Dansers met vlamkleurige vere
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
DUISENDE stemme. Die aanhoudende kakofonie weergalm oor die oppervlak van die afgeleë meer. Duisende pienk voëls loop deur die glinsterende, smaraggroen water, terwyl ander grasieus deur die lug vlieg. Hulle draai en sirkel bo die water en terwyl hulle met hulle lang, dun vlerke, deur die lug sny, kan hulle dieprooi vere gesien word. Die swerm helderkleurige voëls is asemrowend! Dit is waarskynlik die grootste skouspel van die voëlwêreld—die pienk flaminke van Afrika se Groot Skeurvallei.
Statige langbeenvoëls
Die flamink word al lank vir sy pragtige, delikate vorm bewonder. Sy statige voorkoms is in klip uitgekap en kan in Egiptiese hiërogliewe gesien word. Die voël se voorkoms was so ongewoon en die Egiptenaars het dit so bewonder dat hulle dit as die beliggaming van die god Ra vereer het. Die flamink se slanke, geboë nek en skraal, grasieuse bene is in primitiewe grottekeninge uitgebeeld.
Vandag word vier soorte flaminke in dele van Afrika, die Karibiese Eilande, Eurasië en Suid-Amerika aangetref. Die kleinflamink is die kleinste van die vier soorte. Dit het pragtige kleure met dieppienk vere en helderrooi bene en pote. Die grootflamink is twee keer groter as die kleinflamink en word tot 1,4 meter hoog. Alle flaminke het een ding in gemeen—’n snawel wat in die middel skuins na onder buig sodat dit ’n pragtige voorkoms het.
Wanneer die voël opstyg, klap hy sy vlerke grasieus en hardloop hy vinnig oor die water, wat hom die momentum gee om in die lug te kom. Hy hou sy lang nek en kop reguit vorentoe en sy bene styf na agter uitgestrek, terwyl hy met grasieuse vlerkslae deur die lug vlieg. Na raming is daar viermiljoen flaminke in Afrika se Groot Skeurvallei.
Delikate voël, onherbergsame omgewing
Die groot getalle flaminke wat in die Skeurvallei lewe, floreer op ’n reeks sodamere wat inderdaad uniek is. Daar is soveel natriumkarbonaat in die water dat dit olierig voel en die vel effens brand. Temperature om die Skeurvallei se sodamere kan tot 65 grade Celsius styg. Die borrelende meerwater gee ’n sterk reuk van swael en soutwater af wat swaar in die warm lug hang. Die alkaliese verbindings en soute in die water is so gekonsentreerd dat dit kristalliseer en korsagtige, wit neerslae langs die oewer vorm.
Min diere kan in sulke bytende water lewe. En tog lewe klein organismes wel daar—mikroskopiese blougroen alge. Die warm, tropiese son verhit die alkaliese water, wat ideale toestande skep waarin die alge in groot getalle kan groei. Daar is soveel alge dat die meer se water groen is. Net soos smaragde in ’n fyn hangertjie versier hierdie ketting van sodamere die valleie en berge wat in die lengte van die Groot Skeurvallei lê.
Dit is merkwaardig dat ’n delikate voël soos die flamink in so ’n onherbergsame omgewing kan lewe. En tog floreer die flaminke hier. Sy skraal bene is bestand teen die bytende water, en sy gewebde pote keer dat hy in die sagte modder wegsink. Die kleinflamink is spesiaal toegerus vir lewe in hierdie omgewing. Sy snawel het klein lamelle wat die mikro-organismes in die boonste vyf tot sewe sentimeter van die water kan opsuig en uitsif. Wanneer die flamink kos soek, hou hy sy snawel onderstebo net onder die oppervlak met die punt van sy snawel wat na agter wys. Die flamink se tong suig water op en pers dit dan uit oor die klein lamelle wat die mikroskopiese organismes uitfiltreer.
Hulle kleurvolle paringsdans
Wanneer die oggendson oor die liggroen water van die meer opkom, is dit asof ’n reusagtige gordyn gelig word. In die goue lig kan ’n groot swerm flaminke gesien word wat soos vlamme op die meer se oppervlak gloei. Die voëls staan styf teen mekaar. Met hulle koppe omhoog, loop die voëls wat gereed is om te paar, saam in groepe, terwyl hulle hulle snawels heen en weer swaai.
Groot groepe voëls loop in teenoorgestelde rigtings verby mekaar en die son weerkaats op hulle delikate vere, wat ’n mosaïek van kontrasterende skakerings van helderrooi en pienk vorm. Die voëls beweeg op en af terwyl hulle dans en sprei hulle vlerke wyd oop om met hulle dieprooi vlerkvere te pronk. Hulle vertoon hulle helder kleure wanneer hulle oor die water hardloop en opvlieg, waarna hulle weer land en die ritueel herhaal. Die flaminke staan so styf teen mekaar dat individuele voëls nie kan opstyg nie, maar eers moet wag totdat dié aan die buitenste rand van die swerm opstyg. Hulle snater en kras opgewonde en maak ’n oorverdowende geraas.
Dan, wanneer dit donker word, vlieg die hele swerm skielik weg. Hulle vlieg honderde kilometers in lang lyne of V-formasies totdat hulle hulle bestemming bereik—’n sodameer wat ’n ideale broeiplek is om hulle kuikens groot te maak. Hierdie migrasie vind eienaardig genoeg op dieselfde tyd plaas as die migrasie van flaminke by die ander sodamere in die Skeurvallei.
Eers lelik dan mooi
Flaminke bou hulle neste op afgeleë, ontoeganklike mere. Dit is belangrik dat hulle afgesonder is, aangesien die broeikolonie baie gevoelig is vir versteurings. As die broeiende voëls versteur word, sal hulle die eiers dalk verlaat en nooit weer terugkeer nie.
Die broeikolonie is baie bedrywig. Die broeiende voëls begin met groot opgewondenheid aan hulle neste bou. Hulle buig hulle lang nekke en skep modder, voëlmis en vere op om ’n keëlvormige nesheuwel te bou, wat ongeveer 40 sentimeter hoog is. Bo-op die nesheuwel word ’n vlak kuiltjie gemaak wat keer dat hulle een eier in die vlak, alkaliese water beland. Kort voor lank begin honderdduisende kuikens uitbroei. Die volwasse voëls vlieg in groot getalle heen en weer, besig met die uitputtende werk om hulle honger kuikens te voer en te versorg.
Dan, wanneer die kuikens oud genoeg is om te loop, verlaat die volwasse voëls hulle kuikens skielik en vlieg hulle na ’n ander deel van die meer, waar daar voedsamer en meer blougroen alge is. Hier, waar hulle nie vir hulle kuikens hoef te sorg nie, kan hulle eet en weer hulle energiereserwes opbou. Al die kuikens word dan deur ’n paar oorblywende volwasse voëls bymekaargemaak. Onder die wakende oog van die volwasse voëls word die raserige kuikens oor die soutpanne geneem sodat hulle weer by hulle ouers kan aansluit. Dit is verbasend dat die volwasse voëls, ondanks al die verwarring, hulle kuikens kan vind en aanhou om vir hulle te sorg.
Die jong kuikens is lomp en lyk glad nie soos hulle pragtige ouers nie. Hulle jong beentjies en nekke is kort, hulle snawels is reguit en hulle vere is wit. Na ’n ruk begin hulle kort bene groei, hulle nekke word langer en begin ’n geboë vorm aanneem. Hulle snawels begin na onder buig om dit sy delikate en unieke voorkoms te gee. Dit sal ongeveer twee tot drie jaar neem voordat die lelike kuikens in pragtige vlamkleurige flaminke verander. Hulle sal dan hulle eie maats kry en by die groot swerms pienk flaminke aansluit wat tot die prag van die Skeurvallei se sodamere bydra.
Hierdie grasieuse en pragtige voël is ’n treffende voorbeeld van intelligente ontwerp. Dit is ’n plesier om die flamink in die natuur te sien en te hoor. Maar wat meer is, dit verdiep ons waardering en liefde vir Jehovah God, die wonderlike Skepper van hierdie voël.
[Prent op bladsy 17]
Groot-flaminke
[Prent op bladsy 17]
Klein-flaminke
[Prente op bladsy 18]
Die jong kuikens lyk glad nie soos hulle pragtige ouers nie