Jongmense vra . . .
Tienerswangerskap—Wat moet ’n meisie doen?
Tienerswangerskap en -aborsie is probleme van wêreldwye omvang. En hoewel die meerderheid van ons lesers jong Christene is wat hulle wyslik van voorhuwelikse geslagsomgang weerhou, word Ontwaak! ook deur miljoene mense van uiteenlopende agtergronde gelees. Die volgende bespreking is derhalwe bedoel om elke jongmens te help wat voor die dilemma van ongehude ouerskap te staan kom, terwyl dit terselfdertyd die tragiese gevolge van voorhuwelikse geslagsomgang na vore bring.
“EK WAS 15 en swanger”, het Ann gesê. “Ek het nie geweet wat om te doen nie—om ’n aborsie te hê, die baba te laat aanneem, of wat.” Ann was net een van meer as ’n miljoen tienderjarige meisies wat daardie jaar in die Verenigde State swanger geraak het.
Hoewel ’n meisie in ’n paar tragiese gevalle as gevolg van verkragting swanger raak, is tienerswangerskap gewoonlik die gevolg van gewillige deelname aan voorhuwelikse geslagsomgang.a In alle geval, ’n swangerskap bring ’n ongehude meisie voor verskeie pynlike keuses te staan: Moet sy trou? Moet sy die kind laat aanneem? Is aborsie die oplossing? Dit neem weliswaar twee om ’n baba voort te bring, en ten regte moet die vader van die kind sy deel van die verantwoordelikheid dra. (Sien venstertjie.) Maar dit is meestal die meisie (moontlik met haar ouers se hulp) wat daardie moeilike keuses moet maak. En wat sy besluit, sal ’n blywende uitwerking op haar fisiese, emosionele en geestelike welsyn hê, sowel as op dié van die kind wat sy dra.
‘Moet ons trou?’
Baie meen dalk dat dit die volmaakte oplossing sal wees as hulle met die vader van die kind trou. Dit sal die meisie en haar gesin immers openbare verleentheid spaar en die kind kan deur albei ouers grootgemaak word. Maar die huwelik is nie ’n wondermiddel nie. Ten eerste kan slegs godvrugtige berou die verkeerde daad in God se oë regstelb (Jesaja 1:16, 18). Verder kan ’n oorhaastige huwelik die meisie se probleme in werklikheid vergroot. Aangesien die seun en die meisie nog in “die jeugdige leeftyd” is, het hulle moontlik eenvoudig nie die emosionele rypheid om ’n huwelik te laat slaag nie (1 Korinthiërs 7:36). Die seun is waarskynlik nie ’n ware Christen nie en is dus nie geskik as ’n huweliksmaat nie.—1 Korinthiërs 7:39.
Daarbenewens sê dr. Arthur Elster: “Ontydige ouerskap veroorsaak baiekeer dat hierdie vaders die skool verlaat, en dit gee hulle ’n aansienlike beroepsagterstand.” Die gevolglike ekonomiese struikelblokke kan ’n huwelik op die rotse laat beland. Trouens, volgens sekere studies is die egskeidingsyfer onder huwelike wat deur ’n voorhuwelikse swangerskap verhaas is 50 persent tot 75 persent!
Die huwelik is ’n ernstige stap en moet nie oorhaastig aangegaan word nie (Hebreërs 13:4). Nadat die saak goed oorweeg is, sal al die betrokkenes dalk saamstem dat ’n huwelik onverstandig sal wees, dat die meisie beter sal vaar as sy die kind tuis grootmaak met die ondersteuning van haar gesin eerder as in ’n huwelik vol probleme.
Aborsie—die Bybel se beskouing
’n Jong meisie het gesê: ‘Ek wil soveel met my lewe doen, en ’n baba sal nie inpas nie.’ Aborsie is dus elke jaar die keuse van bykans ’n halfmiljoen meisies in die Verenigde State alleen. Maar is dit reg of selfs geregverdig om ’n kind se lewe te beëindig omdat dit nie ‘inpas’ by ’n mens se persoonlike planne nie?
