Vrede tydens oorlog
Deur Ontwaak!-medewerker in Panama
VOLGENS wêreldstandaarde is Panama ’n taamlik jong land. Sy geskiedenis as ’n nasie strek maar terug tot die jaar 1903, toe hy van Colombia weggebreek en ’n onafhanklike republiek geword het.
Van die begin af het Panama noue bande met die Verenigde State gehad vanweë die konstruksie en bestuur van die Panama-kanaal, wat van 1904 tot 1914 deur Amerikaanse ingenieurs gebou is. Maar met die verloop van jare het hierdie vreedsame betrekkinge uiteindelik in wantroue en vyandigheid ontaard.
Omstreeks eenuur die oggend van 20 Desember 1989 het die vyandigheid uiteindelik op oorlog uitgeloop toe Amerikaanse troepe Panama ingeval het. Kom ons hersien kortliks ’n paar van die omstandighede wat tot daardie inval aanleiding gegee het.
Die oorsake van die inval
In 1968 is Panama se demokratiese regering omvergewerp deur ’n revolusie onder leiding van ’n leëroffisier, Omar Torrijos Herrera. Die nuwe militêre bestuur het nasionale soewereiniteit beklemtoon, en die Kanaalstreek, wat regstreeks deur die Verenigde State beheer is, het ’n twisappel geword.
In 1977 is die huidige Panama-kanaalverdrag deur generaal Torrijos en Jimmy Carter, die destydse president van die Verenigde State, onderteken. Ooreenkomstig hierdie verdrag sal die volle verantwoordelikheid vir die administrasie, bestuur en onderhoud van die kanaal in die jaar 2000 aan Panama oorgedra word.
In 1981 is Torrijos in ’n helikopterongeluk dood en is hy later deur generaal Manuel Antonio Noriega opgevolg. In Februarie 1988 is Noriega in Florida van dwelmsmokkelary aangekla, en van toe af het sy betrekkinge met die Verenigde State versleg. Die daaropvolgende jaar is verkiesings in Panama gehou, maar die Noriega-regering het die uitslae ongeldig verklaar. Die Verenigde State het vervolgens sy pogings verskerp om Noriega deur middel van diplomatieke en ekonomiese sanksies uit die saal te lig. Op 15 Desember 1989 het Panama se Nasionale Vergadering verklaar dat Panama in staat van oorlog met die Verenigde State verkeer. Die volgende dag is ’n Amerikaanse marinier doodgeskiet. Kort daarna het president Bush bevel gegee dat wapengeweld gebruik word.
Die inval in Panama was oënskynlik om die lewens van ongeveer 35 000 Amerikaanse burgers in Panama te beskerm, die veiligheid van die kanaal te verseker, demokrasie te herstel en Noriega gevange te neem om hom op dwelmaanklagte te laat teregstaan. Die inval was die grootste Amerikaanse gevegshandeling sedert die Viëtnamese Oorlog. Dit het sowat 26 000 troepe laat kragte meet met die geraamde 12-000 man van die Panamese Weermag en etlike duisende lede van die sogenaamde Waardigheidsbataljonne, burgervrywilligers wat deur die Noriega-regime opgelei is.
Omstreeks eenuur die oggend van 20 Desember 1989 is die inwoners van Panamastad, Colón en ander wat naby militêre teikens woon deur oorlogsgedreun wakker gemaak: geweer- en masjiengeweervuur, knallende mortiere en vuurpylaangedrewe bomme. Ultramoderne wapentuig is ook deur die Amerikaanse weermag ingespan, waaronder ses F-117A-Stealth-vegvliegtuie wat elk R130 miljoen kos, infrarooigeleide missiele, Apache-helikopters, tenks en soldate wat met nagsigbrille toegerus is. Binne enkele ure na die inval het feitlik alle georganiseerde verset in duie gestort, maar sporadiese gevegte met die Waardigheidsbataljonne het dae lank voortgeduur.
Christelike neutraliteit te midde van anargie
Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend vir hulle neutraliteit met betrekking tot politieke sake. Hoe het hulle gedurende hierdie nasionale ramp gevaar? Daar is ongeveer 6000 Getuies in die land, en direk na die kommunikasieverbindings herstel is, het hulle ’n opname gemaak om hulle verliese te bepaal. Hoewel etlike gesinne hulle huise en besittings verloor het, was daar gelukkig geen sterfgevalle en is niemand ernstig beseer nie.
Een Getuie wat naby die Panamese militêre hoofkwartier in Chorrillo gewoon het, vertel hierdie verhaal: “Ek was saam met my man by die huis toe ’n bom skielik naby die kanaalgebied ontplof het. Ek het vir hom gesê: ‘Ons moet wegkom hier, want dis ’n houthuis en dit kan maklik aan die brand raak.’ Ons het van die huis af weggehardloop maar was gou in ’n baie gevaarlike gebied, waar Amerikaanse en Panamese soldate in hewige gevegte betrokke was. Ons het in ’n gebou gaan skuil, en die bombardering het voortgeduur.
“Die volgende dag het ons die gevaarstreek verlaat. Ons het ’n motor voorgekeer en die bestuurder gevra om ons na die huis van my man se een vriend te neem. Toe ons in die motor klim, het ek besef dat die insittendes manskappe van die Waardigheidsbataljon is, en almal was gewapen. Dit was nie lank nie of die mans het gesê: ‘Klim uit.’ Dit was tot ons voordeel, want as ons Amerikaanse soldate teëgekom het, sou hulle waarskynlik op die manne van die Waardigheidsbataljon gevuur het en kon hulle ons doodgeskiet het.
“Ons het na die huis van een van my man se vriende gegaan. Hulle is kerkvaste Katolieke, en hulle seun leer vir priester. Hulle het nietemin deelgeneem aan die plundering en gesteelde kos geëet. Ek het dus vir my man gesê: ‘Dit is nie vir my reg nie omdat ek een van Jehovah se Getuies is, en my gewete laat my nie toe om hier te wees nie.’ Ons het toe by Getuies gaan bly, en hulle het goed na ons omgesien.
“My man was baie hartseer omdat ons ons huis en alles wat ons met groot opoffering bymekaargemaak het, verloor het. Maar ons het nog gelewe, en dit was die belangrikste. My man se houding het verander, en nou is hy nie soos voorheen daarteen gekant dat ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon nie. Hy het my selfs na ’n toespraak vergesel en was beïndruk deur die orde en vrede wat daar geheers het.”
’n Ander Getuie, wat amper 80 jaar oud is, het in die oorlogstreek gewoon en haar ondervinding vertel: “Omtrent eenuur die oggend het my niggie aan die deur geklop en gesê: ‘Die oorlog het begin!’ Toe ek die deur oopmaak, het ek gesien dat almal paniekerig die trap af hardloop. Die strate was vol mense wat in alle rigtings gehardloop het om van die bomme en die geweervuur te probeer wegkom. Maar ek het net my deur toegemaak en teruggegaan bed toe.
“Die volgende dag het mense weer deur die strate gehardloop, maar hierdie keer was dit nie om van die koeëls weg te kom nie maar om die winkels te plunder. Hulle het aangebied om kos baie goedkoop aan my te verkoop, maar ek het geweier om dit te koop, omdat ek geweet het dat dit gesteel is. Toe wou hulle dit gratis aan my gee, maar ek het vir hulle gesê dat ek dit nie eens as ’n geskenk wou hê nie. Ek het hulle gevra watter soort Christene hulle is deur te steel wat nie aan hulle behoort nie. Een van hulle het geantwoord: ‘My God laat my toe om dit te doen.’ Ek het gesê: ‘Miskien gee jou God jou toestemming, maar nie die ware God, Jehovah, nie.’”
Grootskaalse plundering
Ongeveer 80 kilometer van Panamastad aan die Atlantiese deel van die kanaal lê Colón, ’n stad met meer as honderdduisend inwoners. Dit was ook die toneel van oorlogvoering en baie plundering nadat strategiese militêre teikens aangeval is. ’n Opsiener in een van die gemeentes van Jehovah se Getuies daar vertel sy verhaal: “Net voor eenuur die Woensdagoggend is die stad wakker gemaak deur die ontploffing van bomme wat op die marinehoofkwartier van die Panamese Weermag net ’n paar [kilometer] buite Colón geval het. Die aanval het heelnag geduur en by tye het die bomme taamlik naby geval.
“Teen Vrydag was die stad in algehele chaos en in die beheer van gewapende boewe. Daar was geen polisietoesig of -beskerming nie. Iemand het ’n skeepshouer vol wapens oopgemaak, en enigeen kon daarvan vat, selfs diegene wat uit die tronk vrygelaat is. Vuurwapens kon op die mark gekoop word, waar dit in die openbaar uitgestal is. Selfs minderjariges het vuurwapens gedra.
“Mense het amok gemaak, en party in voertuie het met hulle wapens in die lug geskiet. Diegene wat dit op straat gewaag het, het hulle lewe in gevaar gestel. Ek het nietemin besluit om uit te gaan en vas te stel hoe dit met my mede-Getuies gaan. Daardie oggend het ek met ’n paar van hulle in aanraking gekom en het ons vergaderinge vir die middag gereël. Toe ek weer tuis was, wou ek net middagete begin eet toe ek die gedreun van helikopters gehoor het. Ek het na die venster geloop, en op daardie oomblik het ’n Amerikaanse helikopter wat naby ’n gebou van 15 verdiepings, die grootste in die stad, in die lug gehang het, drie vuurpyle daarop gevuur.
“Ek was geskok, want dit was ’n burgerlike teiken waar meer as honderd gesinne gewoon het, waaronder vier gesinne wat Getuies van Jehovah is. Die vuurpyle het die verdiepings getref waar hulle gewoon het. Blykbaar het party van die mense wat nie Getuies is nie en teen die inval gekant was vanuit die gebou op die helikopters gevuur, en die Amerikaners het hulle met gelyke munt betaal. ’n Digte wolk swart rook het uit die gebou geborrel. Ek het een van die Getuies geskakel wat daar gewoon het, maar niemand het geantwoord nie, en jy kan jou net voorstel hoe ek gevoel het. Ek het later ’n ander gesin geskakel, en hulle het my, tot my groot verligting, meegedeel dat al die Getuies veilig is.”
In kommentaar oor die plundering wat plaasgevind het, sê nog ’n Getuie in dieselfde stad: “Ongeveer ’n week en ’n half lank was daar geen wet en orde in die stad nie, en die skurke het oorgeneem en stelselmatig begin plunder. Onder diegene wat aan die plundering deelgeneem het, was kerkgangers en mense met goed besoldigde werk, soos prokureurs en dokters. Hulle het stowe, yskaste, klanktoerusting, rekenaars en ander goed weggedra. Toerusting ter waarde van [R57 000] is gesteel uit die kantoor waar ek werk.
“Party mense het hulle lewe in die plundering verloor. ’n Groep plunderaars het ’n houer in die gebied reg oorkant die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies beroof. Verskeie is vergruis toe ’n houer op hulle geval het, maar die ander het net aangehou plunder asof niks gebeur het nie. Hulle het met messe en vuurwapens onder mekaar baklei oor wie wat gaan kry. Dit toon wat kan gebeur as daar geen ‘hoër owerhede’, dit wil sê, regeringsgesag, is om dinge te beheer nie. Tydens sulke tye doen mense net wat hulle laer instinkte hulle voorskryf as hulle nie Jehovah se wet in hulle hart het nie.”—Romeine 13:1-4, vgl. NW.
Georganiseerde noodlenigingswerk
Direk nadat die takkantoor van Jehovah se Getuies hier in Panama verneem het hoeveel hulle huise verloor het en materiële bystand nodig gehad het, is daar besluit om noodleniging vir hulle te reël. In Panamastad, waar bykans die helfte van die land se bevolking woon, is baie van die winkels beroof. Die Takkomitee het dus in aanraking gekom met Getuies wat in ander plekke woon waar kos nog beskikbaar was. Die Getuies wou geld en kos skenk, en hulle is dus gevra om meel, rys, boontjies, olie en ander duursame kosse te koop.
’n Groot vragmotor is met etlike tonne van hierdie items gelaai, en binne enkele dae na die inval is dit beskikbaar gestel en gratis aan behoeftiges gegee. Verspreidingspunte is in talle Koninkryksale dwarsdeur die geteisterde gebiede opgerig, totdat daar na almal omgesien is. Van die kos het oorgebly, en dit is aan diegene beskikbaar gestel wat hulle lewensbestaan as ’n direkte gevolg van die oorlog verloor het.
Heelparty wat hul materiële besittings verloor het, was huiwerig om hulp te vra, wat ’n skerp kontras gevorm het met die plunderaars wat deur hebsug gemotiveer is. Tydens die meeste rampe is daar altyd diegene wat voordeel uit die situasie trek vir materiële gewin.
Sommige Panamese is optimisties oor Panama se toekoms onder ’n nuwe regeringsbestel. Ander beskou die oorlog steeds as ’n daad van imperialistiese aggressie. Intussen gaan Jehovah se Getuies voort om regskape mense te vertel van God se Koninkryk, die enigste regering wat nie net die probleme van Panama nie maar dié van die hele wêreld sal oplos.—Daniël 2:44; Mattheüs 6:9, 10.
[Prente op bladsy 24, 25]
Die Chorrillo-gebied is in die stryd vernietig; winkels is geplunder; militêre installasies is verwoes
[Prente op bladsy 26]
’n Selfdienwinkel en pakhuise wat deur plunderaars vernietig is