Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ba bl. 18-21
  • Kom hierdie boek met die wetenskap ooreen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kom hierdie boek met die wetenskap ooreen?
  • ’n Boek vir alle mense
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die vorm van die aarde?
  • Wat hou die aarde in sy posisie?
  • Die Bybel en die mediese wetenskap—Stem dit ooreen?
  • Aanvaarding van die onbewysbare
  • Het die wetenskap die Bybel verouderd gemaak?
    Ontwaak!—1990
  • ’n Boek wat van God kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Unieke bron van hoër wysheid
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • 4. Wetenskaplike akkuraatheid
    Ontwaak!—2007
Sien nog
’n Boek vir alle mense
ba bl. 18-21

Kom hierdie boek met die wetenskap ooreen?

Godsdiens het nie altyd die wetenskap as sy vriend beskou nie. In vorige eeue het party teoloë wetenskaplike ontdekkings teëgestaan wanneer hulle gemeen het dat dit hulle uitlegging van die Bybel bedreig. Maar is die wetenskap werklik die Bybel se vyand?

AS DIE Bybelskrywers die algemeenste wetenskaplike beskouings van hulle tyd gesteun het, sou die Bybel ’n boek van opvallende wetenskaplike onjuisthede gewees het. Maar die skrywers het nie sulke onwetenskaplike misvattings bevorder nie. Inteendeel, hulle het ’n aantal stellings opgeteken wat nie net wetenskaplik juis is nie, maar ook die algemeen aanvaarde menings van daardie tyd weerspreek het.

Wat is die vorm van die aarde?

Hierdie vraag is iets waaroor mense duisende jare lank gewonder het. Die algemene opvatting in die ou tyd was dat die aarde plat is. Die Babiloniërs het byvoorbeeld geglo dat die heelal ’n kis of ’n vertrek was met die aarde as die vloer. Vediese priesters van Indië het gedink dat die aarde plat is en dat slegs een kant daarvan bewoon word. ’n Primitiewe stam in Asië het hulle die aarde as ’n groot skinkbord voorgestel.

Reeds in die sesde eeu v.G.J. het die Griekse filosoof Pitagoras die teorie gehad dat die aarde ook rond moet wees, aangesien die maan en die son rond is. Aristoteles (vierde eeu v.G.J.) het later saamgestem en verduidelik dat die bolvormigheid van die aarde deur maansverduisterings bewys word. Die skaduwee van die aarde op die maan is gerond.

Maar die idee van ’n plat aarde (waarvan net die bokant bewoon word) het nie heeltemal verdwyn nie. Party kon nie die logiese implikasie van ’n ronde aarde aanvaar nie—die begrip van antipodes.a Lactantius, ’n Christenapologeet van die vierde eeu G.J., het die hele idee bespot. Hy het geredeneer: “Is daar enigiemand wat so dwaas is om te glo dat daar mense is wie se voetspore hoër as hulle kop is? . . . dat die gesaaides en bome afwaarts groei? dat die reën en sneeu en hael boontoe val?”2

Die begrip van antipodes het ’n dilemma vir ’n paar teoloë veroorsaak. As daar wel antipodes was, het sekere teorieë beweer, kon daar beslis geen verband wees tussen hulle en mense soos ons hulle ken nie, óf omdat die see te uitgestrek was om bevaar te word óf omdat ’n ondeurdringbare versengende streek die ewenaar omring het. Waar kon enige antipodes dus vandaan gekom het? Party teoloë was dronkgeslaan en het verkies om te glo dat daar nie antipodes kon wees nie, of selfs, soos Lactantius geredeneer het, dat die aarde in die eerste plek nie ’n sfeer kon wees nie!

