Dinge wat orkaan Andrew nie kon vernietig nie
DAAR is orkane en orkane.a Party is weinig meer as sterk winde wat swaar reën bring en bome ontwortel. Dan was daar orkaan Andrew in Suid-Florida (24 Augustus 1992) en Louisiana (26 Augustus 1992), orkaan Iniki in Kauai, Hawaii (12 September 1992), en tifoon Omar in Guam (28 Augustus 1992).
Hierdie orkane het skade van miljarde rande veroorsaak. Tientalle mense het in Florida gesterf. Duisende gesinne is dakloos gelaat. Versekeringsagente het tussen verwoeste huise rondgeskarrel om die eienaars op te spoor en tjeks uit te skryf.
’n Verslag van die Fort Lauderdale-noodlenigingskomitee van Jehovah se Getuies het gesê dat 518 van die 1033 wonings van Jehovah se Getuies in die gebied herstel kon word. Volgens daardie verhouding sou dit beteken dat ten minste 50 persent van alle huise in orkaan Andrew se pad verwoes is. Ná die tyd het diegene wat gelukkig genoeg was om nog ’n bewoonbare huis te hê probeer om hulle meubels en gordyne droog te kry en die wit slyk uit te vee wat veroorsaak is deur plafonne wat ingesak het onder die stortreën wat deur die beskadigde dakke geval het. Baie kon beswaarlik na die oorblyfsels van hulle huis kyk. Diegene wat in die minder stewige mobiele wonings of woonwaens gewoon het, is moontlik die ergste getref.
Orkaan Andrew het niemand gespaar nie
Een van hierdie egpare was Leonard en Terry Kieffer. Toe hulle weer by hulle mobielewoning-park in Florida City kom, moes hulle hulleself by ’n militêre kontrolepunt identifiseer voordat hulle die gebied kon binnegaan. Hulle het ’n mobielewoning-park gesien wat gelyk het of dit deur honderde bomme getref is—sonder om enige kraters te laat. Bome is ontwortel. Verwronge aluminiumplate, wat voorheen mure en dakke van wonings was, was om bome gedraai en het ironies genoeg soos feesversierings aan boomtakke gehang. Kragdrade het oral op die grond gelê en die houtpale was soos vuurhoutjies geknak. Motors is omgewaai en heeltemal verniel.
Bob van Dyk, wie se nuwe huis onbewoonbaar verklaar is, het die toneel in sy huis beskryf: “Die plafon het neergestort en die verpletterbare goed verpletter, die buigbare goed gebuig en ons wat bang gemaak kon word, bang gemaak.”
Persoonlike besittings, speelgoed, klere, foto’s en boeke het rondgelê as hartseer herinnerings aan ’n vorige lewenstyl. ’n Eensame swart kat het doelloos deur die puin gedwaal. Hy het vraend na die Kieffers teruggekyk. Akkedissies het oor goed geskarrel wat voorheen iemand se kosbare besittings was. Die stank van verrottende voedsel uit stukkende yskaste het in die lug gehang. In elke rigting was daar ’n toneel van geweldige verwoesting—alles is veroorsaak deur winde, sterk winde wat meer as 260 kilometer per uur bereik het.
Dit was hartverskeurend vir die eienaars en bewoners van hierdie huise. Nadat hulle jare lank ’n gesin grootgemaak het en hulle lewe in hulle eie besondere tuiste gelei het, het hulle ná die storm teruggekom en gesien dat alles vernietig en verstrooi was. Die Kieffers kon op ’n vorige besoek van hulle besittings red, maar dit was vir hulle te ontstellend om deur die res van die puin te gaan. Maar hulle was dankbaar dat hulle nog gelewe het en God kon dien.
Orkaan Andrew het niks gespaar nie. Winkelsentrums, fabrieke, pakhuise—alles het die teiken geword van die natuur se aanslag. Die niksbeduidende mens se boukodes kon nie die toets deurstaan nie.
Die beste en die slegste van die menslike natuur
Van oral oor die land het hulp na Florida toe gestroom, namate verskillende noodlenigingsagentskappe georganiseer is. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, het onmiddellik opgetree en ’n noodlenigingskomitee aangestel wat van die Fort Lauderdale-Byeenkomssaal sou funksioneer. Hulle het ook ’n aansienlike som geld beskikbaar gestel om boumateriaal, voedsel en noodvoorrade te koop. Die Getuies was gevolglik onder die eerstes wat op die situasie gereageer het en om vrywilligers begin vra het. Trouens, baie het gekom sonder dat hulle gevra is.
Getuiewerkers het uit Kalifornië, Noord-Carolina, Oregon, die staat Washington, Pennsilvanië, Missouri en baie ander plekke gekom. ’n Streekboukomitee van Virginië wat gewoonlik Koninkryksale bou, het ’n groep van 18 Getuies gestuur om dakke te herstel. Hulle reis daarheen het 18 uur geduur. Noodlenigingswerkers het vakansietyd geneem of verlof gevra en het honderde en selfs duisende kilometers oor die land gery om by hulle mede-Getuies te kom wat in nood verkeer het.
Die hulp wat die groep uit die Charleston-gebied in Suid-Carolina gegee het, was van onskatbare waarde. Hulle het reeds in 1989 ondervinding gehad met orkaan Hugo. Hulle het geweet wat om te verwag en het vinnig noodvoorrade gereël, onder andere kragopwekkers en boumateriaal. Binne twee weke het spanne vrywilligers sowat 800 huise droog gemaak en baie dakke herstel.
Baie huweliksmaats en bure wat nie Getuies is nie, is bevoordeel deur die hulp wat die spanne Getuieherstelwerkers gebied het. Ron Clarke van West Homestead het gesê: “Ongelowige huweliksmaats was regtig beïndruk met alles. Hulle was in trane en oorstelp deur wat die Getuies alreeds vir hulle gedoen het.” Van ’n ongelowige eggenoot van een Getuie het hy ook gesê: “Hy is in ekstase—Getuies is juis nou daar om sy dak vir hom op te sit.”
’n Ander Getuie het vertel van sy bure wat nie Getuies is nie en wat hy elke aand besoek het. Hulle het gesê dat alles in die haak is. Op die vyfde dag het die vrou in trane uitgebars. “Ons het geen doeke vir die baba nie. Ons babakos is amper op. Ons het nie genoeg kos en water nie.” Die man het 20 liter petrol nodig gehad maar kon dit nêrens kry nie. Daardie selfde dag het die Getuie alles wat hulle nodig gehad het van die noodlenigingsdepot by die Koninkryksaal gebring. Die vrou het van dankbaarheid gehuil. Die man het ’n bydrae vir die noodlenigingswerk gegee.
Die gemeentelike ouere manne en bedieningsknegte wat saamgewerk het om die noodleniging by die verskillende herstelde Koninkryksale in die rampgebied te organiseer, het ’n belangrike rol gespeel. Hulle het onverpoos gewerk om al die Getuies op te spoor en vas te stel wat hulle behoeftes is. In teenstelling daarmee het ’n lugmagoffisier die volgende oor die noodlenigingspoging in ’n ander gebied gesê: “Al die leiers wil net leiers wees, maar niemand wil aan die werk spring en die eintlike vuil werk doen nie.”
Rampe kan die beste en die slegste in mense na vore bring. ’n Voorbeeld van laasgenoemde was die plundering. Een Getuiegesin het besluit dat hulle ten minste hulle yskas en wasmasjien kon gee om by die noodlenigingsentrum by die plaaslike Koninkryksaal gebruik te word. Hulle het na die saal toe gegaan om ’n bakkie te kry. In hulle afwesigheid het plunderaars albei toestelle gesteel!
’n Ooggetuie het gesê: “Terwyl ons deur die verlate strate gery het, het ons huise gesien met tekens wat plunderaars waarsku om weg te bly. Party van die tekens het gesê: ‘Plunderaars moet sterf’ en ‘Plunderaars sal geskiet word.’ Ander het gesê: ‘Twee plunderaars geskiet. Een dood.’ Winkels en winkelsentrums is geplunder.” Volgens ’n sersant in die 82ste Lugeenheid is minstens een plunderaar gevang en sonder verhoor wederregtelik deur die mense doodgemaak.
Baie is in hegtenis geneem. In enige ramp is misdadigers blykbaar gereed om soos aasvoëls toe te sak. En selfs die sogenaamde gewone mense word opgesweep om te plunder. Godsdiens, etiek en sedes verdwyn blykbaar wanneer die moontlikheid bestaan om iets vir niks te kry.
Daar is aan Ontwaak! vertel dat gewapende plunderaars in die begin selfs ’n paar soldate se ongelaaide gewere gesteel het. Daar is gehoor dat party soldate gesê het dat hulle die noodlenigingsentrum by die Koninkryksaal as ’n oase in die woestyn beskou het, “omdat”, soos hulle gesê het, “julle mense nie vuurwapens dra nie”.
‘Moet jou nie sit en verknies nie’
Wat het Jehovah se Getuies uit hulle ondervindings met natuurrampe geleer? Hervat geestelike bedrywighede so gou as moontlik. Ed Rumsey, ’n opsiener in Homestead, het aan Ontwaak! gesê dat een dubbele Koninkryksaal die Woensdag ná die Maandag van die orkaan vir vergaderinge gereed was. ’n Deel van die dak het weggewaai, die plafon het ingesak en water het ingekom. Die vrywilligers het vinnig gewerk om die Koninkryksale vir vergaderinge reg te kry en sodat hulle as bevelsposte gebruik kon word waarvandaan noodlenigingswerk in hulle verwoeste gebied gereël kon word. Kombuise is opgerig sodat etes vir slagoffers en noodlenigingswerkers bedien kon word.
Fermín Pastrana, ’n ouere man van die Princeton- Spaanse gemeente, het gesê dat sewe gesinne in hulle gemeente van 80 Getuies hulle huise geheel en al verloor het. Wat het hy sy mede-Getuies aangeraai om te doen? “Treur as jy wil treur. Maar dan moet jy jou nie sit en verknies nie. Raak besig en help ander, en gaan uit in die bediening as dit enigsins moontlik is. Moenie van ons Christelike vergaderinge af wegbly nie. Los die probleme op wat jy kan oplos, maar moet jou nie kwel oor dinge wat geen oplossing het nie.” As gevolg daarvan het Getuies kort voor lank begin preek en noodlenigingspakkies van huis tot huis geneem. Orkaan Andrew kon nie hulle ywer blus nie.
‘Volgende keer sal ons ontruim!’
Sharon Castro, ’n 37-jarige vrou van Cutler Ridge, het haar verhaal aan Ontwaak! vertel: “My pa het besluit om nie te ontruim nie. Aangesien die vorige orkaan van koers verander het en nie die kus van Florida getref het nie, het hy gedink dat orkaan Andrew dieselfde sal doen. Hy wou nie eens die vensters met planke toespyker nie. Gelukkig het my broer by ons aangekom en daarop aangedring om die vensters met laaghout toe te maak. Sy optrede het ongetwyfeld ons lewe gered. Ons vensters sou aan skerwe gespat het, en ons sou stukkend gesny gewees het.
“Teen omtrent 4:30 vm. het die krag afgegaan. Die geraas buite was vreesaanjaend. Dit het soos ’n groot spoorwegtrein geklink. Daar was ’n gekraak van bome en geboue wat breek. Ons het later uitgevind dat die aaklige skril geluid wat ons gehoor het die geraas van die lang spykers in ons dak was wat hulleself losgewerk het. Die solderkamer en een derde van die dak het afgewaai. Ons 12, onder andere my ma, wat ’n invalide is, en my 90-jarige ouma, moes op die ou end in ’n kamer sonder vensters in die middel van die huis skuil. Ons was seker dat ons daar sou sterf.”
Watter les het sy uit die ondervinding geleer? “As hulle volgende keer sê ons moet ontruim, sal ons ontruim—sonder om teë te praat. Ons sal ag slaan op waarskuwings. Ek het ook geleer om mededeelsaam te wees en van bitter min te lewe. En ek weet dat dit nie verkeerd is om te huil, te treur en dan die werklikheid onder die oë te sien nie.”
Reaksies van die pers
Selfs die media het gesien hoe goed die Getuies georganiseer was. In die Savannah Evening Press was die hoofopskrif “Jehovah se Getuies ontdek dat hulle in Suid-Florida welkom is” en The Miami Herald het gesê: “Getuies sorg vir hulle eie mense—en vir ander.” Dit het gesê: “Daar is hierdie week niemand in Homestead wat deure toeslaan vir Jehovah se Getuies nie—al het hulle nog deure om toe te slaan. Omtrent 3000 Getuies het van oor die hele land vrywillig na die rampgebied gestroom; eerstens om hulle eie mense te help, en dan om ander te help. . . . Enige militêre organisasie sal die Getuies se presisie, dissipline en doeltreffendheid beny.”
Die Getuies is gewoond daaraan om groot groepe mense by hulle byeenkomste van voedsel te voorsien. Daarbenewens het hulle honderde streekboukomitees oor die hele wêreld georganiseer om Koninkryksale en groot Byeenkomssale te bou. Hulle het gevolglik opgeleide werkkragte wat gereed is om binne ’n paar uur te reageer.
Maar daar is ’n ander faktor—hulle gesindheid. Dieselfde berig het voortgegaan: “Daar is geen burokrasie nie. Daar is geen strydende ego’s nie. Inteendeel, werkers lyk ongelooflik opgewek en behulpsaam, ongeag hoe warm dit is of hoe vuil of uitgeput hulle is.” Hoe kan dit verduidelik word? Een Getuie het geantwoord: “Dit kom van ’n verhouding met God wat ons beweeg om ons liefde vir ander te toon.” Dit is nog iets wat orkaan Andrew nie kon wegneem nie—die Getuies se Christelike liefde.—Johannes 13:34, 35.
’n Interessante vergelyking is dat die Getuies blykbaar van die bome geleer het. Een ooggetuie het dit so gestel: “Terwyl ek rondgery het, het dit my opgeval dat honderde groot bome ontwortel is en omgewaai het. Waarom? Hulle het as gevolg van hulle grootte groot windweerstand gebied, en hulle het groot maar vlak wortelstelsels gehad. Daarenteen het die meeste slanke palmbome bly staan. Hulle het saam met die wind gebuig, party het hulle blare verloor, maar die meeste het in die grond geanker gebly.”
Die Getuies het diep wortels van geloof in God se Woord en was buigsaam in hulle reaksies. Besittings en huise was vir hulle nie alles nie. Hulle het ten minste nog gelewe en kon voortgaan om Jehovah ten spyte van rampspoed te dien. Die lewe was iets wat orkaan Andrew nie van hulle weggeneem het nie.
Hoe word dit gedoen?
Die Anheuser Busch-maatskappy het ’n vragmotor met drinkwater geskenk. Toe die bestuurder opdaag, het hy die amptenare gevra waar hy die water moet aflewer. Daar is vir hom gesê dat die enigstes wat georganiseer was die Getuies is. Trouens, binne ’n week nadat orkaan Andrew die gebied getref het, het 70 vragmotorvragte voorrade by die Fort Lauderdale-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies aangekom.
’n Vrywilliger daar sê: “Ons het toe ’n hele vragmotor met drinkwater gekry. Ons het dit dadelik ingesluit by die ander voedselvoorrade wat ons na verspreidingspunte by die Koninkryksale gestuur het. Dit is met die broers en die bure gedeel wat in daardie gebied in nood verkeer het.” ’n Papiermaatskappy in die staat Washington het 250 000 papierborde geskenk.
In die begin het stadsowerhede vrywilligers wat nie Getuies is nie na die Koninkryksale gestuur en gesê: ‘Hulle is die enigstes wat behoorlik georganiseer is.’ Eindelik het die leër na die gebied gekom en noodlenigingsentrums vir voedsel en water sowel as tentdorpe begin oprig.
Die eerste verspreidingspunt van die Getuies is deur die noodlenigingskomitee by die Fort Lauderdale-Byeenkomssaal opgerig, wat sowat 60 kilometer noord van die hooframpgebied naby Homestead is. Om van die druk te verlig, is ’n primêre verspreidingspunt by die Plant City-Byeenkomssaal naby Orlando, omtrent 400 kilometer noordwes van die rampgebied, opgerig. Die meeste van die noodlenigingsmateriaal is daar gesorteer en verpak. Die komitee het daagliks alles wat hulle nodig gehad het van Plant City bestel, en groot vragmotors is gebruik om die vyf uur lange rit na Fort Lauderdale af te lê.
Dié verspreidingspunt het weer drie herstelde Koninkryksale in die middel van die rampgebied van voedsel, materiale, water, kragopwekkers en ander benodigdhede voorsien. Bekwame Getuies het daar bou- en skoonmaakspanne georganiseer om die honderde huise wat aandag nodig gehad het, te besoek. Kombuise is in die Koninkryksaalgronde ingerig, en almal was welkom om daar aan te klop vir hulp. Selfs van die soldate het daar ’n ete geniet, en later is gesien hoe hulle bydraes in die bydraebussies gooi.
Terwyl die mans besig was om huise te herstel, het van die vroue etes voorberei. Ander het enigiemand wat hulle tuis kon vind, besoek om hulle van die Bybel se verduideliking van natuurrampe te vertel en ook om noodlenigingspakkies aan dié in nood te gee. Een van hulle was Teresa Pereda. Haar huis was beskadig en haar motorvensters was uitgeslaan—tog was haar motor gepak met noodlenigingspakkies, gereed vir haar bure. Haar man, Lazaro, was besig om by een van die Koninkryksale te werk.—Prediker 9:11; Lukas 21:11, 25.
Daar is vir baie van die dakloses alternatiewe huisvesting gevind in die huise van Getuies wat nie deur orkaan Andrew beskadig is nie. Ander het in woonwaens gewoon wat vir dié doel geleen of geskenk is. Party het in die tentdorpe ingetrek wat deur die leër opgerig is. Ander het hulle huise eenvoudig afgeskryf en by vriende en familie in ander dele van die land gaan woon. Hulle het nie ’n huis of ’n werk gehad nie. Daar was geen elektrisiteit, geen water of voldoende riolering nie—hulle het gevolglik gedoen wat vir hulle die beste was.
’n Spaanssprekende Getuie het een les wat almal geleer het goed uitgedruk: “Ons is baie dankbaar vir die les wat ons geleer het oor ons doelwitte in die lewe. Jy weet, ’n mens kan 15 of 20 jaar jou huis opbou, materiële dinge opgaar, en dan in net een uur kan dit alles weg wees. Dit help ons om ons doelwitte op ’n geestelike grondslag te stel, ons lewe te vereenvoudig en werklik te dink oor ons diens aan Jehovah.”
Dit is soortgelyk aan wat die apostel Paulus gesê het: “Wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.”—Filippense 3:7, 8.
Natuurrampe is ’n deel van die lewe in die wêreld van vandag. As ons op die waarskuwings van die owerhede ag slaan, kan ons ten minste ons lewe red. Miskien gaan huise en besittings verlore, maar ’n Christen se verhouding met “die God van alle vertroosting” moet versterk word. Al sterf party in ’n ramp, voorspel Jesus vir hulle ’n opstanding in God se nuwe wêreld op ’n herstelde aarde—’n aarde waar droefheid of die dood as gevolg van natuurrampe nooit ervaar sal word nie.—2 Korinthiërs 1:3, 4; Jesaja 11:9; Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:3, 4.
[Voetnoot]
a ’n Orkaan is ’n “tropiese sikloon wat oor die Noord-Atlantiese Oseaan ontwikkel met windsnelhede van meer as 75 m.p.u. (121 km/h)” (The Concise Columbia Encyclopedia). ’n Tifoon is ’n “orkaan wat in die Westelike Stille Oseaan of die Chinese See voorkom”.—The American Heritage Dictionary of the English Language.
[Venster op bladsy 20]
Totaal oorbluf
’n Groep van 11 blanke Getuies het van Tampa, Florida, af gekom om met die noodlenigingswerk te help. Hulle het voorrade gekry en begin om die dak van ’n swart Getuie te herstel. Toe ’n neef opdaag wat nie ’n Getuie is nie, kon hy sy oë nie glo nie—hy was totaal oorbluf dat ’n groep blanke Getuies voor hom opgedaag het en besig was om sy oom se huis te herstel. Hy was so beïndruk dat hy selfs met die bouwerk gehelp het.
Hy het gesê dat hy ’n Bybelstudie gaan vra wanneer die Getuies weer by sy huis kom. Terwyl hy met die groep van Tampa gepraat het, het dit duidelik geword dat hy van hulle gebied af kom. Een van die ouere manne in die groep het sonder versuim reëlings getref vir ’n Bybelstudie die volgende week! Soos een Getuie gesê het, bewys dit dat ’n mens nie net aan deure hoef te klop om ’n getuienis te gee nie—jy kan ook aan dakke klop!
[Prente op bladsy 15]
Orkaan Andrew het niks gespaar nie, en min geboue het bly staan
Die Kieffers se mobiele woning —en wat daarvan oorgebly het
[Prente op bladsy 16]
Rebecca Pérez, haar dogters en 11 ander het in hierdie ruimtetjie oorleef
Die leër het ingegryp om plundering te voorkom (regs bo); geplunderde winkels (regs)
Die orkaan het dakke afgeruk en motors rondgegooi
[Prente op bladsy 17]
Noodleniging is by Koninkryksale georganiseer
Mobiele wonings is om bome gedraai; ’n kind se speelgoed lê verlate op ’n matras; Bybellektuur is tussen die puin; Getuies, soos Teresa Pereda, het voorrade by hulle bure afgelewer
Boumateriaal wat bygedra is. Klere word gesorteer
[Prente op bladsy 18]
Vrywilligers van oral oor die Verenigde State het met die noodlenigingswerk gehelp