Dierenavorsing—’n gebalanseerde beskouing
HOEWEL die prys wat betaal is ’n omstrede saak is, glo die meeste mense dat die mensdom al ontsaglike voordeel uit dierenavorsing getrek het. Selfs diegene wat geweld voorstaan in hulle protes teen die gebruik van diere in toetse, het al voordeel getrek uit nuwe mediese kennis en chirurgiese prosedures sowel as medisyne wat siektes bekamp.
Martin Stephens van die Humane Vereniging van die Verenigde State het gesê: “Ons moet eerlik wees en erken dat daar wel voordele aan dierenavorsing verbonde was. Maar ons uiteindelike doel is om diere heeltemal te vervang” (Parade Magazine, 9 Oktober 1988). “Ek moet erken”, het Vicki Miller, president van Toronto se Humane Vereniging, gesê, “dat diere wel by die eeuwisseling goed gebruik is. Die beheer van diabetes het ons tereg aan dierenavorsing te danke. Maar noudat ons allerhande alternatiewe tegnologieë het, is dit glad nie meer nodig nie.”—The Sunday Star, Toronto, Kanada.
Dieselfde kritikus is gevra hoe sy diegene met die volgende argument sal antwoord: As ’n rot moet sterf om ’n baba se lewe te red, is dit die moeite werd. As diere nie vir navorsing gebruik word nie, sterf babas om rotte te red. Haar antwoord aan Toronto se Globe and Mail was: “Dit is so ’n emosionele kwessie, en vanuit daardie oogpunt gesien is dit een wat amper onmoontlik is om te bowe te kom . . . Daar is die rot-of-die-babakwessie en jy verloor elke keer.”
In die vorige artikel is die volgende vraag gevra: “As navorsing op ’n dier jou of ’n geliefde van ’n verskriklike siekte of die dood kon red, sou jy dit weier?” John Kaplan, professor in die regte aan die Stanford-Universiteit, Kalifornië, het in die tydskrif Science van November 1988 geantwoord: “Diegene wat gekant is teen navorsing op diere het selde by hulle beginsels gebly en hulle geneeshere opdrag gegee om nie die resultate van biomediese navorsing op diere te gebruik wanneer dit hulle geliefdes of hulleself tot voordeel sou strek nie. Ook is hulle nie gewillig om die voordele van enige toekomstige vooruitgang uit dierenavorsing vir hulleself af te sweer nie. Ons kan die beginsels bewonder wat Jehovah se Getuies beweeg om bloedoortappings te weier . . . en diegene wat teen die jag van pelsdiere is om nie pelse te dra nie. Maar ons moet kragtig stry teen die ideologie wat veroorsaak dat teenstanders van dierenavorsing hulle saak najaag, nie deur hulle voorbeeld nie, maar eerder deur oneerlike argumente sodat almal die voordele ontneem word.”
“Die publiek behoort ingelig te word”, het die redakteur van die tydskrif Science van 10 Maart 1989 geskryf, “dat navorsing op diere ook ander diere tot voordeel strek. Trouens, ’n entstof vir runderpes, ’n virus wat miljoene beeste stadig en pynlik doodmaak, is deur diereproefnemings ontwikkel; die entstof word nou deur die Wêreldgesondheidsorganisasie op miljoene beeste in Afrika gebruik.”
Die Bybelse beskouing
Na die aardwye vloed in Noag se dag, het Jehovah God hierdie bevel aan Noag en sy kinders, wat ons geslag insluit, gegee: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie” (Genesis 9:1, 3, 4). Dierevelle kon ook as klere gebruik word. Dit sou nie die mens se godgegewe heerskappy oor die diereryk skend nie.—Genesis 3:21.
“Indien diere gebruik kan word as voedsel om mense se lewens te onderhou”, het die Ontwaak! van 22 Oktober 1980 gesê, “lyk dit redelik om hulle te gebruik in mediese eksperimente om lewens te red. Dit gee mense egter nie die reg om onbeperkte en dikwels waardelose, herhaalde eksperimente wat intense lyding veroorsaak, uit te voer nie.” Uit die Bybelse oogpunt, kan gevoellose wreedheid teenoor diere beslis nie geregverdig word nie.—Exodus 23:4, 5, 12; Deuteronomium 25:4; Spreuke 12:10.
Baie dokters en wetenskaplikes erken dat die radikale optrede van diegene wat teen dierenavorsing is, wel iets beteken het. “Ontsettend baie van die dierewelsynsbeweging se argumente is ekstremisties maar reg”, het een wetenskaplike erken. “Die lewe en lyding van diere moet tog seker iets beteken”, het Amerikaanse wetenskaplike Jeremy J. Stone gesê. “Soms kan die prys van kennis te hoog wees”, het Britse fisioloog dr. D. H. Smith saamgestem. “Ons stem saam met die begeerte om navorsing minder pynlik te maak, om die diere goed te versorg en minder diere in eksperimente te gebruik”, het dr. J. B. Wyngaarden van die Amerikaanse Nasionale Instituut van Gesondheid gesê. En een diereaktivis het erken: “In die verlede was dit amper ’n bewys van jou innerlike krag om diere te gebruik en niks daarvan te dink nie. Vandag is dit in die mode om aan alternatiewe te dink.”
“Alternatiewe” is die sleutelwoord. Wetenskaplikes erken dat hulle moontlik nooit so ver sal kom om diere heeltemal uit navorsing te laat nie, maar waar moontlik soek hulle die heeltyd na alternatiewe. Byvoorbeeld, konyne word nie meer gebruik om menseswangerskap te bevestig nie, aangesien ’n chemiese prosedure nou beskikbaar is. Marmotjies word nie meer gebruik om die tuberkelbasil te isoleer nie. Kultuurmetodes red nou die lewens van hierdie diertjies wat andersins sou sterf. Ander weefselkultuur-metodes het sommige toetse op muise vervang. En baie konyne wat kandidate was vir die pynlike Draize-toets kan gespaar word as gevolg van die alternatiewe gebruik van die hoendereiermembraan as ’n toetsoppervlak. Mense wat sensitief is vir diere se lyding hoop beslis dat daar baie meer alternatiewe metodes gevind sal word, en gou ook.
Die grootste alternatief vir toetse op diere sal egter daardie langverwagte aardse paradys wees waarvoor ware Christene bid. Jehovah God, die liefdevolle Skepper, het belowe dat alle siekte en selfs die dood vir ewig vernietig sal word. In God se beloofde nuwe wêreld sal mense en diere vir ewig in vrede met mekaar leef, en niks sal hulle bang maak nie. En aangesien daar nie meer siekte sal wees nie, sal diereproefnemings nie meer nodig wees nie. Wreedheid sal tot die verlede behoort.—Jesaja 25:8; 33:24; 65:25; Mattheüs 6:9, 10.