Brittanje se “mal koei”-dilemma
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
IN November 1986 het ’n onrusbarende siekte vir die eerste keer onder Brittanje se beeste verskyn. Sedertdien is meer as 11 000 diere besmet, en tot 200 nuwe gevalle word elke week aangemeld. Terwyl die siekte tegnies gesproke sponsagtige enkefalopatie by beeste, of kortweg BSE (vir bovine spongiform encephalopathy), genoem word, het die media die siekte gou “mal koei”-siekte genoem vanweë die onrusbarende simptome daarvan.
Wat is BSE, hoe het dit ontstaan en waarom wek dit soveel kommer?
BSE is ’n vorm van demensie waarin dele van die brein vernietig word deur abnormale proteïene wat as “onkonvensionele infeksieagense” beskryf word. Wanneer jy deur ’n mikroskoop daarna kyk, het die aangetaste orgaan ’n sponsagtige, gaterige voorkoms. Wanneer die siekte vorder, word die dier prikkelbaar en verloor gewig, en wanneer hy nie meer sy ledemate kan beheer nie, sak hy inmekaar en vrek of moet hy van kant gemaak word.
Beeste het BSE gekry as gevolg van scrapie, ’n nou verwante demensie wat dikwels onder Britse skape aangetref word. Hoe het dit gebeur?
Moderne veevoer
’n Koei is ’n dier wat wei en herkou en gewoonlik plantegroei eet, hoofsaaklik gras. In die laaste jare het Britse veevoervervaardigers egter ’n onnatuurlike proteïenaanvuller by gewone voer gevoeg. Dit bestaan uit slaghuisafval, waaronder skaapkarkasse wat met scrapie besmet is, wat fyngemaak, gekook en gedroog word. Dit is nie net beeste wat aangetas is nie, maar daar het ook vyf soorte wildsbokke, waaronder ’n seldsame Arabiese gemsbok, in Britse dieretuine aan breinsiekte gesterf. Hulle almal is hierdie kommersiële veevoer gevoer. Plaasnertse het ’n verwante siekte opgedoen, vermoedelik omdat hulle rou skaapafval gevoer is.
Toetse toon dat BSE sowel as scrapie buitengewoon bestand is teen hoë temperature, geïoniseerde straling en ultravioletlig. Gewone kokery en ander vorme van sterilisasie sal nie hierdie geheimsinnige agense vernietig nie. Hoewel daar geen duidelike bewys is dat mense al ooit deur scrapie besmet is nie, is die kwellende vraag nou: Watter gevaar hou BSE in vir mense wat beesvleisprodukte eet?
Die menseskakel?
“Niemand in hierdie land of elders hoef hom oor BSE te bekommer nie”, is die amptelike beskouing van die Britse regering, volgens John Gummer, die minister van landbou. Maar nie almal is so seker nie. Richard Lacey, professor in kliniese mikrobiologie aan die Universiteit van Leeds, Engeland, skryf in die koerant The Independent: “As die koei die siekte deur sy voer opgedoen het, was die oordragroete, ten minste aanvanklik, deur die mond. Dit skep die moontlikheid dat dit deur die mond aan die mens oorgedra kan word.”
Ooreenkomstig sulke redenering het Duitsland alle invoere van Britse beesvleis verbied, want hulle kan nie sekerheid kry dat dit van BSE-vrye troppe kom nie. Die Verenigde State het invoere van beeste, embrio’s en beessperma uit Brittanje verbied. Die USSR het verder gegaan en as gevolg van BSE ook invoere van Britse skaap- en bokvleis, tesame met suiwelprodukte, verbied. Sommige skole in Engeland het besluit om net beesvleis te gebruik van troppe wat vry van die siekte verklaar is.
Die regering het, onder andere, die verkoop van sekere beesafval verbied. Die Britse publiek bestee jaarliks meer as R7,8 miljard aan beesvleis en beesvleisgeregte, soos frikkadelbroodjies en pasteie, en moet gerusgestel word dat hulle gesondheid nie bedreig word nie. Tog “kan dit ’n dekade of langer duur voordat algehele versekering gegee kan word” dat BSE nie van beeste na mense oorgedra kan word nie, erken ’n amptelike regeringsverslag. “Die moeilikheid”, verduidelik dr. Richard Kimberlin, voormalige direkteur van die Edinburgse Neuropatogenese-eenheid, “is die lengte van die ontkiemingstyd. As BSE wel ’n gevaar vir die openbare gesondheid inhou, sal dit, teen die tyd dat dit waargeneem kan word as ’n toename in die aantal pasiënte met CJD, te laat wees om enigiets te doen omtrent die bevolking wat alreeds daaraan blootgestel is.”a
Intussen soek wetenskaplikes dringend na nuwe, positiewe getuienis om hierdie vrese te stil, en die Britse regering het R52 miljoen opsy gesit om met hierdie navorsing te help. Maar soos die British Medical Journal realisties aantoon: “Die veiligheid van beesvleis is tot dusver nog nie getoets nie en is dalk nie toetsbaar nie.”
Sal jy dit eet?
Hoe dit die mens se gesondheid ook al beïnvloed, die BSE-debat het die publiek se aandag gevestig op die gebruik om diereafval te benut. Britse vee en pluimvee word steeds verwerkte hoenderafval gevoer, wat in die handel bekend is as DPM (droë pluimveemis), ’n mengsel van mis, vere en dooie voëls. Kalwers word droë varkbloed, wat met sjokolade gegeur is, gegee. Hoewel hele skaapkoppe en skaapafval sedert Julie 1988 onwettig is as veevoer, word dit steeds fyngemaak en vir varke en pluimvee gevoer. Sulke gebruike word in een amptelike regeringsverslag as “kunsmatig” veroordeel. Sommige regverdig dit dalk op grond van doelmatigheid en ekonomie wat voedselproduksie betref. Maar wat gesondheid betref, is hulle dit werd?
[Voetnoot]
a CJD (Creutzfeld-Jacob-siekte) is ’n toestand in mense wat verwant is aan BSE en deur ’n soortgelyke agens veroorsaak word. Demensie ontwikkel vinnig, en ’n lyer kan binne ’n jaar vandat dit gediagnoseer is hulpeloos wees. CJD kan deur bloedoortappings en oorplantings van liggaamsweefsel oorgedra word. Bykans 2000 mense in Brittanje en 7000 in die Verenigde State is potensiële draers omdat hulle inspuitings van groeihormone ontvang het wat afkomstig was van die hipofises van dooie mense. Dr. Paul Brown, direkteur van die Amerikaanse National Institutes of Health, sê: “Enige orgaan van ’n pasiënt met CJ-siekte is ’n potensiële tydbom.”
[Prent op bladsy 17]
Projeksieskyfie van vakuolasie (gate) in brein van koei wat met BSE besmet is
[Erkenning]
J.A.H. Wells, Crown Copyright Material