Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 5/8 bl. 26-27
  • Die egte panamahoed—In Ecuador vervaardig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die egte panamahoed—In Ecuador vervaardig?
  • Ontwaak!—2001
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrede tydens oorlog
    Ontwaak!—1990
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Hulle het hom “Bible” Brown genoem
    2014 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Ecuador—’n Land wat op die ewenaar lê
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 5/8 bl. 26-27

Die egte panamahoed—In Ecuador vervaardig?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ECUADOR

IS DIE klant bedrieg? Vir ’n bystander sou dit dalk so gelyk het. Die man het immers R2 300 vir ’n egte panamahoed betaal. Maar die verkoopsman het dit uit ’n kartondoos gehaal wat duidelik gemerk is: “In Ecuador vervaardig”! Openlike bedrieëry? Geensins nie. Trouens, die ware panamahoed word inderdaad in Ecuador vervaardig. Maar hoe het dit hierdie verkeerde benaming gekry? En waarom sou so ’n hoed duisende rande werd wees?

In die middel van die negentiende eeu het goudsoekers oor die Panama-landengte na Kalifornië gestroom. Daar het hulle hoede gekoop wat uit Ecuador ingevoer is. Die hoede het mettertyd die naam gekry van die plek waar hulle gekoop is en nie waar hulle gemaak is nie. In elk geval, die panamahoed het baie gewild geword. In 1849 het Ecuador byvoorbeeld meer as 220 000 van hulle uitgevoer! Toe, in 1855, het ’n Fransman wat in Panama gewoon het, die hoed tydens ’n wêreldskou in Parys bekend gestel. Die modebewuste Franse was beïndruk met die fyn materiaal, en party het dit selfs as “strooilap” beskryf. Dit was kort voor lank feitlik ondenkbaar om enige ander styl te dra!

Aan die begin van die 20ste eeu het die panamahoed selfs gewilder geword toe ’n foto van die Amerikaanse president, Theodore Roosevelt, met ’n stylvolle fino op, in die wêreldpers verskyn het. Die aanvraag na hierdie elegante hoed het toegeneem. Toonaangewende maatskappye regoor die wêreld het die hoede begin versprei. In Turkye het moderniseringswette in 1925 die tradisionele fes verbied en wetlik voorkeur gegee aan die panamahoed. Die panamahoed het teen 1944 Ecuador se vernaamste uitvoerproduk geword.

Teen die tweede helfte van die 20ste eeu het die gewildheid van hoede begin afneem. Maar Ecuador se fyn geweefde panamahoede het hulle geheimsinnige bekoring behou. Bedrewe hoedemakers oor die hele wêreld ding in werklikheid mee om die beste panamahoede in die hande te kry. Beroemde mense van die ou tyd en tot in ons dag is al deur die elegansie van die panamahoed bekoor. Winston Churchill, Nikita Chroesjtsjef, Humphrey Bogart en Michael Jordan—om maar net ’n paar te noem—het al met hierdie elegante hoofbedekking gespog.

Daar is natuurlik goedkoop namaaksels van die egte panamahoed wat op groot skaal vervaardig word. Maar baie van hierdie namaaksels kry skeurtjies; en ander laat nie lug deur nie. In teenstelling hiermee is die egte panamahoed lig en lugtig, en dit hou vir ewig. Elkeen word met die hand geweef en is derhalwe uniek. Pryse wissel van ’n paar rand vir die growwer hoede tot meer as R7 000 vir die seldsame soort, die superfinos van Montecristi. Die gehalte word bepaal deur hoe fyn en egalig dit geweef is sowel as die kleurvastheid daarvan. Maar onthou altyd dit: ’n Egte panamahoed word net in Ecuador vervaardig.

[Venster/Prente op bladsy 26, 27]

Hoe ’n panamahoed gemaak word

Hoe word die panamahoed gemaak? ’n Soort palmplant voorsien die soepel, dog geharde vesel wat toquilla genoem word. Ecuador se laagliggende kusgebiede het die ideale toestande waar hierdie plant kan groei en gedy. Die Ecuadoriaanse hoedemakers word as van die beste wewers in die wêreld beskou. En watter veeleisende werk doen hulle tog nie! Dit kan hulle tot ses maande of langer neem om die hoëgehalte-superfino van Montecristi te weef. Elke vesel in die hoed is taamlik kort. Maar in ’n egte panamahoed kan jy skaars sien waar die een vesel eindig en die volgende begin. Daarbenewens is die vesels so dig geweef dat dit selfs waterdig is!

Die stad Montecristi is bekend vir sy besondere handgeweefde hoede. Die meesters van die Montecristi-gebied weef vroeg in die oggend of laat in die middag sodat die ekwatoriale hitte nie die soepelheid van die vesel beïnvloed nie. Hulle begin die bol deur die vesels versigtig al in die rondte inmekaar te weef totdat dit die regte grootte is. Die bol word dan op ’n silindriese houtblok geplaas sodat die hoedemaker se hande op vaardige wyse afwaarts om die blok kan beweeg terwyl hy die kante weef. Ná baie weke begin hy uitwaarts weef om die rand te vorm. Nadat dit gewas, gebleik en deeglik afgewerk is, is die eindresultaat die beroemde panamahoed.

[Prente]

Blare word in repe gesny, gekook en gedroog voordat dit geweef word

[Prent op bladsy 27]

Winston Churchill is een van talle welbekende mense wat al die panamahoed gedra het

[Erkenning]

U.S. National Archives photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel