Die Bybelse beskouing
Wanneer begin ’n mens se lewe?
DIT was op 21 September 1989 ’n ongewone dag vir die Vyfde Regterlike Distrik van die Staat Tennessee, VSA. Op daardie dag het die rondgaande hof ’n uitspraak gelewer oor ’n geskil van toesig en beheer oor sewe bevrore menslike embrio’s. Die hof moes beslis watter een van die ouers in ’n skeisaak op toesig en beheer geregtig is. Daar was egter ’n ander dringende geskil wat eers beslis moes word: Moes die embrio’s as eiendom of as mensewesens beskou word?
Professor Jerome Lejeune van Parys, wêreldbekende genetikus, het in die hof getuig dat elke mens ’n unieke begin het wat met die oomblik van bevrugting plaasvind en dat “’n mens ’n mens is sodra hy verwek word”. Met ander woorde, die embrio’s is aan die begin van die drie-selstadium (sigoot), soos hy aan die hof gesê het, “klein mensewesentjies”!—Ons kursiveer.
Toe dokter Lejeune gevra is of hy getuig dat die sigoot met dieselfde regte as ’n volwassene behandel moet word, het hy geantwoord: “Ek sê dit nie, omdat ek nie in die posisie is om dit te weet nie. Ek sê vir julle hy is ’n mensewese, en dan is dit ’n Regter wat sal sê of hierdie mensewese dieselfde regte as die ander het. . . . Maar as julle my as ’n genetikus vra of hierdie mensewese ’n mens is, sal ek vir julle sê dat hy, omdat hy ’n wese is en omdat hy ’n mens is, ’n mensewese is.”
Die volgende is drie van die hof se belangrike bevindings wat hoofsaaklik op dr. Lejeune se onweerlegbare getuienis gegrond is:
◻ “Die selle van ’n menslike embrio is van bevrugting af gedifferensieerd, uniek en individueel tot die hoogste onderskeidsgraad.”
◻ “Menslike embrio’s is nie besittings nie.”
◻ “’n Mens se lewe begin by bevrugting.”
Kom dit ooreen met wat die Bybel oor die begin van ’n mens se lewe sê?
Lewe begin by bevrugting
Jehovah God is “die fontein van die lewe” en “in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Psalm 36:10; Handelinge 17:28). Wanneer begin lewe volgens die Skepper? Hy beskou die lewe van ’n kind as kosbaar selfs gedurende die heel vroeë stadiums van ontwikkeling ná bevrugting. Meer as 3000 jaar voor die bogenoemde hofuitspraak, het hy Dawid, sy profeet, geïnspireer om te skryf:
“U het . . . my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim [in die baarmoeder] gemaak is nie, kunstig geweef [sinspeling op die are en slagare, wat soos gekleurde drade van kledingstof deur die liggaam geweef is] in die dieptes van die aarde [digterlike beskrywing van die duisternis in die baarmoeder]. U oë het my ongevormde klomp [“embrio”, NW] gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe.”—Psalm 139:13-16.
Van die oomblik van bevrugting af, volg die ontwikkelende lewe ’n presiese patroon asof dit die instruksies volg wat in ’n boek, ’n baie groot boek, uiteengesit is. “As al die inligting in die sigoot uitgeskryf en in ’n rekenaar gevoer kon word”, sê dr. Lejeune, “sal dit aan die rekenaar sê hoe om te bereken wat vervolgens gaan gebeur; maar die inligting is soveel dat niemand die presiese hoeveelheid kan bepaal nie.”
Die lewe van ’n ongeborene is kosbaar
Die ongebore kind wat in die baarmoeder ontwikkel, is dus iets veel meer as bloot ’n klomp weefsel. Dit is baie kosbaar, en daarom het God gesê dat ’n mens tot verantwoording geroep sou word as hy ’n ongebore kind beseer. Sy wet in Exodus 21:22, 23 (NW) waarsku: “As manne met mekaar veg en hulle ’n swanger vrou werklik beseer en haar kinders inderdaad te voorskyn kom, maar daar geen noodlottige ongeval is nie, moet daar sekerlik skadevergoeding van hom geëis word volgens wat die eienaar van die vrou hom mag oplê; en hy moet dit deur die tussenkoms van die regters gee. Maar as daar ’n noodlottige ongeval is, dan moet jy gee siel vir siel.”
Party Bybels vertaal die verse hierbo op so ’n manier dat dít wat met die vrou gebeur die hoofsaak van die wet word. Die oorspronklike Hebreeuse teks vestig egter die aandag op ’n ongeluk waarin die moeder of die kind omkom.a Gevolglik beteken ’n opsetlike aborsie, bloot om die geboorte van ’n ongewenste kind te vermy, dat ’n menselewe moedswillig geneem word.
Party mense redeneer dat ’n menslike embrio nie ’n menselewe is nie omdat hy homself nie buite die baarmoeder aan die lewe kan hou nie. Dit is ’n argument wat nie steek hou nie. Niemand twyfel daaraan dat ’n pasgebore baba—slegs minute oud—’n mensewese is nie. Maar hoe lank sou daardie kind bly lewe as hy sonder klere buite in ’n veld gelaat word? Hy is heeltemal hulpeloos, en, soos die embrio of ’n fetus, het hy ook nie die vermoë om homself aan die lewe te hou nie. Die pasgebore baba het beskutting, warmte en voedsel nodig—die lewensmiddele, hulp en bystand wat net ’n volwassene, soos ’n moeder, kan voorsien.
Die bogenoemde regsbeslissing kom derhalwe ooreen met die Bybel se beskouing dat die mens se lewe met bevrugting begin. Die lewe van die ongeborene is nie iets onbeduidends wat opsetlik uit die weg geruim kan word soos ’n hinderlike vreemde voorwerp nie. Menselewe is heilig, nie net nadat dit die baarmoeder verlaat nie, maar ook terwyl dit in die baarmoeder is.
[Voetnoot]
a Die selfstandige naamwoord “noodlottige ongeval” (Hebreeus, ʼa·sohnʹ) word nie spesifiek gekoppel aan “’n swanger vrou” nie; die noodlottige ongeluk is dus nie tot die vrou beperk nie, maar sal ook tereg “haar kinders” in die baarmoeder insluit.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Windsor Castle, Royal Library. © 1970 Her Majesty The Queen