Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 8/8 bl. 14-15
  • Het die wetenskap die Bybel verouderd gemaak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het die wetenskap die Bybel verouderd gemaak?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Belangrike vraag
  • In die kosmiese sop
  • Waarom is die Bybel sy tyd so ver vooruit?
  • Wie het die wette gemaak wat ons heelal beheer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Kom hierdie boek met die wetenskap ooreen?
    ’n Boek vir alle mense
  • Aristoteles
    Ontwaak!—2016
  • Die wetenskap en die Bybel—Weerspreek hulle mekaar werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 8/8 bl. 14-15

Die Bybelse beskouing

Het die wetenskap die Bybel verouderd gemaak?

HET die wetenskap met sy gevorderde kennis van die heelal, die Bybel in ’n versameling mites en legendes verander? Vandag dink baie mense so. Wat van jou?

Jy is miskien, soos baie ander, van jongs af geleer om so te dink maar het die opvatting nooit werklik bevraagteken nie. Ons nooi jou om dit nou te doen. Beskou net een voorbeeld, ’n stelling wat die Bybel oor die stoflike heelal maak. Hierdie stelling was nie net direk in stryd met wat die deskundiges destyds gesê het nie, maar dit was ook in stryd met wat wetenskaplikes duisende jare later steeds gesê het.

’n Belangrike vraag

Waarop rus die aarde? Wat hou die maan, die son en die sterre in posisie? Hierdie vrae maak die mens al duisende jare lank nuuskierig. Wat die aarde betref, het die Bybel ’n eenvoudige antwoord. In Job 26:7 sê dit dat God “die aarde ophang oor ’n niks”. In die oorspronklike Hebreeus beteken die woord wat hier vir “’n niks” (beli-mahʹ) gebruik word letterlik “niks nie”, en dit is die enigste keer dat dit in die Bybel voorkom. Geleerdes erken dat die beeld wat dit skep, van ’n aarde wat in ’n ruimte hang, ’n “merkwaardige voorstelling” is, veral vir daardie tyd.a

Destyds het die meeste mense hulle die heelal glad nie só voorgestel nie. Een eertydse beskouing was dat die aarde op olifante rus wat op die rug van ’n reuseskilpad staan.

Aristoteles, ’n beroemde Griekse filosoof en wetenskaplike van die vierde eeu v.G.J., het geleer dat die aarde nooit in ’n ruimte kon hang nie. In plaas daarvan het hy geleer dat elke hemelliggaam vas is aan die oppervlak van ’n soliede, deursigtige sfeer. Die een sfeer het binne-in die ander sfeer gelê. Die aarde was in die middel; die sterre was vas aan die buitenste sfeer. Wanneer die sfere binne-in mekaar gedraai het, het die voorwerp daarop—die son, die maan en die planete—deur die hemel beweeg.

Die Bybel se verklaring dat die aarde in werklikheid ‘oor ’n niks hang’ is meer as 1100 jaar voor Aristoteles gemaak. Tog is Aristoteles as die belangrikste denker van sy dag beskou. Bykans 2000 jaar na sy dood is sy teorieë steeds as feite geleer! Volgens The New Encyclopædia Britannica is Aristoteles se leringe in die 16de en 17de eeu G.J. in die oë van die kerk “tot die status van kerkleer verhef”.

Die sestiende-eeuse filosoof Giordano Bruno het dit gewaag om die konsep te betwis dat “die sterre as ’t ware aan ’n enkele koepel vasgeheg is”. Hy het geskryf dat dit “’n belaglike idee [is] wat kinders dalk sou uitdink deur hulle miskien te verbeel dat [die sterre] soos haelstene op ons sou val as hulle nie met ’n sterk gom aan die hemeloppervlak vasgeheg of met die sterkste spykers daaraan vasgespyker is nie”. Maar in daardie dae was dit gevaarlik om met Aristoteles te verskil—die kerk het Bruno lewendig laat verbrand omdat hy sy onortodokse idees van die heelal versprei het.

In die kosmiese sop

Toe die teleskoop uitgevind is, het al hoe meer sterrekundiges Aristoteles se teorieë in twyfel begin trek. As die son, die maan en die sterre nie aan sfere vas is wat om die aarde wentel nie, wat hou hulle dan in posisie, en wat laat hulle beweeg? Die sewentiende-eeuse wiskundige René Descartes was van mening dat hy die antwoord het. Hy het met Aristoteles saamgestem dat die ruimte tussen ons en die ander hemelliggame nie leeg kan wees nie. Hy het dus van die veronderstelling uitgegaan dat die heelal met ’n deursigtige vloeistof—’n soort kosmiese sop—gevul is.

Hierdie teorie het oënskynlik twee probleme opgelos. Eerstens, dit het iets voorsien wat die hemelliggame ‘in posisie hou’; hulle het almal in die sop gedryf! Tweedens, dit het gehelp om die bewegings van die planete te verduidelik. Descartes was van mening dat die planete vasgevang is in maalstrome, of draaikolke, in die vloeistof wat veroorsaak het dat hulle in hul bane wentel. Hierdie “Teorie van Draaikolke”, soos dit genoem is, klink dalk vandag vir ons onrealisties. Maar in party lande was dit langer as ’n eeu die oorheersende teorie met betrekking tot die studie van die heelal.

Baie wetenskaplikes het dit verkies bo die nuwe teorie: Isaac Newton se wet van die universele gravitasie, wat in 1687 gepubliseer is. Newton het aangevoer dat die planete nie meganiese, tasbare voorwerpe of stowwe nodig het om hulle in posisie te hou nie. Dit was die gravitasiekrag wat hulle bewegings beheer en hulle in hul bane hou. Hulle het in werklikheid in ’n ruimte oor ’n niks gehang. Baie van Newton se kollegas het die spot gedryf met sy idee van gravitasie. En Newton self het dit ook moeilik gevind om te glo dat die ruimte ’n leegte is, dat dit grotendeels geen materie bevat nie.

Newton se teorieë het desnieteenstaande uiteindelik die oorhand gekry. Dit is vandag vir ons alte maklik om te vergeet dat hierdie kwessie van wat die planete in posisie hou, sowat 32 eeue nadat die Bybel doodeenvoudig gesê het dat die aarde ‘oor ’n niks hang’, ’n hewige stryery onder geleerde en briljante wetenskaplikes ontketen het. Hoe kon Job geweet het om dinge presies só te bewoord? Waarom sou hy sê dat niks stofliks die aarde in posisie hou nie, terwyl die “deskundiges” eers na meer as 3000 jaar tot dieselfde slotsom gekom het?

Waarom is die Bybel sy tyd so ver vooruit?

Die Bybel verskaf die logiese antwoord. In 2 Timotheüs 3:16 lees ons: “Die hele Skrif is deur God ingegee.” Die Bybel is dus nie die produk van mensewysheid nie, maar is eerder ’n juiste oordrag van die Skepper se gedagtes aan ons.

Dit is lewensbelangrik dat jy vir jouself uitvind of die Bybel se verklaring waar is (1 Thessalonicense 2:13). Op daardie manier kan jy toegang verkry tot die gedagtes van die Wese wat ons geformeer en geskep het. Watter beter bron kan daar wees om ons te sê wat die toekoms inhou en hoe om ’n gelukkige, produktiewe lewe in hierdie wêreld vol beroering te lei?

[Voetnoot]

a Die Theological Wordbook of the Old Testament sê: “Job 26:7 beskryf op treffende wyse dat die destyds bekende wêreld in die ruimte hang, en daardeur loop dit ’n toekomstige wetenskaplike ontdekking vooruit.”

[Foto-erkenning op bladsy 14]

Met vergunning van die British Library

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel