Ons beskou die wêreld
BIOLOGIESE PLASTIEK
Plastiek word nou biologies vervaardig en sal moontlik eendag as ’n boerderygewas verbou word, berig die International Herald Tribune van Parys, Frankryk. Die tegnologie vir hierdie nuwe plastiek het 65 jaar gelede begin toe ’n wetenskaplike ontdek het dat sekere bakterieë ’n soort plastiese stof soortgelyk aan polipropileen kan vervaardig. Die stof dien as die bakterieë se bron van opgebergde energie, wat met die rol van stysel in plante en vet in diere vergelyk kan word. Deur die bakterieë se plastiekvervaardigende gene te isoleer en dit op sekere soorte plante oor te dra, hoop wetenskaplikes om mettertyd sogenoemde “biopolimere” op groter skaal te kweek. Na berig word is hierdie biologiese plastiek ten volle hernieubaar, vergaanbaar en nie-toksies.
ONAKTIEWE KATOLIEKE
Volgens die Paryse koerant Le Figaro het ’n onlangse studie bekendgemaak dat “godsdiensaanbidding onder die Franse steeds geweldig vinnig afneem”. Die studie het getoon dat hoewel 82 persent van die Franse bevolking beweer dat hulle Katoliek is, net 12 persent van hulle, meestal bejaarde vroue, gereeld kerk toe gaan. Daarbenewens sê 44 persent van dié wat beweer dat hulle Katoliek is dat hulle “onaktiewe Katolieke” is, en 83 persent van hulle erken dat “hulle nooit hulle voete in ’n kerk sit nie”. Le Figaro sê dat die Franse blykbaar ’n nasie van onaktiewe Katolieke is. Hulle kerkverband spruit blykbaar eerder uit kwynende sosiale gebruike, soos doop, die huwelik en begrafnisse, as uit daadwerklike geloof.
VIRUS-DILEMMA
“Gedurende die heerskappy van filosoof-keiser Marcus Aurelius Antoninus het daar etlike jare lank daagliks 2000 Romeine aan pokkies gesterf”, sê die tydskrif Health. “In die 16de eeu het dit die dood van tweemiljoen Asteke veroorsaak nadat Spaanse sendelinge die Indiane in toue laat staan het om ’n kruis te soen—natuurlik sonder om te dink aan hoe skoon dit is.” Dit het ook ’n groot aantal Noord-Amerikaanse Indiaanstamme uitgedun, en het in die 18de eeu nog jaarliks 600 000 sterfgevalle in Europa veroorsaak. Sedert Edward Jenner in 1796 ’n entstof teen pokkies uitgevind het, is daar pogings aangewend om die dodelike siekte uit te roei, en die laaste slagoffer het in 1978 gesterf. “Dit is die eerste, en sover die enigste, siekte wat die wetenskap kan sê hulle geheel en al uitgeroei het”, sê Health. Maar die virus leef steeds, onder beskerming van die Wêreldgesondheidsorganisasie, in houertjies in veilige kluise in Atlanta en Moskou, en daar is nog nie besluit wat om daarmee te doen nie. Sommige is ten gunste daarvan dat die virus heeltemal vernietig word voordat dit per ongeluk of met opset vrygelaat word, terwyl ander meen dat die wetenskap dit moontlik later sal kan gebruik. Intussen het die Sowjetunie sowel as die Verenigde State weer begin om hulle troepe teen pokkies in te ent.
NIE KONTANT NIE, ASSEBLIEF!
Klante wat by die vertoonlokale van ’n meubelfabriek in Johannesburg ingaan, kom hierdie teken teë: “Ons aanvaar nie kontant nie. Net tjeks of kredietkaarte.” Volgens die Johannesburgse koerant The Star, glo die eienaar dat die hantering van kontant straatrowers en rowers aantrek en het hy besluit om nie kontant in die kluis te hê of geld na die bank te vervoer nie. Alle sake word derhalwe met tjeks of kredietkaarte gedoen. Die werknemers ontvang ook hulle weeklikse salaris per tjek. “Hulle het elke keer onrustig gevoel wanneer daar ’n vreemdeling ingekom het”, sê die eienaar oor sy werknemers, “maar hulle is nou baie meer ontspanne sedert ons nie meer kontant gebruik nie.”
MILJOENE ABORSIES IN BRASILIË
’n Artikel oor aborsie, wat deur professor Carlos Alberto Di Franco in die Brasiliaanse koerant O Estado de S.Paulo geskryf is, het gesê volgens ’n skatting van die Wêreldgesondheidsorganisasie “is Brasilië die wêreldkampioen van aborsies, met meer as driemiljoen aborsies jaarliks”. Die artikel sê: “Hierdie inligting het snaaks genoeg geen bepaalde beweging ten gunste van lewe tot gevolg nie.” Volgens professor Di Franco sukkel Brasiliane aan die een kant om hulle woude te beskerm en werk hulle hard om kindersterftes te verminder, terwyl hulle aan die ander kant steeds die wettiging van aborsies bepleit.
SIEN NA AARDBEWING
’n Vier-en-tagtigjarige inwoner van Newcastle, Australië, kon skielik weer sien as gevolg van die rampspoedige aardbewing ’n paar maande gelede. Sy kon drie jaar lank net donker vorms sien, maar na die aardbewing kon sy selfs die koerant lees. Haar dokter sê dat die skok van die aardbewing moontlik veroorsaak het dat adrenalien baie vinnig na haar oë gevloei het en gevolglik gehelp het dat sy weer kon sien. Die koerant The West Australian haal haar woorde aan: “Ek het net duidelik gesien. Dit het binne ’n paar sekondes gebeur. Dit het vir my gevoel of my oë, sommer net so, wyd oopgegaan het. Hulle het natuurlik nie, maar ek kon sien, en ek kan nou nog sien.”
OORLEWING VAN BABAS
Volgens Demos, ’n bulletin wat deur die Nederlandse Demografiese Instituut uitgegee word, word daar daagliks 381 000 babas wêreldwyd gebore. Maar hulle lewensvooruitsigte hang grootliks af van waar hulle gebore word. Japan spog met die wêreld se laagste kindersterfte met net 5 uit 1000 babas wat binne hulle eerste jaar sterf. Die kindersterftesyfer is heelwat hoër in ander lande soos Brasilië met 71 uit 1000 wat binne hulle eerste jaar sterf, en in Oos- en Wes-Afrika waar 110 uit 1000 sterf. Babas se kanse op oorlewing in Afganistan is slegter, met 194 sterftes per 1000 babas. Daar sterf daagliks byna 31 000 babas oor die hele wêreld.
VALS MUNTSTUKKE
Japan het vier jaar gelede ’n spesiale goue munt geslaan om die 60ste jaar van keiser Hirohito se heerskappy te herdenk. Volgens die tydskrif Asiaweek “glo beleggers dat daar nou ten minste 103-000 vervalsings in omloop is, en party van hulle is in kluise in die Bank van Japan, die hoogste monetêre gesag. Amptenare meen dat dit die land se ergste vervalsingsaak is hierdie eeu.” Sowel die egte as die vervalste muntstukke bevat 20 gram 24-karaat goud, wat teen die huidige prys van goud sowat R700 werd is. Maar as ’n mens die herdenkingsmuntstuk se sigwaarde van ¥100 000 (R1790) in ag neem, het vervalsers “’n vinnige manier gesien om goud teen twee keer die koopprys te bemark”, sê Asiaweek.
KOALAS BEDREIG
Die gevaar bestaan nou dat die wollerige koala, die lieftallige simbool van Australië, ’n bedreigde spesie kan word, sê The New York Times. Die spesie se getalle het afgeneem van etlike miljoene 50 jaar gelede tot sowat 400 000 tans en dit neem steeds af. Hoewel siekte ’n rol speel, is die mens die vernaamste oorsaak van die afname. Byna 80 persent van die koala se kosvoorraad en natuurlike habitat is deur menslike uitbreiding uitgeroei. Die 60 sentimeter lange koalas leef byna uitsluitlik van bloekomblare en -lote, en duisende van hierdie bome is afgesaag om plek te maak vir huise, landbougrond en vakansieoorde langs Australië se ooskus. Daarbenewens het ’n studie getoon dat die dood van die meeste koalas nou veroorsaak word omdat hulle deur motors raakgery word.
‘VERBYSTERENDE REËLMATIGHEID’
Astronome was verstom toe hulle in die herfs van 1989 die ontsaglike plaat sterrestelsels ontdek het wat hulle die Groot Muur genoem het; hulle het nie verwag dat daar so ’n groot struktuur in die heelal sou wees nie. Maar twee spanne astronome het sedertdien bekendgemaak dat hulle reken dat die Groot Muur moontlik net een van die naaste van ’n stuk of twaalf ontsaglike konsentrasies van sterrestelsels is. Wat hulle selfs meer verbaas, is die feit dat hierdie strukture blykbaar almal ewe ver van mekaar voorkom, wat aanduiding gee van, volgens The New York Times, “’n struktuur in die heelal wat so reëlmatig en enorm is dat dit algemene teorieë van kosmiese skepping en evolusie belaglik maak”. Een astronoom sê dat die reëlmatigheid van die spasies tussen hierdie strukture verbysterend is, terwyl ’n ander een beweer dat as hierdie bevindinge bevestig word, “dit veilig is om te sê dat ons minder as niks omtrent die vroeë heelal weet nie”.
ARME KLEIN SIELE?
Bosluise in Japan het verlede jaar goeie tye sowel as slegte tye gehad. Omdat die somer besonder vogtig was, het hulle in groot getalle op Japannese huishoudings toegesak. Vervaardigers het aan die werk gespring. Hulle was ondernemend en het stofsuiers vervaardig wat ontwerp is om insekte uit te roei. Verkope het die hoogte ingeskiet. Een maatskappy in Osaka alleen het 800 000 stofsuiers verkoop, wat volgens skatting 160 miljard bosluise doodgemaak het. Maar die vernietiging van soveel lewe het blykbaar die vervaardiger se Boeddhistiese gewete begin pla. Asahi Evening News het ’n woordvoerder van die maatskappy so aangehaal: “Ons het ’n bietjie jammer vir hulle gevoel, al was hulle goggas.” Sy maatskappy het dus ’n gedenkdiens by ’n Boeddhistiese tempel gehou “om te bid vir die rus van hierdie bosluise se siele”.