Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 11/22 bl. 4-8
  • Pogings om die omgewing te red—Hoe suksesvol was dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pogings om die omgewing te red—Hoe suksesvol was dit?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Een tree vorentoe, twee treë terug
  • Kan regerings help?
  • Wat gebeur met die weer?
    Ontwaak!—2003
  • Besoedeling—Wie veroorsaak dit?
    Ontwaak!—1990
  • Word die stryd gewen?
    Ontwaak!—1996
  • Klimaatberade—Net praatjies?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 11/22 bl. 4-8

Pogings om die omgewing te red—Hoe suksesvol was dit?

TSJERNOBIL, Bhopal, Valdez, Three Mile Island. Name soos dié roep moontlik beelde voor jou geestesoog op van omgewingsrampe wat in verskillende wêrelddele plaasgevind het. Elkeen van hierdie rampe het ons daaraan herinner dat die aarde se omgewing bedreig word.

Verskeie owerheidsliggame en individue het al waarskuwings laat hoor. Party het hulle tot openbare optrede gewend om hulle standpunt bekend te maak. ’n Engelse bibliotekaresse het haar aan ’n stootskraper vasgeketting uit protes teen ’n pad wat deur ’n ekologies kwesbare gebied gebou word. Twee Aborigine-vroue in Australië het ’n veldtog teen die ontginning van uraan in ’n nasionale park gelei. Mynboubedrywighede is gestaak. Hoewel hierdie pogings goed bedoel word, word dit nie altyd gunstig ontvang nie. Byvoorbeeld, ’n vlootkaptein onder die Sowjetregime was besorg oor stralingslekkasie in die reaktors van gekelderde kernduikbote. Toe hy bekend gemaak het waar hierdie duikbote is, is hy in hegtenis geneem.

Verskeie organisasies het ook al gewaarsku oor dinge wat die omgewing bedreig. Dit sluit liggame in soos die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur; die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram en Greenpeace. Party doen bloot verslag van omgewingsprobleme wat met hulle werk verband hou. Ander probeer hulle bes om omgewingsake op die voorgrond te hou. Greenpeace is daarvoor bekend dat hulle aktiviste na plekke stuur wat die middelpunt van omgewingskwessies geword het en dat hulle die openbare aandag vestig op sake soos aardverwarming, bedreigde spesies en die gevare verbonde aan geneties gewysigde diere en plante.

Party aktiviste sê dat hulle gebruik maak van “kreatiewe konfrontasie om die aandag op wêreldwye omgewingsprobleme te vestig”. Daarom maak hulle van taktiek gebruik soos om hulle aan die hekke van ’n saagmeule vas te ketting om teen die vernietiging van eeue oue woude te betoog. ’n Ander groep aktiviste het teen een land se skending van ’n tydelike verbod op walvisjag betoog deur met groot oogbolle by sy ambassades op te daag om te kenne te gee dat die land se optrede dopgehou word.

Daar is geen gebrek aan sake om by betrokke te raak nie. Individue en organisasies het byvoorbeeld al herhaaldelik gewaarsku oor die gevare van waterbesoedeling. Nogtans lyk die situasie maar droewig. ’n Miljard mense het nie toegang tot veilige drinkwater nie. Volgens die tydskrif Time “sterf 3,4 miljoen mense elke jaar aan waterverwante siektes”. Lugbesoedeling is ’n soortgelyke probleem. The State of World Population 2001 berig dat “lugbesoedeling elke jaar die dood van nagenoeg 2,7 miljoen tot 3,0 miljoen mense veroorsaak”. Dit voeg by dat “lugbesoedeling in die ope lug meer as 1,1 miljard mense aantas”. As ’n spesifieke voorbeeld noem dit dat “fynpartikelbesoedeling vir tot 10 persent van lugweginfeksies by Europese kinders verantwoordelik is”. Ja, ten spyte van waarskuwings en enige stappe wat tot dusver gedoen is, het die probleme wat aan hierdie heel basiese, lewensnoodsaaklike elemente verbonde is, net al hoe erger geword.

