Crack-verslawing—sy plaag van geweld
CRACK, so genoem vanweë die geluid wat dit maak wanneer dit verhit word gedurende verwerking of wanneer dit gerook word, is ’n hoogs verslawende, uiters kragtige variant van kokaïen. Een hospitaalpsigofarmakoloog noem dit “die mees verslawende dwelm wat op die oomblik aan die mens bekend is. Dit bring byna oombliklike verslawing mee.” Een polisiebeampte het dit “die ergste dwelm tot dusver [genoem]. Daar is nie iets soos ’n terloopse gebruiker van crack-kokaïen nie.”
Aangesien crack-kokaïen gerook in plaas van binne-aars ingespuit word of gesnuif word, vind gebruikers wat eers die gevaar van Vigs deur besmette naalde gevrees het dat crack se “voordele” drievoudig is—dit is “veiliger”, dit het ’n kragtiger uitwerking, die rook werk vinniger. “Dit gaan reguit na jou kop toe. Dit werk onmiddellik”, het ’n voormalige dwelmslaaf gesê. “Dit voel of die boonste deel van jou kop gaan ontplof.” Die bedwelming duur net 5 tot 12 minute, maar die nadraai is feitlik altyd verpletterend en laat die gebruiker prikkelbaar, neerslagtig, senuagtig of uiters paranoïes en met ’n kompulsiewe drang na nog crack. “Die grootste gevaar van crack”, verduidelik dr. Arnold Washton, direkteur van die Verslawingsbehandelingsentrum by Regent-Hospitaal in New York, “is dat dit binne ’n paar dae of weke jou brein—en jou lewe—kan beheers.”
In baie wêrelddele is crack-verslawing besig om soos ’n plaag te versprei. Crack het in die Verenigde State in die besonder op veel groter skaal as in Kanada, Engeland en vergelykbare Europese lande feitlik elke vlak van die gemeenskap binnegedring—die rykes, die armes, die suksesvolles, dié in besoldigde diens. Omdat dit beskikbaar is en maklik verkry kan word en ’n euforiese gevoel tot gevolg het, is die aanvraag groot en word dit by die dag groter. Nuwe gebruikers, potensiële dwelmslawe, word op straathoeke, in skole en by die werk gesoek. Vroue is kwesbare teikens, en op sekere vlakke van die gemeenskap is daar baie meer vroue as mans wat gebruikers is. Jong kinders—nog nie tienderjariges nie—wat vinnige sensasies soek, wat nie nee kan sê vir dwelms nie, word maklike slagoffers van crack-smouse—dikwels hulle eie broers of ander familielede of beste vriende.
Verslawing veroorsaak gewelddadigheid
“Crack kan anders as feitlik enige ander middel ’n bose trek van gewelddadigheid by die misbruiker ontketen”, het The Wall Street Journal van 1 Augustus 1989 berig. “Onlangs, in voorstedelike Boston [VSA], het ’n jong ma wat van crack bedwelmd was haar jong baba so hard teen ’n muur gegooi dat die kind aan ’n gebreekte nek beswyk het”, het die koerant gesê. Die ma is beskryf as iemand wat uit “’n ordentlike middelklasgesin” kom.
As gevolg van die gewelddadige uitwerking wat crack op gebruikers se gedrag kan hê, is sosioloë en kinderartsnavorsers oortuig daarvan dat die dwelm tot ’n skerp toename in kindermishandeling bydra. ’n Plofbare situasie kan ontstaan wanneer ’n ma wat onder die invloed van crack is na ’n nukkerige, huilende kind moet omsien. Een navorser het gesê: “Dit is glad nie goed om ’n kind om jou te hê wanneer jy prikkelbaar of depressief is en jy na kokaïen smag nie. Wat gaan jy met daardie baba doen? Beslis nie wat jy veronderstel is om te doen nie.”
Ongelukkig was die gevolge al dikwels noodlottig. Dit is nie ongewoon om te lees of te hoor van jong crack-verslaafdes wat hulle ouers of grootouervoogde doodgemaak het omdat hulle geweier het om vir hulle geld te gee om crack te koop of omdat hierdie dwelmslawe betrap is terwyl hulle dit gerook het nie. Die polisie van die stad New York het ’n reeks wreedaardige misdade toegeskryf aan jong dwelmslawe wat feitlik waansinnig was weens crack.
Die grootste en wreedaardigste toneel van gewelddadigheid ontvou hom egter in die stad se strate. Aangesien verstommende somme geld uit crack-verkope gemaak kan word weens die immer toenemende aanvraag daarna, meen handelaars dat dit die moeite werd is om daarvoor dood te maak. Hulle is tot die tande toe gewapen met die nuutste ultramoderne wapentuig—masjiengewere, militêre snelvuurgewere, knaldempers en koeëlvaste onderhemde—en hulle patroleer hulle gebiede op soek na ander jong ondernemers om te toon wat met diegene sal gebeur wat dalk hulle klante sou steel of wat nie al die geld van ’n dag se opbrengs inlewer nie. Handelaars is oorgehaal en gereed om sakegeskille met gewelddadige bloedvergieting te besleg. “As iemand in die been geskiet of in die hand gesteek is”, het die verpleeghoof van ’n ongevalleafdeling gesê, “was dit ’n waarskuwing vir ’n kind wat geld of dwelms teruggehou het van ’n handelaar vir wie hy gewerk het. As ’n kind in die kop of bors geskiet is, wou hulle hom van kant maak.”
“Die moorde is nou baie wreder”, het ’n sosioloog van die stad New York gesê. “Dit is nie voldoende om dood te maak nie. Jy verneder die liggaam. Hy is reeds dood na twee koeëls; dus skiet jy hom met ses. Jy onthoof hom of iets dergeliks.” “Daar is ’n miljoen kinders daar buite wat geen vaardighede het buiten om te baklei nie”, het een veteraanpolisieman gesê. “Hulle is nie bang vir die polisie of die tronk of om te sterf nie”, en hulle is ook nie bekommerd oor die veiligheid en lewe van onskuldige omstanders wat in die kruisvuur van skietgevegte vasgevang word nie. Die tydskrif Time berig dat die helfte van die 387 slagoffers wat in een jaar in die Los Angeles-Distrik deur bendes vermoor is onskuldige omstanders was.
Goue kettings, duur motors
Omdat crack-verslawing met gewelddadigheid gepaard gaan, kan die jong crack-handelaars nie ’n lang lewe voor hulle sien nie. Trouens, hulle sterf jonk. “Ek gaan die goeie lewe lei voor my lewe verby is”, is hulle filosofie. Baie doen net mooi dit. “Jy kan elke dag na ’n hoërskool gaan en nuwe Mercedese en Jeeps en Cadillacs en Volvo’s sien”, het een dwelmbeampte van Detroit gesê. “Hierdie motors behoort aan die kinders, nie aan die ouers nie.” Kinders wat te jonk is om te bestuur, huur ander om vir hulle te bestuur. Ander neem hulle kanse waar en bestuur sonder ’n bestuurslisensie. Hulle kan kontant vir hulle motors betaal. As hulle ’n ongeluk maak, los hulle eenvoudig die motors daar en hardloop weg.
“Leerlinge dra party dae uitrustings wat tot $2000 werd kan wees”, het een onderwyser gesê.a “Jy sien ’n klomp jongmense in pelsjasse en met soliede goue kettings”, het sy gesê. “Goud is trouens ’n algemene obsessie by binnestedelike jongmense”, het die tydskrif Time van 9 Mei 1988 berig. “Swaar goue kettings wat tot $20 000 elk kos, is hoog in die mode.” Verspreiders betaal hulle jong ondernemers goed. Nege- en tienjariges kan byvoorbeeld tot $100 per dag verdien deur handelaars teen die polisie se aanwesigheid te waarsku. Die volgende stap teen die leer op is die hardloper, iemand wat die dwelm by die laboratorium afhaal en by die handelaar aflewer, ’n werk wat hom meer as $300 per dag in die sak kan bring. Die uitkykers sowel as die hardlopers streef daarna om die hoogste sport wat binne hulle mag is te bereik—dié van handelaar. Kan jy jou ’n tienderjarige voorstel, moontlik met baie min geleerdheid, wat ’n yslike bedrag van tot $3000 per dag as loon vra? Die geleenthede is inderdaad groot, maar die toekoms is kort van duur.
Alte dikwels is die euwels van crack-verkope deur jongmense tweesnydend. Aan die een snykant smous hulle dodelike dwelms wat die gebruikers se lewens kan verwoes en tot gewelddadigheid kan bydra, en dikwels word hulle self die slagoffers daarvan. Aan die ander kant van die lem moedig ouers in baie gevalle hulle kinders aan om crack te verkoop. Die jong handelaar is dikwels die enigste broodwinner van die gesin, wat ’n groot deel van die winste gebruik om ’n sukkelende gesin te onderhou. Wanneer ouers weier om die situasie reg te stel en liewer anderpad kyk, bevorder hulle ’n misdadige leefwyse.
Wat veel erger is, is wanneer liefde vir crack groter is as ’n ma se liefde vir haar kinders, selfs groter is as haar liefde vir die ongebore kind wat sy dra. Beskou die ongeborenes se verknorsing in die volgende artikel.
[Voetnoot]
a $1=R2,60
[Venster/Prent op bladsy 5]
“Crack is heeltemal iets nuuts”
Aangesien crack ontwikkel is om die jongmense en die armes te trek, lyk sy aanvangskoste moontlik relatief laag. Smouse verkoop stukkies van tabletgrootte in klein plastiekhouers vir net vyf tot tien dollar. Die kort maar intense bedwelming moet nietemin byna voortdurend herhaal word. “Crack is heeltemal iets nuuts”, het ’n uitvoerende direkteur van ’n dwelminligtingsentrum in Florida gesê. “Dit is ’n uiters kompulsiewe dwelm, veel meer as gewone kokaïen. Die bedwelming is so intens en die nadraai so kragtig dat dit die gebruikers—selfs dié wat dit die eerste keer gebruik—op niks anders as hulle volgende dosis ingestel hou nie.”