Besoedeling—Wie veroorsaak dit?
“HIERDIE eiland is regeringseiendom waarop eksperimente gedoen word. Die grond is besoedel met antraks en is gevaarlik. Landing is verbode.”a Hierdie teken op die Skotse vasteland oorkant die eiland Gruinard waarsku moontlike besoekers om daar weg te bly. Hierdie pragtige eiland is al die afgelope 47 jaar, na ’n eksperimentele ontploffing van biologiese wapens tydens die Tweede Wêreldoorlog, met die siekte-agentia antraks besmet.
Die eiland Gruinard is ’n uiterste voorbeeld van besoedeling. Maar matiger vorme van grondbesoedeling is ’n algemene en toenemende probleem.
Grondbesoedeling neem toe
Een oorsaak van hierdie grondbesoedeling is vullis. Volgens The Times van Londen gooi die gemiddelde Britse gesin van vier byvoorbeeld jaarliks 51 kilogram metaal en 41 kilogram plastiek weg, “waarvan baie die strate, sypaadjies, strande en ontspanningsgebiede verder sal ontsier”.
Die Franse tydskrif GEO het gesê dat die ontsaglike Entressen-vullishoop buite Marseille, Frankryk, op een tydstip 60 meter hoog was en volgens skatting 145 000 meeue gelok het. ’n Draadgrensheining rondom die vullishoop het nie gekeer dat die wind papier- en plastiekrommel wegwaai nie. Die plaaslike owerheid het gevolglik 30 hektaar aangrensende landbougrond gekoop om die rommelprobleem te probeer bedwing.
Dit is geen wonder dat EEG-kommissaris Stanley Clinton Davis bevind het dat die lys besoedelingsprobleme “oneindig” is toe hy die Europese Jaar van die Omgewing—wat in Maart 1988 geëindig het—georganiseer het nie.b ’n Veldtog om die herbenutting van rommel aan te moedig is gevolglik beplan met die doel om 80 persent van die Gemeenskap se 2200 000 000 ton vullis elke jaar te hersiklusseer.
Besoedeling deur vullis is hoegenaamd nie tot Wes-Europa beperk nie. Dit kom nou wêreldwyd voor. Volgens die tydskrif New Scientist was dit selfs nodig om die afgeleë kontinent Antarktika skoon te maak. Australiese navorsingswetenskaplikes het meer as 40 ton ou stukke masjinerie en boumateriaal bymekaargemaak wat naby hulle basis rondgelê het. The New York Times (19 Desember 1989) berig dat Amerikaners by McMurdo-stasie, Antarktika, 30 jaar se opgehoopte weggooigoed, ’n trekker van 35 ton wat in water van 24 meter gesink het inkluis, opruim.
Ja, besoedeling en besmetting is volop op droë land. Maar wat van die aarde se water?
Vuil water—ongeskik vir lewe
“Brittanje se riviere word vir die eerste keer in meer as ’n kwarteeu vuiler”, het The Observer gesê. “Die Kattegat [see tussen Swede en Denemarke] is besig om te sterf. Dit sal binnekort nie meer vislewe kan onderhou nie omdat dit so besoedel en suurstofarm is”, het The Times van Londen berig. “Pole se riviere is vinnig besig om oop riole te word en daar is min verbetering in sig”.—The Guardian.
November 1986 het ’n besoedelingsramp aanskou wat deur Londen se Daily Telegraph beskryf is as “die verkragting van Wes-Europa se grootste en mees charismatiese waterweg”. ’n Ernstige brand in ’n chemiese aanleg in Basel, Switserland, het brandweermanne daarheen laat gaan om die vlamme te blus. Hulle het onwetend van 10 tot 30 ton chemikalieë en plaagdoder in die Ryn laat spoel, wat die “Tsjernobil van die waterbedryf” veroorsaak het. Hierdie gebeurtenis het groot opslae in die nuus gemaak. Wat egter gewoonlik nie gemeld word nie, is die feit dat toksiese afvalstowwe gereeld op minder opvallende skaal in die Ryn gestort word.
Waterbesoedeling is nie beperk tot die gebied om sy bron nie. Die gevolge kan kilometers daarvandaan dodelik wees. Europa se riviere wat in die Noordsee uitloop, vervoer soveel verf, tandepasta-witmakers, giftige afval en misstof dat die Nederlandse Instituut vir die Navorsing van Vissery nou sê dat Noordsee-platvis nie meer geëet kan word nie. Opnames toon dat 40 persent van die platvis in die vlak gebiede velsiektes of kankergewasse het.
Wie dra die skuld vir sulke besoedeling? Die meeste wys met die vinger na die industrie, wie se begeerte na wins baie groter is as hul besorgdheid oor die omgewing. Tog is boere ook skuldig aan die besoedeling van strome en riviere naby hulle grond. Hulle toenemende gebruik van nitraatmisstowwe kan die afloopwater van kuilvoer nou dodelik maak.
Enkelinge gebruik ook riviere as ’n stortplek vir rommel. Die Mersey-rivier, met ’n opvanggebied in die noordwestelike landstreek van Engeland, is na bewering die vuilste in Europa. “Net dwase of onkundige mense sal nou in die Mersey swem”, het Liverpool se Daily Post gesê, en bygevoeg: “Enigeen wat ongelukkig genoeg is om in die rivier te val, sal moontlik siek hospitaal toe geneem word.”
Onverwerkte rioolvullis is een van die vernaamste stowwe wat vir seebesoedeling verantwoordelik is. Die see langs een gewilde Engelse vakansiestrand bevat glo die ekwivalent van “’n koppie onverwerkte rioolvullis in die gemiddelde huishoudelike bad”, wat die EEG se perk viervoudig oorskry.
Dan is daar nog ’n gevaar; hierdie een val uit die lug.
Suurreën—’n kwellende bedreiging
Mense in Engeland het vroeërjare gesterf omdat hulle die lug—of, eerder, die rookmis—ingeasem het. Vandag is sterfgevalle weens hierdie soort besoedeling seldsaam. Londen se rookmis, wat in 1952 nagenoeg 4000 laat sterf het, is nie meer ’n bedreiging nie. Party steenkoolkragsentrales wat tot die rookmis bygedra het, is na die platteland verskuif en toegerus met hoë skoorstene en, in party gevalle, met gassuiweraars om ’n groot persentasie van die dodelikste gasse te verwyder.
Dit het egter nie die besoedeling van die atmosfeer stopgesit nie. Lang skoorstene het moontlik die gevaar in die onmiddellike omgewing uitgeskakel. Maar nou vervoer heersende winde die besoedelstowwe ver weg—dikwels na ander lande. Skandinawië het gevolglik las van Britse besoedeling, en talle mense praat van Brittanje as die “vuil ou man van Europa”. Op soortgelyke wyse veroorsaak Middel-Westelike industrieë in die Verenigde State ’n groot deel van Kanada se suurreënprobleem.
Wetenskaplikes het jare lank met ’n beskuldigende vinger na swaeldioksied gewys as die hoofoorsaak van die lugbesoedeling wat suurreën veroorsaak. In 1985 het Drew Lewis, ’n Amerikaanse presidensiële gesant vir Kanadees-Amerikaanse aangeleenthede oor suurreën, beweer: “Om te sê dat sulfate nie suurreën veroorsaak nie, is dieselfde as om te sê dat rook nie longkanker veroorsaak nie.” Wanneer swaeldioksied met waterdamp in aanraking kom, vervaardig dit blykbaar swaelsuur, wat die reën suur kan maak of in die wolkdruppels kan versamel en sodoende op hooglandse woude neerreën.
Wanneer die suurreën val of, erger, wanneer die suursneeu smelt, het dit ’n uitwerking op die grond daaronder. Sweedse wetenskaplikes wat ’n studie van 1927 herhaal het, het tot die gevolgtrekking gekom dat die suurgehalte van woudgrond op ’n diepte van 70 sentimeter tienvoudig toegeneem het. Hierdie chemiese verandering het ’n ernstige uitwerking op ’n plant se vermoë om noodsaaklike minerale, soos kalsium en magnesium, op te neem.
Watter uitwerking het dit alles op die mens? Hy ly wanneer mere en riviere wat vroeër gewemel het van lewe suurvormend en leweloos word. Boonop lei Noorweegse wetenskaplikes uit hulle studies af dat die verhoogde suurgehalte van die water, hetsy in mere of die grond, aluminium oplos. Dit hou beslis ’n gesondheidsgevaar in. Wetenskaplikes het opgemerk dat daar “’n duidelike verband tussen hoër sterftesyfers en stygende aluminiumkonsentrasies” in die water is. Moontlike verbande tussen aluminium en Alzheimer-siekte en ander siektes onder bejaardes wek steeds kommer.
Pogings is weliswaar aangewend om die toestand te verbeter in gebiede soos Brittanje se Mersey-rivier en Frankryk se Entressen-vullisstortplek. Maar hierdie soort probleem verdwyn nie. Dit steek weer oral in die wêreld kop uit. Maar daar is nog ’n ander soort besoedeling—onsigbaar.
Osoon—die onsigbare vyand
Die verbruik van fossielbrandstowwe, hetsy in kragstasies of in huishoudelike oonde, vervaardig ander besoedelstowwe benewens swaeldioksied. Dit sluit stikstofoksiede en onverbrande koolwaterstowwe in.