Die begrip van ’n ronde aarde het nietemin die oorhand gekry, en dit is uiteindelik algemeen aanvaar. Maar slegs met die aanbreek van die ruimte-eeu in die 20ste eeu het dit vir mense moontlik geword om ver genoeg die ruimte in te vaar om deur middel van direkte waarneming te bevestig dat die aarde rond is.b

En wat was die Bybel se standpunt ten opsigte van hierdie kwessie? In die agtste eeu v.G.J., toe dit die heersende mening was dat die aarde plat is, eeue voordat Griekse filosowe die teorie gehad het dat die aarde waarskynlik rond is, en duisende jare voordat mense die aarde vanuit die ruimte as ’n ronde bol gesien het, het die Hebreeuse profeet Jesaja met merkwaardige eenvoud gesê: “Hy sit bo die kring van die aarde.” (Jesaja 40:22, ons kursiveer.) Die Hebreeuse woord chugh, wat hier met “kring” vertaal word, kan ook as “sfeer” weergegee word.3 Ander Bybelvertalings praat van “die aardbol” (Douay Version) en “die ronde aarde”.—Moffatt.c

Die Bybelskrywer Jesaja het die algemene mites oor die aarde vermy. Hy het eerder ’n stelling neergeskryf wat nie deur die vooruitgang van wetenskaplike ontdekkings bedreig is nie.

Wat hou die aarde in sy posisie?

In die ou tyd was mense verward oor ander vrae omtrent die heelal: Waarop rus die aarde? Wat hou die son, die maan en die sterre in hulle posisie? Hulle het geen kennis gehad van die wet van universele swaartekrag wat deur Isaac Newton geformuleer en in 1687 gepubliseer is nie. Die idee dat hemelliggame in werklikheid in die ruimte aan niks hang nie, was vir hulle onbekend. Daarom het hulle verduidelikings dikwels te kenne gegee dat tasbare voorwerpe of stowwe die aarde en ander hemelliggame omhoog gehou het.

Een teorie van die ou tyd, wat moontlik sy oorsprong gehad het by mense wat op ’n eiland gewoon het, was byvoorbeeld dat die aarde deur water omring was en dat dit in hierdie water gedryf het. Die Hindoes het gedink dat die aarde etlike fondamente het, die een bo-op die ander. Dit het op vier olifante gerus, die olifante het op ’n tamaai skilpad gestaan, die skilpad het op ’n reusagtige slang gestaan en die opgerolde slang het op universele waters gedryf. Empedokles, ’n Griekse filosoof van die vyfde eeu v.G.J., het geglo dat die aarde op ’n warrelwind rus en dat hierdie warrelwind veroorsaak het dat die hemelliggame beweeg.

Onder die invloedrykste beskouings was dié van Aristoteles. Hoewel hy die teorie gehad het dat die aarde ’n sfeer is, het hy ontken dat dit ooit in die ruimte kon hang. In sy verhandeling On the Heavens, waarin hy die gedagte weerlê het dat die aarde op water rus, het hy gesê: “Dit is onnatuurlik vir water, en net soveel vir die aarde, om in die lug te bly: dit moet iets hê om op te rus.”4 Waarop “rus” die aarde dan? Aristoteles het geleer dat die son, die maan en die sterre aan die oppervlak van soliede, deursigtige sfere vas is. Die een sfeer het binne-in die ander sfeer gelê, met die aarde—onbeweeglik—in die middel. Wanneer die sfere binne-in mekaar gedraai het, het die voorwerpe daarop—die son, die maan en die planete—deur die hemel beweeg.

Aristoteles se verduideliking het logies geklink. Hoe anders kon die hemelliggame omhoog bly as hulle nie stewig aan iets vasgeheg was nie? Die menings van die vereerde Aristoteles is sowat 2 000 jaar lank as feite aanvaar. Volgens The New Encyclopædia Britannica is sy leringe in die 16de en 17de eeu in die oë van die kerk “tot die status van kerkleer verhef”.5

Met die uitvinding van die teleskoop het sterrekundiges Aristoteles se teorie begin bevraagteken. Nogtans het die antwoord hulle ontwyk totdat sir Isaac Newton verduidelik het dat die planete in die ruimte hang en deur ’n onsigbare krag—swaartekrag—in hulle wentelbane gehou word. Dit het ongelooflik geklink, en party van Newton se kollegas het dit moeilik gevind om te glo dat die hemelruim leeg kan wees, grotendeels sonder enige materie.d6

Wat sê die Bybel oor hierdie vraag? Bykans 3500 jaar gelede het die Bybel met besondere duidelikheid gesê dat die aarde “oor ’n niks” hang (Job 26:7). In die oorspronklike Hebreeus beteken die woord wat hier vir “niks” (beli-mahʹ) gebruik word letterlik “sonder enigiets”.7 Die Contemporary English Version gebruik die uitdrukking “aan leë ruimte”.

’n Planeet wat “aan leë ruimte” hang, was hoegenaamd nie hoe die meeste mense hulle in daardie tyd die aarde voorgestel het nie. En tog het die Bybelskrywer, wat sy tyd ver vooruit was, ’n stelling neergeskryf wat wetenskaplik betroubaar is.

Die Bybel en die mediese wetenskap—Stem dit ooreen?

Die moderne mediese wetenskap het ons baie geleer omtrent die verspreiding en voorkoming van siektes. Mediese vooruitgang in die 19de eeu het gelei tot die mediese gebruik van ontsmetting—om dinge skoon te hou sodat infeksies verminder word. Die resultaat was dramaties. Daar was ’n betekenisvolle vermindering in infeksies en vroeë dood.

Geneeshere van die ou tyd het egter nie ten volle verstaan hoe siektes versprei nie, en hulle het ook nie die belangrikheid van higiëne vir die voorkoming van siektes besef nie. Dit is geen wonder dat baie van hulle mediese gebruike volgens hedendaagse standaarde onbeskaaf lyk nie.

Een van die oudste mediese geskrifte beskikbaar is die Ebers-papirus, ’n versameling van Egiptiese mediese kennis, wat uit om en by 1550 v.G.J. dateer. Hierdie boekrol bevat ongeveer 700 rate vir verskillende kwale, “van krokodilbyt tot toonnaelpyn”.8 The International Standard Bible Encyclopaedia sê: “Die mediese kennis van hierdie geneeshere was bloot op waarneming gegrond, dit was grotendeels towery en geheel en al onwetenskaplik.”9 Die meeste van die rate was eenvoudig ondoeltreffend, maar party van hulle was uiters gevaarlik. Vir die behandeling van ’n wond het een van die voorskrifte aanbeveel dat ’n mengsel van menslike uitwerpsel en ander bestanddele aangewend word.10

Hierdie geskrif van Egiptiese mediese rate is omstreeks dieselfde tyd geskryf as die eerste boeke van die Bybel, wat die Mosaïese Wet ingesluit het. Moses, wat in 1593 v.G.J. gebore is, het in Egipte grootgeword (Exodus 2:1-10). As ’n lid van Farao se huisgesin is hy “in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig” (Handelinge 7:22). Hy was bekend met “die geneeshere” van Egipte (Genesis 50:1-3). Het hulle ondoeltreffende of gevaarlike mediese gebruike sy geskrifte beïnvloed?

Nee. In teenstelling hiermee het die Mosaïese Wet gesondheidsvoorskrifte ingesluit wat hulle tyd ver vooruit was. ’n Wet aangaande militêre kampe het byvoorbeeld vereis dat ontlasting buite die kamp begrawe word (Deuteronomium 23:13). Dit was ’n uiters gevorderde voorsorgmaatreël. Dit het gehelp om water vry van besmetting te hou en het mense beskerm teen shigellose wat deur vlieë versprei word en teen ander diarreesiektes wat jaarliks steeds miljoene lewens eis in lande waar higiëniese toestande betreurenswaardig is.

Die Mosaïese Wet het ander gesondheidsvoorskrifte gehad wat Israel teen die verspreiding van besmetlike siektes beskerm het. Iemand wat werklik of vermoedelik ’n aansteeklike siekte gehad het, is onder kwarantyn geplaas (Levitikus 13:1-5). Klere of voorwerpe wat in kontak gekom het met ’n dier wat vanself doodgegaan het (miskien weens siekte), moes gewas word voor dit weer gebruik is of moes vernietig word (Levitikus 11:27, 28, 32, 33). Enigiemand wat aan ’n lyk geraak het, is as onrein beskou en moes ’n reinigingsproses ondergaan waartydens hy onder meer sy klere moes was en hom moes bad. Gedurende die sewedaagse tydperk van onreinheid moes hy liggaamlike kontak met ander vermy.—Numeri 19:1-13.

Hierdie sanitêre wette openbaar wysheid wat die geneeshere van omliggende nasies destyds nie gehad het nie. Duisende jare voordat die mediese wetenskap geleer het hoe siektes versprei, het die Bybel redelike voorkomingsmaatreëls as beskerming teen siekte voorgeskryf. Dit is dus nie verbasend dat Moses kon sê dat Israeliete in sy dag oor die algemeen 70 of 80 jaar gelewe het nie.e—Psalm 90:10.

