Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 11/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIEFSTAL DEUR WERKNEMERS
  • BABA-STERFTESYFER
  • AFNAME ONDER APE
  • EUROPESE NASIONALE VOORKEURE
  • WAAROM KINDERS WEGLOOP
  • BOEDDHAS OM FORTUIN TE BESKERM
  • SNELWEGDODERS
  • KAKKERLAKBEHEER
  • “IN LIEF EN LEED”
  • EGIPTIESE KUNSTYDBOM
  • Die raaisel van die ape op die Rots
    Ontwaak!—2008
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1990
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 11/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

DIEFSTAL DEUR WERKNEMERS

Misdaad kos die Britse nywerheid meer as R23400 000 000 per jaar, beweer John Banham, direkteur-generaal van die Confederation of British Industry. Van hierdie totaal is 5,2 tot 7,8 miljard rand te wyte aan diefstal deur werknemers. Die Londense Daily Telegraph het berig gelewer oor ’n onlangse opname en getoon dat 85 persent van diegene wat ondervra is nie ’n kollega by hulle hoof sal verkla omdat hy van die maatskappy steel nie. Wat ander oneerlike gebruike betref, het die opname getoon dat mense se gesindhede van ouderdom tot ouderdom verskil. Terwyl meer as die helfte van werknemers oor 45 jaar dit onaanvaarbaar gevind het om die maatskappy se telefone vir privaat oproepe te gebruik, keur minder as een uit vier uit die ouderdomsgroep van 16 tot 24 dit af. Slegs 19 persent van hierdie jonger groep het ook die gebruik van werkstyd om met ander te praat oor dinge wat nie op maatskappy-aangeleenthede betrekking het nie, as “tyddiefstal” beskou.

BABA-STERFTESYFER

Die Verenigde State is nou amper heel bo aan die lys van ontwikkelde nasies met ’n hoë sterftesyfer onder babas, sê dr. Regina Lederman, ’n adjunk-dekaan en ’n professor aan die Verpleegskool van die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Texas. Die Verenigde State het twintig jaar gelede 5de plek in die wêreld beklee vir hulle gesonde babas, maar het teen 1987 tot die 20ste plek gedaal. Amerika word geteister deur dwelm- en alkoholmisbruik, Vigs, swak voeding, ’n tekort aan behuising, stres, ’n epidemie van tienerswangerskappe en die gevolge van tabakrook. Dit dra alles by tot ’n lae geboortegewig, die oorweldigende bedreiging vir die pasgebore lewe en die oorsaak van talle lewenslange gebreke. Volgens Lederman het ’n nasionale betrokkenheid by die gesondheidsorg van vroue en kinders tussen 1950 en 1987, Japan van die 17de plek tot die eerste plek laat styg vir die wêreld se laagste sterftesyfer onder babas. “Feitlik alle studies toon dat voorgeboortelike sorg die kanse op ’n normale geboorte en ’n gesonde baba vergroot”, sê Lederman. “Ideaal gesien begin voorgeboortelike sorg voor bevrugting.”

AFNAME ONDER APE

Die groot stertlose ape van die Rots van Gibraltar, wat as Magote bekend staan, se getalle neem af, berig The Times van Londen. Die ape het tot nou toe vryelik kos gesoek op die Rots wat onder bewaking van die Britse leërgarnisoen is. Maar baie van die drie en ’n half miljoen toeriste wat Gibraltar jaarliks besoek, voer die ape met sjokolade en ander lekkers. Gevolglik veroorsaak vetsug en verslawing aan lekkernye dat sommige Magote “nie meer daarin belangstel om te paar nie en baklei hulle oor kos”. Dit het ’n daling in die diere se geboortesyfer veroorsaak, en hulle bevolking het van 130 tot 70 afgeneem. Om dit teë te werk, het die regering van Gibraltar nou ’n bewaringspark gestig waar een trop ape beskerm sal word en op ’n dieet gesit sal word wat minder suiker bevat en hoofsaaklik uit voedselpille sal bestaan. Die bestuurder van die park hoop dat dit normale gedrag sal herstel en sal help om hierdie bedreigde spesie te bewaar.