Vir baie is die situasie ’n paradoks. Meer inligting as ooit tevore is nou oor omgewingsake beskikbaar. Meer mense en organisasies as ooit tevore stel nou daarin belang om toe te sien dat die omgewing skoongemaak word. Regerings het departemente in die lewe geroep om die probleme te help oplos. Ons het meer tegnologie as ooit tevore om te help om die probleme uit die weg te ruim. Maar dit lyk nie asof daar enige verbetering is nie. Waarom nie?

Een tree vorentoe, twee treë terug

Vooruitgang in die nywerheid was veronderstel om ons lewens te vergemaklik. In sekere opsigte het dit ook. Maar dit is juis hierdie “vooruitgang” wat die aarde se omgewingsprobleme vererger. Ons waardeer die produkte en vooruitgang wat die nywerheid gebring het, maar dit is dikwels juis die vervaardiging en ons gebruik van hierdie produkte wat tot gevolg het dat dele van ons wêreld verderf word.

’n Voorbeeld hiervan is motorvoertuie. Dit is ’n vinnige en gerieflike vervoermiddel. Baie min mense sal wil teruggaan na die tyd toe perdekarre gebruik is. Hedendaagse vervoer het nietemin tot ’n magdom probleme aanleiding gegee. Een daarvan is aardverwarming. Mense het die chemiese samestelling van die atmosfeer verander deur gebruik te maak van uitvindings wat miljoene tonne gas in die atmosfeer vrylaat. Hierdie gasse veroorsaak glo die sogenoemde kweekhuiseffek, wat die atmosfeer al hoe warmer laat word. Gedurende die afgelope eeu het temperature toegeneem. Die Amerikaanse Omgewingsbewaringsagentskap berig dat “die 10 warmste jare van die 20ste eeu almal gedurende die laaste 15 jaar van die eeu opgeteken is”. Party wetenskaplikes is van mening dat die gemiddelde wêreldtemperatuur gedurende die 21ste eeu met 1,4 tot 5,8 grade Celsius kan styg.

Warmer temperature sal na verwagting ander probleme veroorsaak. Sneeudekking in die Noordelike Halfrond neem af. ’n Ysbank van 3 250 vierkante kilometer het vroeg in 2002 in Antarktika ineengestort. Gedurende hierdie eeu kan daar ’n betekenisvolle styging in seevlakke wees. Aangesien ’n derde van die wêreld se bevolking naby die see woon, kan dit uiteindelik tot ’n verlies van huise en landbougrond lei. Dit kan ook groot probleme vir kusstede veroorsaak.

Wetenskaplikes is van mening dat hoër temperature tot hoër reënvalsyfers sal lei en dat uiterste weerstoestande meer dikwels sal voorkom. Party mense dink dat ernstige storms soos die een in 1999 in Frankryk, wat 90 lewens geëis en 270 miljoen bome vernietig het, net ’n voorskou is van dinge wat in die toekoms sal gebeur. Ander navorsers dink dat klimaatsveranderinge die verspreiding van siektes soos malaria, denguekoors en cholera sal veroorsaak.

Die voorbeeld van die motorvoertuig toon hoe kompleks die resultate van die tegnologie is—nuttige uitvindings vir mense oor die algemeen, maar dit kan ’n oorsaak van ’n menigte verwante probleme wees wat talle aspekte van die lewe raak. Die stelling in die Human Development Report 2001 is beslis waar: “Vooruitgang in die tegnologie bring altyd potensiële voordele en risiko’s, waarvan party nie maklik voorspel kan word nie.”

Mense vertrou dikwels op die tegnologie om oplossings vir omgewingsprobleme te bied. Omgewingsdeskundiges staan byvoorbeeld al lank die gebruik van plaagdoders teë. Toe geneties gewysigde plante ontwikkel is wat plaagdoders minder of glad nie nodig sou maak nie, het dit gelyk asof die tegnologie ’n goeie oplossing vir die probleem gevind het. Maar in die geval van Bt-mielies, wat ontwerp is om stamboorders sonder plaagdoders te beheer, het toetse aan die lig gebring dat dit ook koningvlinders kan doodmaak. So boemerang “oplossings” soms en kan dit bykomende probleme veroorsaak.

Kan regerings help?

Aangesien die vernietiging van die omgewing so ’n groot probleem is, sal ’n suksesvolle oplossing die samewerking van die wêreld se regerings vereis. In sommige gevalle het regeringsverteenwoordigers prysenswaardig opgetree en die nodige moed aan die dag gelê om positiewe veranderinge aan te beveel wat die omgewing sal help. Nogtans is ware oorwinnings maar dun gesaai.

’n Voorbeeld hiervan is die internasionale spitsberaad wat in 1997 in Japan gehou is. Nasies het gekibbel en gestry oor die voorwaardes van ’n verdrag om die vrystelling van gasse wat blykbaar aardverwarming veroorsaak, te bekamp. Uiteindelik, en tot verbasing van baie, is ’n ooreenkoms bereik. Hierdie ooreenkoms word die Kioto-protokol genoem. Ontwikkelde gebiede, soos die Europese Unie, Japan en die Verenigde State, sou die vrystelling van gasse teen 2012 met gemiddeld 5,2 persent verminder. Dit het goed geklink. Maar vroeg in 2001 het die Amerikaanse regering te kenne gegee dat hulle hulle aan die Kioto-protokol gaan onttrek. Dit het baie mense se oë laat rek, aangesien die Verenigde State, met minder as 5 persent van die wêreldbevolking, verantwoordelik is vir omtrent ’n kwart van die gasse wat vrygestel word. Daarbenewens het ander regerings gehuiwer om die ooreenkoms te onderteken.

Die voorbeeld hierbo wys hoe moeilik dit vir regerings is om met praktiese oplossings vorendag te kom. Dit is moeilik om regerings so ver te kry om met mekaar te onderhandel, en dit is vir hulle moeilik om saam te stem oor hoe omgewingsake aangepak moet word. Selfs wanneer ooreenkomste onderteken word, trek sommige partye later kop uit. Ander vind dit moeilik om die ooreenkomste bindend te maak. In ander gevalle dink regerings of korporasies dat hulle nie die koste wat by die skoonmaak van die omgewing betrokke is, kan dra nie. In sommige gevalle kom dit eenvoudig op hebsug neer, aangesien kragtige kommersiële reuse ’n sterk invloed op regerings uitoefen om nie maatreëls in te stel wat hulle winste sal verminder nie. Ondernemings en korporasies probeer soms soveel as wat hulle kan uit die land tap, sonder inagneming van die toekomstige gevolge.

Wat sake verder kompliseer, is dat nie alle wetenskaplikes saamstem oor hoe ernstig die uitwerking van die besoedeling van die aarde sal wees nie. Daarom is regerings se beleidbepalers moontlik onseker oor hoe ver hulle moet gaan om ekonomiese groei in te perk ter wille van die bekamping van ’n probleem wat moontlik nie so ernstig is as wat party dink nie.

Die mensdom is in ’n groot penarie. Almal weet dat daar ’n probleem is en dat iets daaraan gedoen moet word. Party nasies wend prysenswaardige pogings aan, maar in die meeste gevalle word omgewingsprobleme net erger. Is dit nou eenmaal die aarde se lot om uiteindelik ongeskik te word as ’n woonplek vir die mens? Kom ons ondersoek hierdie vraag volgende.

[Venster/Prent op bladsy 7]

GERAASBESOEDELING

Een soort besoedeling word nie gesien nie, maar gehoor—geraasbesoedeling. Deskundiges sê dat dit ’n rede tot kommer is omdat dit gehoorverlies, stres, hoë bloeddruk, slaapverlies en ’n verlies aan produktiwiteit kan veroorsaak. Kinders wat in ’n lawaaierige omgewing skoolgaan, kan leesprobleme ontwikkel.

[Venster/Prent op bladsy 7]

ONTBOSSING LEI TOT ’N ROTTEPLAAG

Toe daar ’n vreeslike rotteplaag in 15 dorpe in Samar, die Filippyne, was, het ’n regeringsamptenaar dit aan ontbossing in die streek toegeskryf. Die vernietiging van die woude het gelei tot ’n afname in die roofdiere wat rotte eet, sowel as in die rotte se voedselbronne. Die knaagdiere het in digter bevolkte gebiede ingetrek op soek na kos.

[Erkenning]

© Michael Harvey/Panos Pictures

[Venster/Prent op bladsy 7]

SLAGOFFERS VAN GIFTIGE AFVALSTOWWE?

Daar is gevind dat Michael op drie en ’n half maande aan neuroblastoma, ’n soort kanker, ly. As dit ’n afgesonderde geval was, sou dit moontlik nie so ongewoon gewees het nie. Maar daar is later gevind dat omtrent 100 ander kinders uit dieselfde klein gebied ook kanker het. Dit het baie ouers verontrus. Party het gedink dat die wanverhouding in kankergevalle moontlik verband hou met die maatskappye in daardie streek wat chemiese stowwe vervaardig. ’n Ondersoek het aan die lig gebring dat ’n onafhanklike afvalkarweier vroeër konkas vol giftige vloeistof van een van die maatskappye verwyder het, dit by ’n voormalige hoenderplaas afgelaai en soms die inhoud daarvan uitgegooi het. Navorsers het spore van ’n gifstof in plaaslike waterputte opgespoor. Ouers kan nie anders nie as om te wonder of dit moontlik ’n faktor is wat daartoe bygedra het dat hulle kinders kanker gekry het.

[Venster/Prent op bladsy 8]

GIFTIGE CHEMIESE STOWWE

Ná die Tweede Wêreldoorlog is 120 000 ton gifstowwe, hoofsaaklik fosgeen en mosterdgas, in skepe verseël wat daarna gekelder is, party noordwes van Noord-Ierland. Russiese wetenskaplikes het gewaarsku dat hierdie stowwe nou kan begin uitlek.

[Venster/Prent op bladsy 8]

DODELIKE LUGBESOEDELING

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat tussen 5 en 6 persent van alle sterfgevalle elke jaar die gevolg van lugbesoedeling is. Daar word berig dat gesondheidskostes en wegblyery van die werk as gevolg van besoedelde lug die burgers van Ontario, Kanada, alleen jaarliks meer as R5,6 miljard kos.

[Venster/Prent op bladsy 8]

STERWENDE KORAALRIWWE

Party vissers in Suidoos-Asië gebruik ’n sianiedoplossing om visse te bedwelm, wat dit maklik maak om hulle te vang. Die gif bly nie in die vis agter nie, en daarom is die vis nog altyd eetbaar. Maar die gifstof bly in die seewater en maak die koraalriwwe dood.

[Venster/Prent op bladsy 8]

MOET JY ’N CHIRURGIESE MASKER DRA?

Die tydskrif Asiaweek berig dat baie van die besoedelde lug in Asiatiese stede uit die uitlaatpype van voertuie kom. Diesel- en tweeslagenjins, wat groot hoeveelhede baie fyn swewende deeltjies vrystel, is dikwels die grootste besoedelaars. Dit veroorsaak baie gesondheidsprobleme. Dieselfde tydskrif berig: “Taiwan se vernaamste deskundige oor die uitwerking van besoedeling, dr. Tsjan Tsjang-tsjoean, sê dat dieseldampe kanker veroorsaak.” Party mense in Asiatiese stede dra chirurgiese maskers in ’n poging om hulleself te beskerm. Help hierdie maskers? Dr. Tsjan sê: “Hierdie maskers is nie doeltreffend nie. Baie van die besoedelstowwe in die vorm van gasse en deeltjies is so klein dat ’n eenvoudige masker dit nie alles buite kan hou nie. Daarbenewens . . . is hulle nie lugdig nie. Hulle gee dus ’n valse gevoel van veiligheid.”

[Prent op bladsy 7]

’n Woud word heraangeplant om die omgewing te help red

[Foto-erkennings op bladsy 8]

AFP/Getty Images; links bo: Published with the permission of The Trustees of the Imperial War Museum, London (IWM H 42208); regs bo: Howard Hall/howardhall.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel