Van jeugmisdadiger tot sendeling
Dit was 6 Augustus 1950. Ek het saam met my ma in die Yankee-stadion in New York-stad gestaan. Ons het ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon. Nie een van ons was op daardie tydstip ’n Getuie van Jehovah nie. Ek het in verbasing na die mensemassa gekyk, meer as honderdduisend in die stadion en omliggende gebied, maar daar was geen gestamp, geen geskel of bakleiery, geen woede-uitbarstings nie. Ek onthou dat ek vir my ma gesê het: “Dis ongelooflik. In die organisasies en die plekke waar ek al was, was daar gewoonlik ’n bakleiery. Ma, dit móét die waarheid wees!” Sy het net my hand styf vasgedruk en geglimlag, want sy het my verlede geken soos net ’n ma kan. Laat my toe om ’n paar herinneringe op te haal.
Ek is gebore in Metropolis, ’n dorpie aan die oewer van die Ohio-rivier in suidelike Illinois. Die jaar was 1930, en die Groot Depressie het die wêreld in sy wurggreep gehad. Ek was die 9de van 11 kinders. Ek is in die Lutherse godsdiens grootgemaak. Smiddae het my ma altyd vir my uit die Bybel gelees, en ek het daardie sessies regtig geniet. Sy het my die teks in Johannes 3:16 geleer, wat sê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”, en vir my gesê om nooit te vergeet dat God ons liefhet nie. Ek het daardie teks dikwels onthou en vir myself opgesê wanneer ek alleen was, maar ek kon nie mooi verstaan hoe God ons liefhet en wat dit in my lewe sou beteken nie. Ek onthou dat ek heelparty godsdienstige mense daaroor gevra het, en hulle het my ’n verskeidenheid van antwoorde gegee, soos: “God gee ons bome en blomme”; “God gee ons die lewe”; “God gee ons die diere, die pragtige sterre en die reën wat dinge laat groei.” Dan het ek gedink: ‘Maar al daardie dinge was hier voor Jesus gebore is. Die teks belowe die ewige lewe, maar my broer en suster het gesterf.’ Wanneer ek daaroor gevra het, was die antwoord: “O, maar dit kom ná jou dood.” Dit het my as jong knaap verward gelaat, en ek het vroeg in my lewe belangstelling in godsdiens en Sondagskool verloor.
Teen die tyd dat ek tien was, was ek ’n jeugmisdadiger en lid van ’n straatbende, partymaal selfs die bendeleier. Ek was gedurig in die moeilikheid by die owerheid. Wanneer my pa ’n polisiemotor in ons straat gesien het, het hy aangeneem dat hulle na my kom verneem, en gesê: “Roep Robert. Hier kom die polisie.” My ouers was baie ongelukkig oor my slegte gedrag, en my pa het my gesoebat om te breek met die bende waarmee ek rondgehang het. Hy was so moedeloos dat hy vir my gesê het: “Jy het meer moeilikheid veroorsaak as al die ander kinders saam, en dis net oor jou maats.” Maar, eienaardig genoeg, my ma het altyd vir my pa gesê: “Hy sal verander. Wag maar, Robert sal nog eendag ’n predikant word.”
God se waarheid verander my
Toe het daar iets gebeur wat ’n groot invloed op my lewe sou hê. My suster Evelyn het in 1948 die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Al wat ek destyds van die Getuies geweet het, was dat hulle neutraal gestaan het ten opsigte van nasionalistiese en politieke sake. Ek was baie nasionalisties en wou nie hê dat my suster met hierdie mense deurmekaar moet raak nie. Ek het haar met mag en mening teëgestaan. Sy het nietemin besef dat sy die waarheid leer en het nie na my geluister nie. Sy en die meeste van haar kinders en kleinkinders dien Jehovah God tot vandag toe getrou. Nou dank ek haar en God vir haar volharding, want ek het op ’n dag in die kombuis gestaan en toevallig gehoor hoe sy en haar Bybelonderrigter oor die Bybel praat. Ek het gehoor van die komende Paradysaarde en die moontlikheid om vir ewig daarop te lewe. Johannes 3:16 het my weer te binne geskiet, en ek het gedink: ‘Dit is hoe God ons liefhet deur Christus.’ Daarna het ek hulle elke week uit die kombuis afgeluister. Dit was nie lank nie of hulle het my genooi om by hulle aan te sluit vir die studie. So het ek die liefdevolle, ware God, Jehovah, leer ken.
My ouers het ook die studie bygewoon en later hulle Bybelstudie voortgesit toe hulle na Ypsilanti, Michigan, getrek het. Ek is kort daarna ook soontoe. In 1950 het ek my eerste byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon, ’n internasionale byeenkoms by die Yankee-stadion in New York-stad. Daardie weeklange vertoning van ware liefde het my oortuig dat dit die soort mense is wat ek vir die res van my lewe as my intieme metgeselle wil hê. By daardie byeenkoms het ek my lewe aan Jehovah, die ware God, toegewy om hom te dien.
Op ons terugreis na Michigan ná die byeenkoms het ons die vreugde gehad om die Wagtoring-Bybelskool Gilead te besoek. Dit is ’n skool waar bedienaars opgelei word om as sendelinge in ander lande te dien. Die skool was toe nog in ’n pragtige landelike omgewing naby South Lansing, New York, geleë. Tydens daardie besoek het ek besluit om eendag ’n sendeling te word.
Op 10 September 1950 is ek saam met twee ander in ’n riviertjie op ’n plaas gedoop. Ek was toe 19 jaar oud. My vriendekring het verander, en wanneer ek van my vroeëre maats raakgeloop het, wou baie van hulle weet wat met my gebeur het. Party het gesê ek is van my kop af. Maar in werklikheid het ek nog nooit in my lewe gesonder van gees gevoel nie! My pa was verstom en baie gelukkig.
In 1951 is ek met Earline Merlau Olson getroud. Haar agtergrond was baie anders as myne, aangesien sy grootgemaak is deur ouers wat ten volle aan God toegewy was. Sy het haar skoolvakansies in die voltydse predikingswerk deurgebring en het gehoop om haar diens uit te brei deur ’n sendeling te word.
Doelgerig ondanks hindernisse
Weens my Christelike neutraliteit het ek weer met die owerheid gebots, en vir die eerste keer in my lewe het ek tronk toe gegaan—omdat ek ’n Christen is! Gedurende die dag en die nag wat ek in die plaaslike tronk aangehou is, het ek God se liefdevolle sorg baie deeglik ondervind. Een van die gevangenes, blykbaar die selbaas, het vir die ander gesê dat hy ’n skynhof wil hou met my as slagoffer. Wat moes ek doen? Weer optree soos ek soveel jare as ’n jeugmisdadiger opgetree het of op God vertrou? Ek het Jehovah gesmeek om my te help om getrou te bly en om my wysheid en krag te gee. Onmiddellik het ’n ander gevangene my te hulp gekom. Hy het vir die ander gesê om hom as slagoffer te gebruik. Hy het reg voor my kom staan en gesê: “Julle sal by my verby moet kom as julle hom wil hê.” Daar was ’n paar gespanne oomblikke. Toe het die selbaas gesê: “Vergeet dit. Dis nie so belangrik nie.” Ek het God gedank! My prokureur het die volgende dag my vrylating bewerkstellig, maar die regsgeding het nog drie jaar voortgeduur totdat ek uiteindelik, as ’n bedienaar, van diensplig vrygestel is.
Op 1 Mei 1955 het ek en my vrou ons loopbaan as voltydse predikers, of pioniers, begin. Ons het twee jaar lank saam met die gemeente in Ypsilanti, Michigan, gedien. Toe is ons genooi om van 1 Mei 1957 af as spesiale pionierbedienaars in Burlington, Vermont, te gaan dien en selfs meer tyd aan die predikingswerk te wy. Gedurende die twee jaar wat ons daar was, het ons gehelp om die gemeente weer op die been te bring. Ons eerste Koninkryksaal was reg in die middel van die dorp! Die openbare toespraak vir die Sondag was “Kommunisme of die Christelike godsdiens—Welke sal dit wees?” Aangesien daar dreigemente was dat ons vergadering verhinder sal word, het ek na die polisie gegaan om te hoor of ons op hulle beskerming kon staatmaak as dit nodig sou wees. Hulle het my verseker dat hulle die situasie sou beheer. Omtrent 20 minute voor die vergadering begin het, het ’n motor vol mans voor die Koninkryksaal stilgehou. Binne minute het die polisie gekom en met hulle gepraat, en hulle is daar weg. Ons het ’n vreedsame vergadering met ’n goeie opkoms gehad.
Eindelik sendelinge!
