Menseheerskappy in die weegskaal
Deel 6—Swarthemde en swastikas
Fascisme: Regering deur ’n diktatorskap, wat deur Staatsbeheer oor die ekonomie, maatskaplike reglementering en ’n ideologie van oorlogvoerende nasionalisme gekenmerk word; Nazisme: Fascisme soos dit deur die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty onder Hitler uitgeoefen is.
DIE woord “Fascisme” laat ’n mens gewoonlik dink aan Italiaanse militêre afdelings wat swart hemde dra en aan Duitse stormtroepe in bruin uniforms met swastikas aan. Maar ander lande het ook al met Fascisme te doen gehad.
Gedurende die dertigerjare het Fascisme in Hongarye, Roemenië en Japan op die voorgrond getree. Gedurende die Spaanse Burgeroorlog het Fascistiese ondersteuning Francisco Franco gehelp om beheer oor Spanje te verkry, hoewel die meeste geskiedkundiges nie van mening is dat Franco se diktatorskap (1939-75) werklik Fascisties was nie. Die Argentynse diktatorskap wat deur Juan D. Perón (1943-55) opgerig is, was daarenteen werklik Fascisties.
Aanbidding van die staat
“Fascisme” kom van die Italiaanse woord fascio en slaan op ’n eertydse Romeinse simbool van gesag. Dit is in Latyn fasces genoem en was ’n bondel latte waaruit ’n bylblad gesteek het, ’n gepaste simbool van die eenheid van die volk onder die oppergesag van die Staat.
Hoewel sommige van die wortels van Fascisme tot die tyd van Niccolò Machiavelli teruggevoer kan word, het Benito Mussolini eers in 1919, of 450 jaar na Machiavelli se geboorte, die woord vir die eerste keer gebruik. Machiavelli het beweer dat die politieke korrupsie van sy dag net deur ’n outoritêre heerser oorkom kon word, een wat mag meedoënloos maar verstandig kon uitoefen.
’n Fascistiese regering het presies so ’n sterk, opportunistiese en charismatiese leier nodig om doeltreffend te wees. Dit is gepas dat Mussolini sowel as Hitler eenvoudig as “die leier”—Il Duce en der Führer—bekend gestaan het.
Fascisme verhef die staat bo alle ander gesag, hetsy godsdienstig of burgerlik. Franse regsgeleerde Jean Bodin van die 16de eeu, Engelse filosoof Thomas Hobbes van die 17de eeu, sowel as 18de- en 19de-eeuse Duitse filosowe Johann Gottlieb Fichte, Georg Wilhelm Friedrich Hegel en Heinrich von Treitschke het almal die staat verheerlik. Hegel het geleer dat die staat oppermagtig is en dat dit die individu se belangrikste plig is om ’n lojale ondersteuner daarvan te wees.
Alle regerings moet uiteraard gesag uitoefen. Maar Fascistiese state is ontwerp om dit tot die uiterste toe uit te oefen en vereis blinde gehoorsaamheid. Treitschke, wat mense as weinig meer as slawe van die Staat beskou het, het gesê: “Solank jy gehoorsaam, maak dit nie saak wat jy dink nie.” Fascisme het die uitroep: “Vryheid, gelykheid, broederskap”, wat gedurende die Franse Revolusie gehoor is, op tipiese wyse met die volgende Italiaanse slagspreuk vervang: “Glo, gehoorsaam, veg.”
Fascisme verheerlik oorlog
Veg? Ja! “Slegs oorlog beproef alle mensevermoëns tot die uiterste toe en plaas die stempel van edelheid op die volke wat die moed het om dit aan te durf”, het Mussolini eenkeer gesê, en bygevoeg: “Oorlog is vir die man wat moederskap vir die vrou is.” Hy het gesê voortdurende vrede is “neerdrukkend en ’n loëning van al die grondliggende deugde van die man”. Deur dit te sê, het Mussolini slegs die beskouings van Treitschke weerspieël, wat beweer het dat oorlog noodsaaklik is en dat die verwydering daarvan uit die wêreld, buiten dat dit heeltemal onsedelik sou wees, “die verwording van baie van die wesenlike en verhewe kragte van die mensesiel sou meebring”.
Teen hierdie agtergrond van oorlog en diktatorskap sal dit ons dalk nie verbaas as ons uitvind dat talle geskiedkundiges die begin van moderne Fascisme tot Napoleon I van Frankryk terugvoer nie. Hy was gedurende die vroeë 1800’s ’n diktator en was weliswaar nie self ’n Fascis nie. Baie van sy beleidsrigtinge, soos die stigting van ’n geheime polisiestelsel en die kundige gebruik van propaganda en sensuur om die pers te beheer, is nietemin later deur die Fasciste aangeneem. En sy vasberadenheid om die glorie van Frankryk te herstel, is gewis tipies van die obsessie met nasionale grootsheid waarvoor Fascistiese leiers bekend geword het.
