’n Pienk wonder
’n Vlammende voël! Dit is hoe die eertydse Grieke die feniks beskryf het, ’n mitiese voël wat sy lewe in vlamme beëindig het en later uit die as herrys het. Eeue gelede is die naam van die feniks na ’n werklike voël, die flamink, oorgedra. Daardie naam pas beter by die flamink as wat dit ooit by die legende kon pas. ’n Swerm in die vlug is meer as net ’n skouspelagtige gesig—’n druisende, snaterende “vuurstorm” van pienk, swart en vermiljoen wat die lug vul.
En ’n enkele flamink is van kop tot pote ’n ontwerpwonder. Beskou die snawel, ’n langwerpige doos met ’n deksel, wat op die punt na onder draai sodat dit parallel met die bodem van die poel is wanneer die kop heen en weer swaai op soek na kos in die vlak water. Die snawel is aan die binnekant met horingagtige lamelle uitgevoer wat groter voorwerpe buite hou terwyl dit klein, eetbare stukkies alge en dies meer vasvang terwyl die tong water in en uit stoot. Dit is net walvisse wat ook so eet deur klein garnale deur hulle balein te filtreer.
Die flamink se nek en bene is verhoudingsgewys die langste van al die voëls. ’n Flamink kan meer as 1,8 meter hoog word. Sy steltagtige bene is geskik vir lewe in vlak, souterige mere. Hy rus selfs wanneer hy in die water staan, veilig teen roofdiere, en in die onwaarskynlikste posisie—op een been! Deskundiges sê dat ’n flamink op een been staan sodat hy die ander een kan rus. ’n Spesiale sening stel die voël in staat om sy been styf, soos ’n paal, te sluit. ’n Uitstekende balans help ook.
Evolusioniste vind dit moeilik om die flamink se oorsprong te bepaal. Dit is vir hulle in sommige opsigte soos ’n gans, in ander soos ’n ooievaar en in nog ander soos ’n reier. Ons kan byvoeg dat dit soos ’n walvis eet en soos ’n staanlamp slaap. Maar ons hoef nie ons kop te breek oor waar dit vandaan kom nie. Net ’n intelligente Ontwerper kon so ’n wonder uitgedink het.