Ons beskou die wêreld
NUWE BYBELVERTALINGS
Die hele Bybel of gedeeltes daarvan is tans aan ongeveer 98 persent van die wêreld se bevolking beskikbaar en is gedeeltelik of in sy geheel in sowat 1928 tale vertaal. Die Franse koerant La Croix berig dat 21 nuwe Bybelvertalings in 1989 uitgegee is. Onder die nuwe vertalings is tale soos Tok Pisin, ’n soort Pidgin-Engels wat in dele van Papoea-Nieu-Guinee gepraat word; Trukees, wat op die eiland Truk en ander Suidsee-eilande gepraat word; Lahoe, ’n nie-Chinese Sino-Tibetaanse taal van Suidoos-Asië; en Bawm, wat in Bangladesj gepraat word. Daar word tans gewerk aan vertalings in ’n Lapse taal wat in dele van die Sowjetunie en Skandinawië gepraat word, en in Sigeunertaal.
SKAKEL IN BEENSIEKTE OPGESPOOR
Osteoporose, ’n beensiekte wat soms verlamming tot gevolg het, tas ’n kwart van die Blanke vroue ouer as 60 in die Verenigde State aan. Dr. Jeanne Freeland-Graves van die Universiteit van Texas in Austin beweer dat daar ’n verband tussen osteoporose en die mangaanvlak in die bloed is. Haar navorsing toon dat bejaarde vroue met osteoporose minder van die mineraal in hulle bloed het as gesonde vroue van dieselfde ouderdom en dat die verlaagde vlakke dalk bydra tot die siekte. “Bene begin ná die ouderdom van 35 verswak”, sê dr. Freeland-Graves. “Maar wanneer vroue die menopouse ondergaan, verloor hulle die beskermende uitwerking van estrogeen en die tempo van beenverlies versnel in werklikheid.” Sy sê dat hoewel kalsium belangrik is vir bene, die siekte nie voorkom sal word deur kalsiumaanvullers te drink nie, want “bene bestaan uit meer as kalsium, en mangaan is een van die minerale wat in die bene geberg word”. Kossoorte wat ryk aan mangaan is, is pynappels, pekanneute, grondboontjies, bone, rys, spinasie, patats, hawermeel en volkoringbrood.
BORSVOEDING BESKERM
’n Groep dokters wat deur professor Peter Howie van die Ninewells-Hospitaal en Mediese Opleidingskool, Dundee, Skotland, gelei word, kom tot die slotsom dat moeders wat hulle babas aan die bors voed hulle ’n belangrike voordeel gee—’n vermindering in die kanse op infeksie. ’n Studie onder babas gedurende hulle eerste jaar, wat in die British Medical Journal gepubliseer is, het berig dat babas wat vir die eerste 13 weke aan die bors gevoed word minder as ’n derde van die maagdermsiektes kry wat bottelbabas aantas. Borsvoeding het ook ’n soortgelyke maar geringer uitwerking tot gevolg deurdat dit asemhalingsprobleme verminder. Die dokters kom tot die slotsom dat moeders “ten minste drie maande met borsvoeding moet volhou” sodat die babas hierdie voordele kan kry.
MISDAADKARNAVAL
’n Brasiliaanse koerant, Folha de S.Paulo, het onlangs ’n lys van ernstige misdade uitgegee wat gedurende die karnaval voor die Vastyd in São Paulo gepleeg is. In net 18 uur was daar 616 gevegte; altesaam 432 diefstalle, inbrake en gevalle van straatroof; 17 verkragtings; 3 ontvoerings en 39 moorde. Boonop was daar, gedurende dieselfde periode van 18 uur, 24 brande, 12 verdrinkings en 6 selfmoorde; 17 minderjariges is weggegooi; en 23 lyke is gevind. Berigte toon ook dat daar daagliks gemiddeld 260 motors gedurende die vyf dae van die fees gesteel is.
GEVAAR OP STRAAT
Volgens The New York Times is die stad New York “die stad in die land waar die meeste straatrowery voorkom”. Die berig het ook getoon dat meer moorde as ooit tevore, altesaam 1905, gedurende 1989 in New York-stad gepleeg is. Gedurende die eerste twee maande van 1990 het moordsyfers “met 20 persent gestyg vergeleke met dieselfde periode verlede jaar”. Dit is buiten die 87 mense wat in Maart gesterf het in ’n brand wat in ’n geselskapsklub in die Bronx gestig is. Volgens die Times, erken die polisieowerhede dat hulle polisiemag wat uit 25 500 lede bestaan nie genoeg is nie en dat hulle dit moeilik vind om reg en orde op die strate te handhaaf. New York-stad se totale misdaadsyfer vir 1989 sluit 542 932 misdade teen eiendom en 169 487 misdade teen mense in.
