Ons beskou die wêreld
JONGSTE NUUS OOR TSJERNOBIL
Drie en ’n half jaar na die kernongeluk in Tsjernobil, USSR, word plaaslike inwoners, “veral kinders, geteister deur geswelde skildkliere, traagheid, katarakte en ’n styging in die kankersyfer”, aldus die Manchester Guardian Weekly. In een gebied voorspel mediese deskundiges dat tienduisende nog weens straling aan kanker sal sterf. Plaasbestuurders rapporteer dat al hoe meer plaasdiere met gebreke gebore word: “kalwers sonder ’n kop, bene, ribbes of oë; varke met ’n misvormde skedel”. Daar word berig dat stralingslesings 30 keer hoër as gewoonlik in die gebied is. Zoja Tkatsjowa, ’n hospitaaldirekteur in die Mogilof-streek van Wit-Rusland, het gesê: “Ons kan die bevolking van die besmette gebiede geen waarborg vir ’n gesonde lewe gee nie.”
“DIE WÊRELD SE LAASTE GROOT WILDERNIS”
Namate beskikbare voorrade van natuurlike hulpbronne steeds afneem, word Antarktika, die vasteland wat feitlik ’n tiende van die aarde se landgebied uitmaak, as ’n potensiële nuwe bron beskou. Die ysbedekte vasteland word deur die Antarktiese Verdrag van 1959 en ’n vrywillige mynbouopskorting beskerm. Maar ’n nuwe ooreenkoms is opgetrek wat dit vir olieontginning en mynbou sal oopstel. Die International Herald Tribune berig dat twee van die ledenasies van die verdrag, Australië en Frankryk, weier om die ooreenkoms te onderteken. Australië se eerste minister, Bob Hawke, het melding gemaak van die onlangse oliestortings in Alaska en Antarktika as sombere herinnerings aan die omgewingsgevare van mineraalontginning en het “strenger beskerming van die wêreld se laaste groot wildernis” bepleit.
TERWYL DIE SON SKYN
’n Argitek in die Bondsrepubliek Duitsland het ’n sonaangedrewe motor ontwerp en gebou wat merkwaardig doeltreffend is, al lyk dit vreemd. Volgens die koerant Die Zeit lok die motor in die argitek se tuisdorp gille van blydskap by kinders uit terwyl volwassenes nie kan besluit of dit meer na ’n tafeltennistafel of ’n platvis lyk nie. Maar die motor is, ten spyte van sy voorkoms, ’n treffer. Dit het wêreldkampioenskappe vir sonaangedrewe voertuie gewen en het selfs ’n snelheid van 130 kilometer per uur bereik. Maar daarvoor moet sy batterye ten volle gelaai wees. Wanneer dit direk deur sonlig aangedryf word, kan die motor nie vinniger as 30 kilometer per uur ry nie—en dít net terwyl die son skyn.
[Foto-erkenning op bladsy 28]
From a photo by Trykowski/Dürschner
DIE MAG VAN GEURE
Japannese firmas eksperimenteer met geure wat gedragsverandering meebring. Volgens een Japannese deskundige het sulke geure wat deur lugversorgingsleidings ingelaat is “rustelose hospitaalpasiënte kalmeer en groter vaardigheid en minder spanning onder fabrieks- en kantoorwerkers tot gevolg gehad”. Dertien ponsmasjienoperateurs is 30 dae lank gemonitor, en die eksperimente het getoon dat die gemiddelde aantal foute per uur met 54 persent afgeneem het wanneer die kantoorlug met ’n suurlemoengeur gevul is. Die tydskrif berig dat ’n sielkundige nou “in diens geneem is om met ’n geur te voorskyn te kom wat in die stad New York se moltreinstasies vrygestel kan word om pendelaaraggressie te verminder en mense vriendeliker te maak”.
LEË KERKE
Volgens ’n onlangse opname in die Bondsrepubliek Duitsland glo 70 persent van alle Duitsers in God, en net 13 persent het erken dat hulle ateïste is, berig die Schweinfurter Tagblatt, ’n Duitse nuusblad. ’n Meningspeiling deur die Allensbach-meningsnavorsingsinstituut toon egter dat net 5 persent van die Lutherane en 25 persent van die Katolieke in die Bondsrepubliek Duitsland gereeld kerkdienste bywoon. Vyftig persent van hulle is ouer as 60 jaar.
VLERMUISE EN DIE MENS
Volgens die Manchester Guardian Weekly hou vlermuise met hondsdolheid ’n toenemende gevaar in vir mense in Europa. Honderde gevalle van besmetting weens vlermuisbyte is in die laaste jare in Europa opgeteken. Die probleem kom nie net in Europa voor nie. Volgens berig het twee mense in die Sowjetunie en een in Finland sedert 1983 gesterf omdat hulle deur besmette vlermuise gebyt is. “Daar is tans ’n hondsdolheidepidemie onder bloedsuiende vampiers in Suid- en Sentraal-Amerika”, sê die Weekly. Daarbenewens het onlangse vlermuisaanvalle op mense in Frankryk gelei tot die ontdekking van ’n nuwe soort virus wat vlermuise aantas. Die nuwe virus, soortgelyk aan die hondsdolheidvirus, word die Europese vlermuisvirus genoem.
ARM KINDERS
Die Verenigde State is ’n nasie wat bekend is vir sy welvaart en oorvloed, en tog het studies wat deur staatsdepartemente gedoen is, bevind dat daar miljoene ongesonde en ongeletterde kinders in daardie land is. Volgens die Sensusburo se opname lewe 1 uit elke 5 kinders in die Verenigde State—12,6 miljoen jonger as 18—onder die behoeftepeil. Ekonoom D. Lee Bawden skryf die toename in armoede onder kinders deels toe aan die toename van eenouergesinne. Volgens skatting is daar meer as 17 miljoen kinders in die Verenigde State wat by een ouer woon.
MALARIA WAT REIS
Volgens berig was daar etlike gevalle waar malaria naby lughawens of op lughaweterreine in Brittanje, Frankryk, die Nederlande en Switserland opgedoen is. Nadat die tydskrif Machine Design gesê het dat sommige van die mense wat die siekte opgedoen het ’n jaar lank nie na die buiteland gereis het nie, het dit bygevoeg dat sulke omstandighede daarop dui dat “die malaria oorgedra is deur muskiete wat op ’n langafstandsvlug op die lughawe aangekom het”.
JONG VERKRAGTERS
Volgens die tydskrif Medical Aspects of Human Sexuality het ’n onlangse studie getoon dat adolessente verkragters by byna die helfte van 1,5 miljoen seksuele aanrandings en pogings tot verkragting in die Verenigde State betrokke was. In ’n ander studie in die VSA het navorsers bevind dat “72% adolessente verkragters gesê het dat hulle op die dag van die voorval ’n dwelm of dwelms gebruik het; 54% het alkohol gebruik, 44% dagga en 25% ’n ander dwelm . . . Drie-en-veertig persent was bedwelmd tydens die verkragting.” Volgens hierdie tydskrifartikel dra alkohol moontlik dikwels by tot aanrandings waartydens die verkragters uitermatige geweld of krag gebruik.
KAMMABY
Soöloog Karl von Frisch het in 1945 getoon dat die dans van die kossoekerby werklik ’n komplekse kode is wat ander bye aanwysings gee na ’n nuutgevonde nektarbron. Hy het later ’n Nobelprys vir sy ontdekking ontvang. Sedertdien het wetenskaplikes ’n robotby probeer maak wat dieselfde kan doen. Maar die resultate was ontmoedigend. Die namaakbye is, ondanks al hulle dolle gedans, grotendeels deur gewone bye geïgnoreer. Maar volgens die Duitse koerant Hannoversche Allgemeine het wetenskaplikes ’n robotby gebou met piepklein vlerkies wat op diamantlaers gemonteer is. Die vlerkies maak ’n unieke geluid wat noodsaaklik is vir die dans. Hierdie robot, wat in Denemarke getoets is, het die aandag van die ander bye getrek. Hulle het dit aangeval en probeer doodsteek. Maar bye in ’n ander dorp het die namaakdans aanvaar en vertrek om die nektar te soek.
SELFMOORDE NEEM TOE
◻ Die tagtigerjare het die hoogste selfmoordsyfers onder bejaarde mans in Kanada se geskiedenis opgelewer, berig The Toronto Star. Statistiek toon dat 80 persent van die selfmoordslagoffers mans is. Die waarnemende hoof van psigiatrie aan die Baycrest-sentrum vir Geriatriese Sorg, dr. David Conn, het gesê dat die kombinasie van liggaamlike siekte, sluimerende alkoholisme en afsondering na aftrede of dood in die gesin moontlike oorsake is. “Die kombinasie van depressie en drank kan selfmoordgedagtes laat posvat”, berig die Star. Wat is ’n paar ander waarskuwingstekens? Volgens Barbara Debuk, ’n geestesgesondheidsraadgeefster van Health and Welfare Canada, is dit: ’n al hoe groter medisyne-inname, voorbereidsels vir hul begrafnis, verandering van ’n testament, reëlings dat hulle liggaam vir geneeskundige doeleindes geskenk word en algehele beheptheid met die dood.
◻ Volgens die Saturday Star, ’n Johannesburgse koerant, kan “die feit dat kerke die hiernamaals as aanloklik voorstel” moontlik ’n faktor wees wat tot selfmoord in Suid-Afrika bydra. Die koerant het opgemerk dat “fassinasie met die geheimsinnigheid van lewe na die dood” tot selfvernietiging gelei het. Die koerant het die geval van ’n 16-jarige seun wat selfmoord gepleeg het as voorbeeld aangehaal. Die koerant berig dat hy in ’n briefie “aan sy gesin gesê het dat hy net om een rede besluit het om sy lewe te beëindig—om oor lewe ná die dood uit te vind”.
MISHANDELING TEENOOR DISSIPLINE
Tweehonderd-sewe-en-dertig gevangenes in die Verenigde State is bestudeer om te sien waarom kinders gewelddadige volwassenes word. Daar is bevind dat “87 persent van die gevangenes wat gesê het dat hulle ouers hulle as kinders geskop en geslaan het gewelddadige misdadigers was”, sê die Science Digest van Januarie 1990. Dit het ’n soortgelyke uitwerking op kinders gehad wanneer hulle gesien het hoe een ouer die ander slaan. Maar ’n pak op sigself het blykbaar nie veroorsaak dat kinders gewelddadige volwassenes word nie.