Teen 1922 was die Fasciste in Italië sterk genoeg om Mussolini eerste minister te maak, ’n posisie wat hy gou gebruik het as ’n stapsteen om diktator te word. Nywerhede in private besit is aan streng staatsbeheer onderwerp wat lone, ure en produksiedoelwitte betref. Trouens, private onderneming is net tot die mate aangemoedig waarin dit staatsbelange bevorder het. Buiten die Fasciste is alle ander politieke partye onwettig verklaar; vakbonde is verbied. Die regering het die media kundig beheer deur teenstanders deur middel van sensuur die swye op te lê. Spesiale aandag is aan indoktrinering van die jeug geskenk, en persoonlike vryheid is grootliks beperk.
Fascisme in die Duitse styl
“Ondanks die ooreenstemming tussen hulle weë na mag”, sê die boek Fascism deur A. Cassels, “het Italiaanse Fascisme en Duitse Nazisme opvallend verskil wat temperament en hulle beskouing van die toekoms betref.”
Behalwe die voornoemde Duitse filosowe wat as voorlopers van Fascistiese denke gedien het, het ander, soos die 19de-eeuse Duitse filosoof Friedrich Nietzsche, ’n soort Fascisme help skep wat uniek Duits is. Dit is nie te sê dat Nietzsche ’n Fascis was nie, maar hy het wel op ’n heersende elite, ’n ras supermanne, aangedring. Hy het hiermee egter geen spesifieke ras of nasie in gedagte gehad nie, allermins die Duitsers, in wie hy geen besondere sinnigheid gehad het nie. Maar party van sy idees was na aan wat Nasionaal-Sosialistiese ideoloë as ideaal Duits beskou het. Hierdie idees is dus oorgeneem, terwyl ander, wat nie met die Nazi-leer ooreengestem het nie, verwerp is.
Hitler is ook sterk beïnvloed deur die Duitse komponis Richard Wagner. Wagner, wat uiters nasionalisties en patrioties was, het gedink dat Duitsland voorbestem was om ’n groot taak in die wêreld te verrig. “Vir Hitler en Nazi-ideoloë was Wagner die ideale held”, sê die Encyclopedia of the Third Reich. Dit verduidelik: “Die komponis het Duitsland se grootsheid beliggaam. Volgens Hitler se beskouing het Wagner se musiek Duitse nasionalisme geregverdig.”
Skrywer William L. Shirer voeg by: “Dit was egter nie sy [Wagner se] politieke geskrifte nie, maar sy imposante operas, wat die wêreld van die Duitse oudheid met sy heroïese mites, sy veglustige heidense gode en helde, sy demone en drake, sy bloedvetes en primitiewe stamkodes, sy gevoel van voorbestemming, van die grootsheid van die liefde en die lewe en die edelheid van die dood so helder voor die gees roep, wat aanleiding gegee het tot die mites van die moderne Duitsland en daaraan ’n Germaanse Weltanschauung [wêreldbeskouing] verleen het wat Hitler en die Nazi’s, met ’n mate van regverdiging, as hulle eie oorgeneem het.”
Die denkwyse van Nietzsche sowel as dié van Wagner is gevorm deur Comte Joseph Arthur de Gobineau, Franse diplomaat en volkekundige, wat, tussen 1853 en 1855, Essai sur l’inégalité des races humaines (Essay oor die ongelykheid van menserasse) geskryf het. Hy het aangevoer dat rassesamestelling die lot van beskawings bepaal. Hy het gewaarsku dat die verdunning van die rassekarakter van Ariese gemeenskappe uiteindelik tot hulle ondergang sou lei.
Die rassisme en anti-Semitisme wat uit hierdie idees ontwikkel het, was kenmerkend van Duitse Fascisme. Albei beleidsrigtinge was minder opvallend in Italië. Trouens, baie Italianers het blyke van anti-Semitisme in Italië beskou as ’n aanduiding dat Hitler Mussolini as die oorheersende mag agter Fascisme vervang het. Mettertyd het Hitler se invloed op die beleid van Italiaanse Fascisme inderdaad toegeneem.
In hulle strewe om nasionale grootsheid te verkry het Italiaanse Fascisme en Duitse Fascisme in teenoorgestelde rigtings gekyk. Skrywer A. Cassels verduidelik dat “terwyl Mussolini sy landgenote aangespoor het om die dade van die eertydse Romeine na te doen, was die Nazi-geestesrevolusie daarop gemik om die Duitsers op te sweep, nie alleen om te doen wat die Teutoonse reuse uit die gryse verlede gedoen het nie, maar ook om daardie einste stamhelde te wees wat in die twintigste eeu gereïnkarneer is”. Met ander woorde, Italiaanse Fascisme het vergange glorie probeer herwin deur Italië, ’n industrieel onderontwikkelde land, as ’t ware tot in die 20ste eeu te sleep. Daarenteen het Duitsland vergange glorie probeer herwin deur tot in ’n mitiese verlede terug te wyk.
Wat dit moontlik gemaak het
Fasciste het in die meeste lande ná ’n nasionale ramp, ’n ekonomiese ineenstorting of ’n militêre neerlaag aan die bewind gekom. Dit was in Italië sowel as in Duitsland die geval. Hoewel hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog aan teenoorgestelde kante was, het hulle albei gehawend uit die stryd getree. Nasionalistiese ontevredenheid, ekonomiese ontwrigting en ’n verskerping van die klassestryd het albei lande geteister. Duitsland het met wegholinflasie te kampe gehad, en werkloosheid het die hoogte ingeskiet. Die demokratiese beginsel was ook swak en is steeds deur die militêre en outoritêre tradisie van Pruise belemmer. En die skrikbeeld van die gevreesde Russiese Bolsjewisme het oor hulle gehang.
Charles Darwin se idee van evolusie en natuurlike teeltkeuse was nog ’n belangrike faktor in die opkoms van Fascisme. Die boek The Columbia History of the World praat van die “herontwaking van Sosiale Darwinisme in die ideologieë van die Fasciste wat deur Mussolini sowel as Hitler uitgespreek is”.
Die Encyclopedia of the Third Reich stem saam met hierdie stelling en verduidelik dat sosiale Darwinisme “die ideologie agter Hitler se beleid van volkslagting” was. “Duitse ideoloë het”, in harmonie met die leringe van Darwinistiese evolusie, “aangevoer dat die moderne staat sy minderwaardige bevolking ten gunste van die sterk, gesonde elemente moet verwerp, pleks van sy energie daaraan te wy om die swakkes te beskerm.” Hulle het aangevoer dat oorlog normaal is wat die stryd om die oorlewing van die geskikste betref, dat “oorwinning aan die sterkes behoort en dat die swakkes uit die weg geruim moet word”.
Het die mens ’n les geleer?
Die dae van Italiaanse militêre afdelings wat swart hemde dra en van Duitse stormtroepe in bruin uniforms met swastikas aan is verby. Tog bly daar selfs in 1990 spore van Fascisme oor. Twee jaar gelede het die tydskrif Newsweek gewaarsku dat “die magte van die ver regses” in feitlik elke Wes-Europese land “weer eens toon dat swak bedekte rassisme en ’n beroep op nasionalistiese en outoritêre norme steeds onverwagte ondersteuning kan kry”. Een van die mees dinamiese van hierdie bewegings is ongetwyfeld Jean-Marie Le Pen se Nasionale Front in Frankryk met ’n boodskap wat basies “dieselfde as dié van Nasionaal-Sosialisme is”.
Is dit verstandig om vertroue in neo-Fascistiese bewegings te stel? Vorm die wortels van Fascisme—Darwinistiese evolusie, rassisme, militarisme en nasionalisme—’n vaste grondslag waarop ’n goeie regering gebaseer kan word? Of stem jy nie saam dat Fascisme soos alle ander vorme van menseheerskappy geweeg en te lig bevind is nie?
[Venster op bladsy 26]
Fascisme—Het dit ’n vaste grondslag?
Darwinistiese evolusie: “Al hoe meer wetenskaplikes, in die besonder ’n toenemende getal evolusioniste . . . voer aan dat die Darwinistiese evolusieteorie glad geen eg wetenskaplike teorie is nie.”—New Scientist, 25 Junie 1981, Michael Ruse.
Rassisme: “Die kloof tussen menslike rasse en volke is, waar dit bestaan, sielkundig en sosiologies; dit is nie geneties nie!”—Genes and the Man, professor Bentley Glass.
“Menslike wesens van alle rasse . . . stam van dieselfde eerste man af.”—Heredity and Humans, wetenskapskrywer Amram Scheinfeld.
Militarisme: “Die vernuf, arbeid en rykdom wat bestee word aan hierdie . . . kranksinnigheid verbyster werklik die verstand. As die nasies nie meer geleer het om oorlog te maak nie, sal niks vir die mensdom onmoontlik wees nie.”—Amerikaanse skrywer en wenner van die Pulitzer-prys, Herman Wouk.
Nasionalisme: “Nasionalisme verdeel die mensdom in wedersyds onverdraagsame eenhede. Gevolglik dink mense eerstens as Amerikaners, Russe, Chinese, Egiptenare of Peruviane, en daarna—indien ooit—as mense.”—Conflict and Cooperation Among Nations, Ivo Duchacek.
“So baie van die probleme waarvoor ons vandag te staan kom, is toe te skrywe aan, of die gevolg van valse gesindhede—party daarvan is byna onbewustelik aangeneem. Hieronder is die opvatting van verkrompe nasionalisme—‘my land, reg of verkeerd’.”—U Thant, vorige Sekretaris-Generaal van die VVO.
[Prente op bladsy 25]
Godsdienssimbole uit die oudheid, soos die swastika, en die leuse: “God met ons”, het nie Hitler se bewind gered nie
Die fasces, Mussolini se simbool vir Fascisme, word op party Amerikaanse tiensentstukke aangetref