breed weef. Hierdie lang stroke materiaal is dan aan die kante aanmekaargewerk, wat ’n groter stuk materiaal gevorm het en as ’n kledingstuk gedra kon word. Draagbare strookweefstoele is op die rûe van lasdiere gepak en deur woestyne, riviere en oor hoë bergreekse vervoer. Die strookweefstoel, wat langs eertydse handelsroetes vervoer is, het ’n groot invloed gehad op die lewe van dié wat dit gebruik het.
Die aanvraag na materiaal
Konings en hoofmanne van Wes-Afrika het eeue lank beheer gehad oor die mineraalryke land wat die Europese ontdekkers die Goudkusb genoem het. Groot hoeveelhede goud is hier ontgin, wat die heersende Asjanti-konings en hulle koninklike huishouding verryk het. Hierdie konings en hulle vername hoofmanne het met swaar goue juwele en in kledingstukke van spesiaal geweefde materiaal hulle rykdom, mag en gesag voor hulle onderdane vertoon. Die unieke materiaal wat hierdie heersers gedra het, het begin bekend staan as kente, ’n woord wat dalk daarop sinspeel dat die materiaal op dieselfde manier as ’n mandjie geweef is. Ander stamme in die Goudkus het ook materiaal in stroke geweef, maar vir die Asjanti-konings het die kente-materiaal aansien en koninklike status verteenwoordig.
Strookwewers van die Goudkus het katoen gebruik wat plaaslik gespin is. Net blougekleurde weefgare was beskikbaar. Hierdie blou gare is met dowwe wit katoenmateriaal verweef om Iyne, blokke en eenvoudige geometriese patrone te maak, wat die gewone mense kon dra.
Die koninklike kente, wat fyner geweef is, kon net deur sekere mense geweef word. Groepe bekwame wewers is gevorm om materiaal van hoë gehalte vir die koninklikes te weef. Die weefproses is streng geheim gehou. Alle ander wewers is verbied om die weefpatrone en -ontwerpe te gebruik wat uitsluitlik vir die koning en sy koninklike hof bedoel was. Die koning het honderde van hierdie stukke materiaal gehad, elkeen met sy eie unieke ontwerp en patroon. Volgens tradisie het hy nooit dieselfde kente meer as een keer in die openbaar gedra nie.
Kleur van groot belang
Gedurende die 16de eeu het ’n ander soort materiaal in die Goudkus gewild begin raak. Hierdie nuwe soort materiaal is nie op die strookweefstoele van Afrika geweef nie, maar is in verafgeleë lande gemaak en hierheen gebring deur die eerste Europese seevaarders wat op soek was na ivoor, goud en slawe. Die ingevoerde materiaal het uit helder, pragtige kleure bestaan. Hierdie ingevoerde materiaal, wat met ’n verskeidenheid kleure soos rooi, geel en groen geweef is, het gou ’n waardevolle handelsartikel geword. Min mense was ryk genoeg om sulke duur materiaal by die Europese handelaars te koop. Net die ryk Asjanti wat in beheer was van die hoeveelheid goud, ivoor en slawe wat op die seilskepe langs die kaai gelaai is, het die middele gehad om dit te bekom. Maar dit was nie soseer die geweefde materiaal wat die Asjanti-koning en sy hoofmanne in die hande wou kry nie.
Sodra hulle die materiaal gehad het, het wewers die gesogte gekleurde weefgare versigtig losgetorring en uitgetrek en die materiaal wat oorgebly het, weggegooi. Hierdie waardevolle weefgare is dan weer op die strookweefstoele van die koninklike wewers geweef. Namate die kleure van die materiale meer geword het, het die vakmanne se inisiatief en vindingrykheid ook toegeneem sodat hulle, soos nog nooit tevore nie, aan hulle skeppingsvermoë en tegniese vaardighede uitdrukking kon gee. Bekwame wewers van ander stamme is deur die Asjanti-konings in diens geneem, wat gelei het tot die vervaardiging van kente-materiaal van onvergelyklike gehalte.
Geometriese patrone wat na visse, voëls, vrugte, blare, sonsondergange, reënboë en ander natuurwonders gelyk het, het ’n weefkuns ryk aan besonderhede en simboliese betekenis laat ontstaan. Materiaal wat met goue weefgare verweef is, het rykdom verteenwoordig, groen het die gedagte van varsheid en nuutheid oorgedra, swart het hartseer gesimboliseer, rooi het woede uitgebeeld en silwer het reinheid en vreugde voorgestel.
Wewers het maande lank geduldig en tydsaam aan een stuk materiaal gewerk omdat hulle geweet het dat hulle vaardigheid en skeppingsvermoë aan die eindproduk gemeet sou word. Daar was nie ’n groot aanvraag na sulke voortreflike vakmanskap nie, aangesien net ’n paar dit kon bekostig om skaars en duur kente-materiaal te koop.
Hedendaagse kente
Met verloop van tyd het die invloed van konings en magtige hoofmanne begin afneem. Dit was nie meer nodig om ’n onderskeid te tref tussen die koninklike familie en die gewone mense deur middel van ’n stuk materiaal nie. Die aanvraag na hierdie pragtige materiaal het begin toeneem, namate dit nie meer vir koninklike doeleindes gebruik is nie. Noudat die aanvraag groter was, het die gehalte, vakmanskap en prys van kente-materiaal begin daal, omdat mense dit vinniger begin weef het.
Vandag word die meeste kente met sintetiese gare geweef en dan op groot skaal gebruik om sakke, dasse, gordels, hoede en klere te maak. Min wewers stel daarin belang om kente-materiaal deur ’n arbeidsintensiewe, tydrowende metode soos in die verlede te weef. Ou kente van voortreflike gehalte word nou hoog op prys gestel en van geslag tot geslag in families oorgedra. Die dae is inderdaad verby toe kente van ongeëwenaarde gehalte en uitstekende vakmanskap op eenvoudige strookweefstoele geweef en as koninklike materiaal beskou is.
[Voetnote]
a Skeringdrade—die drade wat in die lengte van die weefsel loop. Inslagdrade—die drade wat dwars oor die skeringdrade loop.
b Vandag bekend as Ghana.
[Prente op bladsy 16]
Strookweefstoele is lig en kan maklik gedra word
[Prent op bladsy 17]
Die wewer gebruik sy voete om die hewels, of kamme, te beheer