Die Wagtoringgenootskap het ons genooi om van 1 Mei 1959 af lede van sy hoofkwartierpersoneel in die stad New York te word. Terwyl ons ons klaargemaak het om te gaan, het nog ’n brief gekom wat ons genooi het om, van September 1959 af, die Gileadskool by te woon om as sendelinge opgelei te word. Twee wonderlike seëninge in een jaar! Uiteindelik was ons doelwit om sendelinge te word binne bereik. Ons heilige diens het bly uitbrei!
In Februarie 1960, na byna ses maande van studie en opleiding, het ons as lede van die 34ste klas van Gilead gegradueer. Ons toewysing was Bogotá, Colombia, waar ons op 1 Maart 1960 aangekom het.
Ons eerste uitdaging was om Spaans te leer. My verkeerde gebruik van woorde het ander dikwels laat skater van die lag. Ek onthou dat ek gedurende ons eerste streekbyeenkoms in die Huisvestingafdeling gewerk het en die broers gevra het om vir ons matrasse (colchones) te leen. Maar ek het die woord cochinos (varke) gebruik. Hulle wou vriendelik weet: “Waarvoor het jy hulle nodig?” Ek het gesê: “Vir die broers om op te slaap.” Na die gelag het ons die matrasse gekry.
Terwyl ons God se skepping geniet het—die natuurskoon van die majestueuse, sneeubedekte Andes, die oerwoude, die vlaktes—het ons baie onvergeetlike ondervindinge gehad. Een daarvan was tydens ons besoek aan die spesiale pioniers in Villavicencio, waar die llanos (vlaktes) begin. In die dorp San Martín het ons die groep Getuies uit Granada ontmoet. Dit sou die eerste keer wees dat die inwoners van San Martín die Koninkryksboodskap hoor. Terwyl my vrou met ’n dame by haar huis gepraat het, het ’n seuntjie na my vrou toe gekom en gevra wat sy doen. Toe sy hom sê, het hy geloop maar toe teruggekom en gesê dat ’n klant in die kafee oorkant die straat met haar wil praat. Die man het met belangstelling na die boodskap geluister en om al die Bybellektuur gevra wat sy gehad het. Toe sy hom ’n intekening op Die Wagtoring en Ontwaak! aanbied, het hy vir haar gesê: “Ek bly so ver op die vlakte dat daar geen posdiens is nie. Ek sal die pos hier in San Martín moet kom haal, en ek kom net een maal per jaar hiernatoe om voorraad te kry.” Dit was voorwaar ’n bestiering dat hy daardie jaar juis tydens ons besoek gekom het.
Ons het dit baie geniet om 16 jaar lank die waarheid van God se Woord onder die Colombiaanse volk te verkondig. Ons het van elke beskikbare vervoermiddel gebruik gemaak: piragua (boomkano), vliegtuig, bus, motor, perd en donkie. Oral waar ons gegaan het, het ons vriendelike mense gevind wat gretig was om Bybelwaarhede te bespreek en om van die liefde van Jehovah en sy dierbare Seun te leer en dit werklik te verstaan.
Voortgesette heilige diens in die Verenigde State
In 1976 het persoonlike verantwoordelikhede ons verplig om na die Verenigde State terug te keer, waar ons ons heilige diens as pioniers kon voortsit. Toe, in 1980, was dit vir my moontlik om ’n aantal gemeentes in ’n kring as ’n reisende opsiener te besoek. Ek is aangewys om in die Spaanssprekende veld te dien. Dit was vir ons ’n vreugde om saam met ons hartlike, liefdevolle geestelike broers en susters in kringe in verskillende dele van die Verenigde State te werk.
Toe ek ’n kind was, het my ma vir my gesê: “Moet nooit God se liefde vergeet nie!” Ek dank Jehovah dat hy my, deur sy aardse organisasie, gehelp het om ’n begrip te kry van sy liefde en wat dit vir die mensdom beteken, en ook dat hy my, deur sy Woord en gees, gehelp het om van jeugmisdadiger te verander in iemand wat vir hom aanneemlik is vir heilige diens. Hy het sy seëninge uitgestort en my gehelp om die doelwitte te bereik wat ek deur die jare vir my gestel het. Ek en my vrou dank Jehovah, sy Seun en sy getroue organisasie vir ons oorvloedige voorregte in God se heilige diens en vir ’n lewe wat oorloop van geluk.—Soos vertel deur Robert D. Reed.
[Prent op bladsy 17]
Robert en Earline Reed
[Prent op bladsy 18]
Wasdag in Colombia vir my vrou, Earline