Menseheerskappy in die weegskaal
Deel 7—’n Politieke soeke na Utopia
Sosialisme: ’n maatskaplike stelsel wat staatsbesit en -beheer van die produksiemiddele voorstaan en wat deur kommuniste as ’n tussenstadium van kapitalisme en kommunisme beskou word; Kommunisme: ’n maatskaplike stelsel wat die afwesigheid van klasse, die gemeenskaplike besit van die produksie- en bestaansmiddele en die billike verdeling van ekonomiese goedere voorstaan.
DIE Griekse mitologie vertel van ’n Griekse god genaamd Cronus, gedurende wie se heerskappy Griekeland ’n goue era beleef het. “Almal het in gelyke mate in die gemeenskaplike lot gedeel, private eiendom was onbekend en vrede en harmonie het ongehinderd geheers”, verduidelik die Dictionary of the History of Ideas. Dieselfde bron voeg by: “Die eerste spore van sosialisme verskyn in die weeklag vir ’n verlore ‘Goue Era’.”
Sosialisme het egter eers in die vroeë en middeldekades van die 19de eeu as ’n eietydse politieke beweging verskyn. Dit is geredelik aanvaar, veral in Frankryk, waar die Franse Revolusie konvensionele denkwyses hewig geskud het. Daar, soos in ander Europese lande, het die Industriële Revolusie kwaai maatskaplike probleme tot gevolg gehad. Mense was gereed vir die gedagte dat die openbare in plaas van die private besit van hulpbronne die menigtes beter in staat sou stel om ’n gelyke aandeel in die vrugte van gemeenskaplike arbeid te hê.
Sosialisme is nie ’n nuwe gedagte nie. Die Griekse filosowe Aristoteles en Plato het daaroor geskryf. Later, gedurende die 16de-eeuse Protestantse Hervorming, het Thomas Müntzer, ’n radikale Duitse Katolieke priester, op ’n klasselose gemeenskap aangedring. Sy beskouings was egter te omstrede, veral sy oproep tot revolusie, indien nodig, om hierdie doelwit te bereik. In die 19de eeu het die Wallisser Robert Owen, die Fransmanne Étienne Cabet en Pierre-Joseph Proudhon en ’n aantal ander maatskaplike hervormers, onder wie prominente geestelikes, beweer dat sosialisme bloot Christelikheid onder ’n ander naam was.
Die Utopias van Marx en More
Maar, sê die bovermelde naslaanwerk, “nie een van hierdie voorstanders van die sosialisme het so ’n impak gehad soos Karl Marx nie, wie se geskrifte die toetssteen van sosialistiese denke en optrede geword het”.a Marx het verkondig dat die geskiedenis as gevolg van klassewedywer stapsgewys vordering maak; wanneer die ideale politieke stelsel gevind word, sal die geskiedenis in daardie sin van die woord aan sy einde kom. Hierdie ideale stelsel sal die probleme van vorige gemeenskappe oplos. Almal sal in vrede, vryheid en welvaart leef sonder die nodigheid van regerings of militêre magte.
Dit klink opvallend baie na wat die Britse staatsman sir Thomas More in 1516 in sy boek Utopia geskryf het. Hierdie woord, ’n Griekse naam wat oorspronklik deur More gebruik is, beteken “geen plek” (ou-topos), en is moontlik bedoel as woordspeling op die soortgelyke uitdrukking eu-topos, wat “goeie plek” beteken. Die Utopia waaroor More geskryf het, was ’n denkbeeldige land (geen plek) maar nogtans ’n ideale land (goeie plek). “Utopia” het gevolglik die betekenis verwerf van “’n plek van die hoogste volmaaktheid veral met betrekking tot wette, regering en maatskaplike toestande”. More se boek was ’n duidelike beskuldiging teen die allesbehalwe ideale ekonomiese en maatskaplike toestande wat in sy tyd in Europa, en veral in Engeland, geheers het, en wat later tot die ontwikkeling van sosialisme bygedra het.
Marx se teorieë het ook die beskouings van die Duitse filosoof Georg Wilhelm Friedrich Hegel weerspieël. Volgens die Dictionary of the History of Ideas “het Hegel se filosofiese herformulering van radikale Christelike teologie gestalte gegee aan die apokaliptiese, kwasi-godsdienstige karakter van Marxistiese sosialisme”. Teen hierdie agtergrond van “radikale Christelike teologie”, verduidelik skrywer Georg Sabine, het Marx “’n buitengewoon kragtige morele oproep, gerugsteun deur ’n kwasi-godsdienstige oortuiging, ontwikkel. Dit was niks minder nie as ’n oproep om aan te sluit by die opmars van die beskawing en die reg.” Sosialisme was die golf van die toekoms; miskien, het sommige gedink, was dit werklik die Christelike geloof wat onder ’n nuwe naam na die oorwinning opruk!
Die weg van kapitalisme na Utopia
Marx het slegs lank genoeg gelewe om die eerste deel van sy werk Das Kapital uit te gee. Die laaste twee dele is onderskeidelik in 1885 en 1894 deur sy naaste medewerker, Friedrich Engels, ’n Duitse sosialistiese filosoof, geredigeer en uitgegee. Das Kapital het hom ten doel gestel om die geskiedkundige agtergrond van kapitalisme, die ekonomiese stelsel kenmerkend van die Westerse stelsel van verteenwoordigende demokrasie, te verduidelik. Gegrond op ongereguleerde handel en mededinging sonder staatsbeheer, trek kapitalisme, soos dit deur Marx verduidelik is, die besit van die produksie- en verspreidingsmiddele in private en korporatiewe hande saam. Volgens Marx bring kapitalisme ’n middel- en ’n werkerstand voort, wat onderlinge antagonisme bevorder en tot onderdrukking van laasgenoemde lei. Deur hom te beroep op die werk van ortodokse ekonome om sy beskouings te steun, het Marx aangevoer dat kapitalisme in werklikheid ondemokraties is, en dat sosialisme die hoogste vorm van demokrasie is, wat die mense bevoordeel deur gelykheid en vryheid te bevorder.
Utopia sou bereik word wanneer die proletariaat deur revolusie in opstand kom en die onderdrukking van die bourgeoisie van hulle afwerp, waarna hulle ’n “diktatuur van die proletariaat”, soos Marx dit genoem het, op die been bring. (Sien venster, bladsy 21.) Hy het sy sienswyses egter gaandeweg getemper. Hy het begin plek inruim vir twee verskillende begrippe van revolusie, een van ’n gewelddadige aard en die ander van ’n meer blywende, geleidelike aard. Dit het aanleiding gegee tot ’n interessante vraag.
Utopia deur middel van revolusie of evolusie?
“Kommunisme” is afgelei van die Latynse woord communis, wat “gemeenskaplik, behorende aan almal”, beteken. Net soos sosialisme gaan kommunisme van die standpunt uit dat vrye ondernemerskap tot werkloosheid, armoede, konjunktuurgolwe en konflikte tussen werkgewers en werknemers lei. Die oplossing vir hierdie probleme lê in ’n gelyker en regverdiger verdeling van die land se rykdom.
Aan die einde van die vorige eeu was daar reeds onenigheid onder Marxiste oor die wyse waarop hierdie gemeenskaplike oogmerke bereik moes word. Vroeg in die 20ste eeu het daardie gedeelte van die sosialistiese beweging wat gewelddadige revolusie verwerp en samewerking binne die parlementêre demokratiese stelsel voorgestaan het, in krag toegeneem en ontwikkel tot wat tans as demokratiese sosialisme bekend staan. Dit is die vorm van sosialisme wat ons vandag in demokrasieë soos die Duitse Bondsrepubliek, Frankryk en Brittanje aantref. Hierdie partye het suiwer Marxistiese denke so te sê heeltemal verwerp en stel bloot daarin belang om ’n welsynstaat vir hulle burgers te skep.
Een toegewyde Marxis wat egter vas daarin geglo het dat ’n kommunistiese Utopia slegs deur gewelddadige revolusie bereik kon word, was Lenin. Sy leringe, tesame met Marxisme, dien as grondslag vir hedendaagse ortodokse kommunisme. Lenin, ’n skuilnaam vir Vladimir Ilitsj Oeljanof, is in 1870 gebore in wat nou die Sowjetunie is. In 1889 het hy die Marxisme aanvaar. Ná 1900 en na afloop van ’n termyn in Siberiese ballingskap het hy hoofsaaklik in Wes-Europa gewoon. Met die omverwerping van die tsareryk het hy na Rusland teruggekeer, die Russiese Kommunistiese Party gestig en in 1917 die Bolsjewistiese Revolusie aangevoer. Hierna het hy tot sy dood in 1924 as eerste hoof van die Sowjetunie gedien. Hy het die Kommunistiese Party gesien as ’n hoogs gedissiplineerde, gesentraliseerde groep revolusionêre wat as voorhoede van die proletariaat dien. Die Mensjewiste het met hom verskil.—Sien venster, bladsy 21.
Die skeidslyn tussen revolusie en evolusie is nie meer so duidelik omskryf nie. In 1978 het die boek Comparing Political Systems: Power and Policy in Three Worlds opgemerk: “Kommunisme het gaandeweg meer ambivalent geword oor hoe sosialistiese doelwitte bereik moet word. . . . Verskille tussen kommunisme en demokratiese sosialisme het aansienlik afgeneem.” Nou, in 1990, neem hierdie woorde verdere betekenis aan onderwyl kommunisme drastiese veranderinge in Oos-Europa ondergaan.
Kommunisme voer godsdiens weer in
“Ons het geestelike waardes nodig . . . Die morele waardes wat deur die eeue heen deur godsdiens voortgebring en vergestalt is, kan ook in ons land met die taak van hernuwing help.” Nie baie mense het gedink dat hulle ooit hierdie woorde uit die mond van ’n algemene sekretaris van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie sou hoor nie. Maar op 30 November 1989 het Mikhail Gorbatsjof gedurende sy besoek aan Italië hierdie dramatiese ommeswaai na godsdiens aangekondig.
Ondersteun dit moontlik die teorie dat die vroeë Christene self kommuniste was en ’n soort Christelike sosialisme beoefen het? Sommige maak hierdie bewering en wys op Handelinge 4:32, wat van die Christene in Jerusalem sê: “Hulle het alles in gemeenskap gehad.” Ondersoek bring egter aan die lig dat dit bloot ’n tydelike reëling was wat deur onvoorsiene omstandighede teweeggebring is; dit was nie ’n blywende stelsel van “Christelike” sosialisme nie. Omdat hulle materiële dinge op liefdevolle wyse gedeel het, was “niemand onder hulle . . . behoeftig nie”. Ja, “aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het”.—Handelinge 4:34, 35.
“Glasnost” en “perestroika”
In die laaste maande van 1989 het die Sowjetunie en kommunistiese regerings in Oos-Europa verbysterende politieke skommelinge ondergaan. Danksy die glasnost- of openheidbeleid is hierdie veranderinge deur almal waargeneem. Oos-Europeërs het op verreikende hervormings aangedring, wat gedeeltelik toegestaan is. Kommunistiese leiers het erken dat ’n mensliker en medelydender stelsel nodig is en het ’n “weergeboorte van sosialisme in ’n verskillende, meer verligte en doeltreffende vorm” bepleit, soos een Poolse ekonoom dit gestel het.
Die vernaamste van hierdie leiers was Gorbatsjof, wat kort nadat hy in 1985 aan die bewind gekom het die gedagte van perestroika (herstrukturering) bekend gestel het. Gedurende ’n besoek aan Italië het hy perestroika verdedig as noodsaaklik om die uitdagings van die negentigerjare die hoof te bied. Hy het gesê: “Noudat ons die weg van radikale hervorming ingeslaan het, steek die sosialistiese lande ’n grens oor van waar daar geen terugkeer na die verlede is nie. Dit is egter verkeerd om te beweer, soos baie persone in die Weste wel doen, dat dit die ineenstorting van sosialisme beteken. Dit beteken eerder dat die sosialistiese proses in die wêreld sy toekomstige ontwikkeling in ’n veelvoudigheid van vorme sal nastreef.”
Kommunistiese leiers stem dus nog nie saam met die gevolgtrekking waartoe rubriekskrywer Charles Krauthammer verlede jaar gekom het nie, toe hy geskryf het: “Die voortdurende vraag wat elke politieke filosoof sedert Plato besig gehou het—wat is die beste regeringsvorm?—is beantwoord. Na ’n paar millenniums waartydens elke vorm van politieke stelsel op die proef gestel is, sluit ons hierdie millennium af met die vaste wete dat ons in liberale, pluralisties kapitalistiese demokrasie gevind het waarna ons gesoek het.”
Die Duitse koerant Die Zeit erken egter rondborstig watter treurige beeld die Westerse benadering tot demokrasie vertoon en vestig die aandag op “werkloosheid, alkohol- en dwelmmisbruik, prostitusie, opskorting van maatskaplike programme, belastingverminderings en begrotingstekorte”, en vra dan: “Is dit waarlik die volmaakte gemeenskap wat vir goed oor sosialisme getriomfeer het?”
’n Bekende spreuk sê dat mense wat in glashuise woon nie klippe moet gooi nie. Watter onvolmaakte menslike regeringsvorm kan dit bekostig om die swakhede van ’n ander te kritiseer? Die feite toon dat die volmaakte menslike regering—’n Utopia—nie bestaan nie. Politici soek steeds na die “goeie plek”. Dit is steeds op “geen plek” te vinde nie.
[Voetnoot]
a Marx is in 1818 uit Joodse ouers gebore in wat toe as Pruise bekend was. Hy is in Duitsland opgevoed en het daar as joernalis gewerk; na 1849 het hy die grootste deel van sy lewe in Londen deurgebring, waar hy in 1883 oorlede is.
[Venster op bladsy 21]
SOSIALISTIESE EN KOMMUNISTIESE TERMINOLOGIE
BOLSJEWISTE/MENSJEWISTE: Die Russiese Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty wat in 1898 gestig is, het in 1903 in twee groepe verdeel; die Bolsjewiste, letterlik “lede van die meerderheid”, onder Lenin, het verkies om die party klein te hou, met ’n beperkte getal gedissiplineerde revolusionêre; die Mensjewiste, wat “lede van die minderheid” beteken, het ’n groter partylidmaatskap verkies wat van demokratiese metodes gebruik maak.
BOURGEOISIE/PROLETARIAAT: Marx het verkondig dat die proletariaat (die werkerstand) die bourgeoisie (die middelstand, met inbegrip van fabriekseienaars) omver sou werp om ’n “diktatuur van die proletariaat” te skep waardeur ’n klasselose gemeenskap tot stand sou kom.
KOMINTERN: ’n Verkorte vorm vir Kommunistiese Internasionale (of Derde Internasionale), ’n organisasie wat in 1919 deur Lenin op die been gebring is om kommunisme te bevorder; hierdie organisasie, wat in 1943 ontbind is, is voorafgegaan deur die Eerste Internasionale (1864-76), wat die lewe geskenk het aan verskeie Europese sosialistiese groepe, en die Tweede Internasionale (1889-1919), ’n internasionale parlement van sosialistiese partye.
KOMMUNISTIESE MANIFES: ’n Uiteensetting in 1848 deur Marx en Engels van die hoofleerstellings van wetenskaplike sosialisme; dit het lank as grondslag vir Europese Sosialistiese en Kommunistiese partye gedien.
EUROKOMMUNISME: Die kommunisme van Wes-Europese Kommunistiese partye; bestaan onafhanklik van Sowjetleierskap, is bereid om in koalisieregerings te dien en voer aan dat ’n “diktatuur van die proletariaat” nie langer nodig is nie.
WETENSKAPLIKE/UTOPIESE SOSIALISME: Terme wat deur Marx gebruik is om ’n onderskeid te tref tussen sý leerstellings, wat na bewering op ’n wetenskaplike ondersoek van die geskiedenis en die werking van kapitalisme gegrond is, en die suiwer Utopiese sosialistiese leerstellings van sy voorgangers.