Wat ons van rasse weet
TOE die Europeërs sowat 500 jaar gelede onder seil gegaan het om die aarde te verken, het hulle gewonder watter soort mense hulle sou teëkom. Daar was legendes omtrent reuse wat die oseaan kon inloop en ’n skip met een hand kon verpletter. Daar was stories oor hondkoppige mense wat vlamme spoeg. Sou hulle die legendariese “ongeselliges” teëkom wat van rou vleis lewe en wie se groot, prominente lip vir hulle in die son skaduwee gee? Of sou hulle mondlose mense sien wat lewe deur aan appels te ruik? En wat van dié met sulke groot ore dat dit as vlerke kan dien? Of dié wat glo op hulle rug lê in die skadu van hulle enkele, groot voet?
Manne het die seë bevaar, berge oorgesteek, hulle pad deur woude oopgekap, deur woestyne gestrompel, maar nêrens het hulle sulke eienaardige skepsele gevind nie. In plaas daarvan was hierdie ontdekkers verbaas om mense te vind wat baie soos hulle is. Christophorus Columbus het geskryf: “In hierdie [Wes-Indiese] eilande het ek tot dusver nog geen mensegedrogte gevind soos baie verwag het nie. Inteendeel, ’n goeie voorkoms word onder al hierdie volke hooggeskat. . . . Ek het sover nòg monsters nòg enige verslag oor monsters gevind, behalwe . . . ’n volk . . . wat mensvleis eet . . . Hulle is geensins meer misvormd as die ander nie.”
Klassifikasie van die mensdom
Danksy die verkenning van die aarde is die verskeidenheid onder mense uit die sfeer van sprokies en mites verwyder. Volke kon waargeneem en bestudeer word. Gaandeweg het wetenskaplikes hulle probeer klassifiseer.
In 1735 het die Sweedse plantkundige Carolus Linnaeus sy Systema Naturae uitgegee. Hierin is die mens Homo sapiens gedoop, wat “mens, die wyse”, beteken, ’n term wat deur een skrywer bestempel is as moontlik die onnoselste en aanmatigendste omskrywing wat ooit van ’n spesie gegee is! Linnaeus het die mensdom in vyf groepe verdeel, wat hy soos volg beskryf het:
AFRIKAAN: Swart, flegmaties, ontspanne. Hare swart, gekroes; vel syagtig; neus plat; lippe vlesig; geslepe, indolent, nalatig; smeer homself met vet; beheers deur giere.
AMERIKAAN: Koperkleurig, opvlieënd, regop; hare swart, reguit, dik; neusvleuels wyd; gesig wreed; baard dun; hardnekkig, inhoudelik vry; verf dun rooi lyne op homself; gereguleer deur gewoontes.
ASIAAT: Swartgallig, onbuigsaam; hare swart; oë donker; streng, hoogmoedig, hebsugtig; geklee in loshangende kledingstukke; beheers deur opinies.
EUROPEAAN: Lig van vel, optimisties, gespierd; hare geel, bruin, golwend; oë blou; sagaardig, skerpsinnig, vindingryk; geklee in noupassende kledingstukke; beheers deur wette.
WILDEMENS: Viervoetig, stom, harig.
Let op dat hoewel Linnaeus die mensdom volgens geneties verworwe eienskappe (velkleur, tekstuur van hare, ensovoorts) gegroepeer het, hy ook partydige persoonlikheidsevaluerings gemaak het. Linnaeus het aangevoer dat Europeane “sagaardig, skerpsinnig, vindingryk” was, terwyl hy Asiate voorgestel het as “streng, hoogmoedig, hebsugtig” en Afrikane as “geslepe, indolent, nalatig”!
Maar Linnaeus het dit mis gehad. Sulke persoonlikheidseienskappe is onvanpas in hedendaagse rasseklassifikasies, aangesien wetenskaplike navorsing aan die lig gebring het dat dieselfde verskeidenheid van temperamente, asook vergelykbare intelligensiepeile, in alle bevolkingsgroepe voorkom. Met ander woorde, ons tref dieselfde positiewe en negatiewe eienskappe in elke menseras aan.
Hedendaagse stelsels klassifiseer mense dikwels in drie groepe wat suiwer op fisieke verskille gegrond is: (1) Kaukasiërs, met ’n ligte vel en reguit of golwende hare; (2) Mongoloïde, met ’n geelkleurige vel en Mongoleplooie om die oë; en (3) Negroïde, met ’n swart vel en wollerige hare. Nie almal pas egter mooi in hierdie kategorieë in nie.
Die San en die Khoikhoi van Suider-Afrika het byvoorbeeld ’n koperkleurige vel, wollerige hare en Mongoloïde gelaatstrekke. Sommige Indiese volke het ’n donker vel maar Kaukasiese gelaatstrekke. Boorlinge van Australië het ’n donker vel, maar hulle wollerige hare is dikwels blond. Party Mongole het Kaukasiese oë. Daar bestaan geen duidelike skeidslyn nie.
Hierdie probleme het baie antropoloë hulle pogings laat vaar om die mensdom te klassifiseer en hulle tot die slotsom laat kom dat die woord “ras” geen wetenskaplike betekenis of waarde het nie.
