Die Katolieke Kerk in Spanje—die mag en die privilegie
“Die Here het aan Petrus die leiding van die Kerk sowel as dié van die hele wêreld toevertrou.”—Pous Innocentius III.
TOE Innocentius III daardie woorde in die vroeë 13de eeu geskryf het, was die middeleeuse Katolieke Kerk op die toppunt van sy mag. Maar die weg na wêreldlike mag is eerder deur politieke as geestelike alliansies gebaan. Dit was veral in Spanje die geval.
Die Spaanse kerk het mag en privilegie aangegryp deur met die Staat saam te span.
Godsdienseenheid ’n politieke instrument
In 1479, na eeue van heerskappy deur verdeelde en twisgierige koninkryke, is feitlik die hele Spanje onder die heerskappy van Ferdinand en Isabella verenig. Maar hoe sou die nuutgevormde nasie in gedagte en voorneme verenig word? Ferdinand het die hulp van die kerk ingeroep. In 1478 is die Inkwisisie met die steun van die pous ingestel. Die Inkwisisie, wat deur die koning beheer en deur die kerk toegepas is, was een van die kragtigste wapens wat ooit bedink is om godsdiens- en politieke verdeeldheid te onderdruk. Aangesien alle gedoopte Spaanse Katolieke vinnig aan die juk daarvan onderwerp is, was die enigste oorblywende struikelblok in die weg van eenheid die etlike miljoene ongedooptes—die Jode en die More.
In 1492 het Ferdinand en Isabella, onder dwang van inkwisiteur-generaal Torquemada, gelas dat alle ongedoopte Jode uit Spanje gesit word. Tien jaar later is alle More wat geweier het om Katolieke te word ook uitgesit. Kloosterbroeder Bleda het die gedwonge uittog van die Moslems as “die glorierykste gebeurtenis in Spanje sedert die tyd van die Apostels” beskryf. Hy het bygevoeg: “Nou is godsdienseenheid verseker, en ’n tydperk van voorspoed is gewis voor die deur.” La España Católica (Spanje, die Katoliek) het ’n werklikheid geword, en ter erkenning van hul dienste is Isabella en Ferdinand deur pous Alexander VI as “die Katolieke Heersers” benoem.
Omdat godsdienseenheid op die tuisfront bereik is, het die Spaanse kerk sy horisonne uitgebrei. Columbus het pas tevore onder beskerming van die Spaanse koningshuis nuwe lande en volke in die Amerikas ontdek. Dominikaanse en Fransciskaanse monnike het die Spaanse veroweraars vergesel en na die Nuwe Wêreld gevaar, vasbeslote om die heidene in die skoot van die kerk in te bring.
Cortés, die veroweraar van Mexiko, is meegedeel dat die vernaamste doelwit van sy ekspedisie diens aan God en die verspreiding van die Christelike geloof was. Hy het egter prontuit erken: “Ek het vir die goud gekom.” Miskien het die meeste veroweraars dubbele motiewe gehad, soortgelyk aan dié van een van hulle wat gesê het: “Ons het hierheen gekom om God te dien en ook om ryk te word.”
Voordat die Spaanse veroweraars daartoe oorgegaan het om ’n sekere gebied te verower, het hulle ’n dokument met die titel Los requisitos voorgelees—binne of buite hoorafstand van die inboorlinge—waarvolgens daar van die inboorlinge vereis is om te erken dat die kerk die wêreld regeer en dat die koning van Spanje sy verteenwoordiger is. As hulle geweier het om dit te erken, was dit genoeg rede om die militêre kolonisasie as ’n “regverdige oorlog” te beskou.
Miljoene inboorlinge is gedoop, talle onmiddellik nadat hulle verower is. Daarna het priesters en monnike met die Spaanse monarge saamgewerk om die kolonies te bestuur. Soos kerkgeskiedskrywer Paul Johnson opgemerk het: “Die Katolieke Kerk was ’n departement van die Spaanse regering, en dit was veral in die Amerikas die geval. . . . As beloning het die Kerk beskerming, privilegie en die kroon se onwrikbare toegewydheid aan die ortodokse geloof vereis.”
Teen die einde van die 16de eeu het die kerk in Spanje dus die magtigste staatskerk in die Christendom geword. Dit het absolute godsdiensbeheer dwarsdeur Spanje en ’n groot deel van die Nuwe Wêreld uitgeoefen. Maar die sonderlinge mag en privilegie wat dit geniet het, het uiteraard tot erger misbruike gelei as wat in ander lande die geval was.
[Lokteks op bladsy 5]
“Ons het hierheen gekom om God te dien en ook om ryk te word”