Die kleurproses—destyds en vandag
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
HET jy al ooit opgelet watter uitwerking kleur op ons emosies het? Dit is nie verbasend dat mense deur die geskiedenis heen verkies het om materiale te kleur nie.
Wanneer ons klere en meubels koop, of die materiale om dit te maak, wil ons nie hê dat die kleure moet uitwas of verbleik nie. Ons het die VKK-kleurmuseum in Bradford, in die noorde van Engeland, besoek om te leer watter prosesse gebruik word om materiale kleurvas te maak en hoe tradisionele kleurtegnieke ontwikkel het.a Daar het ons voorbeelde gesien van party van die ongewone dinge wat al oor die eeue heen as kleurstowwe gebruik is.
Kleurstowwe wat in vroeë eeue gebruik is
Tot die tweede helfte van die 19de eeu is die stowwe wat gebruik is om materiaal te kleur, alleenlik uit natuurlike bronne verkry, soos plante, insekte en skulpdiere. Byvoorbeeld, ’n blou kleurstof is van die wedeplant verkry (1), ’n geel kleurstof van die resedaplant (2) en ’n rooi kleurstof van die krapwortel. ’n Swart kleurstof is van die blouhoutboom verkry en ’n pers kleurstof van korsmosse wat argiel genoem word. ’n Duur pers kleurstof, wat as Tiriese, of keiserlike, purper bekend gestaan het, is van die purperslak verkry (3). Hierdie kleurstof is gebruik vir kledingstukke wat deur die Romeinse keisers gedra is.
Lank voordat daar Romeinse keisers was, het die vooraanstaandes en rykes klere gedra wat met natuurlike stowwe gekleur is (Ester 8:15). Byvoorbeeld, rooi kleurstowwe is van die vroulike kermesskildluis vervaardig (4). Dit was blykbaar die bron van die karmosynrooi kleurstof wat gebruik is vir die versierings van eertydse Israel se tabernakel, sowel as die kledingstukke van Israel se hoëpriester.—Eksodus 28:5; 36:8.
Die kleurproses
Uitstallings in die Kleurmuseum toon dat die meeste kleurprosesse baie ingewikkelder is as om garing of materiaal eenvoudig in ’n kleuroplossing te doop. In baie gevalle behels een stap in die kleurproses die gebruik van ’n beitsmiddel, wat aan die vesel sowel as die kleurstof vassit. Wanneer dit gebruik word, kleef die kleurstof aan die vesel vas en is dit nie meer wateroplosbaar nie. Baie chemikalieë word as beitsmiddels gebruik, waarvan sommige gevaarlik is om te hanteer.
Sommige kleurprosesse veroorsaak onaangename reuke. Een hiervan is die lang en ingewikkelde proses wat gebruik word om turksrooi te vervaardig. Hierdie proses is op katoen gebruik en het dit ’n helderrooi kleur gegee wat nie verkleur is deur lig of wanneer die materiaal gewas of gebleik is nie. Op ’n tyd het die proses 38 verskillende stappe behels en tot vier maande geneem om te voltooi! Van die mooiste lappe wat by die museum ten toon gestel word, is dié wat met turksrooi gekleur is (5).
Die koms van sintetiese kleurstowwe
Die uitvinding van die eerste kleurstof wat nie uit natuurlike bronne verkry is nie, word toegeskryf aan William Henry Perkin in 1856. ’n Uitstalling verduidelik Perkin se ontdekking van mauve, ’n helderpers kleurstof. Teen die einde van die 19de eeu is baie ander sintetiese kleurstowwe in helder kleure ontwikkel. Vandag word meer as 8 000 soorte sintetiese kleurstowwe vervaardig (6). Die enigste natuurlike produkte wat nog gereeld gebruik word, is blouhout en cochenille.
Die Kleur- en Tekstielgalery van die Kleurmuseum verduidelik die spesiale prosesse wat vandag nodig is om sintetiese materiale, soos rayon, te kleur. Viskoserayon, die gewildste soort rayon wat op die oomblik gebruik word, is in 1905 vir die eerste keer kommersieel vervaardig. Aangesien viskoserayon chemies soortgelyk is aan katoen, was die meeste van die kleurstowwe wat destyds beskikbaar was, geskik om daarop gebruik te word. Maar etlike nuwe soorte kleurstowwe moes ontwikkel word vir moderner sintetiese materiale soos asetaatrayon, poliëster, nylon en akrielvesel.
Die uitdaging om kleurvastheid te verkry
Wanneer ons klere of materiale koop, wil ons hê dit moet kleurvas wees. Baie verbleik nietemin in die sonlig of wanneer dit herhaaldelik gewas word, veral as wasmiddels gebruik word. Soms kan materiale deur sweet gevlek word, of dit kan verkleur wanneer dit saam met ander klere gewas word. Kleurvastheid tydens die wasproses hang af van hoe sterk die kleurstofmolekules aan die vesels vaskleef. Herhaalde wassery en die uitwerking van wasmiddels wat gemaak is om vlekke te verwyder, lig die kleurstof van die vesels af en veroorsaak dat dit verbleik. Kleurstofvervaardigers toets hulle produkte om te sien of die uitwerking van lig, wassery, wasmiddels en sweet binne aanvaarbare perke is.
Ons toer het ons meer bewus gemaak van die soorte materiaal waarvan ons klere gemaak is. Maar ons is veral ingelig omtrent die vindingryke prosesse wat al gebruik is sodat ons klere hulle kleur behou ondanks die feit dat dit dikwels gewas word.
[Voetnoot]
a Die VKK—Vereniging van Kleurders en Kleurmengers—bevorder die wetenskap van die kleurproses.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Foto’s 1-4: Courtesy of the Colour Museum, Bradford (www.colour-experience.org)
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Foto 5: Courtesy of the Colour Museum, Bradford (www.colour-experience.org); Foto 6: Clariant International Ltd., Switzerland