UNESCO-verklarings
Waarskynlik die gesaghebbendste wetenskaplike verklarings omtrent rasse is dié van ’n groep kundiges wat deur UNESCO (United Nations Educational, Scientific, and Cultural Organization) byeengeroep is. Vergaderings is in 1950, 1951, 1964 en 1967 gehou, waartydens vier verklarings omtrent ras gesamentlik deur ’n internasionale paneel bestaande uit antropoloë, dierkundiges, medici, anatome en ander uitgereik is. Die finale verklaring het die volgende drie punte beklemtoon:
A “Alle mense wat vandag lewe, behoort tot dieselfde spesie en stam van dieselfde ouers af.” Hierdie punt word deur ’n selfs meer verhewe gesag bevestig. Die Bybel sê: “Uit een mens [Adam] het [God] al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon.”—Handelinge 17:26, NAV.
Die UNESCO-verklaring sê voorts:
B “Die verdeling van die mensespesie in ‘rasse’ is deels konvensioneel en deels arbitrêr en impliseer geensins enige hiërargie nie. . . .
C “Die biologiese kennis waaroor ons tans beskik, laat ons nie toe om kulturele prestasies aan verskille in genetiese potensiaal toe te skryf nie. Verskille in die prestasies van verskillende volke moet alleen aan hulle kulturele geskiedenis toegeskryf word. Die volke van die wêreld beskik blykbaar oor gelyke biologiese potensialiteite om enige beskawingspeil te bereik.”
Die plaag van rassisme
Daar is gevolglik geen grondslag vir die beskouing dat enige ras inherent meerderwaardig is aan ’n ander of die reg het om ’n ander te oorheers nie. Mense tree egter nie altyd in ooreenstemming met die feite op nie. Dink maar aan die slawehandel in Afrika.
Toe die Europese nasies begin het om koloniale ryke tot stand te bring, was dit vir hulle winsgewend om die inboorlinge uit te buit. Maar hier was ’n paradoks. Miljoene swartmense van Afrika is uit hulle huise gesleep, van hulle geliefdes weggeskeur, in kettings geslaan, gegesel, gebrandmerk, soos diere verkoop en gedwing om sonder vergoeding te werk tot die dag van hulle dood. Hoe kon dit moreel geregverdig word deur nasies wat beweer het dat hulle Christene was en dus veronderstel was om hulle naaste lief te hê soos hulleself?—Lukas 10:27.
Die oplossing waarop hulle besluit het, was om hulle slagoffers hulle status as mense te ontneem. Dit was die siening van een antropoloog in die 1840’s:
“As die Neger en Australiër nie ons medeskepsele is en ook nie tot dieselfde familie as ons behoort nie maar skepsele van ’n laer orde is, en as ons pligte teenoor hulle nie bedoel is . . . in enige van die positiewe bevele waarop die moraliteit van die Christelike wêreld gegrondves is nie, wil dit blyk dat ons verhouding met hierdie stamme min sou verskil van die verhouding wat ons ons kan voorstel tussen ons en ’n groep orang-oetangs sou bestaan.”
Diegene wat ondersteuning wou hê vir die gedagte dat nie-blanke volke ondermenslik was, het Darwin se evolusieteorie aangegryp. Hulle het geredeneer dat die koloniale volke op ’n laer trap van die evolusieleer as die blankes was. Ander het beweer dat nie-blankes die gevolg van ’n ander evolusieproses was en nie ten volle mens was nie. Ander het uit die Bybel aangehaal en tekste verdraai om hulle rassistiese denke te ondersteun.
Natuurlik het baie mense nie hierdie denkwyse aanvaar nie. Slawerny is in die meeste lande van die wêreld afgeskaf. Maar diskriminasie, vooroordeel en rassisme het gebly en is oorgedra op etniese groepe wat slegs in mense se verbeelding rasse was. ’n Professor in die dierkunde het gesê: “Aangesien dit wil voorkom of enigiemand daarop geregtig is om rasse te skep om hom te pas, het politici, spesiale pleiters, en gewone avonturiers hulle aan rasseklassifikasies skuldig gemaak. Hulle het skoonklinkende rasse-etikette versin om ’n skyn van ‘wetenskaplike’ fatsoenlikheid aan hulle geliefkoosde idees en vooroordele te verleen.”
Die rassistiese beleid van Nazi-Duitsland is ’n treffende voorbeeld hiervan. Alhoewel Adolf Hitler die Ariese ras opgehemel het, bestaan daar biologies gesproke glad nie so iets nie. Daar was nog nooit so iets nie. ’n Mens kry blonde Jode met blou oë in Swede, swart Jode in Ethiopië en Mongoloïde Jode in China. Nogtans was die Jode en baie ander die slagoffers van ’n rassistiese beleid. Daardie beleid het gelei tot konsentrasiekampe, gaskamers en die moord op sesmiljoen Jode en ander, byvoorbeeld die Slawiese volke van Pole en die Sowjetunie.
[Lokteks op bladsy 5]
Wetenskaplike navorsing het aan die lig gebring dat vergelykbare intelligensiepeile in alle bevolkingsgroepe van die mensdom voorkom
[Lokteks op bladsy 6]
‘Politici, spesiale pleiters, en gewone avonturiers het skoonklinkende rasse-etikette versin om ’n skyn van “wetenskaplike” fatsoenlikheid aan hulle geliefkoosde idees en vooroordele te verleen’
[Prente op bladsy 7]
Soos uit hierdie kennisgewings blyk, is swartmense van Afrika soos vee geadverteer en verkoop