Let op wat die Bybel in Exodus 21:22, 23 (NW) oor die lewe van ’n ongebore kind sê: “En as manne met mekaar veg en hulle werklik ’n swanger vrou letsel toebring en haar kinders te voorskyn kom, maar daar geen noodlottige ongeval is nie, moet daar sekerlik skadevergoeding van hom geëis word . . . Maar as daar ’n noodlottige ongeval [by die moeder of by die ongebore kind] is, dan moet jy gee siel vir siel.” Ja, as die lewe van ’n ongebore kind geneem is, is dit as moord beskou!
Party dokters beweer weliswaar dat ’n ongebore kind bloot ’n fetus, of fetusweefsel, is—nie ’n mens nie. Maar God sê nie so nie. Hy beskou selfs ’n embrio as ’n afsonderlike mens, ’n lewende wese! (Psalm 139:16). Kan ’n mens ’n ongebore lewe beëindig en steeds die guns van God geniet, wat “aan almal lewe . . . gee”?—Handelinge 17:25.
Die boek Growing Into Love voer nog ’n argument teen aborsie aan: “Hoewel die gevolge van bevrugting deur ’n aborsie vereenvoudig word, is die beëindiging van ’n swangerskap gewoonlik ’n baie ontstellende en ontstemmende ondervinding. . . . ’n Tienderjarige . . . meen dalk dat die fetus net dit is—’n fetus . . . Maar geen wettiese verduidelikings, hoe baie ook al, laat haar diep binne haar vergeet dat die fetus wat sy ontvang het ’n potensiaal vir lewe gehad het nie.”
’n Jeugdige genaamd Linda het gevind dat dit waar is. Die vrees dat dit haar gesin in die skande sou steek as sy haar baba sou hê, het haar ’n aborsie laat ondergaan. Maar na die operasie sê sy: “Ek het so erg begin bewe dat ek dit nie kon beheer nie. En ek het begin huil, en meteens het dit my getref presies wat ek gedoen het. Ek het die lewe van my ongebore kind, ’n ander mens, geneem!” Wat dink Linda nou van aborsie? “Dit was die grootste fout van my hele lewe.”
‘Ek kan hom nie die beste gee nie’
Party ongehude moeders verkies om hulle baba te laat aanneem. Hulle voel dikwels soos Heather, ’n meisie wat in die tydskrif Seventeen aangehaal word en gesê het: “Ek het genoeg moeite om myself partykeer te hanteer, wat nog te sê ’n babatjie. Ek is werklik gek na kinders en ek is lief vir babas, maar ek het geweet dat ek hierdie baba nie die beste kon gee nie.”
Dit is inderdaad beter om ’n kind te laat aanneem as om sy lewe deur aborsie te beëindig. En die vooruitsig om ’n baba alleen groot te maak, kan weliswaar vir ’n jong en onervare meisie oorweldigend lyk. Een ongehude moeder het aan Ontwaak! gesê: “Jy neem ’n groot, groot verantwoordelikheid op jou skouers wat baie eensaam en vermoeiend is en wat groot opoffering verg.” Maar onthou dat God ’n ouer verantwoordelik hou om ‘vir sy of haar eie mense te sorg’ (1 Timotheüs 5:8). In die meeste gevalle sal dit die beste wees as die meisie self die kind grootmaak.
Ann, wat in die begin gemeld is, het dus ’n verstandige keuse gemaak—hoewel nie die maklikste nie. “Ek het besluit om die baba te hou”, sê sy. “My ouers het my gehelp en doen dit steeds.” Dit is weliswaar moeilik om ’n ongetroude moeder te wees. Maar dit is nie onmoontlik nie, en talle jong moeders word bekwame ouers. Dit is veral die geval as die ongehude moeder haar biddend voorneem om haar kind op te voed “in die tug en vermaning van [Jehovah]”c (Efesiërs 6:4, vgl. NW). Pleegouers kan moontlik materieel beter vir die kind sorg. Maar sal hulle die geestelike leiding verskaf wat ’n kind nodig het om met liefde vir die ware God, Jehovah, op te groei?—Deuteronomium 6:4-8.