HULLE IS BANG OM HUIS TOE TE GAAN
Wat het jare van lang ure by die werk ’n toenemende aantal Japannese mans in die sak gebring? ’n Gevoel van vervreemding van hulle gesin en ’n verlies van gesag as eggenoot en vader. ’n Opname deur ’n Foekokoe Onderlinge Lewensversekeringsmaatskappy het aan die lig gebring dat 40 persent van die manlike werknemers in Japan se topmaatskappye ten minste een keer per week verkies om nie huis toe te gaan nie. Twee derdes van hulle drink tot die vroeë oggendure saam met vriende, en een derde drink alleen. Wat meer drasties is, is dat ander eenvoudig verdwyn. Trouens, die Nasionale Polisieagentskap het Ontwaak! meegedeel dat gesinsprobleme die hoofoorsaak is van die skynbaar vrywillige verdwyning van die 46 577 mans na wie hulle in 1988 gesoek het.
“GEEN REDE OM FEES TE VIER”
Die Brasiliaanse koerant O Estado de S.Paulo berig: “Stanley Matthews, die beroemdste Engelse sokkerspeler, en die enigste wat die eretoekenning van Ridder van die Koninkryk ontvang het, vind geen rede om fees te vier nie.” “Hy is van mening dat die hedendaagse manier van speel ontmoedigend is omdat die genot van die spel nou weg is.” Matthews, wat in 1965 op die ouderdom van 50 sy beroepsokkerloopbaan vaarwel toegeroep het, is van mening dat hedendaagse spelers maniere en sedes kort en dat hulle deur geweld en dislojaliteit gekenmerk word. “Die hedendaagse spelers speel vuiler as in my tyd, en ’n groot deel van die vermaak en plesier bestaan nie meer nie”, sê Matthews. “Alles het so baie verander. As jy voor die Tweede Wêreldoorlog in die nasionale span gespeel het en uitgeskop is, sou jy nooit weer ingeroep word nie. Jou eie aanhangers sou jou uitgejou het.”
MOTORSKAKINGS
Weens die feit dat soveel motors met diefwerende toestelle toegerus word, maak diewe nou van ’n ander metode gebruik. “Omdat motordiewe nie meer ’n onbewaakte motor se venster net kan breek, die aansitterdrade kan koppel en wegry nie, verkies baie van hulle nou om niksvermoedende motoriste te skaak terwyl hulle bestuur of in hulle motors sit”, berig Saturday Star van Johannesburg. Diewe het hulle al voorgedoen as polisiemanne in motors met blou flikkerligte. Nadat hulle hul slagoffer laat stilhou het, steel hulle die motor terwyl hulle die bestuurder met ’n vuurwapen dreig. Ander motors is gesteel toe bestuurders vir verkeersligte stilgehou het of toe hulle hul motors oopgesluit het. Die polisie berig dat kommersiële voertuie geskaak is om die goedere binne-in asook die voertuig self te steel. Hulle het motoriste gewaarsku om hulle deure te sluit, die vensters nie te ver af te draai nie en om meer waaksaam te wees wanneer hulle by verkeersligte of by stoptekens stilhou.
ONREGVERDIGE MEDEDINGING?
Sedert 1928 hou die Calaveras-distrik in Kalifornië ’n jaarlikse paddaspring-kompetisie. Die meeste van die paddas wat ingeskryf word, is Kaliforniese brulpaddas, wat selde meer as ’n halwe kilogram weeg. Maar ’n invoerder van eksotiese diere het sy eie paddas vir die kompetisie probeer inskryf: goliatpaddas van Wes-Afrika. Hulle kan tot 7 kilogram weeg en kan tot omtrent ’n meter lank word. Die huidige rekord vir die kompetisie is omtrent 6,5 meter, na drie spronge gedoen is; die invoerder van die goliats sê dat sy paddas in ’n enkele sprong so ver kan spring. Die kompetisieorganiseerders het stappe gedoen om die goliats te verhinder om vir die wedstryd in te skryf, en het dit onregverdige mededinging genoem. Hulle opper ook die beswaar dat die goliats die kleiner paddas moontlik sal opeet en dat party van hulle uit die 11 meter diepe arena sal spring en ’n toeskouer sal tref.
GEHUURDE HULP VIR ABORSIESTRYD
Rooms-Katolieke biskoppe in die Verenigde State het ’n topskakelfirma en ’n polities invloedryke onderneming wat meningspeilings maak, gehuur om ’n landwye veldtog te voer om Katolieke en nie-Katolieke te probeer oorreed om aborsie teen te staan. Hulle verwag om gedurende die volgende drie tot vyf jaar tot R13 miljoen aan die bemarkingsplan te bestee. “Meningspeilings toon dat die meeste vroue, en baie Katolieke vroue, ’n vrou se reg op beperkte toegang tot aborsie steun”, berig The New York Times.
’N HOMOSEKSUELE ALIBI
Die hof het ’n jong man wat van verkragting, onsedelike aanranding, gewone aanranding en wederregtelike aanhouding aangekla is, vrygespreek nadat die getuienis van ’n onverwagte getuie hom van ’n alibi voorsien het. Die getuie was ’n Katolieke priester wat na die bisdom van die stad Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA, gestuur is. Volgens die koerant National Catholic Reporter het die “priester getuig dat hy en die beskuldigde minnaars was en bymekaar was toe die beweerde verkragting plaasgevind het”. As gevolg van hierdie ontstellende openbare erkenning van homoseksualiteit is die homoseksuele priester onbepaalde verlof tot afwesigheid gegee.