Die wetenskaplike mening skryf lugbesoedeling al hoe meer toe aan hierdie stikstofoksiede. Saam met die werking van sonlig vervaardig hulle ’n dodelike gas, osoon. “Osoon is die vernaamste lugbesoedelstof wat plantegroei in die VSA aantas”, het David Tingey van die Amerikaanse Instituut vir Omgewingsbewaring gesê. Hy het geskat dat dit sy land in 1986 R2600 miljoen per jaar gekos het. Europa se verlies is toe op R1000 miljoen per jaar gestel.
Terwyl suurreën waterweë doodmaak, meen talle gevolglik dat osoon, wat op die lange duur met motoruitlaatgasse verbind, groter skuld het aan die dood van bome as suurreën. The Economist het gesê: “Bome [in Duitsland] word ontydig vernietig, nie deur suurreën nie maar deur osoon. Hoewel die doodslag deur ryp, suurmis of siekte toegedien word, is dit osoon wat die bome kwesbaar maak.” En wat in Europa gebeur, weerspieël slegs die toestande op ander kontinente. “Bome in Kalifornië se nasionale parke word beskadig deur lugbesoedeling wat moontlik selfs uit Los Angeles kom”, het New Scientist berig.
Maar daar is ’n erger soort besoedeling wat die aarde verontreinig. Dit is ’n fundamentele oorsaaklike faktor by die fisiese besoedeling van die grond, water en lug van ons planeet.
Sedelike besoedeling
Dit is maklik om deur mense se uiterlike bedrieg te word. Jesus Christus het dit aanskoulik toegelig. Hy het vir die godsdiensleiers van sy dag gesê: “Wee julle, . . . want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol . . . allerhande onreinheid is” (Mattheüs 23:27). Ja, ’n persoon kan uiterlik netjies, selfs aantreklik, lyk, maar sy spraak en gedrag kan sy ware slegte persoonlikheid openbaar. Ongelukkig is sulke sedelike besoedeling vandag algemeen.
Sedelike besoedeling sluit dwelmmisbruik in, wat nou op groter skaal as ooit tevore voorkom. Pop sterre, verhoog- en rolprenthelde en selfs oënskynlik ordentlike sakemanne het opspraak verwek vanweë hulle afhanklikheid van dwelms. Sedelike besoedeling sluit ook geslagsonsedelikheid in, wat die oorsaak kan wees van gebroke gesinne, egskeiding, aborsies sowel as die vinnig verspreidende epidemies van seksueel oorgedraagde siektes, die onheilspellende plaag van Vigs inkluis.
Sedelike besoedeling spruit voort uit selfsug, wat ook die grondoorsaak is van baie van die fisiese besoedeling wat die mens teister. Tereza Kliemann, wat betrokke is by die behandeling van Vigs in die staat São Paulo, Brasilië, het die probleem geïdentifiseer: “Die voorkoming [van Vigs] behels ’n verandering van gedrag onder hoërisikogroepe en dit is moeilik.” Die oorgrote meerderheid mense dring daarop aan om te doen wat hulle wil, eerder as om in aanmerking te neem hoe hulle optrede ander raak. Gevolglik is lektuur, vermaaklikheid en feitlik die hele mensekultuur deurtrek van sedelike besoedeling.
Dit lyk vir denkers asof die meeste hedendaagse pogings tot fisiese en sedelike opknapping niks meer as ’n dekmantel is nie. Jy kan dan tereg wonder of daar enige betroubare hoop is op ’n aarde wat fisies sowel as sedelik skoon is. Moenie moedeloos word nie. Die Bybel sê vir ons dat die einde van besoedeling in sig is!
[Voetnote]
a Antraks is ’n besmetlike dieresiekte wat etterende velknoppies of longinfeksies by die mens veroorsaak.
b EEG staan vir Europese Ekonomiese Gemeenskap, of Gemeenskapsmark.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Erger as die tand van die tyd
Na jare van blootstelling aan die elemente was ’n dodemasker al wat van hierdie gebeeldhoude klipgesig oorgebly het. Erger as die tand van die tyd is die vernietigende gevolge van lugbesoedeling. Ou geboue oral in die wêreld ly onder die vretende erosie van die suurreën wat op hulle val, van die stadsaal in Schenectady, Verenigde State, tot die bekende geboue van Venesië, Italië. Volgens berig brokkel Rome se monumente af wanneer jy daaraan raak. Griekeland se beroemde Parthenon is glo die afgelope 30 jaar meer beskadig as in die voorafgaande 2000 jaar. Sulke skade word dikwels vererger deur ’n kombinasie van omgewingsfaktore waaronder temperatuur, wind, lugvogtigheid, sowel as bakterië wat op die geboue se mure lewe. As dit die gevolge vir lewelose voorwerpe is, watter uitwerking het besoedeling dan op lewende wesens?
[Prent]
Snywerk op ’n katedraal in Londen