Die Katolieke Kerk in Spanje—die misbruik van mag
“Hoe groter die mag, hoe gevaarliker die misbruik.”—Edmund Burke.
DIE man wat in 16de-eeuse Europa die grootste mag uitgeoefen het, was Filips II, koning van Katolieke Spanje. Sy uitgestrekte ryk, “waaroor die son nooit gesak het nie”, het van Mexiko tot die Filippyne, van die Nederlande tot die Kaap die Goeie Hoop gestrek.
Maar sy ambisies was godsdienstig eerder as polities—om Katolisisme in Europa te verdedig en om die geloof dwarsdeur sy ryk te versprei. Hy is deur priesters grootgemaak en was derhalwe daarvan oortuig dat die Katolieke Kerk die fundamentele bolwerk van sy monargie en van die beskawing self is. Hy was bowenal ’n kind van die kerk.
Om die saak van Katolisisme te bevorder, het hy sy seën aan die wrede metodes van die Inkwisisie gegee; hy het teen Protestante in die Nederlande en teen Turkse “ongelowiges” op die Middellandse See geveg; hy het teësinnig met Maria Tudor, ’n sieklike Britse koningin, getrou in ’n vergeefse poging om haar ’n Katolieke erfgenaam te gee; hy het later die “onoorwinlike” maar gedoemde Armada gestuur om Engeland uit die Protestantse skoot te ruk; en met sy dood het hy sy land bankrot gelaat—ondanks die ontsaglike instroming van goud uit die kolonies.
Die Inkwisisie—drie eeue van onderdrukking
Naas die koning was die inkwisiteur-generaal die magtigste man in Spanje. Sy plig was om Spaanse Katolisisme suiwer en ortodoks te hou. Die onortodokses het geswyg oor hulle menings of uit die land gevlug, mits die agente van die Inkwisisie hulle nie eerste gevind het nie. Almal, behalwe miskien die koning, was teikens vir die mag en misbruike van die Inkwisisie—nie eens die Katolieke hiërargie was bo verdenking nie.
Die aartsbiskop van Toledo is vir sewe jaar op grond van die flouste bewyse in die tronk opgesluit, ondanks herhaalde protes deur die pous. Niemand in Spanje het dit gewaag om vir hom in die bres te tree nie. Daar is geredeneer dat ‘dit beter is as ’n onskuldige man veroordeel word as dat die Inkwisisie oneer aangedoen word’.
Die Spaanse veroweraars het die Inkwisisie in die Spaanse kolonies in die Amerikas voortgesit. In 1539, slegs ’n paar jaar na die verowering van Mexiko, is Asteekse stamhoof Ometochtzin op grond van sy eie tienjarige seuntjie se getuienis van afgodediens beskuldig. Ondanks sy pleidooi om gewetensvryheid is hy ter dood veroordeel. Soos in Spanje is die Bybel in ander tale in die kolonies verbied. Jerónimo López het in 1541 geskryf: “Dit is ’n uiters gevaarlike fout om wetenskap aan die Indiane te leer en nog gevaarliker om die Bybel . . . in hulle hande . . . te plaas. Ons het baie mense in onse Spanje so verloor.”
Die Inkwisisie het drie eeue lank streng gewaak oor Spanje en sy ryk totdat die geld en slagoffers uiteindelik opgeraak het. En sonder slagoffers, wat swaar boetes opgelê is, het die hele stelsel tot stilstand gekom.a
Winde van verandering
Met die beëindiging van die Inkwisisie het 19de-eeuse Spanje ’n toename in liberalisme en ’n geleidelike afname in Katolieke mag beleef. Kerkgrond—tot op daardie stadium het dit ’n derde van al die bewerkte grond uitgemaak—is deur opeenvolgende regerings gekonfiskeer. In die dertigerjare het sosialistiese eerste minister Azaña verklaar: “Spanje is nie meer Katoliek nie”, en sy regering het ooreenkomstig opgetree.
Die kerk is geheel en al van die Staat geskei, en subsidies aan die geestelikes is opgehef. Onderwys sou nie-godsdienstig wees, en selfs burgerlike huwelike en egskeiding is ingestel. Kardinaal Segura het hierdie ‘swaar slag’ betreur en vir die oorlewing van die nasie gevrees. Dit het gelyk asof Katolisisme onvermydelik tot agteruitgang gedoem was toe ’n militêre opstand in 1936 die nasie geskud het.
Burgeroorlog—’n wrede kruistog
Die leërgeneraals wat die coup aangevoer het, is deur politieke oorwegings aangevuur, maar die stryd het spoedig ’n godsdienstige wending geneem. Binne ’n paar weke na die opstand was die kerk, wie se mag reeds deur onlangse wetgewing ondermyn is, skielik die teiken van algemene en wrede aanvalle.b Duisende priesters en monnike is doodgemaak deur fanatieke teenstanders van die militêre coup wat die Spaanse kerk met ’n diktatorskap vereenselwig het. Kerke en kloosters is geplunder en afgebrand. In sommige dele van Spanje kon dit ’n man se doodvonnis beteken as hy net ’n priesterkleed gedra het. Dit was asof die monster van die Inkwisisie uit die graf teruggekeer het om sy eie aanstigters te verswelg.
In die aangesig van hierdie bedreiging het die Spaanse kerk hom weer eens tot die wêreldlike magte gewend—in hierdie geval die leër—om sy saak te verdedig en om die nasie tot Katolieke ortodoksie te herstel. Maar die burgeroorlog moes eers goedgepraat word as ’n “heilige oorlog”, ’n “kruistog” ter verdediging van die Christelike geloof.