EUROPESE NASIONALE VOORKEURE

“Bestuurders van die Negentiger jare”, berig The European, “sal meer as net taalhindernisse moet oorkom” om ’n werk in die buiteland te kry. Studies wat in Europa uitgevoer is, toon dat daar “definitiewe nasionale voorkeure” bestaan wanneer dit by die indiensneming van buitelanders kom. In ’n opname onder 700 Britse maatskappye is daar in meer as ’n derde gevind dat Duitsers en Nederlanders maklik is om mee saam te werk, terwyl Italianers en Spanjaarde minder gewild is. Franse en Belge is dikwels aanvaarbaar as buitelandse werknemers, maar die Switsers is glo te duur en veeleisend. Die beste alternatief vir Spaanse maatskappye is Franse. Britte en Nederlanders hou daarvan om te delegeer, maar nie die Franse en Italianers nie. “Mense verskil”, sê die koerant, “en daarom beoordeel hulle bekwaamheid verskillend.”

WAAROM KINDERS WEGLOOP

Australië se Canberra Times het die redes ondersoek waarom kinders van die huis af wegloop. Vir party is dit ’n besluit wat op die ingewing van die oomblik gemaak word. Party loop weg omdat hulle dit as ’n avontuur beskou. Die meeste van hierdie wegloopkinders word gou honger en voel alleen en keer na ’n paar dae terug. Maar ander het ernstiger redes, soos probleme by die skool, drankverslaafde ouers, fisiese of seksuele mishandeling en ouers se huwelike wat verbrokkel. Diegene wat die huis om hierdie redes verlaat, bly langer weg, party permanent. Hulle wend hulle moontlik na prostitusie en geringe misdaad om geld te kry om van te lewe. Die waarskuwingstekens is: voortdurende argumente by die huis, wanneer hulle gereeld tot baie laat in die aand uitbly en aanhoudende stokkiesdraaiery. Om die kanse te verminder dat ’n kind wegloop, het die artikel die volgende wenke aan ouers gegee: ‘Skep ’n hartlike, liefdevolle huislike atmosfeer; verkry ’n balans tussen te veel toegeeflikheid en te veel strengheid; gee kinders selfstandigheid en verantwoordelikheid; ontwikkel doeltreffende kommunikasievermoëns, veral die vermoë om te luister; voorsien regverdige en konsekwente dissipline.’

BOEDDHAS OM FORTUIN TE BESKERM

Juweliers in Japan berig dat goue beelde van Boeddha skielik ’n item is wat die beste verkoop. Waarom? Goue artikels het goedkoper geword sedert ’n nuwe belastingstelsel in werking getree het. Daarbenewens is daar ’n gewilde opvatting dat hierdie godsdiensbeelde vry van suksessieregte is. Die Belastingagentskap dreig egter om beelde van Boeddha te belas wat gekoop is om die wet te omseil eerder as vir hulle godsdiensbelang en -gebruik. Juweliers wys ook daarop dat die arbeid wat betrokke is in die maak van ’n Boeddha die prys kan vermeerder met tot 75 persent van die waarde van die goud, wat dit dan ’n onverstandige belegging maak.

SNELWEGDODERS

◻ “Baie van die mense wat op die snelweë sterf, gebruik kokaïen”, sê Peter Marzuk, medeskrywer van ’n studie wat in The Journal of the American Medical Association verskyn het. Die studie, wat gedoen is omdat die stad New York se noodlottige verkeersongelukke toegeneem het, het getoon dat 56 persent van diegene wat gesterf het spore van kokaïen, alkohol of albei in hulle liggaam gehad het toe hulle dood is. Marzuk meen dat baie meer bestuurders kokaïen gebruik as wat die studie getoon het. Sommige sterf nie, terwyl ander wat sterf nie genoeg gebruik het sodat dit opgespoor kon word nie.

◻ “Mense wat agter die stuur aan die slaap raak, veroorsaak jaarliks ongeveer 6500 sterftes op paaie en veroorsaak moontlik tot 400 000 ongelukke per jaar” in die Verenigde State, sê die tydskrif Science, wat verslag gedoen het oor die bevindinge van neuroloog Michael Aldrich, ’n slaapnavorser aan die Universiteit van Michigan. Tot 25 persent van die bevolking ly aan slaapafwykings, sê Aldrich, en dit is hulle wat heel waarskynlik sal insluimer wanneer hulle bestuur. Slaapapnee, waar asemhaling dikwels gedurende die nag ophou, is die algemeenste slaapafwyking en laat die lyer die volgende dag uitgeput voel. Maar die meeste ongelukke het plaasgevind onder diegene wat aan narkolepsie ly, ’n toestand wat skielike “slaapaanvalle” veroorsaak.

KAKKERLAKBEHEER

“Kakkerlakke kan ’n hoër dosis straling weerstaan as wat mense kan”, sê Richard Brenner van die U.S. Agricultural Research Service, “maar hulle kan nie hulle hitte reguleer nie, en hitte wat ons dus kan verduur—omdat ons perspireer om ons liggaamstemperatuur laag te hou—sal hulle doodmaak.” Nou gebruik ’n Kaliforniese plaagbeheer-maatskappy hierdie feit om van kakkerlakke en ander plae ontslae te raak. ’n Besmette huis word in ’n seiltent gehul. Propaanbranders en waaiers word binne in geplaas om die temperatuur daarbinne tot omtrent 66 grade Celsius te laat styg. “Na vier ure teen daardie temperatuur sal die hele gebou meer as 50° C wees, wat genoeg is om kakkerlakke, miere, vlieë, bosluise, motte en selfs termiete dood te maak”, sê die New Scientist.

“IN LIEF EN LEED”

“Daar word beweer dat huwelike in die hemel beskik word”, sê India Today. “Maar vir hierdie twee paartjies in die dorpie Patan lyk dit of huwelike op die aarde bederf word.” Dit het gebeur toe twee aparte bruidsgeselskappe terselfdertyd vir hulle troues opgedaag het. Albei was haastig, en die plegtighede is vinnig voltrek. Die skok het gekom toe die lang sluiers wat die gesigte van die bruide bedek het, verwyder is, en daar ontdek is dat die bruide omgeruil is. “Al het die omruiling die bruide met afgryse vervul, het familielede daarop aangedring dat gedane sake geen keer het nie”, sê India Today. “Die paartjies moet gevolglik nou, in lief en leed, bymekaar bly totdat die dood hulle skei.”

EGIPTIESE KUNSTYDBOM

“Skilders in Ou Egipte het kleurryke kunswerke, fresko’s, geverfde beelde, doodkiste en grafte geskep. Hulle was ’n hoogs gespesialiseerde gilde en het die eerste kunsmatige kleur geskep, ’n helder ‘Egiptiese blou’, mooier as al die natuurlike blou kleure wat tot hul beskikking was”, sê The German Tribune. Maar hulle “het nie besef dat hulle ’n Trojaanse Perd saam met hulle Egiptiese blou in hulle kunswerke ingebring het nie. Dit het ’n chemiese virus bevat wat die kunswerke kon vernietig.” Volgens navorsers het atacamiet, ’n mineraal wat nie opsetlik bygevoeg is nie maar wat later deur middel van ’n chemiese reaksie verskyn het, die blou geleidelik na groen verander. Onder vogtige toestande gaan die proses voort, wat veroorsaak dat die pigment losraak en afskilfer. Baie van die vog kom tydens besoeke van toeriste, en dit plaas die Egiptiese owerhede in ’n dilemma: Hulle moet òf die plekke sluit vir toerisme, waarop die land finansieel staatmaak, òf die kans waag om alle blou en groen kleure binne ’n eeu te verloor.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel