Ons beskou die wêreld
ONTSTELLENDE STATISTIEK
“Die wêreld het vandag 157 biljoenêrs, moontlik 2 miljoen miljoenêrs en 100 miljoen haweloses”, skryf Alan Durning, ’n senior navorser vir die tydskrif World Watch. “Daar is ’n halfmiljard [500 000 000] wat te veel eet en net soveel wat skaars genoeg eet om aan die lewe te bly. . . . Die verskil tussen inkomste is vandag erger as op enige tydstip sedert verslae gehou word. Die rykste miljard mense verbruik ten minste 20 keer meer goedere en dienste as die armste miljard. . . . Ons bestee [R520] per jaar vir elke man, vrou en kind op krygstuig, maar ons kan blykbaar nie die [R2,60] vind wat dit ons elkeen sou kos om 14 miljoen kinders te red wat elke jaar aan eenvoudige siektes soos diarree sterf nie.” Volgens ’n raming deur die Worldwatch Institute leef sowat 1,2 miljard mense in volslae armoede—23,4 persent van die totale wêreldbevolking.
“DIE BESTE TYD VIR DIEWE”
“Die beste tyd vir diewe, inbrekers, dwelmhandelaars en ander misdadigers” om hulle onwettige aktiwiteite in die Attiese distrik van Griekeland te bedryf, “is Sondagmiddae”, sê die Atheense koerant Elefterotypia. Waarom? Omdat sowat 3800 konstabels en 500 amptenare besig gehou word om “’n mate van orde en sekuriteit” by die sokkerwedstryde en ander atletiekbyeenkomste te handhaaf. En as ’n Sondag toevallig ook die een vir die “Derby”-wedstryd is, word die polisiemag met 700 konstabels en 100 amptenare vermeerder. Die koerant voeg by: “Die polisie se teenwoordigheid by elke atletiekwedstryd is onontbeerliker as die teenwoordigheid van atlete.”
HORLOSIE TERUGGESTEL
Die Bulletin of the Atomic Scientists se “Oordeelsdaghorlosie” dui al 43 jaar lank die stand van internasionale veiligheid ten opsigte van kernoorlog aan. “Die risiko dat ’n wêreldkernoorlog in Europa sal ontvlam, het opvallend afgeneem”, het die tydskrif in April gesê. “Hoewel sukses geensins gewaarborg is nie, is dit die grootste geleentheid in vier dekades om ’n veilige, duursame wêreld te skep. Hierop skuif ons die wysers van die Bulletin-horlosie vier minute terug, sodat dit op tien minute voor middernag staan.” Dit is egter nie die verste wat die wysers al teruggedraai is nie. In 1963 sowel as in 1972 is die wysers op 12 minute voor middernag gestel toe verdrae tussen die Verenigde State en die Sowjetunie onderteken is, hoewel die Koue Oorlog voortgeduur het. “Die konflik was net koud in soverre dat die Derde Wêreldoorlog nie ontketen is nie”, sê die Bulletin. “Gedurende die afgelope 45 jaar was daar ongeveer 125 oorloë waarin meer as 20 miljoen mense gesterf het.”
SLAGOFFERS VAN DIE ATOOMBOM
Presies hoeveel mense het as gevolg van die atoombomme gesterf wat in 1945 op Hirosjima en Nagasaki gegooi is? Volgens ’n opname wat onlangs deur Japan se Departement van Gesondheid en Welsyn vrygestel is, is 295 956 sterfgevalle in 1988 aan die bomme toegeskryf. Hiervan het 25 375 mense in Hirosjima en 13 298 in Nagasaki op die dag van die bomaanvalle gesterf; die res het sedertdien gesterf, baie binne ’n paar dae ná die bomaanvalle, as gevolg van siektes wat deur bestraling veroorsaak is. Familielede van die oorledenes het die regering gekritiseer omdat hulle te lank gewag het om die opname te maak. Daarbenewens gaan “dit nie in op al die aspekte van die bomaanvalle of die totale aantal wat as gevolg daarvan gesterf het nie”, sê Josjio Saito, vise-sekretaris-generaal van die Japannese Konfederasie van Organisasies vir Slagoffers van Atoom- en Waterstofbomme.
UNIEKE NUWE STAAT
Op Maandag, 23 April 1990, is Namibië as die 160ste lidstaat van die Verenigde Volke aanvaar. Die nuwe staat, wat op 21 Maart 1990 sy onafhanklikheid van Suid-Afrika verkry het, is in etlike opsigte uniek. Eerstens is dit groter as Pakistan, maar het ’n bevolking van minder as tweemiljoen. Net Groenland en Mongolië is groter as Namibië en het ’n laer bevolkingsdigtheid. Namibië is ook uniek in die verskeidenheid tale wat deur sy betreklik klein bevolking gepraat word, met ’n paar wat vir hulle ongewone klikklanke bekend is. “Daar is te veel inheemse Afrikatale en -dialekte om op te noem”, sê ’n Namibiese toeristebrosjure. Tog is Engels die amptelike taal.
MEEL-“BABAS”
’n Hoërskoolonderwyser van San Francisco het, in ’n buitengewone benadering om sy leerlinge die verantwoordelikheid en realiteite van ouerskap te leer, aan elkeen van sy leerlinge ’n sak meel van 2,5 kilogram as ’n baba gegee. “Jy moet jou baba die volgende drie weke lank, vier-en-twintig uur per dag, behandel asof hy ’n regte baba is”, sê hy vir hulle. Dit beteken dat hulle die sak soos ’n baba moet aantrek, selfs met ’n luier aan, en met ’n kombers en ’n bottel, en dat hulle hom te alle tye moet ronddra en liefdevol en sorgsaam moet behandel. Wanneer leerlinge nie by hulle babas is nie, moet hulle ’n kinderoppasser kry. As leerlinge hul baba verloor of breek, kry hulle ’n swaarder baba—’n sak meel van vyf kilogram. Leerlinge vind gou uit hoe ’n baba hulle lewe sal beïnvloed, en die skool het min tienerswangerskappe. Een leerling het gesê: “Dit was maar net ’n sak meel wat nie gehuil of geskreeu het nie, wat nie gevoed of aan die slaap gesus moes word nie, en tog kon ek nie wag om daarvan ontslae te raak nie.”
’N MONUMENT VIR SY EGO
Dit is drie keer groter as die paleis van Versailles, is 12 verdiepings hoog, het ’n vloerruimte van meer as 360 000 vierkante meter, spog met die tweede-grootste kroonkandelaar in Europa met 980 gloeilampe en het ’n bomskuiling 90 meter onder die grond. Dit is “Roemenië se sigbaarste monument ter ere van die buitensporighede van mnr. Ceaucescu, wat die land 24 jaar lank regeer het”, sê The Wall Street Journal, en “een van die talle dinge wat [hy] aan die volk nagelaat het wat hulle hoofbrekens besorg”. Die paleis is deur sowat 100000 werkers oor die afgelope tien jaar gebou en teen ’n koste van meer as R2 600 000 000. ’n Vierde van die ou deel van Boekarest is selfs gesloop om plek te maak vir die groot boulevard wat Ceausescu voor die hoofingang laat bou het—twee meter wyer as die Champs Élysées. Nou weet niemand mooi wat om daarmee te doen nie. “Dit was alles ’n Faraoniese droom”, sê Stefan Andreescu, geskiedenisprofessor van Boekarest.
AMERIKAANSE SKULD
In April 1990 was die Verenigde State se nasionale skuld vir die eerste keer R8 biljoen (8 met 12 nulle), berig die Amerikaanse Departement van Finansies. Die eerste biljoen skuld is in 1981 bereik. Die nuwe skuldelas, versprei oor die hele bevolking, kom te staan op R31 200 vir elke man, vrou en kind. Gestel dat daar nie meer skuld gemaak word nie en dat rente nie styg nie, dan sal dit amper honderd jaar neem om die nasionale skuld ononderbroke teen R2 600 per sekonde terug te betaal.
ROMMELMUSEUM
Hoewel museums hulle gewoonlik aan meer estetiese temas wy, is ’n museum in die staat New Jersey, VSA, geopen wat aan vullis gewy is. Die nuwe museum gee besoekers ’n idee van hoe dit voel om binne-in ’n vullishoop te wees, met ’n uitstalling van weggegooide items wat oor die vloer, teen die mure op en oor die hele plafon strek. Al die artikels het uit vullisblikke gekom, en die enigste reël is dat niks daarvan moet ruik nie. ’n Uitstalling van vergaanbaarheid (rommel wat in die omgewing afgebreek sal word) help besoekers om te sien wat met die verloop van jare met die vullis gebeur. Terwyl natuurlike produkte en kartonhouers 100 jaar later alles verdwyn het, het plastiekartikels en koeldrankbottels nie vergaan nie. Ander uitstallings beklemtoon bewaring en hersiklussering. Daar word gehoop dat die museum veral jongmense bewus sal maak van die wêreld se toenemende probleme om van vullis ontslae te raak.
FAKTOR IN GEWIGBEHEER
Nie net wát ’n persoon eet nie, maar ook saam met hoeveel ander hy eet, word nou as ’n faktor in gewigbeheer gesien. Navorsers aan die Universiteit van die staat Georgia, VSA, het ontdek dat hoe meer mense by ’n maaltyd is, hoe meer is elkeen geneig om te eet. “Dit beteken dat sosiale faktore moontlik sterk aanduidings oor eetgewoontes kan voorsien, en dat mense wat gewig probeer verloor, ekstra versigtig behoort te wees wanneer hulle saam met ander eet”, merk die University of California, Berkeley Wellness Letter op.
WÊRELDWYE ONGELETTERDHEID
“’n Miljard [1 000 000 000] mense in die wêreld kan nie lees nie—in die meeste gevalle nie eens hulle eie naam nie”, sê die tydskrif Asiaweek. “En ongeletterdheid is nie besig om af te neem, soos die meeste mense wat skoolopleiding ontvang het graag dink nie.” Indië het die hoogste ongeletterdheidsyfer in die wêreld met 290 miljoen mense wat nie kan lees of skryf nie, gevolg deur China met 250 miljoen. In baie lande is dit waarskynliker dat seuns eerder as meisies skoolopleiding sal ontvang. Die wêreldverhouding is 1 man uit 5 wat nie kan lees nie, in vergelyking met 1 vrou uit 3.
DIERE BEGUNSTIG
Gemeenskapsgroepe het vergeefs by amptenare in Kalifornië gesoebat om die insektedoder Malathion nie meer in bevolkte gebiede te sproei in hulle stryd teen die Mediterreense vrugtevlieg nie, berig die tydskrif Time. Die amptenare het volgehou dat die besproeiing nie vir mense ’n gevaar inhou nie. Maar toe die Amerikaanse Vis- en Natuurbewaringsdiens waarsku dat die spuitmiddel ’n nagknaagdier genaamd die Stephens-springmuis van 8 sentimeter (’n bedreigde spesie) kan benadeel, het amptenare ingestem om nie die gebied van 13 vierkante kilometer waar die muise gevind word te besproei nie. “Muise tel, mense nie”, sê Time.