Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 7/22 bl. 8-9
  • Crack-verslawing—Kan dit genees word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Crack-verslawing—Kan dit genees word?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verkeerde milieu
  • Jy kan nee sê!
  • Crack-verslawing—sy plaag van geweld
    Ontwaak!—1990
  • Crack-verslawing—die ongeborenes se verknorsing
    Ontwaak!—1990
  • Hoe onwettige dwelms jou lewe benvloed
    Ontwaak!—1999
  • Kan die stryd teen dwelms gewen word?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 7/22 bl. 8-9

Crack-verslawing—Kan dit genees word?

DAAR bestaan geen twyfel nie dat crack-verslawing skrikwekkende afmetings aangeneem het, en die probleem word groter. Die radio en die televisie bespreek die probleem. Dit is hoofartikels in koerante en tydskrifte. Ongevalleafdelings van hospitale en traumasentrums sien die gewelddadige gevolge daarvan. Kraamsale is stampvol babas wat deur die verslawing aangetas is. Hospitaalpakkamers word gebruik om verworpe babas te “bêre” eerder as goedere te bêre.

Inrigtings vir ontgifting en rehabilitasie behandel kinders wat nog nie eers in hulle tienderjare is nie. Gemeenskapsdiensinstansies pleit vir fondse om die epidemie te beveg. Daar is diegene wat sê dat hulle nie hulle verslawing te bowe kan kom nie en ander wat dit nie te bowe wil kom nie. Op laasgenoemde wag daar ellende, frustrasie, gewelddadigheid en moontlik die dood. Vir eersgenoemde is daar hoop.

“Slegs ’n jaar gelede”, het The New York Times van 24 Augustus 1989 berig, “is crack algemeen as ’n betreklik nuwe dwelm beskou, wat nog nie goed verstaan is nie, maar met spesiale kenmerke wat ’n verslawing veroorsaak wat amper onmoontlik is om te genees.” Maar nou bevind navorsers dat crack-verslawing, onder die regte toestande, met welslae behandel kan word, het die koerant gesê. “Crack-verslawing kan behandel word”, het dr. Herbert Kleber, die assistent van William J. Bennett, direkteur van die Amerikaanse dwelmbeleid, gesê. Hy het gesê die oplossing is om die dwelmslawe ’n plek in gesin- en sosiale strukture te gee waar hulle miskien nooit voorheen was nie. “Habilitasie eerder as rehabilitasie”, het hy beklemtoon.

Navorsers het bevind dat die effektiefste program om die crack-kokaïenverslaafde te genees ’n driefaseprogram is—ontgifting, intensiewe persoonlike voorligting en opleiding, en, baie belangrik, ondersteuning in die regte milieu. Ontgifting, of om die verslaafde van die dwelm af te kry, is nie die grootste hindernis nie. Dikwels kan iemand dit vanweë omstandighede op sy eie doen. ’n Faktor wat kan help, en dikwels help, is wanneer daar nie geld is om die dwelm te koop nie. Opsluiting in ’n strafinrigting waar dwelms nie bekombaar is nie, kan nog ’n faktor wees, of ’n verblyf in ’n hospitaal sal ook onthouding noodsaak. Die werklike probleem is egter om die verslaafde te help om nie weer die dwelm te gebruik wanneer dit aan hom beskikbaar word nie.

Hoewel sommige verslaafdes hulle met welslae van crack se vasklemmende greep losgemaak het, terwyl hulle spesiaal gereëlde behandelingsprogramme gevolg het, het spesialiste beklemtoon dat die meeste verslaafdes reeds die eerste paar weke nie die paal haal nie. Dr. Charles P. O’Brien, ’n sielkundige aan die Universiteit van Pennsilvanië, het byvoorbeeld gesê dat twee derdes van die verslaafdes wat vir sy behandelingsprogram inskryf in die eerste maand uitsak. Ander programme het selfs minder sukses behaal.

Die verkeerde milieu

“Ons sal hulle dalk uit hulle gemeenskappe moet verwyder”, het een bekende direkteur van ’n behandelingsentrum gesê. “Jy moet die verslaafdes uit daardie dwelmmilieu kry. Daardie milieu is ’n lykshuis.” Navorsers het bevind dat dit die hoofrede is waarom die oorgrote meerderheid verslaafdes wat ontgif is na die dwelm terugkeer waaraan hulle verslaaf was. Die rede is blykbaar voor die hand liggend. Is dít nie die milieu wat hulle in die eerste plek in behandelingsentrums laat beland het nie? Was crack nie op elke straathoek beskikbaar waar portuurdwang, dikwels van hulle eie familie en beste vriende, hulle beweeg het om daardie eerste skuif aan die crack-pyp te trek nie? Wie sal hulle nou aanmoedig om by ’n behandelingsprogram te bly en hulle van die dwelm se aanslag op hul lewe te bevry?

Die meer geslaagde programme het die verkeerde milieu as ’n belangrike faktor in die verslaafde se volgehoue dwelmmisbruik beklemtoon. “Die pasiënt is maniere geleer om hom van die dwelm te onthou, waaronder hoe om dinge te vermy wat die drang daarna aan die gang sit”, het The New York Times berig. “’n Straat waar ’n persoon vroeër crack gekoop het, ’n houer wat op die sypaadjie lê, die tandarts se spreekkamer of ’n farmaseutiese reuk wat met die chemiese reuk van crack ooreenkom”, is alles dinge wat ’n drang na die dwelm aan die gang kan sit, het die koerant gesê. Effektiewe programme het eweneens beklemtoon hoe belangrik dit is dat verslaafdes “alle bande met vriende en familielede verbreek wat steeds dwelms gebruik”. Hulle is aangeraai om eerder nuwe vriende te maak met mense wat nie dwelms gebruik nie. Dit is inderdaad verstandige raad.

Jy kan nee sê!

Die boek Self-Destructive Behavior in Children and Adolescents maak hierdie opmerking: “Die jeug word baie dikwels deur ’n intieme vriend aan die verskillende dwelms bekendgestel . . . [Sy] bedoelinge is moontlik om ’n opwindende of genotvolle ondervinding te deel.” Maar portuurdwang is nie tot die jongmense beperk nie, soos ouer verslaafdes kan getuig; nog minder is hierdie wyse skriftuurlike raad tot die jongmense beperk, maar dit is van toepassing op mense van alle ouderdomme, soos die Bybelskrywer sê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.”—Spreuke 13:20.

As jy deur probleme oorweldig word wat onoorkoomlik lyk, moet jy nie ontvlugting deur dwelms soek nie. Dit sal net jou probleme vererger. Praat met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene wat jou welsyn op die hart sal dra. Onthou ook die Bybel se raad: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar.”—Filippense 4:6, 7.

[Venster op bladsy 9]

Ice, erger as crack

“Die Japannese noem dit sjaboe, vir die Koreane is dit hiroppon. Vir Amerikaanse verslaafdes wat so pas ontdek het watter intense bedwelming en verskriklike neerslagtigheid dit teweegbring, is die dwelm bloot ‘ice’”, sê die tydskrif Newsweek oor hierdie dwelm uit Asië. Dit is ’n soort metamfetamien, of speed, wat in ’n laboratorium gemaak word uit chemikalieë wat maklik te kry is. Die bedwelming wat crack veroorsaak, duur minute; dié van ice duur ure, tot 24 uur lank. Dikwels maak dit gebruikers gewelddadig. Volgehoue gebruik daarvan lei tot sielkundige skade en noodlottige long- en nierkwale. Newsweek sê dat “die uitwerking van ice op pasgeborenes skrikwekkend is”. Een navorser sê: “As jy gedink het kokaïen-afhanklikheid is erg, is dit onbeduidend in vergelyking met hierdie dwelm.” Hierdie gewoonte is moeiliker om te laat vaar as kokaïen-verslawing, en hallusinasies kan na twee jaar van behandeling nog net so kragtig wees.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel