Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 5/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vet troeteldiere
  • Vakansiefrustrasie
  • Meer buite-egtelike kinders
  • Perdebye bou met magnete
  • Jong vroue en osteoporose
  • Gelukkig en gesond op 100
  • Mense wat alleen woon
  • Seksueel aktiewe tieners
  • Lomerige bestuurders
  • Osteoporose—’n Stille siekte
    Ontwaak!—2010
  • Osteoporose—die ‘brosbeen’-siekte
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
  • Hoe nodig is oefening?
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 5/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Vet troeteldiere

“Vetsug is die grootste gesondheidsprobleem onder honde en katte”, berig The Globe and Mail van Kanada. “Die oorsake is soortgelyk by mense en diere: slegte eetgewoontes en te min oefening.” Berney Pukay, van die raad van die Kanadese Veeartsenykundige Mediese Vereniging, sê dat troeteldiereienaars se lewenswyse te blameer is: “Ons kry nie genoeg oefening nie, omdat ons so besig is. Die hond kry nie genoeg oefening nie, omdat die eienaar so besig is. Ons het trooskos nodig, en daarom kry ons troeteldiere trooskos.” Die Globe waarsku dat “troeteldiere wat oorgewig is, ’n groter risiko loop om suikersiekte, hartsiekte, hoë bloeddruk en gewrigsontsteking te ontwikkel. . . . Hulle gaan vroeër dood as gesonde diere.” ’n Veearts sal gewoonlik voorskryf dat vet troeteldiere onder andere minder eet en, in die geval van honde, meer oefening kry.

Vakansiefrustrasie

“As jy jou tasse pak vir die lekkerste weke van die jaar, pas op!” waarsku die Hamburgse koerant Die Welt. Twis en onenigheid bederf menige gesinsvakansie. Volgens een Duitse studie word “een uit drie egskeidings ná ’n gesinsvakansie aangevra”. Waarom? Een faktor is dalk dat gesinslede nie gewoond daaraan is om heeltyd in mekaar se geselskap te wees nie, en dan begin hulle op mekaar se senuwees werk. Om ’n krisis te voorkom, stel sielkundiges voor dat vakansies vooraf beplan word en bedrywighede gereël word waaraan almal kan deelneem en wat buigsaam genoeg is om individuele wense in ag te neem. “Buitengewoon hoë verwagtinge speel ’n rol [in die vakansiedilemma]” sê Die Welt. “Aangesien elf maande van die jaar uit werk en daaglikse roetine bestaan, word daar verwag dat ’n vakansie van drie tot vier weke vir alles moet vergoed wat gedurende die res van die jaar agterweë gebly het.”

Meer buite-egtelike kinders

Volgens Eurostat, ’n Europese statistiekagentskap, word 1 uit 4 babas in die Europese Unie tans buite die eg gebore, berig die Duitse koerant Westdeutsche Allgemeine Zeitung. In 1980 was dit minder as 1 uit 10. Die laagste voorkomssyfer van buite-egtelike geboortes—4 persent—word in Griekeland gevind. Aan die ander kant van die spektrum word meer as die helfte van alle babas in Swede buite die eg gebore. Die grootste verandering was in Ierland. Die getal buite-egtelike kinders wat daar gebore is, het van net 5 persent in 1980 gestyg tot 31,8 persent in 2000. Sulke groot toenames “bewys dat daar ’n opmerklike verandering is in Europeërs se gesindheid teenoor die huwelik en die gesin”, sê die verslag.

Perdebye bou met magnete

“Perdebye is meesterbouers wat die insek-ekwivalent van ’n landmeter se waterpas gebruik om seker te maak dat hulle neste reguit gebou word”, sê die Londense koerant The Daily Telegraph. ’n Span wetenskaplikes van die Universiteit van Tel Aviv, in Israel, wat perdebye in Oosterse lande bestudeer het, het ontdek dat die insek ’n klein magnetiese kristalletjie—wat ’n tiende van ’n millimeter in deursnee is en titaan, yster en suurstof bevat—aan die bokant van elke seshoekige sel in die koek vasplak. “Perdebyneste bestaan gewoonlik uit lae horisontale koeke wat deur vertikale stutte gesteun word”, sê die verslag. Presies hoe die magnete werk, is nog nie bekend nie, maar blykbaar “help die netwerk kristalle die insekte om hulle in die donker te oriënteer en verseker dit dat die perdebynes nie gevaarlik skeef is nie. Daar word tans ’n studie gedoen om uit te vind of ander wespe, of selfs bye, dieselfde tegniek gebruik.”

Jong vroue en osteoporose

Al hoe meer jong vroue loop die risiko om later in hulle lewe osteoporose te ontwikkel weens die strawwe diëte wat hulle volg, waarsku die Japannese koerant Asahi Sjimboen. Met osteoporose, ’n siekte wat talle ouer vroue teister, word die beendigtheid so laag dat die bene maklik breek. Daar is ’n noue verband tussen beenvorming by vroue en vroulike hormone. Van die begin van menstruasie neem beendigtheid vinnig toe en bereik dit sy hoogste vlak op ongeveer 20-jarige ouderdom, waarna dit begin afneem wanneer ’n vrou om en by 40 is. “Hoe hoër die beendigtheid wanneer dit sy hoogste vlak bereik, selfs al neem dit daarna af, hoe langer sal dit neem om die punt te bereik waar bene maklik breek”, verduidelik professor Ikoeko Ezawa van Japan se Universiteit vir Vroue. Daarom voeg sy by: “Dit is baie belangrik dat jou beendigtheid so hoog as moontlik is teen die tyd dat jy 20 is.” Maar jong vroue is blykbaar nie baie besorg oor osteoporose nie. “Oor die algemeen neem hulle nie genoeg voedingstowwe in nie”, sê Ezawa. “Veral ’n tekort aan kalsium en te min oefening het ’n direkte uitwerking op die bene.”

Gelukkig en gesond op 100

Volgens ’n verslag in die koerant Jomjoeri Sjimboen “meen 80 persent van mense ouer as 100 dat hulle gesond is, en hulle voel elke dag goed”. In 1981 was daar vir die eerste keer meer as 1 000 honderdjariges in Japan, en in die jaar 2 000 was daar 13 000. Japan se Stigting vir Gesondheid en Stamina het onlangs ’n opname gedoen onder meer as 1 900 honderdjariges, blykbaar die omvattendste studie nog oor die “lewensgehalte” van mense wat ouer as 100 is. “Baie van die mans, 43,6 persent, in teenstelling met die vroue, 25,8 persent, sê dat hulle ‘’n doel in die lewe het’”, het die koerant berig. Die meeste van die honderdjariges het “familie”, “’n lang lewe”, asook “goeie gesondheid en ’n gelukkige lewe” onder hulle lewensdoelwitte gemeld. Die Jomjoeri Sjimboen meld dus dat “dit ’n lang lewe tot gevolg het as ’n mens iets het om voor te lewe”.

Mense wat alleen woon

’n Onlangse sensus het getoon dat 1 uit 8 mense in Frankryk tans alleen woon. Dit is twee keer meer as 30 jaar gelede, berig die Franse dagblad Le Monde. Die statistiek sluit jongmense in wat nog nie ’n metgesel het nie, asook bejaardes. Meer vroue as mans woon alleen, en die artikel sê: “Hoe hoër ’n vrou se sosiale status is, hoe waarskynliker is dit dat sy alleen woon.” Die sensus het ook aan die lig gebring dat die aantal enkelouergesinne sedert 1990 met 22 persent toegeneem het en die aantal paartjies sonder kinders met 16 persent. Die artikel sê ten slotte: “Daar is nou meer kinderlose paartjies en mense wat alleen woon as wat daar huisgesinne met kinders is.”

Seksueel aktiewe tieners

Volgens ’n verslag deur Brittanje se Instituut vir Gesinsaangeleenthede “verdubbel die moontlikheid [dat tieners] al geslagsomgang gehad het as hulle ouers geskei is of as hulle ouers saamwoon sonder om te trou”, sê The Guardian van Londen. ’n Kwart van seksueel aktiewe 13-jariges het al ten minste vier seksmaats gehad, en 1 uit 5 jong tieners was dronk toe hulle hulle maagdelikheid verloor het. Die verslag beklemtoon hoe belangrik dit is om “nadruk te lê op die huwelik as die ideale gesinseenheid om kinders in groot te maak”. Probleme duik op wanneer die ‘ouer-tiener-verhouding swak is, daar min kontak en minder toesig is’. Die verslag sê ten slotte: “Totdat die ouers van jong tieners groter verantwoordelikheid vir hulle kinders se gedrag begin aanvaar, sal die getal minderjariges wat seksueel aktief is, nie afneem nie en sal tienerswangerskappe en seksueel oordraagbare siektes bly toeneem.”

Lomerige bestuurders

Slaapdeskundiges, asook diegene wat verkeersveiligheid probeer bevorder, raai motoriste aan om nie te bestuur wanneer hulle oormoeg is nie, berig die Fleet Maintenance & Safety Report. Hoewel slaapnavorsers mense aanraai om elke nag ten minste agt uur slaap te kry, toon studies dat talle mense met baie minder slaap probeer klaarkom. Opnames toon ook dat bestuurders tussen die ouderdomme van 19 en 29 meer geneig is om te bestuur wanneer hulle lomerig is en om vinniger te ry wanneer hulle vaak voel as bestuurders van ander ouderdomsgroepe. “Alkohol vergroot ook die gevaar om agter die wiel aan die slaap te raak”, sê die verslag. David Willis, president van die Amerikaanse Automobiel-Assosiasie se Stigting vir Verkeersveiligheid, wys daarop dat dit jou nie wakker sal hou as jy die radio aanskakel en die venster afdraai nie, maar as jy eers ’n uiltjie knip, kan dit jou help om oor jou lomerig te kom. Willis beklemtoon: “Die enigste oplossing vir lomerigheid is slaap.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel