Die stryd teen siekte en die dood—Is ons besig om dit te wen?
GEEN siekte meer nie, geen dood meer nie! Vir die meeste mense klink dit dalk na blote wensdenkery. Wade W. Oliver, mediese dokter en professor in die bakteriologie, het per slot van rekening geskryf: “Siekte het sedert die vroegste geskrewe geskiedenis ’n onberekenbare invloed op die mens se lot gehad . . . Die mensdom is teen ’n skrikwekkende tempo deur groot epidemies getref . . . Siekte was nog altyd ’n deel van die mens se bestaan.”
Het ons enige rede om te glo dat ’n drastiese verandering ophande is? Sal die mediese wetenskap alle siekte en moontlik selfs die dood binnekort kan uitwis?
Dokters en navorsers het sonder twyfel merkwaardige werk gedoen in hulle stryd teen siekte. Watter ingeligte persoon is nie dankbaar vir die suksesvolle behandeling van cholera, wat uiteindelik teen die einde van die negentiende eeu moontlik was, of vir die ontwikkeling van ’n entstof teen die skrikwekkende pokkies nie? Daardie entstof is in 1796 deur Edward Jenner uit ’n minder dodelike koeipokkieseer ontwikkel. In 1806 het Thomas Jefferson, president van die Verenigde State, die mening van baie ander uitgespreek toe hy aan Jenner geskryf het: “Jy kan gerus wees dat die mensdom nooit sal vergeet dat jy gelewe het nie; toekomstige nasies sal net uit die geskiedenis weet dat die walglike pokkies bestaan het.”
Daarbenewens moet ons ook gunstig en met dankbaarheid die welslae noem wat mediese navorsing in verband met siektes soos witseerkeel en poliomiëlitis behaal het. En daar is vandag min mense wat nie die onlangser vordering loof wat met die behandeling van hartkwaal en kanker gemaak is nie. Nogtans sterf mense steeds aan hartkwaal en kanker. Die doelwit om alle siektes uit te wis het die mens nog altyd ontwyk.
Die “nuwe” siektes
Dit is ’n paradoks dat die teenswoordige era wat die koms van RAT-aftastings en rekonstruktiewe chirurgie gesien het ook die ontstaan van ’n klomp “nuwe” siektes gesien het, soos legionellasiekte, toksiese skoksindroom en die doder Vigs wat dikwels in die nuus is.
Daar is weliswaar baie wat twyfel oor hoe nuut hierdie siektes werklik is. ’n Artikel in U.S.News & World Report sê dat siektes, wat in sommige gevalle al lank bestaan, nou net noukeuriger gediagnoseer en nuwe name gegee is. Legionellasiekte is byvoorbeeld vir die eerste keer in 1976 geïdentifiseer, maar dit is moontlik vroeër verkeerdelik as viruslongontsteking gediagnoseer. Net so is toksiese skoksindroom moontlik vroeër verkeerdelik vir skarlakenkoors aangesien.
Dit lyk nietemin asof ’n aantal siektes sonder twyfel nuut is. Vigs is ongetwyfeld die bekendste van hierdie siektes. Hierdie vernietigende en dodelike siekte is in 1981 vir die eerste keer geïdentifiseer en ’n naam gegee. ’n Ander minder bekende “nuwe” siekte is Brasiliaanse purpuriese koors. Dit is in 1984 in Brasilië geïdentifiseer en het ’n geskatte sterftesyfer van 50 persent.
Geen genesing in sig nie
Daar is dus ten spyte van die mens se beste pogings glad nie ’n volkome en permanente genesing vir mensesiektes in sig nie. Dit is waar dat die mens se gemiddelde lewensverwagting sedert die jaar 1900 met ongeveer 25 jaar gestyg het. Maar hierdie verandering is hoofsaaklik te danke aan mediese tegnieke wat die risiko verminder het dat ’n mens as baba of kind sterf. Die mens se lewensduur is nog steeds na aan die Bybel se ‘sewentig jaar’.—Psalm 90:10.
Dit was dus nuuswaardig toe Anna Williams in Desember 1987 op die ouderdom van 114 oorlede is. ’n Rubriekskrywer het oor mej. Williams se dood kommentaar gelewer en geskryf: “Wetenskaplikes meen dat 115 tot 120 jaar waarskynlik die boonste grens van menslike langlewendheid is. Maar waarom is dit die geval? Waarom moet die menseliggaam na 70, 80 of selfs 115 jaar ingee?”
In die sestigerjare het mediese wetenskaplikes ontdek dat menseselle skynbaar net die vermoë het om omtrent 50 keer te verdeel. Wanneer hierdie perk eers bereik is, lyk dit asof niks gedoen kan word om die selle lewend te hou nie. Dit lyk asof vroeëre wetenskaplike teorieë wat getoon het dat menseselle vir ’n onbepaalde tyd onder die regte toestande kan voortbestaan hierdeur weerspreek word.
Daarbenewens moet ’n mens besef dat baie lyding deur die mens self veroorsaak word. Soos een navorser wat tot hierdie insigryke slotsom gekom het: “Siektes is nie net deur biomediese middels oorwin nie. Die geskiedenis van siekte is baie nou verbind aan sosiale en morele faktore.”
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gesê: “Ons het onsself benadeel deur te glo dat die wetenskap, dokters en hospitale ’n genesing sou vind pleks van die ware oorsake van siekte in die eerste plek te voorkom. Ons kan natuurlik nie klaarkom sonder die mediese versorgingsfasiliteite wat werklik lewe red nie, maar ons moet dit duidelik stel dat hulle nie tot ons ‘gesondheid’ bydra nie—hulle keer dat ons sterf. . . . Die selfvernietigende drang van die roker en die drinker, die uitwerking van werkloosheid op die gees en die liggaam—dit is party van die ‘nuwe siektes’. Waarom laat ons die ‘padongeluk-epidemie’ toe wat lewens verwoes en ons geldbronne uitput?”
Siekte, kwale, lyding en die dood maak dus nog steeds deel uit van ons. Ons het nietemin rede om met vertroue uit te sien na ’n tyd wanneer daar geen siekte en geen dood meer sal wees nie. En die beste van alles is dat ons alle rede het om te glo dat daardie tyd nou ophande is.
[Venster op bladsy 4]
DIE “SIEKTES VAN EGIPTE”
Die Bybel maak ook daarvan melding dat die mens al van die vroegste tye af ’n tevergeefse stryd teen siekte voer. Moses het byvoorbeeld ’n interessante opmerking gemaak oor “al die kwaai siektes van Egipte”.—Deuteronomium 7:15.
Hierdie siektes het blykbaar olifantsiekte, disenterie, pokkies, builepes en oogontsteking ingesluit. Moses se volk het sulke siektes grotendeels vrygespring omdat hulle deur die Wetsverbond gevorderde gesondheidsgewoontes opgelê is.
’n Noukeurige ondersoek van Egiptiese mummies het egter gelei tot die identifisering van ’n duisternis van ander “siektes van Egipte”. Hulle het artritis, werwelontsteking, tand- en kakebeensiektes, blindedermontsteking en jig ingesluit. ’n Vroeë sekulêre mediese geskrif, wat as die Eber Papirus bekend staan, noem selfs siektes soos gewasse, maag- en lewerkwale, suikersiekte, melaatsheid, bindvliesontsteking en doofheid.
Egiptiese geneeshere van weleer het hulle bes gedoen om hierdie siektes te bestry, en party het heel gespesialiseerd geraak op hulle geneeskundige gebied. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus het geskryf: “Die land [Egipte] is vol geneeshere; een behandel slegs die oogsiektes; ’n ander dié van die kop, die tande, die maag of die inwendige organe.” Maar baie van die Egiptiese “geneeskunde” was in werklikheid godsdienstige kwaksalwery en glad nie wetenskaplik nie.
Hedendaagse geneeshere het baie groter sukses in hulle stryd teen siekte behaal. En tog het mediese navorser Jessie Dobson tot hierdie gedagteprikkelende slotsom gekom: “Wat kan ons dus uit ’n studie van siektes in die verlede leer? Die algemene slotsom uit ’n oorsig van die bewyse is blykbaar dat die siektes en kwale van die verre verlede nie opvallend verskil van dié van vandag nie . . . Al die vaardighede en inspanning van pasiëntnavorsing het klaarblyklik nie veel gedoen om siekte uit te roei nie.”—Disease in Ancient Man.