Onthou ook dat hoewel ’n ongetroude ouer miskien materieel nie vir haar kind die beste kan gee nie, sy hom iets veel belangrikers kan gee: liefde. “Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees [“die beste vleis”, Today’s English Version] en haat daarby.”—Spreuke 15:17.
Natuurlik kan baie onnodige lyding voorkom word as ’n mens in die eerste plek die sonde van hoerery vermy.d Maar as ’n meisie in hierdie opsig oortree het, hoef sy nie die gevolgtrekking te maak dat haar lewe verby is nie. Deur verstandig op te tree, kan sy voorkom dat sy haar sonde vergroot en kan sy haar bes in haar situasie doen. Trouens, sy kan selfs die hulp en bystand van God verkry, wat diegene wat hulle verkeerde weg verlaat ‘menigvuldiglik vergeef’.—Jesaja 55:7.
[Voetnote]
a Geslagsonsedelikheid word nie onder Jehovah se Getuies geduld nie, net soos dit nie onder die Christene in die eerste eeu geduld is nie (1 Korinthiërs 5:11-13). Diegene wat hulle daaraan skuldig maak, kan nietemin die bystand van liefdevolle gemeentelike ouere manne inroep (Jakobus 5:14, 15). Deur hulle van hulle verkeerde weg te bekeer, kan sulke mense die vergifnis van sowel God as die Christengemeente geniet.
b Onder die Mosaïese Wet het God vereis dat ’n man wat ’n maagd verlei met haar trou (Exodus 22:16, 17; Deuteronomium 22:28, 29). Maar daardie wet het in die behoeftes van God se volk onder die omstandighede van daardie dag en eeu voorsien. En selfs toe was die huwelik nie outomaties nie, aangesien die vader dit kon verbied.—Sien ons medetydskrif Die Wagtoring, 15 November 1989, “Vrae van lesers”.
c Jehovah se Getuies het baie gesinne gehelp om ’n program van gereelde Bybelonderrig op te stel. Jy kan met hulle in aanraking kom deur aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.
d Sien hoofstuk 24 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Venster op bladsy 26]
Tienerswangerskap—Die gevolge vir seuns
Vrees—of selfsugtige onverskilligheid—dryf party seuns wat ’n kind buite-egtelik verwek het om hulle verantwoordelikhede geheel en al te probeer ontduik. ’n Seun wie se vriendin swanger geraak het, het gesê: “Ek het net vir haar gesê: ‘Sien jou weer.’”
Gelukkig lyk dit asof die meeste seuns ten minste in ’n mate by hulle kroos betrokke wil wees. Wanneer ’n huwelik onraadsaam lyk (soos dikwels die geval is), bied die meeste aan om finansieel te help. Party bied selfs aan om deel te hê aan die daaglikse versorging van die baba. Maar sulke pogings blyk dikwels kortstondig te wees en word verydel deur die seun se beperkte verdienvermoë en sy nypende gebrek aan die geduld en vaardighede wat nodig is vir ’n klein babatjie.
Daarbenewens is die meisie se ouers partykeer bitterlik daarteen gekant dat die seun enige verdere assosiasie met hulle dogter het uit vrees dat dit tot verdere seksuele wangedrag—of ’n ontydige huwelik—kan lei. Hulle ontsê hom miskien enige sê in besluite wat oor die kind geneem word, wat hom moontlik dwing om magteloos by te staan terwyl die kind geaborteer of vir aanneming aangebied word. Dit beëindig enige kans dat hy ooit deel sal hê in die lewe van die kind wat hy verwek het. Aan die ander kant kan ’n seun wel toegelaat word om ’n geneentheid vir sy kind te ontwikkel—en dan word daardie band wreed verbreek wanneer die meisie trou en ’n ander man die rol van vader oorneem.
Ongehude vaders betaal dus ongetwyfeld ook ’n prys vir hulle onverantwoordelike optrede. Een 16-jarige ongehude vader sê: “Daar is baie gevoelens wat jy net nie kan verwerk nie. Dis asof jy bid om terug te keer tot jou vorige situasie, maar daar’s geen manier waarop jy dit kan doen nie.”—Die tydskrif “’Teen”, November 1984.