’n Skaduwee op die maan
DIT was middel Augustus in Brasilië—’n aangename winteraand waartydens ’n volmaan aan ’n wolklose hemel gehang het. Mense het op hulle balkonne of langs die pad gestaan, terwyl hulle hul kameras op driepote gemonteer of hul verkykers ingestel het. Die lug het gegons van stemme wat almal dieselfde toon van afwagting gehad het.
Waaroor het al die opgewondenheid gegaan? Dit was 16 Augustus 1989. Om 10:21 nm. sou ’n algehele maansverduistering begin. Hier, op die platteland waar die lug skoon is, is ’n skouspelagtige uitsig verwag. Stip op tyd het die maan begin inbeweeg in die skaduwee wat die aarde in die ruimte gooi. Net soos die aarde is die skaduwee gerond. In die vierde eeu v.G.J. het daardie eenvoudige waarneming die Griekse filosoof Aristoteles gehelp om vas te stel dat die aarde rond moet wees.
Namate die maan verder in die skaduwee inbeweeg het, het die toeskouers waarderende uitroepe van “O!” en “A!” geuiter. Die maan het ’n oranje kleur begin aanneem. Net soos tydens ’n pragtige sonsondergang het die aarde se atmosfeer die sonstrale gebuig terwyl dit die blou ligstrale geabsorbeer en die rooi en oranje ligstrale ongehinderd deurgelaat het. Na 97 minute was die maan geheel en al in die skaduwee gehul. Later het dit weer te voorskyn begin kom deur langsaam terug te beweeg in die sonlig.
Party maankykers het tot 2:00 vm. daardie nag opgebly om die hele vertoning te sien. Vir hulle was dit die moeite werd. Hulle het ’n merkwaardige vertoon van die krag en wysheid van die Skepper van die heelal gesien. Die Bybel sê dat hy ‘die twee groot ligte gemaak het: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag’, en dat dit moes “dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare”.—Genesis 1:14, 16.