Kardinaal Gomá, aartsbiskop van Toledo en primaat van Spanje, het geskryf: “Is die oorlog in Spanje ’n burgeroorlog? Nee. Dit is die geveg van diegene sonder God . . . teen die ware Spanje, teen die Katolieke godsdiens.” Hy het generaal Franco, die leier van die opstandelinge, die “instrument van God se planne op die aarde” genoem. Ander Spaanse biskoppe het soortgelyke menings uitgespreek.
Die waarheid was natuurlik nie so eenvoudig nie. Talle aan die Republikeinse kant van die stryd was ook opregte Katolieke, veral in die Baskiese streek, tradisioneel ’n Katolieke vesting. Katolieke het dus teen Katolieke geveg in die burgeroorlog—alles ter wille van Spaanse Katolisisme, volgens die biskoppe se definisie van die stryd.c
Toe Franco se leër die Baskiese provinsies uiteindelik verower het, het hulle 14 priesters tereggestel en baie ander in die tronk gesit. Franse filosoof Jacques Maritain wat geskryf het oor die gruweldade wat teen die Baskiese Katolieke gepleeg is, het gesê dat “die Heilige Oorlog die gelowiges wat dit nie dien nie met ’n groter wrewel haat as wat dit die ongelowiges haat”.
Na drie jaar van gruweldade en bloedvergieting aan albei kante het die burgeroorlog ten einde geloop, met ’n oorwinning vir Franco se leër. Tussen 600 000 en 800 000 Spanjaarde het gesterf, talle vanweë die wrede vergeldingsmaatreëls van die seëvierende leër.d Kardinaal Gomá was glad nie van stryk gebring nie en het in ’n herderlike brief verklaar: “Niemand kan ontken dat die mag waardeur hierdie oorlog beslis is God self, sy godsdiens, sy verordeninge, sy wet, sy bestaan en sy alomteenwoordige invloed in ons geskiedenis was nie.”
Van die instelling van die Inkwisisie in die 15de eeu tot die Spaanse Burgeroorlog (1936-39) was Kerk en Staat, met ’n paar uitsonderings, kop in een mus. Hulle wedersydse belange is ongetwyfeld deur hierdie onheilige alliansie bevorder. Nogtans het vyf eeue van wêreldlike mag—en die misbruike wat daarmee gepaard gegaan het—die kerk se geestelike gesag ernstig ondermyn, soos ons volgende artikel sal toon.
[Voetnote]
a Die laaste slagoffer was ’n ongelukkige onderwyser wat in 1826 in Valencia gehang is omdat hy die frase “Die Here sy dank” pleks van “Wees gegroet, Maria” in skoolgebede gebruik het.
b Volgens ’n kerkverslag in 1933 deur kanunnik Arboleya het die werkende stand die kerk beskou as ’n intrinsieke deel van die ryk en bevoorregte klas wat hulle uitgebuit het. Arboleya het verduidelik: “Die skares het van die Kerk gevlug omdat hulle gemeen het dat dit hulle grootste teenstander is.”
c Sommige Katolieke priesters het selfs in Franco se leër geveg. Die priester van Zafra, Extremadura, was veral berug weens sy wreedheid. Daarenteen het ’n paar priesters moedig protes aangeteken teen die vermoording van vermeende Republikeinse simpatiseerders—en ten minste een is hiervoor tereggestel. Kardinaal Vidal y Barraquer, wat probeer het om dwarsdeur die stryd onpartydig te bly, is deur Franco se regering verplig om tot sy dood in 1943 ’n banneling te bly.
d Dit is onmoontlik om juiste syfers te bekom, en syfers is benader.
[Venster op bladsy 8]
Die Spaanse Burgeroorlog—Die biskoppe se uitsprake
Kort na die oorlog uitgebreek het (1936), het kardinaal Gomá die stryd beskryf as ’n geveg tussen “Spanje en anti-Spanje, godsdiens en ateïsme, die Christelike beskawing en barbaarsheid”.
La Guerra de España, 1936-1939, bladsy 261.
Die biskop van Cartagena het gesê: “Geseënd is die kanonne as die Evangelie floreer in die bresse wat hulle oopskiet.”
La Guerra de España, 1936-1939, bladsye 264-5.
Op 1 Julie 1937 het die Spaanse biskoppe ’n gesamentlike brief uitgestuur waarin die Katolieke standpunt ten opsigte van die burgeroorlog uiteengesit is. Dit het onder andere die volgende gesê:
“Die kerk kon, ondanks sy vreedsame gees, . . . nie onverskillig staan teenoor die stryd nie. . . . In Spanje was daar geen ander manier om geregtigheid, vrede en die voordele wat daaruit spruit te herower as deur die Nasionale Beweging [Franco se Fascistiese leër] nie.”
“Ons meen dat die naam Nasionale Beweging gepas is, eerstens vanweë sy gees, wat die denke van die oorgrote meerderheid van die Spaanse volk weerspieël, en dit is die enigste hoop vir die hele nasie.”
Enciclopedia Espasa-Calpe, bylae 1936-1939, bladsye 1553-5.
Katolieke biskoppe in ander lande het hulle Spaanse kollegas sonder aarseling ondersteun. Kardinaal Verdier, aartsbiskop van Parys, het die burgeroorlog as “’n stryd tussen die Christelike beskawing en die . . . beskawing van ateïsme” beskryf, terwyl kardinaal Faulhaber van Duitsland alle Duitsers gemaan het om ’n gebed te doen ten behoewe van diegene wat “die heilige regte van God verdedig, sodat Hy diegene wat in [hierdie] heilige oorlog veg die oorwinning kan gee”.
Enciclopedia Espasa-Calpe, bylae 1936-1939, bladsye 1556-7.
[Prent op bladsy 7]
Vanuit hierdie klooster-paleiskompleks van San Lorenzo del Escorial het Filips II oor sy ryk, “waaroor die son nooit gesak het nie”, geheers.