Jy sal moontlik erken dat die voorgaande Bybelse stellings wetenskaplik akkuraat is. Maar daar is ander stellings in die Bybel wat nie wetenskaplik bewys kan word nie. Beteken dit noodwendig dat die Bybel dit oneens met die wetenskap is?

Aanvaarding van die onbewysbare

’n Stelling wat onbewysbaar is, is nie noodwendig onwaar nie. Wetenskaplike bewyse word beperk deur die mens se vermoë om voldoende getuienis te ontdek en gegewens reg te vertolk. Maar sekere waarhede is onbewysbaar omdat daar geen getuienis bewaar is nie, die getuienis vaag of nie ontdek is nie of omdat wetenskaplike bekwaamheid en vakkundigheid ontoereikend is om tot ’n onbetwiste gevolgtrekking te kom. Kan dit die geval wees met sekere Bybelse stellings waarvoor daar geen onafhanklike fisiese getuienis is nie?

Byvoorbeeld, die Bybel se verwysings na ’n onsigbare ryk wat deur geespersone bewoon word, kan nie wetenskaplik bewys—of weerlê—word nie. Dieselfde kan gesê word van wonderdadige gebeure wat in die Bybel genoem word. Daar is nie genoeg geologiese bewyse van die wêreldvloed van Noag se dag beskikbaar om party mense tevrede te stel nie (Genesis, hoofstuk 7). Moet ons tot die slotsom kom dat dit nie plaasgevind het nie? Geskiedkundige gebeure kan deur tyd en veranderinge vervaag word. Is dit dus nie moontlik dat duisende jare van geologiese aktiwiteit baie van die bewyse van die Vloed uitgewis het nie?

Die Bybel bevat weliswaar stellings wat nie deur beskikbare fisiese getuienis bewys of weerlê kan word nie. Maar behoort dit ons te verbaas? Die Bybel is nie ’n wetenskaphandboek nie. Dit is egter wel ’n boek van waarheid. Ons het reeds kragtige getuienis beskou dat die skrywers daarvan manne van integriteit en eerlikheid was. En wanneer hulle sake aanroer wat met die wetenskap verband hou, is hulle woorde akkuraat en bevat dit absoluut geen eertydse “wetenskaplike” teorieë wat op die ou end blote mites was nie. Die wetenskap is dus nie ’n vyand van die Bybel nie. Ons het alle rede om wat die Bybel sê met ’n oop gemoed in oorweging te neem.

[Voetnote]

a “Antipodes . . . is twee plekke wat presies teenoor mekaar op die aardbol geleë is. ’n Reguit lyn tussen hulle sal deur die middelpunt van die aarde loop. Die woord antipodes beteken voet aan voet in Grieks. Twee persone wat op antipodes staan, sal by hulle voetsole die naaste aan mekaar wees.”1—The World Book Encyclopedia.

b Tegnies gesproke is die aarde ’n afgeplatte bol; dit is effens afgeplat by die pole.

c Daarbenewens lyk net ’n bolvormige voorwerp van alle kante af na ’n sirkel. ’n Plat skyf sal meer dikwels na ’n ellips lyk, nie na ’n sirkel nie.

d ’n Prominente opvatting in Newton se dag was dat die heelal gevul was met ’n vloeistof—’n kosmiese “sop”—en dat maalstrome in die vloeistof die planete laat wentel het.

e In 1900 was die verwagte lewensduur in baie Europese lande en in die Verenigde State minder as 50 jaar. Sedertdien het dit geweldig toegeneem, nie net weens mediese vooruitgang in die beheer van siekte nie, maar ook weens beter higiëniese en lewenstoestande.

[Lokteks op bladsy 21]

’n Stelling wat onbewysbaar is, is nie noodwendig onwaar nie

[Prent op bladsy 18]

Duisende jare voordat mense die aarde vanuit die ruimte as ’n ronde bol gesien het, het die Bybel na “die kring van die aarde” verwys

[Prente op bladsy 20]

Sir Isaac Newton het verduidelik dat die planete deur middel van swaartekrag in hulle wentelbane gehou word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel